Die bruidseisoen. Helene de Kock
– jy van alle mense – aan die sindroom van die rykmanskind begin ly van niks-is-lekker-nie of niks-het-waarde-nie-want-ek-kan-dit-koop! Dit was nog altyd vir my so mooi in jou dat jy die klein dingetjies kon geniet! Kyk soos nou weer: dis die hoeveelste keer dat jy in Venesië kom en jy vergaap jou nog steeds. En dis soos dit moet wees! Jy waardeer dit dat jy hier kan wees, want baie ander mense het nie die voorreg nie.”
Sanet het vertroostend oor haar tante se pofferhandjie gestreel.
“Dis net soos tannie sê, al hierdie dinge maak my elke keer bly, maar dit gaan nie nou dáárom nie … Ek wil in alle eerlikheid net ’n bietjie alleen wees – miskien so ’n bietjie dink!”
Tant Bybs het haar niggie se pragtige gesig goed bekyk, niks daarin gesien wat haar agterdog kon wek nie, en toe getroos gesê: “Nou maar goed dan. Miskien is dit ook nie so heeltemal onverstandig nie. Een van die dae het jy ’n permanente kamermaat en dan’s dit nie so maklik om alleen te wees nie, glo my!”
Hulle het geskater, die begrip van baie jare tussen hulle. ’n Heerlike gemoedelikheid! Hulle het die bedrywighede om hulle dopgehou en eers weer na mekaar gekyk toe die boot die kaai bereik.
Sanet se lippe het onseker beweeg.
“Tant Bybs, moenie vir Mammie sê ek bly langer om alleen te wees nie. Sy sal nie verstaan nie. Sê net ek wil nog ’n paar inkopies doen – kantwerk en daardie glas-koffiestel wat ek nou die dag op Murano bestel het.”
Die taxiboot het gedruk-druk teen die kaai van die stasie. Hulle sou moes uitklim, maar oomblikke lank het die twee vroue mekaar in die oë gekyk, half ontsteld geweet dat daar iets is, iets onnoembaars, wat na die bewuste wil beur, wat ’n onrusbarende rimpeling maak op die gang van gewone dae.
Tant Bybs het bleek gelyk in die son se laat middagstrale.
“Kind!” het sy gehyg en Sanet het haar nog selde so ontsteld gesien. Die beklemming het hom vaster geskroef in haar gemoed. “Kindjie,” het tant Bybs weer begin, haar asem kwalik onder beheer. “Jy het tog nie trousenuwees nie? Ek weet jou ma-hulle se grootdoenery pla jou soms … Ag, maar dis mos omdat hulle jou liefhet; jy’s dan hul enigste!” En toe Sanet stom na haar bly staar: “Dit pla jou sowaar! Het jou ma jou al gesê van … Het sy jou gesê …?” Sy het haar tande opmekaar geklem asof sy daardeur die vraag wou stuit.
Tant Bybs wou iets sê wat sy nie moes nie. Sanet kon nie ’n skewe glimlaggie onderdruk nie. Dit moet vir tant Bybs ’n vreemde ondervinding gewees het om nie te kon oorloop van wat in haar gemoed is nie.
Die ou tantetjie het op haar kenmerkende manier afskeid geneem: “Moet nou nie te veel na Kallie verlang nie, hoor!” En toe het sy so ’n knypie gif bygegooi: “Die niksnut! Hy was seker nou al by Yellowstone gewees!” Sy het ’n oomblik lank ingedagte bly staan. “Jy weet, ek wil ook nog gaan kyk na daardie warm bron wat baie jare lank al gereeld elke uur en ’n paar minute uit die aarde spuit. Old Faithful, noem hulle hom mos, nè?” Sy het gesug. “Nou ja, ek hoop Old Faithful het ’n blywende indruk op Kallie gemaak.”
Sanet het net geglimlag en haar tante weggesien. Tant Bybs is lief vir Kallie, maar sy was al by dat haar tante hom kaalkop die waarheid gesê het: “Jy moet jou draaie nóú loop, Kallie-mens! Anders vang die nood jou later! Wat jy nie nou uitwoed nie, jaag jou tot in jou gryse ouderdom!”
Kallie het nie op hom laat wag nie. Sy tong kan glip en gly soos enige advokaat s’n. “Nee wat, my tannietjie, ek het my storm-en-drang-jare al voorskools beleef. Daar’s net een meisie vir my!”
Die kelner werp Sanet nog ’n gefolterde blik toe, en sy besluit om liefs te loop.
Buite gloei Venesië sagpienk in die milde lig van die winteraand. Op die Piazza San Marco lê rosige poeletjies water glimmend soos gerookte glas. Sanet slaan die kraag van haar grys-en-wit woljas hoog op en wikkel haar nek toe in die knusheid. Dan kry sy koers oor die plein. ’n Paar laat duiwe fladder van haar af weg, duik die koue lug in.
