Driveway Divatjie. Annalise Wiid
begin blom.
Onlangs ontdek ek Leonard Cohen se DVD Songs from the Road. Grepe uit sy wêreldtoer van 2008 en 2009.
Aangrypend! Daar staan hy: nou ’n skraal, ou man – gebeeldhoude gesig wat aan my oupa Wiid herinner. Hy dra ’n pak en ’n das en het ’n hoed op die kop. Dié haal hy soms, met ouwêreldse sjarme, af uit eerbied vir sy medemusikante. Hy beweeg min; kyk skaars die gehoor in die oë. Sing dieselfde liedjies van destyds, maar nou met ’n geweldige, ingehoue intensiteit wat dermdiep uit sy eerlike deurleefdheid kom en my geheel en al oorrompel.
Snaaks, die jong Cohen het my, toe ek hom seker ’n goeie 30 jaar gelede ontdek het – nie só diep ontroer nie. Wat is dit in hom wat my nou so beetkry, so bekoor; onweerstaanbaar trek soos ’n magneet? Is dit dalk dat die ouderdom hom gestroop het tot by sy essensie; dat dit sy hart se “filigraan-grasie”, soos Olga Kirsch dig, openlik wys? “Die jare wat jou krag laat wegval ontbloot die skoonheid en gesag van eike wat blaarloos staan in die wintertyd, silhoeët-sigbaar tot aan die fynste twyg.” *Dit is so: Mens sien nou die kern van die man se menswees. Die waarheid. En dit betower.
Ek dink dit is die een element van Kersfees wat my jaar ná jaar bewoë-diep raak: God se waarheid, wat so bloot lê in die weerlose babalyfie. Sy verstommende, waaghalsige, verbeeldingryke liefde. Grensloos na alle kante toe. En soos Cohen sing: “Love is not a victory march … it’s a cold and … very lonely hallelujah,” want die skadu van die kruis val immers van die begin af reeds oor die krip. Die waarheid: God wil ons onskuld en ons ontreddering omhels.
Kersfees is ’n wit lelie; dit vou God se hart oop, die waarheid van sy wese óóp. Gun dit vir jouself om diep daaruit te drink en loop dan met die dapperte daarvan die nuwe jaar en jou eie waarheid binne.
* Olga Kirsch: “Portret”, uit: Nou spreek ek weer bekendes aan - ’n keur. 1944-1983, Human & Rousseau, 1994
Die dik donkie en die voortvarende vul
DIE DIK DONKIE EN DIE VOORTVARENDE VUL
Ek was veronderstel om op ’n donkie die kerk in te ry, soos Maria Betlehem waarskynlik destyds ge-in het. Maar ’n donkie is niemand se speelmaat nie. Nie eens die vindingrykste dominee s’n nie.
Kerssangdiens se namiddag. Die gemeente geniet nog ongesteurd ’n warm somermiddagdutjie. Ons is al by die kerk. Vir klank toets en woorde oefen en koor opwarm. En om die donkie op te saal. Maar dié donkie is ’n perd van ’n ander kleur. Sy word aangemarsjeer daar van die Hop-huisies se kant af. Nogal mooi. Lig. Amper wit. Engelrein, lyk sy, maar onrusbarend breed. Op die nippertjie dragtig. Haar maag bult alkant uit soos ’n braaidrom. Agter haar trippel ’n donkerbruin, brandsiek vul. Vol skurwe kolle en met dik geel souse wat uit sy oë drup.
Ek klim nie op een van hulle nie, is my eerste gedagte. Maar ’n man kom aangery in ’n ou skedonk, ook van die Hop-huisies se kant af. Hy stop voor die imposante sandsteenkerk en klim uit met ’n lieflike handgemaakte lappieskombers. ’n Waardige man. Hy gooi die kosbare erfstuk oor die dragtige donkie se stofrug en sê: “Dis vir die vrou om op te sit.” Ek sal die ryery moet heroorweeg, besef ek; uit respek vir dié heilige gebaar.
