Plaasmoord. Karin Brynard
se ma, so begin siek word destyds, was sy in ’n senuweekliniek vir behandeling. Die kinders was nog klein. Maar Flip het haar daar gaan uithaal en huis toe gebring. Teen alle dokters se raad in. Hy’t gesê hy sal haar self regdokter. En hy het. Daai harde man het haar soos ’n baba versorg.”
Beeslaar sit sy glas versigtig neer. “Maar daar’s mense wat sê Freddie was nie heeltemal stabiel nie – soos haar ma.”
“Aggeneewat, inspekteur, daar was niks fout met Freddie se kop nie. Kyk, ek en haar ma was vir jare lank vriendinne. Soos susters, kan jy maar sê. En ek het haar baie goed geken. En ek het vir Freddie geken. En omdat Freddie na haar ma aard, maak mense maklik daai afleiding. Maar sy was gewoon net eiesoortig. Haar hele lewe het uit haar verfwerk bestaan en verder het sy haar hart oopgemaak vir kinders. Maar vir die meeste mense is dit moeilik om te begryp.”
“En haar skilderye dan?”
“Jong, ek het nou self nie aldag verstaan wat sy gedoen het nie. Die goed was helfte van die tyd vir my smake maar bietjie grillerig.”
Sy bly ’n oomblik stil en frons.
“Soos dit vir my gelyk het, het sy baie binnetoe gekyk. Ek glo natuurlik sy kon meer sien as die res van ons. Jy weet, haar ouma aan moederskant was met die helm gebore. Sy kon die dooies sien. Dit was glo vir haar ’n vreeslike las. Nou, ek wil nie sê Freddie het die dooies gesien nie, maar sy was ’n slim mens, kon mense baie skerp waarneem. En ek dink dís maar wat haar verfwerk gedryf het. Moet my net nie vra wat dit alles beteken nie.”
“Het sy goed reggekom met die werksmense? Ek bedoel, sy’s ’n vrou ... nie almal werk maklik vir ’n vrou nie.”
“Nee wat, inspekteur. Dam is nou ’n man en alles. En hy lyk dalk vir baie mense bietjie snaaks, so met die gevlegte hare en kraletjies en so. Maar hy’s knap. Daar’s nie probleme sover ek weet nie.”
“Hy’t glo geld. Hoekom vir ’n vrou werk as hy geld het?”
Sy kyk hom onbegrypend aan.
“Jy vra die verkeerde een. As Dam baie geld het, weet ék daar niks van af nie. Maar een ding kan ek jou sê, en dis dat Freddie hom ten volle vertrou het. Hy’t die hele plaas ge-run. Freddie kon aangaan met haar eie ding. Ek weet, want ek het haar dikwels gevra. Nee, sy’t selfs eenkeer gesê Dam was ’n geskenk van Bo.”
“O?”
“Sy’t seker maar gemeen sy kan hom met die boerdery vertrou. Jy weet, sy was baie neerslagtig na haar pa se dood. ’n Plaas is nie iets wat jy soos ’n kar kan verkoop nie. Hy dra baie lewens. En jy moet sorg dat alles en almal behoorlik onder sorg kom voor jy hom wegmaak. Ek weet ook nie of daar dalk skuld was nie. Dis alles goed waarmee sy moes worstel. En toe kom Dam en voor ons ons oë kon uitvee, toe draai hy alles om op daai plaas.”
Beeslaar knik ingedagte. De Kok die ridder en die redder. Die man se alibi is rotsvas. Maar hy’s beslis nie jou gewone voorman nie. Op voornaamterme met die baas. Sy Arabiese omswerwinge. Hy verskyn uit die niet, neem so te sê beheer oor van ’n beeldskone vrou se boerdery, sy beskou hom as ’n “geskenk uit die hemel”.
“Nog sap, inspekteur?” dring Yvonne Lambrechts se stem tot hom deur.
“E ... nee dankie, dit was baie lekker. U kon nie intussen aan nog vermiste items uit die huis dink nie?”
“Nee, inspekteur, ek onthou maar net dat sy altyd Tilla se kettinkie om haar nek gedra het – die goue kettinkie met ’n pêrel en ’n diamant. En ’n goue armbandjie met haar naam daarop. Sy’t nie TV gehad nie. En soos u self weet, die rekenaar is nog daar.”
Hy staan op. “Ek moet gaan. Maar as ...”
Iewers na agter in die huis lui die telefoon. Sy beduie hy moet wag en skarrel in die rigting van die geluid. Hy hoor haar verskeie kere antwoord, haar stem verhef. Moet ’n langafstandoproep wees. “Wie?” roep sy. En na ’n rukkie: “Bosch? Sondag ... Ek sal vir haar sê. Ja, sy’s beslis nie hier nie. Maar ek sal vir haar sê.”
