Plaasmoord. Karin Brynard
’n break.”
Saar snuif.
“Regtig, Saar.”
“Ek moet gaan, Harri.”
“Saar...”
“Ek moet gaan. Ek dink die polisie soek na my. Jy maak soos jy moet. Bye.”
Sy bly vir lank nog sit nadat sy die verbinding verbreek het. Sit en staar. En dink aan Harri. Harri en sy break. Is waar, hy het al hard probeer. Hy doen eintlik klaar goed as vryskutter, maar hy soek ’n voet in die deur by die oorsese tydskrifte. Hulle betaal tien maal beter. Harri wil sy liefde vir fotografie en sy skryfvernuf laat saamwerk. Sy droom is ’n paar gereelde groot kliënte, Amerikaanse en Britse travel mags, Condé Nast, en ’n storie soos dié is sy groot kans.
Sy sal hom later terugbel.
As sy en Nelmari terug is van die plaas vanaand. Haar maag trek onwillekeurig saam, laat haar naar voel. Sy weet nie of sy die stamina het vir wat op daardie plaas vir haar wag nie. Maar sy moet. Sy is Freddie dit immers verskuldig. Sy was nie hier vir Freddie nie. Freddie moes alleen die plaas se dinge oorneem na Pa se dood. Saar het haar rug op alles gedraai, opgeruk en woedend daar in die Kaap sit en broei. En Freddie alleen hier, dapper besig om ’n nuwe lewe te maak. ’n Nuwe lewe wat iemand anders ... Watse soort mens maak só dood? Wie op godsaarde sny sommer iemand soos Freddie se keel af? En ’n kind s’n? ’n Veedief? Nee, dit kan nie. Die manier waarop Freddie doodgemaak is ... Dis amper ... persóónlik!
Sy sug en trek die karsleutel uit, gryp haar handsak. Sy dink soos ’n dronk tor – al in die rondte. En dis in elk geval te laat. En sy’s besig om te kook in hierdie bakoond van ’n kar. Sy moet uit, al beteken dit sy moet daardie reus van ’n polisiespeurder gaan aandurf.
Hoofstuk 13
13
Yvonne Lambrechts werskaf in die kombuis vir drinkgoed terwyl Beeslaar in die sitkamer wag.
Hy kyk solank rond. Fotoportrette teen die muur, onder meer ’n ou swart-wit-foto van ’n stralende jong bruid en bruidegom. Moet die tante self wees so ’n vyftigstuks jaar gelede. Nog ’n foto: dieselfde bruidegom, jare later, afgeneem in ’n cowboyuitrusting. Hy glimlag skalks vir die kamera, hoed astrant skeef, ’n sigaret wat windmakerig uit sy mond hang, soos ’n Humphrey Bogart van ouds. Maar sy oë lyk tam, diep lyne om die mond: die lewe het toe anders uitgedraai. Langsaan hang twee afdrukke van hondjies met beteuterde groot oë, asof hulle die man se ontgogeling wil verwoord. Daar’s meer honde in die vertrek: porseleinhondjies in ’n uitstalrakkie teen die muur, geraamde foto’s met brakkies van verskeie groottes en vorme. Staan seker in vir die gebrek aan kinderfoto’s, besluit Beeslaar.
Hy hoor haar swaar, hinkende voetstappe uit die kombuis aankom.
“Ek het net ’n paar dinge om uit te klaar,” sê hy as sy haar verskyning maak en hy die koel glas met sap by haar neem. “Is juffrou Swarts hier?”
Hulle gaan sit.
“Sy’s by Nelmari, inspekteur. Hulle wil vanmiddag uitry Huilwater toe. Om te gaan kyk of daar ander goed weg is wat julle dalk die ander dag nie raakgesien het nie. Ek dink Saar wil ook by die werksmense uitkom. Jy weet, op so ’n plaas is dit nie net jy en jou eie nie. Jy’s verantwoordelik vir baie mense.”
“Ek dag die werksmense is weg daar,” sê Beeslaar.
“Weg? Almal? Ek weet niks daarvan nie.” Sy kyk ongelowig na Beeslaar.
“Die twee arbeidersgesinne is gister al weg. Sover ek weet, is hulle by familie hier op die dorp. Net die voorman en een ou man is glo nog daar.”
Die vrou skud haar kop, frons. “Snaaks dat hulle nog nie hier was nie. Mens kan die arme mense seker ook nie kwalik neem nie, inspekteur. Jy weet, daai twee families is al donkiesjare op die plaas, ag, eintlik ’n hele geslag al. Hulle was soos een groot familie. Ek kan my net indink hoe ontsteld hulle moet wees. En bang. As iemand so onder jou neus ...”
