Plaasmoord. Karin Brynard

Plaasmoord - Karin Brynard


Скачать книгу

      Pretorius skuif regop in sy stoel, haal diep asem, asof hy bykom uit ’n beswyming. “Sewe. Byna almal Sotho’s. Ek verkies dit so. Hulle meng nie met die plaaslike mense nie. En een, my voorman, het ek by ’n landboukollege op Kimberley gaan werf. Dan het ek ook ’n huishoudster, mevrou September. Sy is die voorman se ma.”

      “Wat was jou vorige werk?”

      Boet kyk hom skerp aan, frons. “Besproeiing.”

      “So daar steek geld in?” Beeslaar kyk waarderend om hom rond.

      “Nie as jy ’n snotkop is wat pompies en spittertjies aan ’n ou oom met ’n lusernlandjie verkoop nie. Maar dis hoe ek begin het. Het jy al gehoor van McGallum Water Works?”

      Beeslaar haal sy skouers op.

      “Ek het hom van die grond af opgebou. By oubaas McGallum begin werk as rep. Hom naderhand uitgekoop. Bedags was ek in hemp en das en het ek verkoop. Enige blerrie ding wat kan pomp of sproei. Dompelpompe, turbinepompe, silinderpompe, oorgatpompe, you name it. Pype, tenks, damboumasjinerie. Ek het alles gesmous. En snags het ek die goed geïnstalleer. Self. Ek vertrou nie ’n ander man as dit gaan oor my goeie naam op ’n produk nie.”

      “Hoe lank terug was dit?”

      “Ek het in die Vrystaat begin, so vyftien jaar terug, maar naderhand landwyd besigheid gedoen. Ek het dit goed getref. Na ’94 ... daar was baie verandering. Arbeidswette, minimumlone en dié klas van ding. Al hoe meer boere het begin meganiseer. En ek was daar om die masjiene aan hulle te verkoop. Maar eintlik wou ek self boer. En die dag toe ’n man met die regte prys my nader, het ek die hele spul verkoop en hierdie lap aarde kom koop.”

      Hy sit nog so ’n oomblik en nadink, maar sluit dan af: “En dis dit.”

      “En dis vandaar dat jy jou eie werkers saamgebring het,” heg Beeslaar weer die draad van die gesprek.

      “Ek sal instaan vir elkeen van hulle. Hulle is nie jou gewone armgat-arbeider wat sal roof om sy skuld te betaal nie. Dis manne met ambisie, wat saam met my werk om hierdie plek op te bou. Steel? Nee, hulle het wragtig nie nodig nie, wil ek amper sê.”

      “Seker van jou saak ...”

      “Ek staan daarby. My mense is meer as gewone plaasarbeiders. Van hulle leer saans aan hul eksamens vir veldgidse en wildbewaarders. As hierdie besigheid eers gevestig is, gaan hulle nie meer draad span en in overalls rondhol nie. Hulle gaan met die gaste werk. Nee, jong, jy soek verniet as jy onder hulle wil soek.”

      Beeslaar kou sy lip. “En wat van die voorman?”

      “Selle. Hy en sy ma. Het familie op Kimberley wat hulle een maal per maand besoek, maar hulle kuier nie hier rond nie. Ons lê ver van die pad af, daar’s die veiligheidshek, die interkomstelsel, alles. Ons gaan nie vreemdelinge sien nie. En vreemdelinge sal nie sommer net so hier aangestap kan kom nie.”

      “Ek sal in elk geval met jou werkers wil praat.”

      “Ek sê jou. As hulle iets gesien het, het ek daarvan geweet.”

      “Steeds.” Beeslaar tik ritmies met sy pen teen die rugkant van sy notaboek. “Die veediefstal van die afgelope maande – jy’t nog geen las gehad nie?”

      Boet skud sy kop.

      “Hoekom het almal rondom jou al vee verloor, net nie jý nie?” Beeslaar ken eintlik die antwoord: beveiliging. Karrikamma is omhein met wilddraad, geëlektrifiseer.

      “Ek dink daar’s te veel maklike teikens rondom my,” beaam Pretorius. “As jy my mense wil sien, hulle is vandag in die veld. Dit gaan ’n rukkie neem om hulle terug te roep.”

      “Wat het jy daar in die skure?” Hy verwys na drie groot sinkskure sowat driehonderd meter verder weg. Die skure lyk nuut, elk met groot skuifdeure en opritte van sement.

