Plaasmoord. Karin Brynard
soos ’n handgeverfde kennisgewingbord by die voordeur aandui.
Hoofstuk 8
8
Beeslaar vee eers sweet af voor hy weer by sy lessenaar gaan sit. Hy het pas die suster van die oorledene, wat aanwysings na die lykshuis op Postmasburg wou hê, by die klagtetoonbank afgesien. As dit nie so ver was nie, het hy dalk aangebied om haar te vergesel. Maar dis meer as drie uur uit sy dag uit, net vir die heen en terug. En hy was gister die hele goddelike middag daar vir die lykskouings.
Die Swarts-meisie lyk egter vir hom of sy stewig genoeg aanmekaar gesit is. Sy’s klein – seker net ’n aks oor ’n meter en ’n half – maar nie so tingerig soos haar oorlede suster nie. Vanoggend lyk sy egter bietjie oes – die groen oë is rooi en groot, asof sy heelnag na iets vreesliks sit en staar het.
Beeslaar strek sy arms en onderdruk ’n gaap. Hy bly benoud – dalk die kombinasie van die hitte, ’n slapelose nag, gister se grieselrige lykskouings, die spanning. Dalk dié dat hy so wil gaap. Soos ’n kuiken net voor hy vrek.
Hy haal diep asem en leun saaklik vorentoe, elmboë op die lessenaar en hande onder sy ken saamgevou.
“Orraait,” sê hy vir die twee sersante oorkant hom, “waar was ons? Motiewe. Wat sê die moordtoneel vir ons? Kom ons kyk vir ’n oomblik verby die ooglopende, naamlik die maklike teiken vir veediewe. Eerste wat ons vra: Wat vertel die moordtoneel vir ons?”
“Wraak,” sê Pyl onmiddellik. “Soos, soos ... daai ou in die Vrystaat. Dit was nou onlangs in die Rapport?” Hy kyk vraend na Beeslaar, maar wag nie vir reaksie nie. “Dit was ’n moerse groot storie. Baie lelik. Uit en uit wraak, ’n eye vir ’n eye.” Hy spreek die twee Engelse woorde hard en plat uit – ’n ai vir ’n ai.
“’n Arbeider se seun,” vertel hy. “Sien, die boer het lank terug die pa gevermoor. Of so het die mense gedink, want die man het mos sommer net geverdwyn eendag. Nooit weer gesien nie. Maar die familie het hoeka gedink dis die boer wat hom gevermoor het. Toe die seun nou groot word, toe’t hy op ’n dag teruggekom en die boer kom voorlê. Hy’t hom eers gewurg. En toe’t hy sy maag oopgesny. En toe vat hy hom en hy hang hom koponderstebo aan die windpomp op! Die boer het nog gelewe toe iemand hom daar kry. Maar hy’s toe dood.” Sy oë spring opgewerk van Beeslaar na Ghaap. “’n Eye vir ’n eye, en ’n tooth vir ’n tooth.”
’n Toef vir ’n toef.
“Nou ja,” sê Beeslaar, effe oorbluf. “Dis dalk ’n goeie vertrekpunt. Die moordtoneel vertel vir ons ’n geskiedenis. En dit vertel vir ons wat gebeur het. En dit vertel ook wat nié gebeur het nie.
“Kom ons begin by wat nié gebeur het nie. Byvoorbeeld: Die vrou is nie deur vreemdes aangeval nie. Dis duidelik. Die doodsondersoek gister bevestig dit. Daar’s geen tekens van terugveg of van enige ander trauma soos ’n hou teen die kop nie. Dis asof sy gewilliglik gaan sit het vir die dader. Was sy self ’n dwelmgebruiker? Ek dink nie so nie. Daar’s skaars Disprin in daai huis gewees. En hoekom sou sy dit vir die kind ook ingegee het, en die drie honde? Volgende vraag: Wie sou sy so goed geken het? Ons veediewe? Kom ons neem aan die antwoord is nee. Wie dan? Wie was die mense wat gereeld daar gekom het? Ons begin by hulle.
“Pyl, begin jy by ’n lys van die pleegkinders. Wie is hulle, hoe oud is hulle? Alles. Het een dalk rede gehad om veronreg te voel? En onthou, alles kom terug hiernatoe.”
Hy tik op die oop dossier voor hom. Vaaldonkie, dit het hulle so ’n vaalbruin docket altyd genoem. Hierdie een is nog dun, enkele A4’s met verklarings. Die vingerafdrukke en foto’s van die moordtoneel moet nog kom. Dan die verslag van die nadoodse ondersoeke. Nog verklarings, saaknotas, verslae. Hoeveel van die blerrie goed het hy nie al in sy lewe aanmekaar gesit nie? Berge vol.
