Elza Rademeyer Omnibus 5. Elza Rademeyer
sy hom regtig? Hy skram weg as sy hom uitvra oor sy doen en late. En Frans . . .? Daardie snaakse manier van kyk na haar toe sy wou weet hoekom hy gemaak het of hy haar nie ken nie daar in die restaurant. Die geheimsinnige glimlaggie voordat hy motor toe geloop het, amper asof hy iets weet wat sy nie weet nie. Of verbeel sy haar? Was dit ’n glimlaggie van blydskap omdat haar opmerking hom daaraan herinner het dat daar iemand by die huis vir hom wag? Iemand jonk en mooi . . . Natuurlik, dis al wat dit kan wees.
Geen wonder nie dat haar aartappelskyfies so hard gebak is dat Boetman vra of dit van regte aartappels gemaak is, die wors soos semels smaak en die broodjies wat sy in die louoond gesit het om warm te word so hard soos klippe is.
Toe Neville aanstaltes maak om te ry en sy sien Riana kyk na haar kant toe, staan sy op om hom en Boetman na sy motor te vergesel. En toe hy aarsel nadat hy die motordeur oopgemaak het, sê sy impulsief: “Julle moet weer kom kuier. Ek is jammer ek loop so baie rond, maar as jy vooraf bel, sal ek sorg dat ek tuis is.”
“Ek weet nie,” sê hy aarselend. “Dit mag wees dat ek môre Bloemfontein toe ry vir ’n kunsuitstalling.”
“Wel, bel my wanneer jy terug is. Onthou, jy is altyd welkom om by ons ’n koppie koffie te kom drink.”
“Dankie, ek sal dit onthou.”
Toe sy terugkom in die huis, is Riana in die badkamer. En met dié lui haar selfoon.
“Hoe gaan dit met my meisie? Is sy nog net so pragtig soos altyd?” hoor sy Brian vra toe sy antwoord.
“Hallo, Brian. Dit gaan goed, dankie. En met jou?”
“Ek het slegte nuus. Ek sal nie terug wees voor Maandag nie.”
“Ag nee. Die skole sluit môre. Ek het gedink . . .” Sy swyg verleë toe sy die duidelike ondertoon van teleurstelling in haar eie stem hoor.
“Ek is jammer, my meisie,” sê hy. “Maar dis nou ongelukkig ’n sameloop van omstandighede waaraan ek niks kan doen nie. Sodra ek terug is, bel ek jou dadelik. Dan verf ons die stad rooi!”
As sy vooraf geweet het hy gaan nie die naweek terug wees nie, kon sy net sowel vir tant Doortjie huis toe geneem en die naweek vir haar ouers gaan kuier het, dink sy. Nou lê daar ’n leë, vaal naweek vir haar voor.
“Jy is seker bly jy het darem nou weer jou slaapkamer vir jouself,” sê Riana toe sy uit die badkamer kom.
“Ja, dis darem een ou ligpuntjie,” sê sy sugtend.
“En nou, hoekom klink jy so bedruk?”
“Brian het nou net gebel. Hy sal nie voor Maandag terug wees nie.”
“Ek sien.” En ná ’n rukkie: “Dis darem nie lank nie. Net die naweek.” En uit die bloute: “Het Neville jou vertel hoe dit gekom het dat hy geskei is?”
“Nee. Ek het hom nog kwalik weer gesien. Ek meen, ons was nog nooit weer alleen nie. Ek het hom genooi om die een of ander tyd weer by ons te kom kuier, maar hy ry moontlik môre Bloemfontein toe vir ’n paar dae. Wat sê hy, hoekom is hy geskei?”
“Hy moet jou maar self vertel. Ek is jammer ek het dit opgehaal. Ek het aangeneem julle het dit bespreek.”
“En jóú hartsake?” vra Pikkie belangstellend. “Ons het so lank laas kans gekry om lekker te gesels. Jy het mos nog laas gepraat van iemand van wie jy baie hou, maar wat iemand anders in die oog het. Het jy hom intussen weer gesien?”
Riana se kop knik. “Ja, ek sien hom van tyd tot tyd, maar dis nog dieselfde. Hy sien my nie raak nie.”
“Dan moet hy darem regtig siende blind wees. Is dit iemand by jou skool? ’n Onderwyser?”
“Nee.”
“Jy wil nie oor hom praat nie?”
“Nee.”
“Ai, man, ek hoop dinge kom vir jou reg. Dit moet vreeslik wees om lief te wees vir iemand en hy steur hom nie aan jou nie.”