      “Gereedskap, pale, sement, sulke goed. Dis net tydelik. Sal moet weg sodra alles klaar is. Ek het nog baie heinings wat onder die elektrisiteit moet kom, suipplekke vir die wild. Hulle is onooglik, so ek breek hulle af sodra ek oopmaak vir gaste.” Beeslaar knik. “Het jy die oorledene goed geken?” swenk hy in ’n ander rigting.

      Boet kyk lank na sy hande in sy skoot. Dan haal hy ’n sigaret uit sy bosak en hou vir Beeslaar uit, wat sy kop skud. Boet steek dit aan en blaas die rook sissend uit. “Goed genoeg.” Hy sê niks meer nie, sy oë neergeslaan.

      “Het julle ’n goeie verhouding gehad?”

      Boet suig hard aan sy sigaret en druk dit dan hardhandig dood, die lang lyf van die sigaret wat eers knak en dan bars. Hy kyk Beeslaar ’n oomblik in die oë en draai dan sy gesig weg. As hy weer praat, is sy stem skor.

      “Sy ... Man, kom ek sê maar reguit. Ek was lief vir haar, dis geen geheim nie, maar ...” Hy snuif. “Ons het, sedert sy hier aangekom het, ’n goeie verhouding gehad. Ons was huisvriende, kan jy maar sê. En ek het gehoop dit kan méér word, maar ...”

      “Hoekom was jy Woensdag daar?”

      Boet vee met groot, stywe vingers deur sy hare, woeste krulle die kleur van bier.

      “Ek wou klarigheid hê. Oor waar sy staan.”

      “Waaroor? Was daar iets wat aanleiding gegee het?”

      Boet skud sy kop. “Ek wou eintlik maar net ... met haar praat. Nog ’n keer ...”

      “Was daar dan iemand anders?”

      Die geel oë trek nou, raak die kleur van die droë grashorison. Dan skud hy sy kop, nie van ontkenning nie, maar eerder ongeloof. Maar hy sê niks.

      “Toe jy Woensdagmiddag gebel het ... Jy’t gesê jy was te laat. Wat het jy daarmee bedoel?”

      “Wat?”

      “Oor die telefoon. Toe jy die moorde ingebel het. Jy’t met my gepraat en jy’t gesê jy’s te laat.”

      Boet kyk fronsend voor hom uit, vryf weer oor sy krullebos. “Gits, het ék so gesê?”

      Beeslaar besluit om dit vir eers te los. “Dink jy daar was iemand wat rede gehad het om haar dood te wil hê?”

      Weer ’n diep-diep asemintrek. “Kyk, sy’t ’n sagte hart gehad. Sag. Maar sy was ook ’n hardekop. Soos haar pa. Jy het hom nou nie geken nie, maar ...”

      “Sou die hardkoppigheid dalk onenigheid kon veroorsaak?”

      Hy kry ’n skouerophaal vir ’n antwoord.

      “Wat van die voorman, De Kok?” vra Beeslaar.

      Dié keer trek Pretorius ’n mond, of hy ’n bitter smaak proe. Dan proes hy skielik ’n laggie uit. “Guh. Wat ’n kakspul. Kyk, laat ek met jou eerlik wees. Ek hou nie van die man nie. Ek dink hy’s arrogant en meer baas as klaas. Was op voornaamterme met Freddie en so aan. Maar dis ook geen rede nie.” Hy dink ’n oomblik na en sy tong vee versigtig oor sy lippe. “Maar ás dit hy was, is hy ’n dom donner. Arrogante dom donner. Hy’s die eerste ou wat verdink sal word, nie waar nie?”

      Beeslaar reageer nie.

      “Ag, ek weet ook nie. Sy wou verkoop tot hy hier aangeland het. Ek self het belang gestel, maar my finansies ... Hierdie plek vreet geld. Toe besluit sy skielik anders, stel hom aan as voorman. Die Here weet, ek hoor hy’t genoeg geld om sy eie plaas te koop. Maar jy weet seker meer as ek ...”

      “Lig my in,” sê Beeslaar.

      “Ek weet self nie veel nie. Sy mense was nog egte Boesmans. San,” korrigeer hy homself. “En soos ek verstaan is hy eers laat skool toe. Maar hy’t ’n goeie verstand, matriek gemaak. Glo geleer en toe’s hy Midde-Ooste toe. Werk gekry by die oliemagnate, so iets. Valke of resiesperde versorg, iets in daai lyne.”

      Beeslaar knik. “Die feit dat sy nie meer wou verkoop nie – hoe raak dit jou?”

      “Nie genoeg om haar te wil vermoor nie, inspekteur. Nie genoeg nie.”

      “Waarmee


Скачать книгу