Elza Rademeyer Omnibus 5. Elza Rademeyer
huis binnegekom het nie.”
“Gits, ek het gedink jy was al in die bed. Hoe laat het julle dan ingekom?”
“So halfeen se kant.” Riana gee ’n laggie. “En toe sien Frans darem iets wat hy seker lank laas gesien het.”
“Wat het hy gesien?”
“Jou pragtige slanke bene, en alles wat daar nog te siene was. Jy lê mos toe bo-op die komberse in plaas van onder hulle.”
“Wat het hy dan hier binne kom soek?”
“Hy’t die deur vir my oopgesluit en die lig aangeskakel.”
“Nou vir wat het hy die lig aangeskakel?”
“Sodat ek kon sien waar om te loop, natuurlik. Ek het vergeet jy slaap hier in die sitkamer. Ek het in elk geval nie gedink jy sal al terug wees nie.”
“Dit was so warm . . . Ek het mos darem ook nie verwag hier sou ’n mansmens opdaag nie.”
“Toe maar, dis nie jou skuld dat hy gesien het wat nie eintlik vir sy oë bedoel was nie. Maar raai wie het ek op die verjaardagpartytjie raakgeloop?”
“Wie?”
“Vir Neville. Hy’s toe al die tyd ’n neef van die vriend van Frans wat verjaar het. Maar ek het nie eintlik tyd gekry om met hom te gesels nie. Hy’t my net twee keer vir ’n dans kom vra, en is kort daarna weg.”
“Was Boetman ook daar?”
“Nee, hy was by ’n tante van hom. So het Neville my vertel terwyl ons gedans het. Ek kan nie verstaan hoekom jy ’n man soos Neville . . . Ag, nee wag, ek het niks met jou liefdesake uit te waai nie. Vertel my van jou aand saam met Brian.”
“Jy hou nie van Brian nie, nè?”
Riana gee ’n suggie. “Ek sal nie sê ek hou nie van hom nie, want ek ken hom nie. Maar hy lyk vir my so wêreldwys. So ’n bietjie té van alles.”
“Jy’t hom skaars langer as ’n paar sekondes gesien. Hoe kan jy hom sonder meer veroordeel?”
“Ag, ekskuus, man. Wat het julle gedoen vir die aand?”
“Ons het in Simonstad by ’n restaurant gaan eet, daarna by sy huis in Kampsbaai gaan koffie drink en huis toe gekom. En hy het hom die hele tyd onberispelik gedra.”
“Ek was verbaas dat julle so vroeg terug was.”
“Dit was nie so vroeg nie. Dit was amper twaalfuur toe ek die lig afgeskakel het. Brian vertrek vanoggend vroeg Johannesburg toe. Van sy modelle gaan daar in ’n mode-skou optree. Hy kon dus nie te laat in die bed kom nie.”
“En dié ginnegapery so vroeg in die môre hier in die sitkamer?” word hul geselsery deur tant Doortjie vanuit die gang kortgeknip. “Pleks julle liewers koffie maak sodat ’n mens die slaap uit jou oë kan kry.”
“Ek sal die ketel gaan aanskakel,” sê Riana.
“En toe, hoe het die skoolfunksie afgeloop?” wil tant Doortjie weet terwyl sy Pikkie se uitrusting van die vorige aand van die een stoel na ’n ander verskuif om regoor haar stelling in te neem.
“Die skool . . . O, baie goed, dankie. Dit het sommer baie goed afgeloop.”
“En wat had jou kollega te sê oor die boosheid wat jy aan jou lyf gehad het?” beduie sy na die klere oor die stoel.
“Ag, die mans in die stede is gewoond daaraan, tante. Al die meisies trek so aan.”
“En toe lê jy nog laastenag poedelkaal hier op die bank en slaap ook.”
“Poedelkaal! Dis nie waar nie.” Sy skuif die kombers eenkant toe. “Kyk, ek hét nagklere aan.”
“Gmf! Daardie deurskynende stukkies lap. Wat steek hulle weg? Net mooi niks! Nee, ek weet nie so mooi nie. Lyk my julle jong meisies van vandag het g’n respekte meer vir julle lywe nie. Vroeër was dit anders. Die meisies was op hul plek. Hulle het nie eens dat ’n man aan hul hand vat voor hulle mekaar ten minste ’n maand lank geken het nie. Deesdae ken hulle mekaar nie ’n dag nie, dan is dit ’n gelek en ’n gesoen. En baie keer is hulle sommer binne die eerste week of wat al saam in die bed.”
