Plaasmoord. Karin Brynard
muurplakkaat: Foto’s van kameeldoringbome met versamelneste; die groen gordel van die Garieprivier; soetwyn uit woestyndruiwe; Augrabieswaterval; wildehonde by ’n reuse duin, woestynleeus teen ’n dramatiese sonsondergang, Kimberley se Groot Gat. En onder die jubelmuur ’n skaalmodel van ’n gholflandgoed omring deur die rooi duine van die Kalahari – Red Sands.
Saar gaan sit versigtig op ’n moderne gemakstoel, oorgetrek in roomkleur leer. ’n Ottoman, perskepienk en ook in leer oorgetrek, dien as ’n koffietafel. Glansboeke oor die Kalahari en sy wilde diere lê daarop uitgestal. Oorkant staan twee ligte sofas, versmoor in suede-strooikussings in perske en lemmetjiegroen. Die groot ontvangslokaal van die agentskap was vroeër die voorste paar vertrekke van ’n ou woonhuis, die binnemure nou uitgeslaan, die vloere met ’n blonde houtlaminering bedek, versteekte beligting wat die plek soos die voorportaal van ’n luukse filmteater laat voel. Hier’s groot geld uitgegee, besluit Saar.
“Nelmari is op pad,” bevestig die meisie, haar heuningbruin oë diskreet-nuuskierig op Saar. “Kan ek solank vir jou iets aanbied? Tee, koffie, iets koels?”
“Nee dankie. Ek kan maar later ook kom. Ek dag ...”
“Twee minute,” verseker die meisie. “Nelmari sal jou baie graag wil sien.”
Sy is klein, die meisie. ’n Hartvormige gesiggie, amandelvormige oë en vel van karamel en neutmuskaat. Kennelik ’n boorling van die omgewing. Maar sy lyk baie anders as die gemiddelde Griekwa-dogter van die streek: grimering nét so, modieuse minirompie en kort hare wat chemies behandel is om die krul te verslap, ligbruin gekleur.
Sy én hierdie sjiek eiendomsagentskap lyk soos iets uit ’n ander wêreld – asof hulle op pad New York toe per ongeluk hier gestrand sit, die stof en sand en eelterige doringveld blymoedig verduur, tot hulle kan verhuis na waar hulle hoort.
Dan verskyn Nelmari by die voordeur.
Sy lyk haastig en warm, haar wange is bloedrooi van die hitte.
“Ystee, asseblief, Charné,” roep sy sangerig en loop met uitgestrekte hande op Saar af. “Saar! Jammer jy moes wag. Kom ons gaan na my kantoor toe.” Haar stem is warm, heserig, soos ’n sensuele wind. Sy lei Saar aan die arm deur ’n versteekte deur in die reuse plakkaat.
Ek stap deur Kimberley se Groot Gat, dink Saar verwonderd, met my bek vol tande.
Nadat Nelmari die deur agter haar toegemaak het, neem sy weer albei Saar se hande in hare. Haar oë lyk vandag nóg groter. En moeër. “Ek is regtig jammer ek kon nie vanoggend saamgaan Postmasburg toe nie. Ek sou haar so graag wou sien, groet. Freddie was ...” Sy laat los Saar se hande, draai ineens om en stap koponderstebo na haar lessenaar terwyl sy met haar vingers oor haar wange vee. Sy neem ’n snesie uit ’n boks op die lessenaar en snuit, dep versigtig onder haar oë. Vir ’n oomblik bly sy so koponderstebo staan met die sakdoekie teen haar gesig gedruk.
“Jammer,” sê sy met ’n bewerige glimlaggie. “Ek vergeet, weet jy? Dis of dit nie gebeur het nie. Of sy enige oomblik hier kan instap. Maar die blote feit dat jy hier is, hier staan ... En as ék so voel, wil ek nie weet hoe jý moet voel nie.” Sy draai om na Saar. “En omdat ek nie reguit kan dink nie, loop alles skeef vandag.” Sy skud haar kop. “Beginnende by die bouery op Upington. Vroeg vanmôre, toe bel die bouers. Die stadsraad het jou wragtig alle bouwerk stopgesit. Alles. Kan jy dit glo?” Sy kyk met groot, ongelowige oë na Saar, soos ’n kind wat pas gehoor het die tandfeetjie bestaan nie, en ’n bewerige glimlag ruk aan haar mondhoeke. “Hulle sê ons het nie goedkeuring om te bou nie. Liewe Vader, na alles wat ons deur is. Dit kos my miljoene!” Haar stem is steeds sag. Sangerig, byna soos ’n kind wat ’n storie voorlees. “Sjoe,” sê sy dan en kom in beweging.
Sy wys na ’n gestoffeerde driesitplekbank. Dit staan eenkant, deel van ’n smaakvolle klein sithoekie in die kantoor. Die bank is modern, sestigerjare-retro, oorgetrek in ’n ligte materiaal. Daar’s ’n bypassende gemakstoel en ’n koffietafeltjie in ligte berkehout. Die meubels word ingebind met ’n dikgeweefde mat in appelkoos- en roeskleure. Daar’s ’n groot spieël teen een muur, staanlampe en skilderye. Saar gaan sit op die bank, met Nelmari teenoor haar op die stoel.
