Plaasmoord. Karin Brynard
see van grafruikers en doodskiste wat die ruimte in die vertrek vul.
“Ag, my ou mensie,” sê ’n middeljarige vrou agter die lessenaar en staan op. “My innige, innige simpatie met jou verlies.” Sy kom met uitgestrekte arms op Saar afgestap en druk haar styf vas. “Dis so verskriklik, so verskriklik. Ek het jou ma-hulle goed geken toe julle nog twee sulke klein ou goedjies was,” sê sy aangedaan in Saar se hare. Sy druk haar ’n rukkie in stilte vas. As sy terugtree, vee sy haar neus en oë met ’n gefrommelde snesie af, lei Saar dan aan die arm terug na die lessenaar.
“Mens voel so verslae,” sê sy as hulle gaan sit het. “Ek sê nou net vir Yvonne, ’n mens is nêrens meer veilig nie. En waarheen vlug jy? Ons kan mos nie almal in Australië loop sit nie. En dat die regering dit toelaat! Dis of dit hulle nie kan skeel nie. Oor ons wit is. Hulle sê heeltyd dis nou ’n reënboognasie en die verlede is in die vergeetboek geskryf. Maar hulle los die kriminele om ons een-een te laat uitmoor.” Sy skud haar kop treurig, tel ’n brandende sigaret uit ’n asbakkie op en trek diep daaraan, haar oë toe asof sy biddend rook.
Saar probeer aan iets dink om te sê, maar haar verstand haak vas.
“My seun in Pretoria was nou al twee keer in ’n kaping. Elke keer is hulle met sy kar weg,” gaan die vrou voort en rook borrel by haar neus uit. “Al wat die polisie vir hom sê, is hy moet bly wees hy lewe nog. En die Here weet, ’n mens is bly. Maar watse lewe is dit? Die laaste keer was sy seuntjie by hom in die kar. Daai kind is so getraumatiseer. Hy eet niks, praat niks en maak sy bed nat. En my seun self ...” Sy trek weer met toe oë aan die sigaret, haar mond ’n gekreukelde rooi tuit. Dan druk sy die sigaret met mening dood en haal ’n kwitansieboek uit haar lessenaarlaai.
“Julle hoef nie te worrie oor jou sus en die ou kleintjie nie, hoor. Ons sal sorg dat hulle van Postmasburg teruggebring word en ons reël alles vir die begrafnis. Julle hoef julle nou oor niks te bekommer nie. In wie se naam maak ek die rekening oop?” vra sy terwyl sy die boekie oopslaan en ’n velletjie blou deurslagpapier regskuif.
Na wat vir Saar soos ’n ewigheid voel, is alles afgehandel en kan sy na buite vlug.
Hulle lê die rit na Postmasburg hoofsaaklik in stilte af, met tannie Yvonne wat af en toe na ’n plaas se uitdraaibord wys om iets te sê oor die mense wat daar bly. Namate hulle nader aan die dorp kom, verander die landskap. Die rooi, sanderige grond en doringbome maak plek vir ’n klipperige wit kalkgrond en verknotte boompies, wat Saar onthou as witgatwortelboompies. Haar pa het altyd vertel die oumense het koffie gemaak van die boom se wortels. ’n Ent verder verander dit weer, na bossieveld en swart ysterklip – die bron van al die yster- en mangaanmyne in die omgewing.
Liewe Here, dit voel soos ’n leeftyd sedert sy hier weg is. Hoeveel jaar? Donkies. Elke Kersfees die dowwe pyn wat nie naam wou kry nie. Sy’t verlang. Na wat? Beslis nie plaas toe nie. Nie na hierdie harde veld nie. Nie na Pa nie. Hulle rukkerige gesprekke oor die foon elke paar maande was moeilik genoeg. Geen aansporing om Kersfees in hierdie plek te kom deurbring nie. Freddie het meer gekom. Sy wat Saar was het verskonings geproduseer. Miskien het sy verlang na die droom van vroeër – van daardie één Kersfees. Daar was ’n boom en Ma en Pa was vrolik en niemand was siek nie. Ma was volkome by haar positiewe en selfs uitgelate. En daar was presente en Pa wat sê ons eet braaivleis, soos Boere. Nie kalkoene en ander Ingelse kosse nie, g’n warm poedings met sente daarin waarop die kinders hul tande kan breek nie. En Ma wat skerts tandartse moet ook leef en Pa wat sê hulle kan leef van die ryk mense, daar’s genoeg van húlle. En die boom was ’n doringtak. Hier’s nie naaldbome hier rond nie. Ma het dit wit geverf en sy en Freddie het dit versier met linte en engele wat hulle van papier gemaak het ...
Op Postmasburg aangekom, volg hulle die borde na die hospitaal, waar Saar parkering kry in die digte skaduwee van ’n bloekom.
