Driveway Divatjie. Annalise Wiid
lig ons sluiers.
Die tyd veredel ons:
Ons is ryper nou, meer beleë
Jou smaak lê deesdae anders op my tong
As toe jou jongwynwysies my kop kon draai
Wie het toe kon dink dat ons tot hier sou kom!
Die tyd trap silwer spore …
Die tyd
bind ons vaster, maak ons vryer,
kraak ons maskers,
lig ons sluiers
Die tyd verteder ons:
Ons is ryper nou, meer beleë
Jou smaak lê deesdae sagter op my tong
As toe jou vonkelwynwysies my kop kon draai
Het jy ooit kon droom dat ons tot hier sou kom?
Die tyd gooi silwer draaie …
Sluipstil, silwer draaie …
En hy bind ons immer vaster, maak ons vryer,
kraak ons maskers,
skeur ons sluiers
en hy vermurwe ons.
Ons is ryper nou, veel meer beleë
Jou smaak lê nou selfs soeter op my tong
En jou heuningwynwysies laat my kop steeds draai …
Hoeveel tyd het ons …
… voor die einde kom?
Die tyd sleep sy silwer spore deur jou hare
Die tyd keep skrikwekkend om jou mond
Die tyd lê ’n sterkrans op ons saamweesjare
Die tyd vlieg!
Geruisloos, meedoënloos nou …
© Annalise Wiid op haar CD Nkosi is Hier
Gedeelde liefdes
GEDEELDE LIEFDES
Die Engelse daag toe hier op etlike ure voor die eindstryd om die Rugbywêreldbeker. Ek praat nou nie van plaaslike Engelse wat ook vir die Bokke cheer nie. Ek praat nou rou Engels – uit die immergroen hart van Lancashire. En daai groen is beslis nie ’n Springbok-groen nie!
Toe hulle uit die kar klim, kla sy sy is moeg. Goed, dink ek, dan sal sy seker nie wil rugby kyk nie. Maar skaars ’n halfuur later vra sy: “Are you by any chance into this rugby thing at all?” Seker toe nog gedink hulle gaan wen …
“Oh yes we are,” sê ek met ’n skietgebedjie vir die Bokke en vir myself. Want as dinge suur raak, kan die gevolge nogal onaangenaam wees. Die Engelse is hier vir ’n hele week! Dit kan onhoudbaar lank wees as mens nie langs dieselfde vuur wil sit nie.
Voordat die rugby begin, gaan kyk ons eers ’n kort konsertjie van die Madrigaal Sangers van Stellenbosch. Twaalf uitmuntende jong stemme wat perfek met mekaar versny. Dit is so verskriklik mooi dat ons heerlik gemoedelik daar uitstap – glad nie in ’n bui om mekaar oor rugby te verskeur nie, ten spyte van die studente oral om ons met hul opsigtelike Bok-truie, uitdagende groen hare en voortydige vonkelwynbottels …
Die Bokke kou toe ’n bietjie klippe, maar hulle wen nietemin oortuigend genoeg. En ek moet sê, ons het ons besonder goed gedra. Baie ingehoue ge-cheer – nie naastenby so uitgelate soos ons in net Suid-Afrikaanse geselskap sou nie. Ons het selfs hier en daar vir die Rose hande geklap. En hulle opreg jammer gekry toe daardie hulle-sê-dit-is-ons-sê-dit-issie-drie nie aan hulle toegeken is nie.
Eers nadat die Engelse gaan slaap het – foei tog – het ons ’n bietjie uitgerafel van plesier!
Natuurlik was dit vir die res van hul kuier ’n teer puntjie. Daar is maar deurentyd liggies draak gesteek met hul nederlaag en met goedige trots na die briljante Bokke verwys. Ek lig my hoed hoog vir die Engelse. Hulle het nie een keer kwaad geword of selfs eens krapperig nie. Net telkens teruggeval op die feit dat hul span darem regtig baie goed verdedig het, anders sou ons ouens minstens 30 punte meer gehad het. Dan het ons maar vinnig oor iets anders begin praat om verdere verleentheid te vermy.
