Plaasmoord. Karin Brynard
Vraag is, dink hy by homself, waar trek jy die streep? Hoe hard keer jy – of los jy? Gryp hy nou vir Buks Hanekom voor die bors, klits hy die emosie net verder op. Veral hy wat die enigste wit gesig by hierdie stasie is. Te hard, en jy’s die wit poot wat wil gatlek by sy swart base. Los hy dit, wek hy die indruk by manne soos Hanekom dat hulle maar kan voortneuk. En die swart base maak jou uit vir ’n closet rassis ...
“Dis die kommando’s,” sê Ghaap skielik en trek homself lui-lui regop in sy stoel. Hy het tot dusver sit en krabbels trek op sy notaboek se buiteblad. “Ek dink dis vandat die kommando’s ontbind is dat die boere so moerig is.”
Beeslaar dink na. “Is seker, maar dis nie net dit nie,” sê hy dan. “En dis waar ons in die prentjie kom. Ek en jy en Pyl. Hierdie mense voel hulle word van alle kante gedruk. Dis die ekonomie en dis die politiek en dis die misdaad. En julle het nou self gesien hoe lyk die handewerk van ons veediewe, hoeveel van die mense ekonomies geknak is as gevolg daarvan. En nou het dit moord geword. Die Jacobs-broers van ’n paar weke gelede. En nou Woensdag se ding op Huilwater. So.”
Hy kyk na die twee manne voor hom, wonder of hy sy asem sit en mors, maar druk dan weer deur. “Die kommando’s is ’n ou kwessie. En die politiek wat daarmee saamgaan. Dis vir ons ’n langtermynsaak. Maar die bottom line bly dieselfde. Eerstens kan ons nie vigilante-aksies hier toelaat nie. Mense is geskok en hulle is moerig en hulle soek vinnige oplossings en hulle wil baklei. Maar, en dis my tweede punt, die gouste wat óns,” hy wys na homself en hulle twee, “hierdie hele ding kan ontlont, is om die mense wat al hierdie moorde gepleeg het agter tralies te kry. En intussen sorg ons dat onskuldiges nie verder seerkry nie. So, sersant Pyl, kon jy gister vasstel of daar enige vorm van intimidasie of afknouery of wat ook al was?”
Pyl skud sy kop. “Nee, inspekteur. Niemand praat ’ie. Kla die boere is onbeskof, maar niemand sien kans om ’n klag te lê nie. Maar ...”
Hy bly ’n oomblik stil, oënskynlik om sy gedagtes agtermekaar te kry. “Wat ek wil gesê het ... Daar’s ander goete wat die mense bang maak. Hulle sê dis die ... e ... Bantoes. En hulle sê die Bantoes gaan húlle ook uitmoor.”
Beeslaar skud sy kop. “Maar ek hoop jy sê vir hulle hierdie is nie ’n rasseding nie. Dis misdaad. Plein en simpel. Hierdie soort aanvallers is senuweeagtige, onervare rowers. En as hulle bedreig voel, maak hulle dood – maak nie saak wie voorkom nie – en dis baie keer ’n plaaswerker. Maar dis g’n rassekwessie nie.
“Wat van gevoelens teenoor die oorledene?” vra hy dan. “Wrokkigheid, iemand wat veronreg voel? Sy het dalk iemand van die plaas af weggeja? Iemand wat haar geld geskuld het?”
“Nee, inspekteur. Sy het ’n baie goeie naam gehad onder die mense. Ek het ook geloop soek vir die padlangers en die karretjiesmense. Hulle slaap mos maar snags langs die paaie. Sien alles wat aangaan ... Maar daar was g’n niks of niemand langs die paaie nie. Ek dink dis die boere wat so op en af ja – mens vat mos nie kanse met ’n boer wat die moer in is nie. Veral nie as hy geweer dra nie!”
Beeslaar onderdruk ’n glimlag.
Ghaap kom in beweging in sy stoel. Sy stem is diep en grinterig, soos ’n ou roker s’n. “Huilwater se mense praat van ander goed ook wat hulle bang gemaak het.”
“Soos wat?”
“Toorgoed, die Tokkelossie, sulke goed.” Hy maak sy notaboek oop en kyk aandagtig na iets wat hy neergeskryf het. “Hulle praat van ’n toorder wat glo daar op die plaas was.”
“Soos in sangoma? Vir wat?”
