Elza Rademeyer Omnibus 5. Elza Rademeyer

Elza Rademeyer Omnibus 5 - Elza Rademeyer


Скачать книгу
voordeur is voordat sy haar tot hom wend. “Ons wou die afdak hier voor die garage laat aanbring het,” verduidelik sy op ’n sagte toon. “Maar nou mag ons nie. Die bou-inspekteur van die area sê dit sal die boulyn na die straat se kant toe oorskry.”

      “Ja,” stem hy saam. “Dit sal beslis.”

      “Nou weet ek nog nie wat ons gaan doen nie. Ons oorweeg dit om die garage na die agterkant toe te verleng. Maar dit gaan meer geld kos as ’n afdak. Sal u omgee om ’n bietjie te wag tot ons ons geldsake deurgekyk het?”

      “Nee, dis dan maar reg. Ek het mos nog nie onkostes aangegaan nie, so ek sal wag tot u my laat weet wat u gaan doen.”

      Sy slaak ’n suggie van verligting toe die man wegry. Dankbaar dat sy so maklik uit die situasie losgekom het. Maar Frans Goedhardt hoef nie te weet wat sy vir die bouer gesê het nie!

      Hulle is besig om oor die September-skoolvakansie te gesels toe sy weer in die sitkamer kom. “Maar as die skole eerskomende Vrydag sluit,” sê tant Doortjie, “kan ek mos saam met Pikkie huis toe ry. Jy gaan tog seker na jou ma-hulle toe vir die vakansie, of hoe, Pikkie?”

      “Ek het eintlik nie sulke planne nie,” sê Pikkie, gedagtig daaraan dat Brian terug is en dat sy nie so lank van hom af wil weg wees nie. “Die vakansie is ’n bietjie kort.”

      “Ek gaan ook nie huis toe nie,” sê Riana. “Een van my vriendinne het my genooi om die vakansie by haar ouers op ’n plaas naby Malmesbury deur te bring.”

      “Ag, nou ja, dan sal ek maar die trein moet vat. Dis net so ’n beslommernis met die soetkyse en dinge. Maar wag,” sê sy en sit haar hekelwerk neer, “ek moet gaan kyk wat eet ons vanmiddag.”

      “Maak net iets ligs, dan vat ek julle drie vanaand uit vir ete,” sê Frans uit die bloute. “Wat dink julle van my voorstel?”

      “Dit gaan jou mos ’n klomp geld kos,” gee tant Doortjie antwoord. “Ons hét mos kos in die huis.”

      “Ek wil net vergoed vir julle gaafheid teenoor my.”

      Pikkie is seker dis ’n steek na haar kant toe. Sy loer vinnig na hom en kyk weg toe sy sy blik op haar betrap. Haar lyf verstyf. Oor haar dooie liggaam sal sy saamgaan!

      “Dit sal lekker wees,” sê Riana. “Hoe laat kom laai jy ons op?”

      “Net wanneer dit julle pas.”

      “Moenie my insluit by jul planne nie,” sê Pikkie bot. “Ek het ’n ander afspraak.”

      “Met wie?” vra tant Doortjie blatant. “Met die man in die koerant?” En toe Pikkie se kop knik: “Hy kan ook mos saamgaan.”

      “Nee, dankie. Ons het ander planne vir die aand.”

      “Wel, ek beter aanstaltes maak om te ry,” sê Frans. “Daar is ’n paar motorwrakke op my erf wat ek nog wil gaan wegsleep.” Toe staan hy op en loop tot reg voor Pikkie. “Hoe ver het jy en die bouer toe gekom? Wanneer begin hy met die afdak?”

      “Eerskomende Maandag oor ’n week,” sê sy en staal haar om hom uitdagend aan te kyk. “Hy het net kom kyk hoeveel materiaal hy gaan nodig hê.”

      Frans lig sy skouers. “Gelukkig kan dit my nie meer skeel nie. Ek maak die einde van die maand klaar by die munisipaliteit, so dit sal die nuwe bou-inspekteur se kopseer wees.”

      Sy verstaan nie die gevoel van teleurstelling wat sy ondervind toe hy by die deur uitloop nie. Het sy sweerlik so gewoond geraak aan die vete tussen hulle dat sy dit gaan mis?

      Toe sy motor buite wegtrek, wend tant Doortjie haar tot Pikkie. “Oulike man, dié Frans. Hy’s niks opstêrs nie, en ook nie geskei nie. Hoekom gooi jy nie liewer jou flikkers vir hom nie?”

      “Hy is Riana se vriend, nie myne nie,” sê Pikkie kortaf.