En die gloed van adrenalien as jy jou man het en jou donkie vet en foutloos in die staatsaanklaer se hand kan lê. Daai vlam, daai honger, wat nie omgee vir min slaap, lang ure, simpel betaling en die ure se sleurwerk van verslae skryf om so ’n dossier op te bou nie.
Waar’s daai vlam heen? Is dit ooit nog daar?
“Orraait. Ons het nou ’n verklaring van elk van die plaasmense. En dis gecheck en gedoublecheck. En alles klop?” Ballies Pyl knik sy kop entoesiasties, maar Ghaap verroer skaars.
“Nou kyk ons wyer. Ek praat vandag weer met Pretorius. En hopelik ’n paar ander mense wat gereeld daar op die plaas gekom het. Ghaap, jy bly by die ou antie, mevrou Beesvel. En ons kom een of ander tyd in die dag weer hier bymekaar – sê nou maar na lunchtyd – en ruil notas uit. Want ons moet by die volgende vraag van ons moordtoneel uitkom: Die soektog in die vrou se slaapkamer. Was dit sommer net, of het die daders iets spesifieks gesoek? Hoekom is die slagoffers juis keelaf gesny? Hoekom moes die kind ook doodgemaak word? Maar ons verloor nie die skakel met die veediewe nie – ons bly elke klip omkeer. Ghaap, kry vir ons daai vreemde Johannesburgse man in die hande, nadat jy weer met die ou antie gepraat het. Ek wil alles weet wat die laaste tyd op die plaas aangegaan het. ”
Ghaap knip net sy oë. Pyl skryf alles neer.
“Enige vrae?”
“Die drugs,” sê Ghaap op sy uitgerekte manier. “Ek meen nou die drugs wat die slagoffers gevoer is. Hier by ons kry jy nie daai goete nie. Onse mense se poison bly maar alkohol en dagga. Hoogstens tik. Iemand sal nog ’n wit pyp maak, maar selfs Mandrax is skaars hier rond. Die mense is te arm vir harde drugs.”
Beeslaar knik. “Maar jy weet nie wat dra Mma Mokoena se fênsie boy hiernatoe nie, nè?”
Ghaap knip net sy oë. “Watse drugs dink jy was dit?”
“Ek sal my geld sit op Roofies. Dit kan maande vat voor ons iets op papier het van die witjasse in Pretoria. Intussen gee ek jou ’n brief dat dit Roofies is. En dat die dok op Postmasburg se voorlopige verslag ook so sê.”
Pyl frons.
“Rohypnol,” verduidelik Beeslaar. “Die sogenaamde date rape drug. Dit maak die slagoffer heeltemal willoos, maar hy is nie bewusteloos nie. Dis hoekom dit so gewild is by partytjie-verkragting. Laastens: Hierdie moorde is nou prioriteit nommer een, maar ons verloor nie ons oog op die twee voriges en die veediefstalle nie.”
Ghaap en Pyl begin hulle boeke opvou en regskuif om op te staan. Dan herinner Pyl vir Beeslaar aan die televisiespan wat op pad is om iets oor die moorde te kom doen.
“Jy praat met hulle, sersant Pyl.”
“Ek!” Die jongman is tegelyk oorstelp en verskrik.
“Ja, jý. Ek het ander dinge om te doen. Jy sê maar net ons maak goeie vordering en laat geen steen onaangeroer in ons ondersoek nie, ensovoorts, ensovoorts.”
“Maar ...”
“En dan verwys jy hulle na superintendent Mogale op Upington of die amptelike woordvoerder op Kimberley, oukei?”
“Maar dis juis die media-ou op Kimberley wat ...”
Beeslaar leun skielik vorentoe op sy elmboë, en Pyl sit onwillekeurig terug. “Luister, ek het nie ooghare vir die pers nie. Waar hulle inneuk, is daar altyd ’n gemors. En jy sê maar net daar is nog nie verdagtes nie, maar ons volg wél verskeie leidrade op. En niks verder nie. As hulle jou stront gee, verwys hulle na die super.”
“O ja!” Pyl sit weer regop. “Ek het vergeet, inspekteur. Die super – hy’t vroemôre al gebel en laat weet jy moet hom so vinnig moontlik terugbel. Op sy sel. Hy sê hy’s op pad hiernatoe.”
Beeslaar knik en wuif die twee manne deur se kant toe.
Wanneer hulle uit is, laat hy homself ’n diep sug toe. Die superintendent. Nice. Net om sy dag verder op te vrolik.
Hoofstuk 9
9
In die koel donkerte van die begrafnisonderneming se kantore is Saar vir ’n oomblik blind. Sy knyp haar oë toe om gewoond te raak aan die skielike duisternis. Dis ’n kenmerk van al die ou geboue, onthou sy, dié donkerte binne. Hulle is gebou in die dae