“Sê vir my,” vra sy en haal ’n lang, dun sigaret te voorskyn, “hoe het dit vanoggend afgeloop?”
“Dit was maar moeilik.” Saar dink desperaat aan nog iets om te sê, maar haar verstand haak vas.
Nelmari blaas haar rook in ’n dun straaltjie op dak toe. “En jy? Is jy oukei?”
Saar knik. Die hitte ten spyt, sien sy, lyk Nelmari steeds elegant. Haar hare in ’n Franse chignon agter haar kop vasgemaak, die langbroekpak in ’n koel wit met ysblou omboorsels. “Ek is bly ek het gegaan,” sê sy oplaas.
Nelmari knik. “Hulle sê dit maak dit makliker as jy kan groet. Die aanvaardingsproses ... Dis hoekom ek ook wou gaan.” Haar stem is hees. “Hoe ... e ... lyk sy ... Ek bedoel, jy het haar ... gesien?”
“Ja. Eintlik was dit verskriklik. Lýk dit ... erg. Dis of haar hare ... Dit lyk amper of iemand ’n skaapskêr gebruik het. Dis ... letterlik afgehak. So brutaal. Stukke kopvel uit ...”
Nelmari maak ’n geluid, knyp haar oë toe en skud haar kop.
“Sorrie,” mompel Saar.
“Ek is so dêm pateties met sulke goed,” sê Nelmari en teug hard aan die dun sigaret tussen haar bewende vingers. “En dis ék wat om verskoning moet vra. Ek val sommer flou as ek net bloed sien ...” Sy frons en skud as af in ’n wit porseleinasbakkie met ’n deksel wat op die tafel tussen hulle twee staan. Die dekseltjie word elke keer toegeklap as sy as afgeskud het. “Weet jy wanneer hulle gaan klaar wees? Vir die ... e ... begrafnis?”
Saar skud haar kop. “Geen idee nie. Ek wil maar vanmiddag uitry plaas toe. Ek moet dalk die mense gaan groet. Outanna, veral. Ook kyk of ek goed sien wat dalk gesteel is. Vir die polisie. Ek het gewonder of jy ...”
“Natuurlik, Saar. Enigiets. Ek voel klaar so sleg dat ek nie vanoggend saam met jou en die arme Yvonne gery het nie. En jy hét gister al so ver alleen gery. Ek kom graag. Al ... al is dit moeilik.”
Saar maak keel skoon. “Kan ek jou iets vra oor Freddie? Dinge was maar baie deurmekaar tussen ons twee, soos jy seker weet.” Sy wag nie op ’n antwoord nie, maar ploeter voort. “Weet jy hoekom sy besluit het om hier aan te bly? Ek dag dit het so goed begin gaan in Johannesburg. Sy het tog al naam begin maak?”
“O, sy het, sy het.” Nelmari se oë kom in fokus, haar blik is skielik weer teenwoordig. “Sy was net ongelooflik. Vanaf die eerste moment. Ek het vir haar ’n groot uitstalling gereël – in Rosebank. En jislaaik, ek kon dit self nie glo nie. Dit het so fantasties gegaan. Omtrent al die Gautengse koerante het daaroor geskryf. En toe was daar ’n artikel oor Freddie in ’n vrouetydskrif. Met die mooiste foto’s daarby. Jy’t dit seker gesien.”
Saar knik. Ja, sy het dit gesien, maar vlugtig, skelm, in ’n kafee. Het nie eens die moeite gedoen om dit te koop nie. En sy het niemand daarvan vertel nie. Nie een van haar koerantkollegas nie. Nie vir Harri, deesdae haar beste pêl, of enigiemand nie.
“‘Goue kwas in die mond,’ was die opskrif,” vertel Nelmari. Haar oë vonkel by die aangename herinnering. Dís seker hoe ’n ware suster sou reageer, dink Saar. So ingenome, so trots.
“Ek weet nie wat dit aan haar werk is wat mense so raak nie. Sy’s beslis nie in die liga van die groot intellektuele kunstenaars nie – die Kentridges en so aan. Of die wroegende feministe of die politieke heethoofde nie. En sy’s ook nie in die “happy prentjie”-groep nie. Vir my is sy meer ’n soort Henri Rousseau – die Franse naïewe skilder, jy weet? Beeld se kunsresensent het nogal ook die vergelyking getref. Hy’t gesê haar werk herinner aan die surrealisme en onderbewuste angst wat Rousseau se werk tipeer. Hy’t gepraat van die kunstenaar met die kinderlike siel, wat op ’n eerlike wyse vir ons die dinge wys waarvoor ons sidder, die oerdinge wat ons siele nog steeds roer. Wanneer laas het jy van haar werk gesien?” vra sy skielik en Saar voel onkant betrap, probeer benoud iets mompel.
“Toemaar,