Elza Rademeyer Omnibus 5. Elza Rademeyer

Elza Rademeyer Omnibus 5 - Elza Rademeyer


Скачать книгу

      Sy kan haar nie voorstel dat daar ’n vrou op hierdie aarde is wat nie opofferings sal maak om elke dag by hom te wees nie. Dog, hulle is darem nog nie op so ’n voet dat sy dit vir hom sal sê nie. “Is daar kinders?” vra sy dus maar net.

      “Nee, gelukkig nie. Maar ek het jou nie uitgeneem om oor morbiede sake te gesels nie. Daar is baie interessanter dinge om oor te praat, of wat sê jy?”

      “Ek stem saam,” antwoord sy en hoop sy sal vergewe word vir die noodleuentjie. Want eintlik sou sy wat wou gee om te weet of hy nog iets voel vir sy gewese vrou. Maar hy stuur behendig die gesprek in ’n ander rigting. En dis nie lank nie of sy het skoon vergeet van die vorige vrou in sy lewe.

      Sy drink meer wyn as waaraan sy gewoond is, kom dit by haar op toe hy haar glasie vir die derde keer vul. Maar die aand is so wonderlik en hy is so sjarmant dat sy nie wil weier nie. Die kos is ook uitstekend. Alles is sommer net betowerend en volmaak.

      Ná ete ry hy nie Bellville toe nie, maar in die rigting van Kampsbaai voordat hy uit die grootpad swenk in ’n smaller paadjie teen die berg uit. Toe hy die motor in die oprit van ’n imposante huis tot stilstand bring, kyk sy nuuskierig na hom. “Wat kom maak ons hier?”

      “Dis my huis. Kom, dan gaan drink ons koffie.”

      Terwyl hulle die stoeptrap bestyg, kyk sy om en trek verruk haar asem in. “Wat ’n uitsig! Jy bly op ’n lieflike plek.”

      “Ek is bly jy hou daarvan,” sê hy sag digby haar oor. Knabbel dan selfs vir ’n oomblikkie daaraan voordat hy sy arm om haar lyf sit en die voordeur oopsluit.

      Die vlinders in haar maag fladder weer wild rond toe hy ’n paar dowwe ligte aanskakel en voor haar kom staan. “Pikkie, besef jy hoe ontsettend mooi jy is?”

      “Dis maar net oor ek die uitrusting aanhet wat jy vir my gegee het, dis pragtig.”

      “Ek het self nie kon dink jy gaan so goed in die klere lyk nie. Maar die vere maak nie die voël nie. Dis jý wat my betower. Jou hele menswees.”

      Sy broeiende blik stem haar versigtig. “Gaan jy my nie nooi om te sit nie?”

      “Natuurlik,” onthou hy. “Maak jou tuis. Wat van ’n likeurtjie voor die koffie?”

      “Ek weet nie. My kop voel nog half lig van die wyn. Moet ons nie maar die likeur los nie?”

      Hy lag saggies, intiem. “Jy het gesê ek kan ál die besluite neem. My besluit is dat ons wel eers ’n glasie likeur drink.” Toe streel hy saggies met sy vingerpunte oor haar wang voordat hy na die kroegtoonbank in die aangrensende vertrek stap.

      Sy loer vlugtig om haar rond. Alles getuig van duur en goeie smaak. Die gordyne, die egte skilderye teen die mure, die meubels, die rangskikking van potplante en marmerbeelde om die fonteintjie in die een hoek van die vertrek . . . Maar sy terugkeer laat haar feitlik oombliklik daarvan vergeet. Wat ’n beeld van ’n man is hy nie!

      “Ek hoop jy hou hiervan,” sê hy toe hy die glasie aan haar oorhandig en oorkant haar op die rusbank stelling inneem. “Een van my modelle het dit vir my saamgebring uit Frankryk.”

      “Maar dan het sy dit seker net vir jou bedoel, hoekom deel jy dit met my?” spot sy ligweg, al voel sy weer ’n prikkie jaloesie.

      “Omdat jy ’n baie spesiale meisie is. Hoekom is jy nog nie getroud nie, Pikkie?”

      Sy vraag laat haar liggies frons. “Hoekom vra jy? Oor ek so oud lyk?”

      “Alles behalwe. Jy sal nog maklik kan deurgaan as ’n skolier. As ’n baie pragtige matriekmeisie.” Toe kom hy nader en neem die glasie uit haar hand om dit op die tafeltjie langs haar stoel staan te maak. “Ek vra dit omdat ek nie kan glo jy loop nog vry rond nie. Of het die lewe dit met opset so beskik dat ons twee by mekaar moes uitkom?”