Haar oë sit klam en klein in die vlesigheid van haar gesig, maar is ’n mooi blougroen, merk Beeslaar. Sy vee met ’n verkrummelde snesie oor haar neus, al rooi van die afgelope twee dae se gevee.
“Wie het meeste by juffrou Swarts op die plaas gekom?” vra hy as haar hand tot ruste gekom het. “Ons moet maar met almal praat.”
“Kyk,” sê sy na sy ’n rukkie gedink het, “ek het self nie meer so baie daar gekom nie. My heup maak die ryery moeilik, jy weet? Clutch intrap oor al die bultjies ...”
Beeslaar knik begrypend.
“Maar Freddie was mos ook nie juis van die vreeslike sosiale soort nie. Ek het nog daar gekom toe sy kinders ingeneem het. Hemel, inspekteur, jy weet daar is darem ellende onder die arm mense in hierdie distrik. Soms dink ek dis net te veel. Net te veel ...”
Haar oë word weer klam en sy sukkel om haar mond tot bedaring te bring. Dan snuif sy verergd.
“Ag, vergewe my. Ek is darem nie altyd so tranerig nie. Dis net vir my so vreeslik dat dit juis iemand soos Freddie moes oorkom ...” Die emosie trek haar stem plat. Beeslaar skuif ongemaklik rond.
“Ek dink,” begin sy weer, “ek dink die mens wat die meeste daar gekom het, was maar Nelmari. Sy was omtrent elke dag op die plaas, baie hulp en raad gegee met die kinders. ’n Goeie mens. En sy ken mos baie mense in hoë kringe – ek meen nou maar regeringsmense en so, jy weet – en sy kon vir ons baie deure oopmaak.” Sy bly ’n oomblik stil om na te dink.
“En Boet natuurlik,” sê sy dan.
“Van Karrikamma?”
Sy knik.
“Hy was dikwels daar – veral in die tyd voor Dam gekom het, dink ek. Hy het Freddie baie gehelp toe sy nog van plan was om te verkoop. Vir haar diere kom laai en op vendusies gaan verkoop en so. Hy’t ’n goeie kop vir besigheid. En ’n liewe geaardheid.” Sy neem ’n sluk van haar sap, vee haar mond af met die rugkant van haar hand. “Ag, daar was nou en dan ander mense seker ook. Maar dis die twee, dink ek, wat omtrent elke dag daar was.”
“Watse soort mens was sy, mevrou?”
“Freddie?”
“Ja. Al wat ek van haar weet, is wat ek maar hier op die dorp rond hoor. En veel daarvan is nie juis baie vleiend nie.” Sy klap saggies haar tong. “Die mense. Hierdie distrik het goeie mense, maar die Here weet, hier is mense ... Altyd onvergenoegd. Maak nie saak hoe goed hulle dit het nie, hulle kla. En alles is vir hulle ’n bedreiging. Selfs die arme Freddie. “
“Hoe bedoel u?”
“Omdat sy anders was.”
“Anders?”
Sy kyk dak toe, asof sy haar woorde versigtig wil kies.
“Freddie het van die begin af nie vreeslik moeite gedoen om in te skakel by die blankes hier nie. Nie dat hier veel meer oor is nie. Die jonges gaan weg en die oues boer uit. Maar nou ja. Sy het haar pa kom oppas. My intussen begin help met my voedingsaksie in die arm gebiede hier rondom die dorp. En ná Flip, dis nou haar pa, se afsterwe het sy aangebly om sake op die plaas afgehandel te kry. Sy’t my aanhou bly help, haar veral op die kinders toegespits.
“En toe het sy in ’n stadium te doene gehad met ’n groep van die plaaslike Griekwa-stam wat ou stamgrond wou terugeis. Dis mos nou grond wat hulle voorgeslagte glo vroeër hier rond besit het. Jy kan jou indink hoe dít afgegaan het. Mense het gepraat. Daar was stories dat sy Huilwater aan die Griekwas wou verkoop. Maar dit was sommer nonsens. Die hele ding het doodgeloop, sover ek weet. Vir die res was sy gewoon eiesoortig. Hulle is eintlik maar almal so. Die familie, meen ek nou. En nou ja, enigiemand wat bietjie sy eie kop volg, is maar vir die groter groep ’n bedreiging. En die Swartse het dit nie maklik gemaak nie. Want hulle is koppig. Almal van hulle. As hulle eers ’n ding in hulle kop kry. Flip, die dogters, almal van hulle. Koppig.”
Beeslaar neem ’n sluk van sy sap. Dis onverwags lekker en kom beslis nie uit ’n karton uit nie. Vars appelkoos en perske, stroopsoet.