Elza Rademeyer Omnibus 5. Elza Rademeyer
vir haar en wag. “Hier, vat my soetkys dat ons wegkom hier,” sê sy nog voor Pikkie kan groet. “Hoekom is jy so laat? Hou julle dan tot vieruur in die middag skool?”
“Nee, maar die verkeer het my opgehou en daar was ’n personeelverga-”
“Hoe kom ’n mens uit hierdie plek?” onderbreek tant Doortjie haar verduideliking. “Ek het my al mal gesoek na ’n buitedeur, maar dit lyk my die plek het nie so iets nie. Net gange waar jy kyk.” En toe hulle by Ontvangs kom, swaai sy haar kieriepunt gevaarlik naby aan die meisie agter die toonbank se neus. “Loop sê vir daai spesjis ek, Dorothea Susara Magdalena Broodryck, sê hy moet in sy malle maai vlieg met sy operasie! Hy sal hom wat verbeel voor ek my laat uitroei! Vir al wat ek weet, is dit net om my galblaas in iemand anders in te plant.”
Pikkie weet nie waar om te kyk nie. Al die mense in die wagkamer staar hulle aan. Maar tant Doortjie steur haar min. “Kom, Pikkie, laat ons loop. Dis nie ’n hospitaal dié nie, dis ’n geldmaakbesigheid. Hulle sal jou tot die laaste sent toe leegsuig. Dink seker ek is ’n pampoen!”
Pikkie waag dit liewer nie om ’n woord te sê nie. Gryp haar net aan die arm en rem haar buitentoe. Eers toe hulle veilig in die motor is, vra sy: “Hoekom is tante so kwaad?”
“Jy vra nog! Maar wag, ek sal jou liewers by die huis vertel wanneer Riana by is. Anders moet ek die hele storie nog weer vir haar ook vertel. Pasop, kind, kyk wat vang hierdie padvark aan! Hy kom ry waaragtig reg voor jou in!”
“Dis nie so erg nie, tante. Hy is op vinnige spoed.”
“Nou hoe die duiwel draai hierdie ruite van jou af?”
“Hulle werk outomaties, tante. Maar hoekom wil tante dit oopmaak? Kry tante warm?”
“Ek wil vir daai ongeskikte terroris wys wat ek met hom gaan maak as ek hom in die hande kry! Og, dis ook nou klaar te laat. Kyk waar jaag hy al.”
Tant Doortjie is weer die tante wat sy ken, dink Pikkie by haarself. Skel op al wat ’n motoris is en gaan so te kere met haar kierie dat Pikkie wonder wanneer sy ’n gat deur die motorruit gaan slaan. Dus is sy maar te dankbaar toe hulle die huis nader. Maar haar dankbaarheid is van korte duur toe sy Frans se motor in die systraat sien staan. Dít ook nog, dink sy sugtend. Asof sy nie al deur genoeg dinge is vir die middag nie.
Hy sit heerlik agteroor in ’n stoel saam met Riana en koffie drink toe hulle die sitkamer binnekom en begroet haar boonop spottenderwys met: “Ek dag jy’t al begin met die bou van die afdak. Hoe draal jy dan so?”
Sy verwerdig haar nie om te antwoord nie. En sou buitendien ook nie kans gekry het nie, want tant Doortjie trek dadelik los met: “Mensig, wat ’n dag! Hulle had my byna dood daar by die hospitaal, en toe verongeluk die terroriste ons ook nog amper op pad hiernatoe.”
“Terroriste?” vra Riana. “Wat het gebeur?”
“Tant Doortjie bedoel eintlik motoriste,” help Pikkie haar reg. “Die verkeer was net een te veel vir haar senuwees.”
“Foei tog, laat ek gou vir julle ook gaan koffie skink.”
“Nee, wag eers,” keer tant Doortjie. “Laat ek julle eers vertel van daardie ongeskikte mense by die hospitaal. Dis vreeslik soos hulle met ’n ou mens aangaan.”
“Hoe so?” vra Riana.
“Nee, om mee te begin, het hulle my waaragtig kaalstert laat uittrek en my die hele môre in ’n agterstevoor nagrok wat nie eens van agter kan toeknoop nie laat rondloop. Van die een kamer na die ander. Ek kon naends nie eens meer byhou met die tel van al die vertrekke nie. En al die goed waarmee hulle my lyf beplak het! Geen genade vir ’n ou mens nie!”
“En toe?” hits Riana haar aan, dik van die lag.
“Nee, hoe meer ek vir hulle sê ek wil teruggaan na die kamer toe waar my klere is, hoe minder steur hulle hulle aan my. Dit paai net die hele tyd. Tot ek naends so dik was vir die hele spul dat ek gedreig het om die minister te gaan sien. Eers tóé weet hulle my terug te vat na die spesjis toe.”
