Susanna M Lingua-keur 10. Susanna M. Lingua
die toetse is.”
“Wel, as die dokter dit nog nie bevestig het nie, kan Natasha se vermoedens verkeerd wees, Pa. Ek gaan my dus nie verniet ontstel nie.”
“Ontstel!” roep die oubaas verontwaardig uit. “Wel, dit is die eerste keer in my lewe dat ek hoor ’n man voel ontsteld omdat sy vrou hul eersteling verwag. Mag ek vra waarom dit jou sal ontstel, Dewalt?”
“Genade! Pa behoort immers te weet dat ’n kind in hierdie stadium uiters onwelkom vir my sal wees,” sê Dewalt ongeduldig. “Ek wil ’n egskeiding van Natasha hê, nie ’n kind nie.”
“Weet jy, ek kom nou eers tot die besef dat Natasha baie, baie gelukkig is om van jou ontslae te wees, Dewalt,” sê die oubaas. “Toemaar, jy sal jou egskeiding kry – sodra die dokter bevestig het dat jou vrou swanger is. En ek sal persoonlik toesien dat die helfte van jou besittings na jou vrou en kind gaan. As jou minnares jou daarna nog wil hê –”
“Waar is Natasha, Pa? Ek sal self met haar gaan praat,” val hy sy pa onthuts in die rede.
“Wat! Dink jy een enkele oomblik dat ek haar adres vir jou sal gee sodat jy haar met jou koue gevoelloosheid kan gaan ontstel? Jy moet seker dink ek is gek of iets!” snou die oubaas hom toe. Dan plak hy die gehoorbuis met mening terug op die mikkie.
Toe Dewalt sy kop oplig, kyk hy reg in Esna se smeulende oë.
“So, dan probeer daardie hooghartige vrou nou om nog meer geld uit jou te kry? Nou wil sy skielik voorgee dat sy swanger is,” laat sy rooi van ergernis hoor. Haar stem word heftiger. “Wel, laat ek jou dit vertel: dit is niks anders as ’n slim set nie. En daardie aaklige ou man wat homself jou pa noem, is kop in een mus met haar. Ek sal nie aan sy eis toegee as ek jy was nie. Wat bly dan vir ons oor as jy die helfte van jou geld vir haar en die kind moet gee? Jy sal beslis met haar moet praat, Dewalt. Sy het al heeltemal genoeg geld uit jou –”
“My poppie, ek sal nou dadelik met haar gaan praat as ek maar net weet waar sy is,” val Dewalt haar sag in die rede. Sy gesig toon egter duidelik dat hy bekommerd is. ’n Kind, en dit in hierdie stadium, is nie iets wat hy nou verwelkom nie – altans, nie ’n kind van Natasha nie. As dit nou Esna was …
“Maar, Dewalt, my skat, jy kan mos maklik vasstel waar sy bly,” sê Esna. “Sy het tog seker vriende by wie jy kan uitvis.”
Hy glimlag verlig. “Ek kan vir Rita bel. Sy sal seker weet waar Natasha is.”
Hy slaan Rita se huisnommer in die telefoongids na en bel haar dadelik.
Dit is Rita se pa wat die oproep ontvang. Toe hy hoor dat dit vir sy dogter is, roep hy haar dadelik.
“Rita Grové hier, goeienaand,” hoor Dewalt die bekende stem van die meisie.
“Naand, Rita,” groet hy bedaard. “Dit is Dewalt wat praat. Vertel my, het Irene miskien vir jou gesê waarheen sy en Natasha wou gaan?”
“Dewalt, ja, sy het iets gepraat van jou pa se strandhuis. Maar of hulle later weer van plan verander het, sal ek nie kan sê nie. In elk geval, ek is baie kwaad vir jou omdat jy Natasha so swak behandel het. Ek het altyd geweet dat jy van kindsbeen baie verwen is, maar ek het nooit kon droom dat jy so hopeloos selfsugtig is nie. As ek dit geweet het, sou ek haar afgeraai het om met jou te trou!”
“Nee, wag nou eers, Rita,” keer hy haastig, “ek het nie gebel om met jou rusie te maak nie; ek wou net hoor waar Natasha is. Dankie vir die inligting. Dan sal ek nou maar weer tot siens sê.”
Inhaligheid lê naak in Esna se koue, gevoellose oë. “Dink jy die hof sal aan so ’n onmoontlike eis van jou vrou voldoen?” vra sy met kommer in haar stem.
“Ek weet nie, moontlik,” antwoord Dewalt met ’n ligte skouerophaling. “As Natasha werklik swanger is, is die moontlikheid groot dat sy in haar doel kan slaag.”
“Wat gaan jy daaromtrent doen, Dewalt?” wil Esna weet en sy is duidelik onrustig oor die vooruitsig van ’n gemaksugtige toekoms wat bedreig word.