      Haar hart tamboer tot in haar keel toe sy opkyk in sy oë. “Ek sal nie weet nie, Brian.”

      Hy trek haar uit die stoel op en laat glip sy arms om haar lyf. “Ek glo so. Ek glo dit met my hele hart.”

      Ek ook, wil sy sê, maar sy lippe op haar mond verhoed dat sy kan praat. En dan is dit weer so, die wêreld wat om haar draai en tuimel. Sy voel hoe hy haar versigtig na die rusbank du en haar al soenende daarop laat plaasneem. Dan kom sit hy langs haar en woel haar kapsel los sodat haar hare los en krullerig oor haar skouers val.

      “Jy’s ’n wonderwerk,” fluister hy saggies by haar oor en laat gly sy hand onder die spleet van haar rok in om haar bobeen te streel.

      Sy moet halt roep, sê haar verstand. Maar dit word gekelder deur beroeringe en begeertes en ’n stemmetjie wat sê sy kan die genot van sy liefkosings nog ’n rukkie verduur. Sy ís mos in beheer van haarself. Maar hy soen haar weer, en toe voel sy hoe sy hand na die binnekant van haar bobeen beweeg en al strelende daarteen opkruip . . .

      “Nee, wag nou,” sê sy met wilsinspanning en druk sy hand weg. “Waar is daardie koffie waarvan jy gepraat het?”

      Hy frons liggies. “Is jy regtig lus vir koffie?”

      “Ja, ek is mal oor koffie ná ete,” jok sy blatant.

      Hy kom duidelik traag orent. “Nou goed, kom ons gaan maak dit. Maar jy sal moet help. Ek weet niks van koffie maak af nie.”

      “Wie sorg dan vir jou?” vra sy toe hulle die kombuis binnegaan.

      “Ek het ’n huishoudster, Emily. Maar sy slaap lankal.”

      Sy babbel soos ’n regte kletskous, kom dit by haar op toe hulle teruggaan sitkamer toe met die koffie. Maar sy moet by haar sinne bly. Verhoed dat hy weer met sy liefkosings begin.

      Toe hul koppies leeg is en hy opstaan om hare in die skinkbord te plaas, staan sy ook vinnig op. “Ons moet liewer nou gaan. Dit raak laat.”

      Hy frons liggies en kyk op sy horlosie. “Die aand het kwalik begin. Wat is jou haas?”

      “Ek het ’n kuiergas, onthou. Ek voel klaar sleg oor ek my tante sommer die eerste aand alleen by die huis gelos het.”

      Hy weifel, maar tel dan tog sy baadjie op van die stoel waarop hy dit neergesit het. “As dit jou wens is, dan maak ons so.”

      Hulle ry en later, toe hulle op die stoep van haar en Riana se huis staan, trek hy haar nader. “Ek ry môreoggend vroeg en gaan vir ’n week of wat uitstedig wees. Maar wanneer ek terugkom, sal ek jou kontak. Is dit reg so?”

      Sy knik haar kop. “Waarheen gaan jy?”

      “Johannesburg toe. Van my modelle gaan daar deelneem aan ’n modeskou.”

      “Geniet dit,” sê sy oënskynlik hartlik. Want as dit van haar moet afhang, sou sy eerder wou hê sy modelle moet dit vir hom so mislik maak dat hy dadelik terugkeer.

      “Sal jy aan my dink?” vra hy onnodig.

      “Ek sal.”

      Hy neem die voordeursleutel by haar en sluit die deur oop. “Mooi bly, Pikkie.” Toe soen hy haar weer dat haar verstand swymel voordat hy omdraai en in sy motor gaan klim.

      ’n Oomblik verstar sy van skrik nadat sy die deur agter haar toegemaak het. Wat klink so onaards? Maar dan val dit haar by van tant Doortjie. Dit kan net haar balkesaery wees wat so deur die huis weergalm. Ook maar goed sy slaap, want die laaste ding waarvoor sy nou lus is, is vir gesels of verduidelikings. Haar blik val op die rusbank. Dit moet seker Riana wees wat haar nagklere en beddegoed hier op die rusbank kom neersit het. Tant Doortjie sal nie glo ’n mens slaap in sulke skamele flentertjies klere nie.

      Die volgende oggend vroeg kom sluit Riana by haar in die sitkamer aan. “Ek kan dit nie meer uithou met daardie gesnork van tant Doortjie nie,” sê sy. “En raak sy die slag stil, laat sy my by die vrekte omdraai van skrik.”

      “Hoe so?” lag Pikkie oor haar verontwaardiging.

      “Nee, laas nag toe ek my oë op ’n keer oopmaak, staan sy mos in my kamerdeur. Boonop


Скачать книгу