“Sal nou selwers nie kan sê nie. Hulle is so bang dat hulle algar sak en pak weg is van die plaas af. Sit nou hier by hulle se mense in Chicken Vale op die dorp,” sê hy met verwysing na die hoofsaaklik bruin woonbuurt. “Miesies Tieties, dis mos nou die een vrou wat in die kombuis werk op Huilwater. Sy sê dis waar al die moeilikgeit begint het.” Hy bly ’n rukkie stil, lyk of hy diep nadink. “Maar mens kry ook nie veel uit hulle uit nie. Hulle is nog baie deurmekaar oor Woensdag se dinge. Maar as ek nou tussendeur al die gepraat moet luister, was dit so ’n ruk terug, die sangoma, ’n swarte. Van hulle wou tóé al loop. Maar De Kok en die ou antie, miesies Beesvel, het gekeer. Gesê hulle moet hulle nie steur nie. Dis sommer net die boervrou se snaaksigheid.” Hy maak ’n draaibeweging met sy voorvinger by sy regterslaap en kyk betekenisvol na Beeslaar. “Wou hom met sy dolosse en sy krale skilder ... en so aan.”
“En wat het van hom geword?”
“Sal selwers nie kan sê nie,” sê Ghaap skouerophalend. “En ou antie Beesvel lyk vir my nou éérs bang. Benoud. Senuweeste. Weet ôk ’ie presies hoe nie. Sy sê net oor en oor lat sy dit gesien aankom het. Maar sy sê nie hoe of wat ’ie.”
“Weet jy of sy enige mediese hulp gekry het?”
Ghaap skud sy kop, knip sy swart oë stadig, asof hy ’n energiekortsluiting beleef.
“Sy ook nou op die dorp?” vra Beeslaar.
“By haar suster, Anna van Wyk, daar in Chicken Vale.”
“Bly by haar. Sy’s dalk die enigste een wat regtig weet wat die laaste tyd daar op Huilwater aangegaan het. Hoor by die suster of sy haar nie kliniek toe kan vat nie. Sy moet regkom, want sy moet met ons praat.”
Ghaap knik. “Weet nie of dit iets is of niks nie, maar ek was agtermiddag in die swart buurt, toe jy weg is Postmasburg toe. Ek het mos wou hoor of daar vreemdelinge opgemerk is, in verband met die veediefstalle. By Mma Mokoena se sjebien. Nou ja, iemand daar sê toe van Mma Mokoena wat mos skielik ’n ryk boyfriend uit Johannesburg het. ’n Minora, sê hulle.”
“’n Wát?” Pyl se gesig vertrek of hy iets onbehoorliks gehoor het.
“Sharp-sharp. Windgat. Niemand weet enigiets van hom nie, behalwe dat hy geld soos klippers rondstrooi. Dis dalk niks, maar dis al wat ek oor vreemdelinge in hierdie omgewing gehoor het.”
“Goeie werk,” sê Beeslaar. “Wie weet, dis dalk ons eerste skakel na die veediefstalle. En die Here weet, ons het dringend iets nodig. Daai bliksems maak gatte van ons. Sersant Pyl, ek wil juis hê jy moet wéér vandag jou rondtes doen. Vat nou die Golfie en ry uit ...”
Sy foon lui. Die Swarts-meisie is in die aanklagkantoor en wil hom vinnig spreek. “Hou vas,” sê hy vir die twee manne oorkant hom. “Ek moet gou vorentoe.”
Hoofstuk 7
7
Tannie Yvonne het aangebied om saam met Saar deur te ry na die lykshuis op Postmasburg. Voor hulle die sowat 120 kilometer Postmasburg toe aanpak, stop hulle eers by die begrafnisondernemers op die dorp.
“Ek sal solank ingaan en gaan vra of daar iemand is wat ons kan sien,” sê tannie Yvonne. “Jy kan hier buite wag en jou asem terugkry. Jy het soos ’n spook gelyk toe jy nou net daar uit die polisiekantore kom.”
Saar is dankbaar vir die kalm teenwoordigheid. Sy’s bang vir wat voorlê. Die polisieman het haar gewaarsku: Freddie sal moontlik baie anders lyk as wat Saar haar onthou.
Die gedagte aan Freddie se dood bly onwerklik. Alles om haar voel onwerklik – bekend, maar ook vreemd: die gebiedende son, die sonbesies wat so meedoënloos skree. Dit voel of dit vanuit jou eie kop kom, die gesuis. Die dorp se doodse strate, die verdorde bome – die munisipaliteit moes iewers besluit het om hulle nie meer water te gee nie. Hier en daar het ’n kanniedood-karee bly vasklou, maar die bloekoms en seringbome staan soos geraamtes. ’n Groepie verflenterde mense hang in die skadu van die winkel se afdak oorkant die straat en kyk belangstellend na haar. Tipies van al hierdie klein plattelandse dorpies, dink sy en klim uit die kar. Daar’s altyd sulke groepies wagtendes by die drankwinkel of op die ander winkel se stoepe. Maer, vuil mense met verslete skoene en toiingrige klere. Die vroue sal soms kraaiend lag vir ’n opmerking, hul oopgesperde monde tandeloos. En as hulle dronk is iemand oor ’n afstand sit en uitskel onder die rok in.
Vandag is hul vervelige bestaan opgehelder deur die opspraak van die moord. Hulle kyk openlik nuuskierig na Saar en praat gedemp onder