Tryna du Toit-omnibus 4. Tryna du Toit
die oggend drink Ria en Paul saam tee in sy studeerkamer. Deur die venster sien sy die rooi stofwolk wat teen die horison lê: vrugbare grond wat deur die westewind verwaai word. Paul volg haar blik en, moontlik om haar gedagtes af te lei, sê hy: “Vertel my ’n bietjie van die stad. Is jy gelukkig daar?”
Dis of sy haar gedagtes van ver af moet terugbring. Dit voel of sy al maande lank uit die stad weg is en dit is nog skaars twee weke. Nadenkend sê sy: “Ek hou van die stad, van die mense wat jy daar ontmoet, van die opvoerings en musiekkonserte. Die lewe is stimulerend en interessant; daar gebeur altyd iets. Dis wonderlik om in die skemeraand op jou balkon hoog in die lug te staan en te sien hoe die stadsliggies om jou begin flikker totdat Johannesburg soos ’n goue sprokiestad aan jou voete lê. Die pas is vinnig; jy moet altyd hardloop om by te bly.”
“En jy hou daarvan?”
Sy glimlag en haal haar skouers op. “Dis my lewe.”
Op ’n ander toon vra hy: “Hoe gaan dit deesdae met Sophia Maria? Het die kissie toe enige verdere inligting oor haar opgelewer?”
“Ongelukkig nie. Ek is bevrees daar is nie genoeg gegewens vir ’n biografie soos ek oorspronklik beplan het nie. Maar ek het ’n ander idee gekry.”
“Mag ek vra wat dit is? Of is dit ’n geheim?”
Sy vertel hom van haar nuwe plan en hy luister met belangstelling. “Ek dink dis ’n blink gedagte,” sê hy. “Wanneer begin jy?”
Sy glimlag. “Wel, eintlik het ek reeds begin. Ek het die idee … Nou kom nog net die navorsing en die skryf.”
“Ek hoop jy gaan die boek hier op Towerwater skryf.”
Sy kyk verbaas na hom. Hy lyk doodernstig.
“Ek dink nie jy besef wat jy sê nie. Dit sal my ten minste ’n jaar, moontlik langer, kos om die nodige gegewens in die hande te kry en die boek te skryf. As dit goed gaan, word dit dalk nog twee, selfs drie boeke.”
Sy vertel hom van haar gesprek met oom Pieter en sy vrees dat jong mense vandag nie genoeg waarde heg aan hulle erfenis waarvoor hulle voorvaders so hard geveg het nie. Dat hulle, omdat hulle soveel makliker grootgeword het, nie opgewasse is vir die eise wat die lewe nog aan hulle gaan stel nie.
“En jy? Glo jy dit ook, Ria?”
“Nee, ek glo dit nie. Ek het vir hom gesê elke geslag het sy helde en lafaards – jy kan nie ’n hele geslag veroordeel omdat daar ’n paar individue is wat afdwaal nie. Dit was hulle onblusbare gees wat ons voorouers na hierdie land gebring het en die Voortrekkers met hulle ossewaens die onbekende laat intrek het. Daardie gees is in ons ook, en ons sal dieselfde deursettingsvermoë aan die dag lê as dit nodig is.” Sy aarsel ’n oomblik, dan sê sy sag: “Ek raak seker nou dramaties, maar dis wat ek graag met my boek wil sê.”
Hy kyk belangstellend na haar. “Die eerste boek sal seker die maklikste wees. Avontuur, oorloë, heldedade, hartstog, ’n wilde land wat getem moet word, ’n nimmereindigende stryd om te bestaan … dit is lekker stof vir ’n roman.”
“En tant Sophia Maria – sy moet ook in die boek kom.”
Hy glimlag. “Natuurlik. Wel, Ria, ek hoop dit werk uit soos wat jy beplan. As jy jou idees op papier kan sit, sal dit wonderlike boeke wees.”
“Ek kan maar net probeer.”
Hy bly ’n rukkie stil, dan sê hy: “Mag ek jou ’n baie persoonlike vraag vra? Jy sê dit sal jou minstens ’n jaar of langer neem om die nodige inligting bymekaar te kry en die eerste boek te skryf. Dan duur dit nog maande voor dit gepubliseer word en jy betaal word. Waarvan lewe jy in die tussentyd?”
Sy glimlag. “Dis ’n goeie vraag. Jy bedoel natuurlik, waarvan lewe ek as ek in die stad is, ver van my gasvrye familie? Ek het vroeër skoolgehou, maar daar het toe maar min tyd vir skryf oorgebly. Nou skryf ek voltyds – kortverhale, vervolgverhale, sketse en verhale vir die radio, met so een maal per jaar ’n liefdesroman of ’n jeugverhaal. Ek het ook ’n klompie leerlinge vir wie ek Afrikaans probeer leer, en so hou ek kop bo water. Intussen droom ek van die meesterstuk wat ek eendag gaan skryf – ’n boek wat in baie tale vertaal word en miskien selfs verfilm word.”
