Elza Rademeyer Omnibus 5. Elza Rademeyer
wat kan werk.
Oom Jorrie is nie baie behulpsaam nie. “Jong, ek weet nie. Die man wat vir my gebou het, het hoeveel stories gehad toe ek vir hom sê die dak lek. Ek sal jou beduie waar hy bly, dis net ’n paar huise hiervandaan, maar julle moet goed dink voor julle hom kry om vir julle te werk.”
Sy stap sommer van oom Jorrie af na die bouer se huis. En daar aangekom, wis sy dadelik dat hy nie die soort man is na wie sy soek nie. Die onnetheid van sy werf, die barste in sy eie huis se afgeskilferde mure en die blik bier in sy hand sê vir haar dis nie die soort bouer waarna sy soek nie. Dog, sy is nou daar, dus vra sy hom maar om vir hulle ’n kwotasie te kom gee vir die oprigting van ’n afdak.
Hy lig sy vuil hoed en krap sy kop. “Ek is ’n bietjie besig op die oomblik,” sê hy, “maar ek sal so gou dit vir my moontlik is ’n kwotasie kom gee. Waar bly jy?”
“Het jy toe reggekom?” wil tant Doortjie weet toe sy weer by die huis kom.
“Hy sal ’n kwotasie kom gee.”
“Gaan jy sowaar voort met jou planne?” vra Riana fronsend.
Gedagtig daaraan dat Riana dalk vir Frans Goedhardt sal vertel van haar bedenkinge, knik sy haar kop. “Ja, natuurlik gaan ek daarmee voort.”
“Sonder bouplanne?”
Pikkie lig haar skouers oënskynlik ongeërg. “Sonder bouplanne. En jy kan jou Frans-vriend maar daaroor inlig as jy wil.”
“Dis reg, Pikkie,” kry sy tant Doortjie se ondersteuning. “As jy ’n man een keer oor jou laat loop, doen hy dit elke keer. Ons vroue moet staan op ons regte.”
Riana se wenkbroue lig. “Goed, maak soos jy wil. Maar ek onttrek my van die hele besigheid. Dis nou tussen jou en Frans.”
Dié daag hoeka die aand daar op om by Riana te kom koffie drink. En sy is vinnig om hom oor Pikkie en tant Doortjie se planne in te lig.
“Jy gaan jou vingers lelik verbrand,” is al wat hy vir Pikkie sê. Toe verdwyn hy en Riana na buite om ’n hele ruk later eers weer die huis binne te kom.
“Ons het nou ’n ander plan uitgewerk,” sê Riana nadat hulle gaan sit het. “Frans sê daar is genoeg spasie aan die agterkant van die garage om –”
“O, dan vlieg ons met die motors oor die huis se dak om by die afdak te kom!” val Pikkie haar sarkasties in die rede.
“Nee, man. Wat hy eintlik bedoel, is dat ons die garage aan die agterkant verleng. Dan het ons ’n tandem-garage.”
“Wat vir ’n ding is dit?” vra tant Doortjie. “Klink vir my nes iets soos tameletjie. Ek dag dan tameletjie het iets met konfyt te doen?”
“Nee, dis ’n dubbelmotorhuis,” verduidelik Riana laggend. “Ons verleng die bestaande garage sodat die motors agter mekaar staan. Dit sal weliswaar ’n bietjie meer kos as ’n afdak, maar dan is ons motors albei onderdak en veilig.”
“So. En hoeveel meer gaan dit ons kos?” wil Pikkie weet.
Riana kyk na Frans wat meer geïnteresseerd in die koffietafel blyk te wees as in die geselskap om hom. “Wat dink jy gaan dit ons kos, Frans?”
“Die aanbouing? Dit sal heelwat meer kos as ’n afdak, maar dan is dit ten minste ’n wettige struktuur.”
“Heelwat meer. Dan moet ons seker geld gaan steel om dit te bou,” sê Pikkie smalend. “Ons kan kwalik die sinkplate en pale vir ’n afdak bekostig!”
“Sinkplate!” sê tant Doortjie fronsend. “Wou julle die afdak dan van sinkplate gebou het? Hoe gaan só ’n gedoente lyk?”
Almal kyk skielik na Pikkie. Frans ook. En sy kan haar kop op ’n blok sit hy kry lekker.
“Ons verf dit mos. Niemand gaan weet dis van sinkplate nie,” sê sy met haar blik vas in dié van die moedswillige mansmens oorkant haar. Maar dan is dit plotseling asof sy donker kykers haar wil nader trek. Sy kyk vinnig weg. “Dis klaar gereël. Die bouer kom dit oprig sodra hy die werk waarmee hy nou besig is, afgehandel het.”
