Driveway Divatjie. Annalise Wiid
Bedelkind, die bietjies wat ek somtyds vir jou gee
Maak nie vol nie, maak nie heel nie
Maak jou stukkend dalk juis meer:
Hier’s die oorskietstuk Kentucky –
Die tjips is hard en koud
Die hoender half geëet
En ook al twee, drie dae oud …
Bedelkind, ek wonder wat’s jou naam.
Wat moet van jou word
As jou lewe net so aangaan?
Bedelkind, jou handjie wat jy krom voor my kom hou
Is nie skoon nie, is nie skaam nie
Weet van keer en weet van knou
Jy ken ’n roof se blitsvat
Jy weet lankal reeds te veel
En ek wonder of jy wens jy weet
Hoe ’n sagte ma-hand streel?
Bedelkind, wie koester jou vanaand?
Jou maatjies of die sterre –
Wie sing jou aan die slaap?
Bedelkind, die liedjie in jou lyfie breek my hart
Hy’s nie swaar nie, hy’s nie stroef nie
Hy wil als wat droef is tart
Ek hurk vir ’n oomblik
En kyk jou in jou oë
En ek wonder of jy weet
Daar’s ’n God om in te glo?
Bedelkind, jou laggie ruk my oop!
Wat kan jou dan bly maak?
Waar kry jy nog hoop?
Weet jy dat jy waarde het
Anderkant jou skraal bestaan
Van gom en grootmensgunsies
Waarvoor ooms jou soms kom haal
Waarvoor ooms jou soms betaal
Of wat hul somtyds sommer net vat, vat, vat
Want jy’s mos niks!
Jy’s net ’n kind …
Bedelkind, die bietjie wat ek daarteen vir jou gee
Maak nie vol nie, maak nie heel nie
Maak jou stukkend … dalk net meer.
© Annalise Wiid op haar CD Nkosi is Hier
Ek slaan my oë op
EK SLAAN MY OË OP
(Nie vir sensitiewe lesers nie.)
Woede bou ’n gewelddadige toring in my. Lê sy fondamente in my voete, stapel snel deur my bene, rys deur my buikholte, deur die oopgeskeurde pyn in my borskas … brul in my boarms, bal in my vuiste. Net toe ek dink dit gaan nou onkeerbaar deur my mond of my skedel bars, tuimel dit inmekaar soos 9/11 se niksvermoedende Twin Towers en al wat oorbly, is ’n groot hoop hartseer wat in ’n tragiese stofwolk loodswaar in my voete terugval. Dit lê my lam. Dit los my magteloos, mateloos verslae.
Hulle het ons blommetjiekind verkrag. Ons vergeet-my-nietjie!
Verkrag is nie ’n woord wat jy sê nie. Jy braak dit. Galgalbitter.
Met sonop gaan sit ek, leeg, op die balkon. Kyk oor die see. Asem die rustige ritme van die branderbreek in. Drink die vroegdaglig se pastelle. Probeer verhoed dat my kop paaie loop waar omdraai nie moontlik is nie en waar afgronde gaap. Waar mens se siel nog meer skade kry. Dwing myself om te konsentreer op die mooi. Soek die Gees wat oor die waters sweef. Probeer bevestig weer die bestaan van ongereptheid. En geloof. Dis byna onmoontlik.
Vir die eerste keer in jare sukkel ek weer met die werklikheid van haat. Harde woord: haat. Alkant skerp lem. Hy laat jou ook nie ongeskonde van hom af wegkom nie. Dié lem is nou binne-in my: Haat teen eeue oue gedagte- en gedragspatrone wat mans en seuns laat dink dis maar oukei om net te gryp en te gebruik, te vat en te verniel en finish en klaar. Haat teen stelsels, regerings, wetgewing en gemeenskappe wat nie genoegsaam beskerm nie en die weerloses in die steek laat – keer op keer. Haat teen ons almal wat blindweg voortleef asof dinge soos dié nie gebeur nie – terwyl dit ons net nie tref nie, ons hopelik nooit tref nie. Dalk net nog nie getref het nie?
Haat teen alle onreg, alle geweld, alle lewensveragting. Haat teen die onverskillige stukkend breek van iets wat nooit, nooit, nooit weer heelgemaak kan word nie. Waarvan die stukkies nooit eens weer bymekaargeskraap kan word nie. Haat teen hierdie naamlose, gesiglose ding wat verswelgend aanrol en wat, soos ’n Kalahari-stofstorm, alles voor die voet insluk – oortreder én slagoffer – alles, almal, sonder onderskeid. My naels kom uit en trek terug. Onwillekeurig. ’n Leeuwyfie wat weifel tussen veg en vlug.
Ek klim in my kar. Vat die oop pad. Ry waar die veld ruik na blom en groei. Die son is soos God – vir ’n kneusblaarblommetjie, straal op straal warm genade. Maar die lied wat ek destyds, toe sy uit ander helsemhande gered is, vir haar geskryf het, koggel my nou met koue venyn: “Vergeet-my-nietjie, Hy verlustig Hom in die vryheid en die blyheid en die goue groeityd wat nou kom …”*
Alles in my pyn met ’n verskeurde jammerte. Vir haar. En vir haar ma en pa.
Die polisie het die satangs gevang. Was dit bruin mense? vra iemand. Watse vraag is dit nou? wonder ek. Wat maak dit saak? Wit mense, bruin mense, swart mense? Dit was mense! Mense! Mens wat dier geword het, ondier. En ’n bloedspoor los.
Op my geboortedorp. Waar die berge hoog en klipsteenrotserig staan en sing oor ’n Skeppergod se majesteit en vernuf. Waar geel herfspopuliere die rivier omhels en bewaak. Die rivier met die helder water. Die berge met die diepblou skaduwees. Die dorp waar die sagte vrugte groei.
“Diep, diep in die Rhodopi, lê ’n blommedorp waar klein, blou vergeet-my-nietjies verbrysel word,” kla my lied. Hier, hier in ons Boland, lê ’n droewe dorp …
Ek slaan my oë op na die berge. Waarvandaan sal ons hulp nou kom?
* Vergeet-my-nietjie op Blou Kitaar
Vergeet-my-nietjie
VERGEET-MY-NIETJIE
Diep, diep in die Rhodopi lê ’n blommedorp
waar klein blou vergeet-my-nietjies verbrysel word.
Die geur van gekneusde blare
styg op, óp, hoog bo die son,
van waar groei en genade in goue strale kom
en in my skoot kom val.
En ek verwonder my
aan die broosheid en die banggeit
en die fyn volmaaktheid van ’n blom!
Daar’s baie kere al getrap op jou – ek sien die spore lê
En terwyl ek jou hier in my arms hou,
wil ek oor en oor weer vir jou sê:
Vergeet-my-nietjie, Vader