Tryna du Toit-omnibus 4. Tryna du Toit
vriend wat by een van die kunsgalerye werk en hy sal al die reëlings vir ons tref. Ek hoop jy sal dit doen.”
Mona skud net haar kop. “Ek het jou gesê ek skilder net vir my eie plesier. Ek hou nie van vreemde mense nie – die manier waarop hulle na my kyk, die spot en bejammering in hulle oë … Ek is gelukkig hier op Towerwater. Waarom sal ek weggaan?”
“Omdat jy ’n groot talent gekry het en dit moet uitleef. Het jy al gedink hoeveel vreugde jy ander mense daarmee kan gee?” vra Ria ernstig.
“Jy kan maklik praat. Jy is nie gebreklik nie; jy kan trou en kinders hê. Wat hou die lewe vir my in behalwe pyn en frustrasie? Wat het ek gedoen dat ek so gestraf moet word?”
Ria hoor die bitterheid in haar stem en sê saggies, vertroostend: “Hierdie dinge gebeur nie om jou te straf nie, het my broer Danie eendag gesê, maar om jou te toets. Helen Keller was blind, en wat het sy nie vir die mensdom beteken nie? Beethoven was doof, en dink aan die wonderlike musiek wat hy vir die wêreld gegee het. Die liggaam is nie belangrik nie; dis die gees wat tel.”
Sy is skielik bewus daarvan dat hulle nie meer alleen is nie en draai vinnig om. Paul staan in die deur, sy gesig streng en ontevrede.
“Wat gaan hier aan?”
“Mona en ek is besig om te gesels,” antwoord sy koel.
“Waaroor gesels julle?”
Sy voel hoe hartseer en ontsteltenis soos ’n golf in haar opstoot, maar bedwing haar en sê kalm: “Mona het vir my haar skilderye gewys. Ons was besig om dit te bespreek.”
Hy kyk na Mona, wat bleek en ontsteld eenkant staan, en sê koud: “Mona het al ’n paar dae lank hoofpyn. Laat staan liewer die bespreking tot later.”
Sy aarsel ’n oomblik, dan sê sy kwaad: “Ek wil dit nie laat staan nie. Dis tyd dat iemand vir haar die waarheid vertel, en vir jou ook. Dis julle skuld dat Mona is wat sy vandag is: ’n eensame, verbitterde mens vol selfbejammering. Haar hele lewe lank het julle almal – jou pa, jy, Emily – haar in watte toegedraai en haar kastig beskerm teen die wrede wêreld daar buite. Sy het nooit geleer om op haar eie bene te staan nie. Haar talent, wat haar en baie ander mense se lewens kan verryk, steek julle weg asof dit iets is waarvoor ’n mens skaam moet wees. As dit nie vir julle was nie, kon sy vir haarself naam gemaak het as skilder en ’n vol en interessante lewe gehad het.”
Paul se gesig is hard en geslote, sy blou oë so koud soos ys. “Jy weet nie waarvan jy praat nie. Ek dink dit sal beter wees as jy jou in die toekoms by jou boek bepaal en ons uitlos.”
Ria kyk na hom, wit van ontsteltenis. Wat het haar besiel om so te kere te gaan? Sy draai na Mona en sê berouvol: “Ek is jammer, ek het nie bedoel om jou seer te maak of te ontstel nie. Dis jou lewe, jy moet self besluit wat jy daarmee wil doen. Moet net nie toelaat dat ander vir jou voorskryf nie.”
Vir Paul sê sy: “Jy is reg. Omdat julle gasvry teenoor my is, gee dit my nie die reg om my in julle sake in te meng nie. Ek vra om verskoning.” Sy aarsel, dan sê sy onseker: “As dit julle pas, wil ek graag ’n paar dae na The Gables toe gaan.”
Hy knik instemmend. Sy gesig bly hard en geslote. “Bel net om te hoor wanneer dit hulle pas. Ek sal jou neem.”
Hoofstuk 6
Voor sy weg is na The Gables toe het Ria vir Bill geskryf om hom te sê dat sy nie nou terugkom stad toe nie. Haar toekomsplanne is onseker, het sy geskryf, en sy dink dit sal goed wees as hy vir sy vrou gaan kuier en weer met haar gesels. Miskien kan hulle tog tot ’n vergelyk kom, al is dit net om die kinders se ontwil. Maar wat ook al gebeur, sy sal nie met hom trou nie en sy dink dit sal beter wees as hulle mekaar so min moontlik sien wanneer sy terugkom.
Dit was nie ’n maklike brief om te skryf nie, maar sy het agterna verlig gevoel. Sy het geweet sy doen die regte ding en dit was voorlopig genoeg.
Emily sou die volgende oggend saam met Paul dorp toe gaan en het belowe om die brief te pos.