Die laaste dag van hul kuier hier gaan eet ons by Blaauwklippen. Ons sit op die allerhelderste blou dag onder koelgroen akkerbome op die engelwit stoep en teug behaaglik aan die opbrengs van die omliggende wingerde. Wat wil hulle eet? vra die kelner. Tot almal se groot vermaak bestel die Engelsman met ’n vonkel in die oog springbokskenkel! Die meeste van ons volg sy voorbeeld. En daar sit ons toe: aartsvyande van ’n eeu gelede, toe Kakies en konsentrasiekampe ’n doodsreuk oor die land laat hang het; bloedsweet teenstanders op die rugbyveld skaars ’n week gelede; nou geswore, gesellige vriende om ’n geurbelaaide, ontspanne tafel.
En ek dink: Hoe wonderlik samebindend kan dinge soos kos en musiek, die natuur en sport nie wees nie. Dit is ons gedeelde liefdes – wat brûe bou oor ongemaklike skeidings. Meteens flits my gedagtes terug na verlede Sondagoggend in die kerk. Die Engelse het gesê hulle wil saamkom, al gaan alles in onverstaanbare Afrikaans wees. Ek het gedink hulle is nogal dapper.
Toe is daar nagmaal ook. En vir die eerste keer in hul lewe, gebruik die Rooms-Katolieke Engelse nagmaal met regte, egte witbrood en glasies wyn – sommerso in die banke. Nie, soos hulle van moedersknie af ken, met wafers en ’n chalice voor by die altar nie. En vier ons, saam, die allersterkste samebindende faktor tussen ons: Die bloedband, die lewensbron wat ons in Jesus Christus deel.
Driveway divatjie
DRIVEWAY DIVATJIE
Ek sien haar gereeld wanneer ek laatmiddag gaan stap: die alleendogtertjie. Sy speel altyd op haar eie. Nooit in die tuin, op die gras of tussen blomme nie. Altyd op die plaveisel van die oprit voor die motorhuis – waar dit hard en koud is. Partykeer praat sy met haarself. Eenkeer het ek haar hoor sing. Saggies.
Ek waai altyd vir haar wanneer ek verbyloop. Dan waai sy terug en glimlag. Maar ons het nog nooit gesels nie.
Verlede week loop ek weer daarlangs. Diep ingedagte en nogal ’n bietjie somber. Die dogtertjie lig my gemoed: Sy het haar opge-dress. ’n Groot swemhanddoek is om haar lyfie gedraai en hang tot by haar enkels soos ’n deftige balrok. Sy het nog ’n handdoek, ’n kleiner ene, oor haar skouertjies drapeer soos die duurste denkbare pelsstola. Haar kaal voetjies trap elegante passies op die harde plaveisel asof sy strelende dansmusiek hoor.
Ek gaan staan. Dit maak haar skaam. “You look breathtakingly beautiful!” komplimenteer ek. Sy giggel. “Sing me a song?” vra ek. Dit lyk of sy wil, maar nie kan besluit wat om te sing nie. Alles reg, sê ek, sy kan solank dink terwyl ek verder stap en wanneer ek terugkom, sal ek graag luister.
Met die terugstap sien ek haar al van ver af straataf loer om te sien of ek al aankom. Met kwalik bedekte opwinding vra sy: “Would you like me to sing in Xhosa or in English?” “I really don’t mind,” sê ek, “as long as you sing me a song from your heart.” En toe, in ’n sagte, bedeesde stemmetjie en effens onvas op die note, sing sy vir my “Siya Hamba” se woorde: “We are walking in the light of God.” Die harde, koue oprit word ’n warm verhoog in lig gebaai. Ek word haar meegevoerde gehoor. Nee, ek word meer as dit, ek word haar sypaadjiesangmaat! Ek val in en sing uit volle bors saam, want wat sy nie weet nie, is dat dié liedjie al baie jare ’n ekstra spesiale plek in my hart het. Ek het dit as ’n student dikwels saam met een van my dierbaarste vriende gesing.
Op daardie selfde dag, aan die ander kant van die aardbol,