“Los nou maar dié onderwerp,” sê Riana stug. “Wat gaan jy die naweek doen?”
“Seker niks besonders nie. Wat is daar nou om te doen? Het jy aan iets gedink?”
“Nee. Net aan slaap en rus.”
Dis dan ook wat hulle die hele Saterdag doen. Slaap en rus.
Sondagoggend skrik Pikkie wakker van die gelui van die telefoon. “Jammer ek maak julle so vroeg wakker,” sê Neville toe sy antwoord, “maar ek ry eers môre Bloemfontein toe. En dis so ’n lieflike dag dat ek gewonder het of jy en Riana nie lus is vir ’n piekniek nie.”
“Dit klink lekker! Riana slaap nog, maar ek sal haar sê. Ons sal ’n kosmandjie pak en sommer tot daar by jou ry. Ek weet mos waar die woonwapark is.”
Riana lyk vir ’n oomblik of wat opgewonde toe sy haar van Neville se oproep vertel, maar dan skud sy haar kop. “Ek sal nie saamgaan nie.”
“Hoekom nie? Het jy ’n ander afspraak?”
Sy vryf met haar hande oor haar oë. “Nee . . . e . . . ja. Frans kom hierheen.”
“Ag, bel vir Frans en sê vir hom jy’t iets anders aan.”
“Nee. ’n Mens los nie sommer so na hartelus afsprake nie.”
“Daar is tog niks anders as platoniese vriendskap tussen jou en Frans nie, is daar?”’
“Nee, maar . . . Ek is in elk geval nie lus om derdemannetjie te speel nie. Gaan en geniet die dag. Boetman sal in die wolke wees.”
Pikkie se opgewondenheid is glad nie meer so groot toe sy ’n ruk later alleen met die gepakte kosmandjie in die pad val Bloubergstrand toe nie. Toe Neville die voorstel gemaak het, het sy hulle vier saam op ’n kombers langs ’n rivierstroom sien sit en korswil. En het sy geglo sy sal op Riana se teenwoordigheid kan staatmaak om te verhoed dat Neville haar dalk die hof maak. Dis die laaste ding wat sy wil hê.
Boetman kom haar eerste tegemoetgehardloop toe sy voor hul woonwa stilhou. Hy dans behoorlik rond van opgewondenheid en kan nie wag dat sy hom moet vertel wat sy alles in die kosmandjie gepak het nie. “Riana kon ongelukkig nie saamkom nie,” sê sy toe Neville by hulle aansluit. “Sy het ’n ander afspraak.”
Hy antwoord nie daarop nie en neem die kosmandjie by haar om dit in sy motor te sit. “Waarheen sal ons gaan? Het jy enige voorstelle?”
“Nee, dis vir jou om te besluit.”
“Kom ons gaan na die berg toe waar die bobbejane is,” sê Boetman smekend.
“Hy praat van Dutoitskloofpas,” verduidelik Neville glimlaggend.
“Dan kan ons seker maar soontoe gaan?”
“Ja,” sê Neville. “Solank jy net onthou dat bobbejane oulike maar gevaarlike gediertes is, Boetman.”
Dit word ’n heel aangename dag. Hulle is gelukkig om ’n stilhouplekkie langs die pad in die berg te kry waar daar wel ’n waterstroompie en groen gras is om ’n kombers oop te sprei. Daar is tot Boetman se plesier genoeg bobbejane om van ’n afstand af dop te hou. En Neville, kom Pikkie agter, is werklik interessante geselskap. Daar is omtrent niks waarvan hy nie iets weet nie. Hy kom boonop van tyd tot tyd met sulke kwinkslae vorendag dat sy nie anders kan as om dit uit te skater van die lag nie. Toe hy voorstel hulle ry terug Bloubergstrand toe om te gaan swem nadat hulle die kosmandjie behoorlik skrikgemaak het, willig sy dadelik in. “Dit sal lekker wees.”
Toe hy later uit die water na haar en Boetman aangestap kom, kan sy nie anders as om sy mooi sonbrand raak te sien nie. Goed gebou ook. Daarby is hy so ’n gawe mens, hoe is dit dan dat hy geskei is? Was dit sy skuld?
Asof hy haar gedagtes kan lees, sê hy toe hy langs haar op sy handdoek kom sit: “Ek sien eintlik daarteen op om Bloemfontein toe te gaan. Dit ontstig Boetman elke keer as hy sy ma sien.”
Sy kyk vinnig na hom en toe na