“Ek dink ek moet môre Dennebaai toe ry en persoonlik met Natasha gaan praat,” doen Dewalt aan die hand.
“Ja, ek dink dit sal baie beter wees as ’n telefoonoproep,” stem Esna saam. “Hoe laat vertrek ons môre?”
“Nie óns nie, my liefste, ék,” sê hy met ’n liefdevolle glimlaggie. “Natasha sal weier om met my te praat as sy weet dat jy saam met my Dennebaai toe gekom het.” Hy sien dat sy weer iets wil sê, maar vervolg ernstig: “Nee, moet asseblief nie daarop aandring nie. Jy ken Natasha nog nie soos ek haar ken nie, Esna.”
“Ag, nou toe dan maar. Ek het ook geen begeerte om haar te ken nie,” laat Esna smalend hoor. “Soos wat ek jou vrou se soort tydens modevertonings leer ken het, is hulle ’n koue, hooghartige ou klomp wat dink hulle is verhewe bo die alledaagse, werkende klas.”
“Wag, ek dink jy oordryf ’n bietjie, jong,” keer Dewalt laggend. “Natasha is ’n saggeaarde mens en eintlik baie tegemoetkomend. Jy kan haar tog nie kwalik neem dat sy niks met jou te doen wil hê nie. Trouens, ek dink enige vrou sal so reageer.”
“Jy bedoel, enige vrou sal die meisie haat wat haar man van haar af weggevat het,” sê sy en bars uit van die lag.
“Ek dink jy is nou doelbewus katterig,” sê hy speels. “Kan dit wees dat jy dalk jaloers is op die vroue wat in die uitgelese sosiale kringe beweeg?”
Esna se groen oë blits nydig op hom toe sy rooi van ergernis sê: “Jy moet seker dink ek is verspot, Dewalt de Meyer!” Tog besluit sy in haar enigheid om haar jaloesie in die toekoms beter weg te steek. Dewalt moet nooit weet hoe jaloers sy op Natasha se sosiale agtergrond is nie.
Esna besef dat sy nooit in die eksklusiewe kring waarin Natasha beweeg het, welkom sal wees nie – al trou sy met Dewalt. Sy sal maar altyd ’n buitestander bly.
“Ek wil môreoggend baie vroeg vertrek,” sê Dewalt bedaard soos altyd. “Ek wil met Natasha praat – voordat my pa dalk die kans kry om haar verder te beïnvloed. As dit moontlik is, wil ek haar ook self na ’n prokureur vergesel sodat sy die egskeiding aanhangig kan maak.”
Hiermee voel Esna tevrede en sy dring nie langer daarop aan om hom na Dennebaai te vergesel nie. Sy hoop nou maar net dat alles in Dewalt se guns verloop. Sy wil gou met hom trou en begin om die lewe ten volle te geniet.
Terwyl Natasha in die bed lê, wonder sy wat die toekoms vir haar en haar ongebore kind gaan inhou. Terwyl haar hart vinnig klop, besef sy dat daar nou vir haar iets is om na uit te sien. Daar sal ’n klein deeltjie van Dewalt wees wat nóg Esna nóg enigiemand anders van haar af kan wegneem … Ja, haar kindjie sal net hare alleen wees.
Natasha lê tot laat die aand aan haar kindjie en dink. Sy raak uiteindelik aan die slaap, maar selfs in haar drome lewe ’n seuntjie wat Dewalt se ewebeeld is.
Irene verkeer nog heerlik in droomland toe Natasha na ontbyt strand toe stap. Sy loop oor die groot grasperk en merk nie dat Dewalt uit sy motor, wat langs die huis in die straat staan, klim nie. Sy is ook onbewus daarvan dat hy haar na die strand toe volg.
Daar is al etlike swemmers tussen die golwe toe Natasha die strand bereik. Sy stap tydsaam langs die waterkant tot by ’n stil plekkie waar sy alleen met haar gedagtes en drome kan wees. Na ’n paar minute bereik sy die streep rotse wat op plekke ver in die see strek.
Toe sy net teen ’n hoë rots wou opklim, sê ’n bekende stem meteens agter haar: “Ek dink jy moet dit liewer nie waag nie, Natasha. Hier waar ek staan, is dit veiliger om te sit.”
Sy draai stadig om. Terselfdertyd voel sy hoe Dewalt haar arm neem en haar na ’n rots toe lei waar sy veilig kan sit.
“Waar … kom jy vandaan?” vra sy ietwat verward en duidelik verbaas om hom hier te sien.
“Ek het vanoggend baie vroeg van Die Arendsnes af vertrek,” verduidelik hy, ’n onpeilbare ondertoon in sy stem. Hy gaan sonder uitnodiging langs haar op die rots sit.
“Hoe