“Miskien sal die boek waarvan jy nou droom daardie boek wees. Ek hoop so.”
“Dankie, Paul.” Meer ernstig sê sy: “Paul … ek … daar is iets wat ek graag met jou wil bespreek. Ek sal sommer reguit met jou praat. Dit sal my seker nog ’n hele ruk vat om die inligting vir my boek bymekaar te maak – ek wil nog in die biblioteek en die kerkargief gaan navorsing doen en ek wil graag nog ’n rukkie hier rondkuier sodat ek die regte atmosfeer vir die verhaal kan kry …”
Hy kyk na haar, maar sê niks nie. Aarselend vervolg sy: “Ek waardeer julle gasvryheid en ek bly heerlik hier op Towerwater, maar ek wil nie ’n oorlas wees nie. Aunt Mildred het my genooi om op The Gables te kom kuier net so lank soos wat ek wil …” Die woorde steek in haar keel vas: het sy hom nou te na gekom? Paul lyk skielik so koud en onvriendelik.
Hy staan op en stap venster toe. Met sy rug na haar gekeer sê hy: “Wanneer wil jy gaan?”
Sy kyk verslae na hom. Hoe moet sy nou die man verstaan? “Ek het nog niks besluit nie. Ek bespreek maar net die saak met jou. Wat makeer, Paul? Waarom is jy nou vir my kwaad?”
Hy draai om na haar toe. “Ek is nie vir jou kwaad nie. Dit staan jou vry om na Aunt Mildred of enigiemand anders toe te gaan net wanneer jy wil. Ek het gedink jy sal dit nie lank hier op Towerwater uithou nie.”
“Wat bedoel jy nou?” vra sy vinnig, ontsteld.
“Wie is nou kwaad?” vra hy, en sy sien die glinstering in sy oë. “Ek bedoel maar net dis stil hier op die plaas; daar is nie veel afleiding nie. Ek besef ons is maar treurige geselskap vir ’n mooi, lewenslustige meisie wat gewoond is aan die stad met al sy vermaak.”
Sy is stil terwyl sy soek na die regte woorde. Ná ’n rukkie sê sy: “Ek het jou gesê ek hou van die stad. Maar ’n mens kan daar ook eensaam wees, nog meer as op die plaas. Dit hang van jouself af. Jy dra jou geluk binne-in jouself – dit is nie van ’n plek afhanklik nie. Ek bly lekker hier op Towerwater. Ek skryf weer en daar in die stad het ek begin dink die fonteintjie het opgedroog. En vandat ek hier gekom het, was ek nog nie een dag verveeld nie. Inteendeel, elke dag is te kort vir al die dinge wat ek wil doen.”
Sy kyk reguit na hom en sê: “As ek kon kies, sou ek liewer hier op Towerwater wou bly. Ek wil hier wees as die reën kom; ek wil die bruid se sluier met my eie oë sien. Maar ek wil nie ’n oorlas wees nie en ek het gedink as ek my kuiertyd onder die familie verdeel, sal dit vir julle makliker wees.”
Sy blik is ondersoekend. Amper kortaf sê hy: “As jy so oor die saak voel, bly dan hier op Towerwater. Ons het jou nodig.”
Hulle hoor ’n motor buite aankom en hy draai om om te sien wie dit is. Verras kyk sy na hom en haar hart klop ’n bietjie vinniger as gewoonlik. “Ons het jou nodig.” Wat sou hy daarmee bedoel?
Die motor hou voor die deur stil en Tillie du Plessis klim uit. Sy het ’n netjiese, geblomde rok aan en kom blykbaar net van die dorp af. Paul gaan uit om haar te groet.
Is Tillie verlief op Paul? wonder Ria terwyl sy hulle ongemerk deur die studeerkamervenster dophou. Sy bel hom dikwels om raad te vra en hy is altyd gereed om haar te help. Is hulle net goeie bure of hou Paul meer van die jong weduwee as wat hy miskien self vermoed?
Hulle kom reguit studeerkamer toe.
“Tillie het vir ons pos gebring,” sê Paul terwyl Ria vir Tillie groet. Hy kyk die pos vinnig deur en gee vir Ria ’n hand vol briewe. “Almal vir jou.”
Sy neem die briewe gretig en kyk vlugtig na hulle. Daar is ’n brief van haar broer Danie, een van haar pa, een van die uitgewers en – met ’n tinteling van opwinding herken sy die handskrif – een van Bill. Sy sit hulle eenkant op die lessenaar neer.
“Ek sal vir Emily gaan sê jy is hier, Tillie. Hoe lyk