“Is jy nou seker jy wil na haar kyk, kindjie?” vra tannie Yvonne nadat hulle stilgehou het.
“Ek moet, tannie. Ek wil haar met my eie oë sien,” sê sy sonder veel oortuiging en gooi haar deur oop.
Hoofstuk 10
10
Dis die mooiste plaashuis wat hy nog ooit gesien het. Nie dat hy ’n ekspert is nie. Sy sin vir mooi en lelik is geslyp in die mynersbuurte aan die Oos-Rand, die baksteen- en leiklipwonderwerke van sy kleintyd. En daarna die polisiestraat in Fordsburg. Maar selfs dit kon hom nie heeltemal blind slaan vir mooi nie.
En hiérdie is mooi, besluit Beeslaar terwyl hy uit die kar klim. Breë stoepe reg rondom, genoeg skoorstene wat sê daar’s nie geld gespaar op kaggels binne nie, buitemure omgesoom met ligte sandsteen. Die werf rondom vol bloekoms met dik stamme, bas wat artistiek afpeul. Groot spuitfontein. Waaiertrap lei jou op stoep toe. Deftig.
Dan swaai die dubbele glas-en-hout-voordeure oop en die rysige figuur van Boet Pretorius tree na buite. Ligbruin krulkop, geelbruin oë, die boere-weergawe van die Camel Man. Sonder die snor.
Sy handdruk is hard en eelterig. Hy lei Beeslaar na ’n stoeptafeltjie met gepoleerde gemsbokhorings vir pote en twee groot gemakstoele van rottang wat weerskante daarvan staan, wat oor die sand- en maanhaargras-landskap uitkyk.
“Jy’t ’n bitter mooi plek,” merk Beeslaar op nadat hulle gaan sit het.
Boet sit vooroor geleun, elmboë op wyd oopgegooide knieë, sy hande lig inmekaar gevleg.
“Tja,” sê hy ingedagte, sy blik in die verte. “Daar lê baie sweet hier.”
Die twee sit ’n rukkie in stilte, kyk vir die wêreld. Buite pols die hitte meedoënloos, die bloekoms blouvaal onder die aanslag van die son.
“Hoe lank is jy al hier?” vra Beeslaar dan.
“So vier, vyf jaar.”
“Maar jy is nie van hierdie omgewing nie?”
“Nee, hel, ek het nie geërf nie; ek moes my pad inkoop hier. Ek hoor jy’s ook van Johannesburg se wêreld?”
“Oos-Rand.”
Hy knik. “Tja. My pa was ’n myner op Benoni.” Hy skud sy kop en glimlag skeef, sy oë wat terugstaar na ’n onsigbare verlede.
“Ek het ’n paar roetinevrae,” sê Beeslaar en bring ’n notaboek te voorskyn.
Boet knik afwesig.
“Woensdag. Waar was jy die oggend en hoekom is jy uit Huilwater toe?”
Boet sit regop en kyk met ’n skuins frons na Beeslaar. “Maar ek hét mos al vrae beantwoord.” Vir ’n oomblik flikker daar ergernis in sy oë.
“Ek weet jy is Woensdag ook ondervra, maar jy was nie eintlik toe in staat nie ...”
Pretorius sug. Wanneer hy weer praat, klink sy stem moeg. “Ek moes bank toe. Loon-oorplasings vir my werkers.”
“Hoeveel mense?”
Boet skud sy kop. “Ek het nie families hier nie. Dit was een van die voorwaardes toe ek gekoop het. Die arbeider-families wat hier was, moes uitbetaal en elders heenkome gegee word. Ek wou nie met die gewone sosiale probleme opgeskeep sit nie. Ek het my eie mense ingebring. Lojaal, getrou, harde werkers. Alleenlopers, hulle vrouens en families het nie saamgekom nie. Geen huismoleste, geen geldlenery nie. Ek laat géén drank toe nie. En ek het hulle sélf uitgesoek, met die hand. Betaal hulle amper drie keer die gewone.”
Niemand se speelmaat nie, besluit Beeslaar. Hy’t ’n plan en jy sal bars as jy in sy pad trap.
“Wat ek wou sê,” gaan Pretorius voort. “Ek was by die bank, daar was probleme met een of twee aftrekorders. En toe koöperasie toe. En toe is ek by Huilwater langs op my pad terug. En ... e ... Nou ja. Die res ken jy.”
Beeslaar knik. “En jy is nog seker jy het geen voertuie of mense opgemerk op jou pad soontoe nie? Karre of bakkies langs die pad gekry of so? En die werf op Huilwater, hoe het dit gelyk? Wat was jou eerste indrukke?”
“Eerste indrukke.” Hy frons, effens geïrriteerd. “Man, ek het niks en niemand gesien nie.