      “Riana sê daar’s niks tussen hulle nie. Net vriendskap.”

      “Ek sal vir myself ’n man soek as ek een wil hê, dankie.”

      “H’m. Maak dan maar so. Sorg net dat dit nie daardie Brian-vent van die modes is nie. Jou pa kry die stuipe as jy met hóm by die huis aankom.”

      “Tante het hom nog nie eens met ’n oog gesien nie. Julle weet niks van hom af nie, maar julle verdoem hom sommer!” sê Pikkie obstenaat. “Julle behoort julle te skaam!” Toe loop sy ergerlik kamer toe, om ’n rukkie later besluiteloos voor haar hangkas te staan. Watter juwele moet sy saam met die blou rok dra? As Riana nie ook so skepties was oor Brian nie, sou sy haar opinie gevra het. Maar vir verdere konflik is sy tog nie lus nie.

      Haar hoop dat tant Doortjie en Riana al weg sal wees wanneer Brian opdaag, word verydel toe sy deur haar kamervenster sien hoe Brian en Frans gelyktydig voor die huis stilhou. Sy haas haar sitkamer toe, menende dat sy Brian buite tegemoet sal gaan, maar haar weg word in die gang versper deur tant Doortjie wat tydsaam en hinkepinke ook op pad is sitkamer toe. Dit maak dat sy nie anders kan as om Brian aan haar tante voor te stel nie.

      “So, dan is dít hoe die man van die foto in die koerant in lewende lywe lyk,” sê tant Doortjie terwyl sy hom onbeskaamd van kop tot tone betrag. “Moet sê, hy lyk darem meer na ’n man as wat ek verwag het.”

      “Kom, ek is gereed,” sê Pikkie en haak ook sommer haar arm deur Brian s’n om hom aan te por deur toe. “Ons kan maar ry. Tot siens, julle.”

      “Ek het gedink jou tante is al weg,” sê Brian nadat hulle in die motor geklim het. “En wat het sy gepraat van ’n foto?”

      Pikkie gee ’n suggie. “Riana het haar omgepraat om langer te kuier. Maar hopelik sal sy binnekort teruggaan na haar huis op Albertinia. En die foto waarvan sy gepraat het . . . dis die een van jou en jou modelle wat in die koerant verskyn het.”

      “Ek het die beriggie gesien, ja. Maar wat het sy bedoel dat ek darem meer na ’n man lyk as wat sy verwag het?”

      “Sy . . . glo dis net vroumensagtige mans wat modelle oplei en iets van modes weet.”

      Hy lag saggies en tel haar hand op om dit op sy bobeen te plaas. “En jy?” vra hy met ’n tersluikse blik na haar. “Glo jy ook ek is vroumensagtig?”

      “Nee,” sê sy blosend. “Jy lyk ver van ’n vrou af.”

      “Jy is so mooi dat ek lus het en hou net hier in die middel van die straat stil en soen jou ten aanskoue van die hele wêreld.”

      “Haai, kyk voor jou. Netnoumaar verongeluk jy ons.”

      “Mag ek stilhou en jou soen?”

      “Nee.”

      “Hoekom nie?”

      “Omdat die hele wêreld nie in die straat is nie,” terg sy saam. “En hulle sal jou toesluit as jy die verkeer ontwrig.”

      “Wel, dan beter ons nou vinnig op ’n plek kom waar ek jou kan soen,” sê hy en versnel. “Jy sal jou nie kan voorstel hoe ek na jou verlang het nie. Dit het vir my gevoel die tyd staan stil.”

      Toe hulle Kampsbaai nader, kyk hy weer vlugtig na haar. “Ons kan later besluit wat ons die res van die aand gaan doen, maar nou neem ek jou eers na my huis toe. Ons móét ’n paar oomblikke alleen wees. Stem jy saam?”

      Sy weifel. Wat moet sy sê? Dat dit te gevaarlik is? Maar haar kop knik instemmend, asof dit buite beheer is. Is dit dan nie waarna sy die hele tyd verlang het nie? Om alleen saam met hom te wees. Om sy arms om haar lyf te voel . . .

      Buite op die stoep steek hy vas, neem haar in sy arms en draai haar om sodat sy terug moet kyk. “Kyk die skitterende liggies en die maanligstrale oor die see. ’n Volmaakte aand, net vir ons twee bedoel.”

      “Dis baie mooi,” stem sy hees van emosie saam.

      Hy sluit die voordeur oop en laat haar binnestap. Toe draai hy weer die sleutel in die slot en skakel net een dowwe liggie aan voordat hy sy baadjie uittrek en dit oor ’n stoel gooi. Dan trek hy


Скачать книгу