Dis Riana wat behendig die gesprek in ’n ander rigting stuur. Pikkie vertoef ook nie veel langer in die sitkamer nie. Toe tant Doortjie verskoning maak en opstaan om ’n bietjie te gaan rus, gryp sy ook na ’n verskoning om haar uit die voete te maak. Die laaste ding wat sy wil doen, is om langer in die teenwoordigheid van Frans Goedhardt te vertoef. Die man ontstig haar totaal! As dit nie deur woorde is nie, is dit met sy oë. Hy laat ’n rebelsheid in haar los wat sy nie kan beheer nie.
Maandagoggend het sy pas haar motor by die skool geparkeer of een van die onderwyseresse kom na die parkeerterrein aangedraf. Sy verwonder haar nog aan juffrou Siebert se potsierlike ronde lyfie wat so skud en skommel, toe kom steek sy langs haar motorvenster vas. “Het jy gehoor van meneer Britz, ons skoolhoof?” vra sy uitasem.
“Nee, wat van hom?”
“Hy’t gisteraand ’n hartaanval gehad. Op die plek morsdood!”
“Wát?” adem Pikkie geskok.
“Sy vrou het ’n dokter ontbied, maar daar was niks meer wat hulle vir hom kon doen nie.”
Sy onverwagte dood is ’n groot skok. Dit plaas ’n demper op al die skoolverrigtinge, want al was hy streng, was hy nooit onregverdig nie. Die leerlinge het baie van hom gehou. Leerkragte en leerlinge is dus ewe verslae.
Dis of Pikkie steeds in ’n dwaal verkeer toe sy die middag huis toe ry. “Ek kan nie glo hy is so skielik weg nie,” sê sy vir Riana. “Hy sou weliswaar die einde van die jaar afgetree het, maar dit bly ondenkbaar dat ons hom nooit weer sal sien nie.”
“Ja, jong, dis maar soos die lewe is. Vandag is jy nog hier en môre is jy weg. Julle sal seker nou maar sonder ’n skoolhoof voortgaan tot die end van die jaar, of hoe?”
“Ek glo so. Die onderhoof sal seker maar in sy plek waarneem vir hierdie laaste kwartaal ná die skoolvakansie.”
Die verslaentheid in die skool duur die hele week voort. Pikkie se leerlinge was nog nooit so stil en bedees nie. Selfs haar verlange na Brian is nie so fel nie. Hy leef ten minste en is nie deur die dood van haar weggeneem nie. Een van die dae kom hy terug en gaan sy hom weer sien. Vrydag word meneer Britz begrawe, en niemand gaan hom ooit weer sien nie.
Sy slaap sleg. Oor die onverwagte dood van meneer Britz, oor die impak wat dit op die skool en kinders gaan hê, en dan is daar nog Frans en die afdakstorie ook. ’n Tandem-garage is ’n goeie idee, maar om Frans Goedhardt sy sin te gee . . .
Vrydagmiddag toe sy van meneer Britz se begrafnis af tuiskom, tref sy Neville en Boetman saam met Riana en tant Doortjie in die sitkamer aan. Hy groet haar met die hand en sê dan half verleë: “Ek hoop nie jy dink ek is ’n laspos nie.”
“Nee, hoekom sal ek so dink? Jy en Boetman kan gerus sommer bly vir aandete. Ek is seker tant Doortjie sou genoeg kos gemaak het. Sy kook altyd asof ons ’n koshuis besit.”
“Ja, daar’s oorgenoeg kos,” stem tant Doortjie saam.
“Vir hoe lank kuier tante nog?” vra Neville belangstellend.
“Nie meer vir lank nie. Ek moes eintlik lankal op die trein geklim het, maar Pikkie en Riana wil my nie laat gaan nie. Ek is klaar met die koffietafel se kleedjie. Nou hekel ek net ’n lappie om onder die blompot daar op die hoektafeltjie te sit. Sodra ek daarmee klaar is, gaan ek huis toe.”
So, nou word haar naam ook sommer by Riana s’n gevoeg, asof sy haar ook nie wil laat huis toe gaan nie, dink Pikkie by haarself. Dis nie dat sy omgee nie, maar wanneer Brian terug is, kan dit probleme skep. Sy is in die eerste plek nie van plan om saans tuis te bly ter wille van tant Doortjie as Brian haar wil uitneem nie. En in die tweede plek weet sy nie wat Brian van haar tante gaan dink nie. Sy kan soms so platvloers wees. Soos die dag daar by die hospitaal.
Boetman staan onseker rond, kom steek dan skamerig voor Pikkie se stoel vas. “Kan ek maar ’n bietjie op tannie se