Pikkie loer in Frans se rigting, maar ruk haar kop dadelik weg toe sy sien sy blik is op haar. “En wat was die spesialis se bevinding toe?” probeer sy haar ongemak verbloem en ook sommer om die tirade kort te knip.
“Nee, vertel my toe eers hoe goed en sterk my hart nog is. Wil toe ook weet of ek aan ’n siekefonds behoort en al sulke dinge. En toe weet hy my te vertelle daar is ’n hele klomp dingetjies wat nou nie reg is nie, maar gelukkig reggemaak kan word. Onder die mes nogals! Praat hy van ’n mantelvliesbreuk, vergroeisels én dat my galblaas ook moet uit! En reken, hy wil my toe sommer daar in die hospitaal hou! Maak toe so ewe sommetjies ook oor wat dié spul operasies sal kos! ’n Enorme bedrag! Ek het amper my vals tande ingesluk.”
“En toe?” hits Riana weer eens aan.
“Toe sê ek vir hom ek mag oud wees, maar met my verstand skeel daar niks. Ek sien dwarsdeur sy geldmaak-storietjies. En of hy nie skaam kry om ’n arme weduwee so te wil uitbuit nie!”
“Wat sê hy toe?” vra Pikkie, nou self nie ver van lag af nie, en bewus daarvan dat Frans ook moeite het om sy lag te bedwing al hou hy sy gesig sedig.
Tant Doortjie is te opgewerk om die ander se geamuseerdheid raak te sien. “Nee, toe wip hy hom mos. Weet hy vir my te vertel hy het net goeie bedoelings met sy pasiënte, en dat dit darem nie reg is dat ek hom só behandel nadat hy sy beste vir my gedoen het nie. Ewe sedig met ’n vroom gesig, maar ek is nie ’n aap nie. Ek kon mos sien hy was dik die duiwel in oor die geld wat hy nie uit my gaan kry nie.”
“Maar, tante, dit klink dan vir my tante sal tog maar vir ’n operasie moet gaan,” sê Riana. “Ek meen, as tante ’n mantelvliesbreuk het, en daar’s fout met tante se galblaas . . .”
“Watwou! Oor my dooie liggaam sal ek aan my laat sny. Ek is vier en tagtig jaar oud en daar is nog nooit aan my binnegoed gepeuter nie. Hulle het my gebring waar ek vandag is, en hulle sal saam met my graf toe gaan. Vir wat wil ek in elk geval horingoud staan en word? Jy’s tog net in ander se pad as jy nie meer vir jouself kan sorg nie. Maar waar’s daardie koffie waarvan julle vaneffe gepraat het?”
“Ek sal dit gaan maak,” sê Pikkie, maar Riana spring haar voor deur eerste op te staan.
“Nee, sit jy. Ek is seker jy’s doodmoeg ná al vanmiddag se gebeure. Ek gaan dit gou maak.”
“Verskoon my ook,” sê tant Doortjie. “Ek wil vir my iets anders gaan aantrek voor ek koffie op my kerkrok mors.”
“Klink of jy ’n interessante middag gehad het?” sê-vra Frans toe hulle alleen in die sitkamer agterbly. “Met al die hospitaal se dinge en toe nog die terroriste op die pad ook!”
“Is jy besig om met my die spot te dryf, meneer Goedhardt, of met my tante?”
“Met nie een van julle nie. Ek het maar net na iets gesoek om oor te gesels.”
“Ek dink nie dis nodig dat ons hoegenaamd oor enigiets gesels nie.”
“Goed, dan sit ons maar net so in stilte vir mekaar en staar.”
“Dis ook nie nodig om mekaar aan te staar nie,” sê sy vererg. “Daar is baie ander dinge om te doen!”
“Soos wat?”
“Hoekom gaan maak jy nie liewer jou erf skoon nie?”
Hy frons. “My erf?”
“Ja, jou erf. Hoekom gaan sleep jy nie liewer die ou motorwrakke wat daar lê weg nie? Hoekom is jy knaend daarop uit om my te verpes?”
Hy kyk na die venster se kant toe. “Ek sal mos sukkel met die wrakke, dis dan amper donker.”
Sy weet nie wat om te antwoord nie. Weet ook nie waar sy aan haar katterigheid kom nie. Maar die mansmens het nou eenmaal die vermoë om haar bloeddruk op te jaag.
“Dis ’n mooi koffietafeltjie dié,” sê hy oplaas toe die stilte selfs vir haar begin ongemaklik