Die voordeur gaan oop. Saar Swarts tree na binne en groet. Haar wange gloei van die hitte. Slierte dik, gladde hare kleef in die klammigheid van haar nek en slape. Sy gooi die hare geïrriteerd oor haar skouers en vee met ’n plathand oor haar voorkop. Daar’s ’n fyn sproeisel sweet bo die swiep van haar donker wenkbroue.
“Die temperatuurmeter in die kar staan op drie en veertig,” sê sy en lig die dik gerf hare uit haar nek en hou dit teen haar agterkop vas, blaas asem deur lippe wat koorsrooi brand.
Beeslaar knik onbeholpe, vir ’n oomblik dronkgeslaan deur die warm volheid van die jong vrou voor hom. Dis asof hy haar vir die eerste keer sien, haar gladde vel, die prominente wangbene bokant hoekige kake, versag deur vol lippe en groot, mentgroen oë. Die kontras tussen die oë en die donker hare en vol wenkbroue gee haar ’n seldsame, amper wilde skoonheid.
“E ... alles goed afgeloop op Postmasburg?”
“Dankie, ja. Wanneer sal julle klaar wees met haar?”
“Dit behoort nie meer baie lank te wees nie.”
Sy verskoon haarself om iets koeler te gaan aantrek. Yvonne Lambrechts het intussen afgelui, maar die telefoon lui onmiddellik weer. Plaaslike oproep, want dié keer antwoord sy meer bedaard. “Ek verstaan. Nee, alles reg, ek sal verduidelik,” hoor hy haar ’n paar keer sê.
Hy wil net die voordeur oopmaak toe Saar weer haar verskyning maak. Sy is kaalvoet. Klein denimkortbroekie en wit T-hemp wat styf oor haar borsmaat span. Sy’t haar hare in ’n poniestert opgebind.
Met die bos hare uit haar gesig uit weg, val haar klein postuur weer op. Haar kaal arms en bene is skraal, maar goed gevorm, die spiere sag gedefinieer, die vel romerig olyf. Klein heupe en skouers, wat haar soos ’n jong kind laat lyk – was dit nie vir die vol borste nie.
“Ek ry vanmiddag saam met Nelmari uit plaas toe,” sê sy en gaan sit op die bank se armleuning, voete op die kussings. Hy sien die getjipte lak van haar vingernaels om die pakkie Camels in haar hand. Vir die eerste keer in maande oorval ’n onbedaarlike rooklus hom. Camels was sy brand. Een van die goed wat hy moes opgee om sy lewe in een stuk te hou.
“Is dit oukei?”
Vir ’n oomblik is hy nie met haar nie.
“Om in die huis in te gaan,” help sy.
“Ja-ja. Ons is klaar daar.”
“Ek is bevrees Nelmari kan nie meer saamgaan nie,” sê Yvonne Lambrechts van die deur af. Sy groet Saar met ’n vryfie teen haar wang. “Sy het ongelukkig dringende sake.”
Saar laat die motorenjin luier – gereed om skielik weer voet in die hoek te sit. Dan skakel sy af, klim uit. Die hitte vou soos ’n droë, warm oondasem oor haar. Die werf lê grafstil. Daar’s niks wat roer nie. Dit voel of hier jare lank al nie mense bly nie, so diep en breed lê die stilte. En die hitte. Sy kyk na die laninkie kleurlose kareebome wat die groot huis van die nuwe, kleiner ene skei – die huis wat Pa nog gebou het vir homself as aftreehuis.
Sy begin stadig aanstap huis toe. Die gruiserige grond knars hoorbaar onder haar plakkiesole. Sy gaan staan onseker, baklei met ’n sterk drang om om te draai en terug te gaan dorp toe. Tannie Yvonne het gewaarsku – hier’s nie meer mense nie. Die werksmense het dorp toe getrek. Des te meer, besluit sy. Iemand moet tog toesien dat alles reg is, dat die diere versorg is. Here, die diere ... Daarom dat dit so stil is. Sy’t vergeet die honde is ook dood. Sy skop haar plakkies uit, byt hard op haar tande en stap na die agterdeur.
Die sifdeur maak steeds dieselfde kraakgeluid – die veer kort olie. Sy maak dit oop en laat dit teen haar rug rus terwyl sy die agterdeur self oopsluit. Die bodeur swaai met ’n hoë kiergeluidjie oop na ’n koel, stil skemerte binne. Sy druk met die bol van haar voet teen die onderdeur, ’n ou gewoonte waaroor sy baie raas gekry het. Sarretjie, ’n dama skop ’ie ’n deur so oepe nie! Ja, Outanna.
Haar oë soek onwillekeurig na die wit skimme van melkemmers net binne die agterdeur. Dis altyd smiddae daar neergesit, bedek