Tryna du Toit-omnibus 4. Tryna du Toit
Sy steek die stoflap in haar sak, kyk ’n oomblik na Ria en sê dan weer: “Die mense op Towerwater praat nie graag van hierdie dinge nie, daarom het ek dit maar gedoen. Miss Winnie was nog jonk, sy was maar twintig jaar oud toe sy getroud is, en sy kon Miss Mona nie verdra nie. Miss Winnie was ’n bietjie snaaks – sy het aan haar senuwees gely – en sy kon met tye vreeslik skree en te kere gaan. Sy wou gehad het Master Paul moet vir Miss Mona wegstuur – sy het gesê sy is bang haar kind sal gebreklik wees soos Miss Mona – maar hy wou dit natuurlik nie doen nie. Towerwater is net soveel Miss Mona se huis as syne. En enigiemand wat Miss Mona iets aandoen, sal gestraf word.”
Daarmee draai Katy om en stap by die kamer uit. Ria sit roerloos, diep ontsteld. Dis of daar skielik ’n koue wind oor haar waai en sy is bewus van ’n gevoel van onheil. Was daar ’n waarskuwing of bedekte dreigement in Katy se laaste woorde?
’n Lang ruk sit sy daar in die stoel en dink en droom, dan trek sy haar skryfblok nader. Sy het lus om met haar broer Danie te gesels en hom te vertel van alles wat sy hier gesien en aangetref het. Darem nie heeltemal alles nie – beslis nie die storie wat Katy haar nou net vertel het nie. Danie sal dink sy is besig om te fantaseer.
Sy skryf so lekker dat sy byna haar tyd verspeel en sy moet gou maak om betyds klaar te wees. ’n Oomblik kyk sy na haarself in die hangkas se groot spieël. Sy het ’n wit broderie anglaise-rokkie aan met moue wat tot by die elmboë strek en ’n breë blou fluweellint om die middel. Haar roesbruin hare is in ’n netjiese rol gekam, haar lippe ’n sagte pienk. Geen oogskaduwee of ander grimering nie. Sy knik goedkeurend; selfs Paul Theron sal nie fout met haar kan vind nie.
Sy kry hom in die studeerkamer, besig om koerant te lees. Sy merk dat hy ook netjies lyk in ’n grys pak met ’n mooi das. Sy stap tot voor hom en sê: “Tevrede?”
Hy kyk op, maar antwoord nie. Sy hou haar hande na hom uit sodat hy kan sien dat sy selfs die rooi naellak met ’n stemmiger kleur vervang het.
“Ek het ’n skoon sakdoek ook,” sê sy en wys dit vir hom. “Is daar miskien nog iets wat ek vergeet het?”
’n Lang oomblik kyk hy na haar. Daar is nie ’n sweem van ’n glimlag op sy gesig nie. “Jy lyk baie mooi,” sê hy dan. “’n Prentjie van onskuld. Ek hoop nie jy sal die rol te moeilik vind nie.”
Sy wil haar vererg, maar dan glimlag sy liefies terwyl sy haar sakdoek na hom uithou. “Ek hoop nie die parfuum is te gesofistikeerd vir Dankbaarheid se mense nie,” sê sy beleefd.
Ewe ernstig ruik hy daaraan, dan skud hy sy kop. “Ek dink dis net reg. So ’n tikkie sofistikasie is net genoeg om ’n mens te laat wonder of die meisie regtig so onskuldig is soos wat sy lyk.”
Sy kyk agterdogtig na hom, maar sien dan die glinstering diep agter in sy oë en ontspan. Hy staan op, tel die motorsleutels van die lessenaar af op en vervolg: “Ek wou jou nie kwaad maak toe ek vanoggend gesê het jy moet ander klere aantrek nie. Ek het dit om jou eie ontwil voorgestel. Oom Pieter is oud en konserwatief, en as hy om die een of ander rede ’n hekel in die stadsniggie kry, kan jy maar net sowel huis toe gaan. Jy sal niks uit hom kry nie. Aan die ander kant, as hy van jou hou, sal hy enigiets vir jou doen.”
“Ek was self van plan om ander klere aan te trek,” sê sy styf.
Hy glimlag. “Nou waarom is jy dan vies?”
Sy hoor Mona se skuifelgang buite die deur en draai om. Mona het nog haar blou, geruite rok aan, maar sy dra nou ’n wit hoedjie en wit handskoene en hou ’n wit handsakkie met albei hande vas. Sy kyk na Ria en daar is ’n vreemde uitdrukking op haar gesig – sy lyk soos een wat helder oordag spoke sien. Soos in ’n droom kom sy nader en saggies, byna liefkosend, raak sy aan Ria se wit rok en die blou fluweellint.
“Dis ’n mooi rok,” sê sy spontaan. “Ek hou van die lint.” Skielik is dit of sy tot besinning kom. Sy trek haar hand terug en vra koud: “Sit jy nie ’n hoed op nie?”