“Goeiste, waar kom tante daaraan?” vra Pikkie verstom.
“Ek sien dit op TV en lees dit in boeke. In romans wat ek by die biblioteek uitneem. Hulle beskryf alles daar, partykeer tot in die fynste besonderhede. Die ander dag lees ek waaragtig van ’n man wat ’n vrou bed toe gevat het nog voor hy haar naam geken het!”
“Sjoe! Ek het nie kon dink tante is só op hoogte van sake nie.”
“Onthou net, ek lees dit nie oor ek dit geniet nie. Ek lees dit net sodat ek op hoogte van sake kan bly. ’n Mens moet weet wat in die wêreld aangaan.”
Ook maar goed tant Doortjie is ’n bietjie doof, dink Pikkie toe sy Riana se proeslag in die kombuis hoor.
“Maar is die koffie dan nog nie klaar nie? Hoe lank neem dit julle dan om ’n koppie koffie te maak? En wat eet ons vir brekfis?”
“Ek geniet jou tante se kuier gate uit,” sê Riana later vir Pikkie toe hulle twee alleen in die kombuis is. “Sy’s kostelik.”
“H’m, ek moet sê sy is nogal taamlik mak. Ek hoop net nie dis die stilte voor die storm nie. Gaan jy vanaand uit?”
“Nee, my motor lol al weer. Ek wil in elk geval ook nie tant Doortjie se geselskap misloop nie.”
“So, jy sê jou motor lol al weer. Dis seker wat ’n mens te wagte kan wees as jy ’n bou-inspekteur aan hom laat werk.”
“Ai tog, hoekom is jy so gekant teen die arme Frans? Dis nie weer ’n vonkprop nie, man. Hy trek ’n hond uit ’n bos. Dis heeltemal iets anders hierdie keer. ’n Snaakse geluid. So ’n gegrom iewers vanuit sy bakwerk. Ek het juis netnou vir Frans gebel om te kom kyk wat die fout is. Maar hy sê hy sal nie voor môremiddag hier kan uitkom nie.”
“Dit lyk my tog jy’t ’n ogie op Frans.”
“Nee, glad nie. Die man op wie ék ’n ogie het, is vir my taboe.”
“Wat bedoel jy daarmee? Wie is hy?”
“Dit sal nie help om te sê wie hy is nie, want ek bestaan nie eens vir hom nie. Hy’t sy oog op iemand anders.”
“Wel, solank hy nie getroud is nie, is daar hoop. Miskien moet jy net harder probeer om sy aandag te trek.”
Tot Pikkie se verbasing geniet sy ook tant Doortjie se verblyf by hulle. Sy is definitief veel makker as vroeër. Maar Maandagmiddag op pad na die spesialis is sy die ene senuwees.
“Kind, sê nou die spesjis sê ek is besig om dood te gaan? Ek het nog nie my testament reg nie. Ek het laastenag maar eers besluit aan wie ek my besittinkies gaan bemaak.”
Tant Doortjie lyk skoon verslae toe sy weer in die wag-kamer verskyn nadat sy vir ’n ondersoek in die spreek-kamer was. “Kind, die dokter sê ek moet hospitaal toe. Hy sê hy’t nie al die masjiene en goed hier om te kyk wat met my verkeerd is nie. Hoe maak ons nou?”
“Wanneer moet tante by die hospitaal wees?”
“Hy’t gesê ek moet vanaand al daar wees. Mag glo niks verder eet of drink ook nie. Dan gaan hy môreoggend die toetse en dinge doen.”
“Dan moet ons nou gou vir tante nagklere by die huis gaan haal.”
Tant Doortjie is skielik so mak soos ’n lammetjie. En lyk so beangs toe Pikkie haar ’n ruk later in die hospitaal groet dat sy haar jammer kry. “Moet nou nie bekommerd wees nie. Ek sal tante môremiddag net ná skool weer kom oplaai.”
“As ek nog lewe.”
“Natuurlik sal tante lewe. Springlewendig en sonder pyne. Miskien is daar niks eens met tante verkeerd nie.”
“Ek