Maar donkies verstaan van heiligheid en respek nie ’n snars nie! Die gemeente het intussen al begin aankom. Binne het die koster fakkels aangesteek. Welkomsvlamme; vreugdevure. Maar hy het hom misreken met die karige ventilasie van die kerk. Daar dam so ’n spul rook op dat ’n kind ’n asma-aanval kry en die koor hoegenaamd nie meer hul hoë note sal kan bykom nie. Ek staan en wag nog ewe rustig buite by die donkies toe hulle met die stomme kind uitstorm vir vars lug en vrywilligers binne vervaard die fakkels blus.
Die dierbare dominee se plan was dat ek buite wag tot die koor “Stille Nag” begin sing. Teen vers twee moet ek en die donkie dan nou die kerk in. Toe ons besef sy’s te breed om op te sit, maak ons plan B: Die hoofouderling sal haar lei en ek stap net saam – ’n nagemaakte Maria, met ’n donkie wat nader is aan lewe skenk as sy!
En dis net daar dat ek toe die volle betekenis van die woord “steeks” leer ken. Met haar neus halfpad in die voorportaal besluit Mevrou Donkie: Nottendêm, in dié fakkelstink gaan sy haar nie met haar ongeborene begewe nie. Die brandsiek vul, egter, ruik net avontuur en wil met alle mag die paadjie af. Dit veroorsaak ’n donkieknoop. Die dragtige merrie draai haar dwars om te probeer wegkom, die kosbare kwilt gly onwaardig grond toe en die voortvarende vul stamp briesend teen die braaidromme om te probeer verbykom, kerk in. Ek wonder beangs of dit dalk die effek van ’n induksie sal hê? Binne sing die salig onbewuste engelekoor, jubelend: “Juig, die Redder is daar! Juig, die Redder is daar!”
Ek besef benoud dié woorde is die aanhef vir vers drie en druk haastig anderkant die bultende donkiemaag verby om, vervaard en vingeralleen, soos ’n bruid sonder pa, die kerkpaadjie af te spoed. Onder die kansel sis ek gou, voordat die koor die laaste note laat klink, tussen my tande deur vir die dominee: “Steeks donkies,” en skop my skoene haastig uit om onelegant teen ’n stellasie hoër as ’n Kersboom op te skarrel. Dié het ’n diaken van ’n trapleertjie en planke op die preekstoel aanmekaargetimmer sodat ek vanuit ’n duiselingwekkende engelhoogte soos ’n wafferse Gabriël saam met die koor en die ganse mensdom kan juig: “Heer, gebore vir ons!”
Het jy geweet …?
HET JY GEWEET …?
Ek sien jou met die onrus in jou oë
en met jou Kind teen jou uitgeputte lyf.
Ek sien jou op ’n donkierug – krom van vrees –
toe die dood jul ’n vreemde nag in dryf.
Ek sien hoe jy swaar dra aan jou vrae
en ek sien hoe jy sukkel om te glo.
Ek sien hoe jy bid deur die donker dae
en ek sien hoe jy wonder of God hoor.
Het jy geweet op jou donkievlug
en toe jy skuil in die vyandsland
dat God iewers vorentoe
met ’n sagte reddershand
jou lewe weer sou omdraai?
Het jy geweet dat jou lewe weer sou omdraai?
Deur soveel kronkel-kronkel lewensdraaie
Het jy soveel egte God gesien?
Ek sien jou met die angs in jou oë
oor jou Kind en oor sy uitgeputte lyf.
Ek sien jou op die heuwelrug – en jy’s krom van vrees –
oor die dood Hom oënskynlik hel in dryf.
Ek sien jou so swaarkry daardie dag
en ek sien hoe jy kwalik kan bly glo.
Ek sien hoe jy bidloos net daar staan en wag
en ek sien hoe God jou hart se stil kreet hoor!
Het jy geweet op daai Kopbeenplek,
daai plek wat lyk soos vyandsland,
dat God binne net drie dae
met ’n groot, sterk wonderhand
jou lewe weer sou omdraai?
Het jy geweet dat Hy alles