Ria kyk vraend na Paul. “Moet ek?”
“Dis nie nodig nie,” sê hy bruusk. “Is Emily reg? Kom ons ry.”
Oom Pieter en tannie Cora het hulle op die koel stoep van Dankbaarheid se ou huis ingewag. Die huis is wit gepleister en het groen luike en ’n veranda reg rondom. Tweehonderd tree verder staan die sonnige, moderne huis waar oom Pieter se kleinseun met sy gesin woon.
Oom Pieter is ’n lang, skraal man met spierwit hare en ’n fyn, edel gesig. Hy lyk broos en tengerig, asof die eerste harde wind hom kan wegwaai, maar sy blou oë is helder en wakker. Dis vir Ria of sy ondersoekende blik tot in haar diepste wese deurdring. Tannie Cora is ’n paar jaar jonger, met ’n sagter, vriendelike gesig, maar ook sy het daardie amper deurskynende broosheid wat met hoë ouderdom kom.
“Jy trek op die Therons,” sê oom Pieter terwyl hy haar hand met albei syne druk. “Jy lyk na jou ma en sy was die ewebeeld van my suster Mattie. Maar waarom kom jy nou eers, kind? Waarom het jy nie lankal gekom om met jou familie kennis te maak nie?”
“Ek wil al baie lankal kom, oom Pieter,” sê sy met ’n glimlaggie. “Ek is regtig bly ek is uiteindelik hier.”
Terwyl hulle tee drink, vra hy haar uit oor haar familie. Hy verneem na haar pa en na haar broers en hulle gesinne, dan sê hy: “En jy, my kind, jy is tog seker ook getroud? Vertel my van jouself.”
“Ek het nie ’n gesin nie, oom Pieter, behalwe my pa en my broers,” sê sy huiwerig. Stil vervolg sy: “Ek is jare gelede van my man geskei en woon alleen in ’n voëlhokkie in een van daardie wolkekrabbers in Johannesburg. Nou skryf ek maar om myself besig en aan die lewe te hou.”
Hy kyk lank na haar. “Dis ’n wonderlike gawe,” sê hy dan sag. “So is daar altyd kompensasies. En nou wil jy ’n boek oor ons kom skryf?”
Ria lag. “Ek sal dit nie waag nie. Nee, oom Pieter, ek het gekom om met my familie kennis te maak. Maar ek is baie geïnteresseerd in ons voorsate en as ek genoeg gegewens kan kry, wil ek graag ’n boek oor hulle skryf. Daar is veral een, groottante Sophia Maria …”
Hy knik en die blou oë glinster van genot. “’n Kleurryke en interessante mens, daardie Sophia Maria. Drink net jou tee, dan kom jy saam met my studeerkamer toe.”
Terwyl hulle nog besig is om tee te drink, kom oom Pieter se kleinseun, Pieter, ook daar aan om met die stadsniggie kennis te maak. Hy is nog jonk, seker so drie-, vier-en-twintig, dink Ria, en is ’n sterkgeboude man met breë skouers.
“Waar is Peggy?” vra Emily belangstellend.
“Op die dorp, soos gewoonlik,” sê Pieter skouerophalend.
“Sy het vanoggend ’n vergadering,” verduidelik tannie Cora paaiend. “Sy bring sommer vanmiddag die kinders huis toe.”
“Wanneer sy klaar tennis gespeel het,” sê Pieter. “Nou ja, ek kan haar seker nie kwalik neem nie. Sy verlang na die kinders en dis maar stil hier op die plaas.”
Hy draai na Paul en sê: “Ek is bly jy het gekom. Ek wil graag hê jy moet ’n bietjie na my skape kom kyk. Ek is bekommerd oor daardie jong rammetjies wat ek ’n paar maande gelede gekoop het.”
Paul stap saam met Pieter weg en ná ’n rukkie verdwyn Emily, Mona en tannie Cora ook. Oom Pieter nooi Ria om saam met hom studeerkamer toe te gaan. Die vertrek is klein, eenvoudiger as Paul se studeerkamer op Towerwater, maar ook hier is die rakke vol boeke en tydskrifte. Teen die muur hang ou familieportrette en die geraamde foto’s van kampioenmerinoramme.
Oom Pieter nooi haar om te sit. Daar lê ’n mooi rooshoutkissie op die lessenaar en sy wonder opgewonde of die kosbare briewe en dokumente daarin gebêre is.
Hulle gesels oor haar skryfplanne en oom Pieter sê: “Dis asof jy in antwoord op my gebede kom, kind. Ek voel lankal dat hierdie dinge neergeskryf moet word, anders is dit vir die nageslag verlore. Dis ’n interessante geskiedenis, die geskiedenis van die Therons wat hulle op Donkerfontein gevestig het. Paul Theron, ons ou voorsaat, was ’n buitengewone man met ’n sterk persoonlikheid. Hy was diep godsdienstig en die leier