Paul het Ria nog dieselfde middag na The Gables toe geneem. Sy het haar tikmasjien en notaboeke saamgeneem in die hoop dat sy ’n bietjie werk gedoen sou kry.
Daar het ’n warm wind gewaai en stofwolkies het plek-plek in die veld uitgeslaan. Dit was ’n vaal, troostelose soort dag. Ria was tam van die hitte en min slaap en boonop terneergedruk oor haar konfrontasie met Paul. Emily was die hele oggend in die kombuis besig om vrugte in te lê en konfyt te kook, en Ria het nie kans gekry om met haar daaroor te gesels nie. Mona het nie vir middagete tafel toe gekom nie en Ria het gewonder of haar hoofpyn erger was.
Sy het later vir Katy in die gang gekry en gevra of Mona siek is.
“Miss Mona het kwaai hoofpyn en is ontsteld,” sê Katy koud. “Miss Mona is nie sterk nie; dinge krap haar maklik om.” En neus in die lug het sy weggestap.
Paul het sy gewone gang gegaan, maar hy het so ongenaakbaar gelyk dat Ria maar liewer uit sy pad gebly het. Dit was heel duidelik ’n goeie tyd om by die familie op The Gables te gaan kuier.
Hulle het min gepraat op pad soontoe. Paul was afgetrokke en Ria het gewonder of hy ander bekommernisse ook het. Maar sy het dit nie gewaag om te vra nie.
Ria was een keer vantevore op The Gables vir ’n kort kuiertjie, maar sy het vandag weer met ongeveinsde bewondering na die groot wit gewelhuis met sy wye, koel stoepe en ontwerperstuin gekyk. Deinende groen grasperke, sag soos fluweel, ’n blou, geteëlde swembad, ’n goed versorgde tennisbaan, beddings vol struike en blomme, skilderagtige bruggies en stroompies, groot ou koeltebome … Dit was soos ’n prentjie uit ’n boek – te mooi om waar te wees.
Van binne was dit ’n droomhuis: ruim, sonnige vertrekke met ou meubels, mooi skilderye en tapisserieë en dik Persiese tapyte waarin jou voete wegsak. Bokant die kaggel in die studeerkamer het ’n versameling gewere gehang wat seker ’n fortuin gekos het. Ria se slaapkamer was wit en blou en haar badkamer het dieselfde kleurskema gehad. Alles was deftiger en meer gesofistikeerd as op Towerwater.
Daar was min huise en tuine in Johannesburg se spogbuurte wat The Gables in weelde sou oortref. En tog, as sy kon kies, kies sy Towerwater met sy eenvoud en grasie.
Hugo Theron, die eienaar van The Gables, was sowat vyf-en-vyftig en ’n groot, effens gesette man met die selfvertroue wat geld en status bring. Hy was opgewek en vol grappies en het Ria dadelik op haar gemak laat voel. Sy het van hom gehou, maar tog was daar iets aan hom wat haar gehinder het. Presies wat, kon sy nie sê nie.
Sy vrou, Mildred, was ’n paar jaar jonger as hy. Sy was ’n aanvallige blondine, kunstig grimeer en seker van haarself. Sy het ’n harde mond, dink Ria. Onder die uiterlike sjarme is daar ’n vrou wat gewoond is om haar sin in alles te kry, ’n vrou wat nie veel tyd of simpatie vir gewone mense of minderbevoorregtes het nie. Sy het ’n blougroen syrok aan wat pas asof dit vir haar geskep is – en miskien is dit. Ria is bly sy het ’n paar van haar mooiste rokke ingepak.
Hulle het uit die fynste en mooiste porselein tee gedrink en daarna het Paul en Hugo studeerkamer toe gegaan om ’n rukkie oor boerderysake te gesels.
“Wil jy nie vir ete bly nie, Paul?” vra Mildred toe hy later kom groet. “Ek het ’n paar mense uit die dorp genooi om Ria te kom ontmoet – dokter Walters-hulle, die nuwe landdros en sy vrou en nog ’n paar ander. Joy Marsh kom ook. Jy sal baie welkom wees.”
Maar Paul wil nie bly nie.
“Laat my weet wanneer ek jou moet kom haal,” sê hy vir Ria. ’n Vlugtige handdruk, ’n beleefde glimlaggie, en hy en Hugo stap saam uit na sy motor toe. Ria het hom met ’n gevoel van teleurstelling sien gaan. Hy kon gerus maar gebly het.
“Ek het regtig niks meer geduld met Paul nie,” sê Mildred vies. “Hy begrawe hom daar op Towerwater met daardie twee vroumense. Dis genoeg om enigiemand die kluts te laat kwytraak. Ek het hom aan minstens ’n halfdosyn meisies voorgestel en moeite gedoen om hulle hier na The Gables toe te nooi, maar hy stel net nie belang nie. Dié Joy Marsh van wie ek netnou gepraat het, is ons bure se dogter en baie