Sy drentel aan; verby die Palazzo Ducale tot op die Ponte della Paglia, parallel met die Brug van Sugte. Daar bly sy staan, kyk na die rye en rye swart gondels, vasgemeer aan rooi-en-wit gestreepte paaltjies, rustig deinend op die groot lagune. ’n Ysige briesie snerp deur haar hare, stekel op haar wange sodat sy sidder en die jas stywer om haar slanke lyf vou.
Nie te veel na Kallie verlang nie …
Hoe doen ’n mens dit? Hy kon darem al weer geskryf het. Maar Kallie sou nie daaraan dink nie. Veral nie as hy die toer regtig geniet nie … Sou daar …? Natuurlik! Dis ook nie die eerste keer dat sy daaraan dink nie. Kallie sal nie in ’n toergroep gaan waar daar geen meisies is nie. En hy sal flankeer – met almal. Dis ook nie nuut nie, en dis ook nie dit wat die onrus soos ’n gety in haar laat opstoot nie. Nee, van hom is sy seker, baie seker. Rondkyk, met die klem op die kyk, sal hy altyd, maar ook terugkeer na haar. Vir hom is dit ’n speletjie. ’n Spel met die opwinding wat dit bring, prikkel sy aptyt daarvoor … Om te skerm met gevaar, daarvan hóú Kallie.
Sanet trippel vinnig met die brugtreetjies na onder asof sy so kan wegkom van die idee af. Sy kyk effens vervaard om haar rond. Grys ou mure van die paleisselle na links, met regs die blinkswart see wat teen die kaai druk … Sy adem die klamkoue lug brandend in en haar oë skiet vol warm trane.
Ek is laf! Láf! Trousenuwees – dis wat dit is, niks anders nie …
Sy loop driftig na ’n stalletjie toe op die rand van die kaai. ’n Ou vroutjie in swart geklee met ’n gapende glimlag sit agter ’n groot ysterpot vol olie en braai neute. Sanet koop ’n papierhouertjie vol knarswarm neute.
Sy staan ’n entjie weg om aan die ou vrou se oernuuskierigheid te ontkom, rol die vuurwarm soutigheid van die neute om en om in haar mond. Dis asof die lekkerte van iets smaakliks op die tong ook haar gemoed salf.
Sy dink weer aan Kallie, dié keer sonder ontsteltenis of drif. Sy dink aan daardie aand by Die Hoekie toe hy gesê het hy gaan met haar trou. Gesê het, nie gevra het nie, en haar gesoen het met dieselfde drif waarmee hy ’n opponent se woorde in die regsbank sou doodvee. Sy het nie daaroor geprotesteer nie; wel toe hy later die aand aangekondig het dat hul groepie langer gaan bly as tot ná die braaivleis.
“Toe, julle ouens! Kom ons maak nou ’n áánd hiervan! Kyk, daar kan ons dans!” Hy het na ’n harde, oop kol met poeierfyn sand gewys. “Kees, jy het jou kitaar hier, nè?”
“Ek het hom altyd by my, ou Kallie! Meer dikwels as my meisie!”
“Gaaf!” Toe het hy afgekyk na Sanet in sy arms, sy lippe in haar nek gedruk, gefluister: “Lief! My lief! Jy is vir my verskriklik mooi!”
Instinktief het sy geweet dat dáárdie woorde uit Kallie se mond oorgeloop het uit sy hart. Dit het oor sy lippe gebars voordat hy kon of wou dink; daarom het sy geweet dat hy dit bedoel. Sy het opgekyk in sy oë, blou oë wat ’n oomblik lank óóp was voor hare. Toe het hy meteens haar kop onder sy ken ingedruk sodat sy amper versmoor het in sy denimbaadjie. Sy stem bo haar het die oomblik weggebulder: “Komaan, Kees! Kry ons in die mood, ou!”
Kees het nie op hom laat wag nie, weggeval met ’n Cat Stevens-nommer en toe trekkerig oorgeslaan na “Lara se tema”. Op daardie oomblik het Sanet opnuut besef dat Kallie haar nie dikwels sonder skanse beskore sou wees nie. Hy is nie een vir oopmaak en praat nie, eerder vir toemaak en verdedig.
Dit was ná elf daardie aand toe sy besef het dat Kallie geen voorneme gehad het om haar betyds by die koshuis te kry nie.
“Kallie, as ons nie nóú ry nie, gaan ek gehek word, en dan sit ek drie Saterdagaande, jong!” het sy ’n bietjie later gesê.
“Twak, my pop! Lilian is aan diens en sy sal jou nooit hek nie!”
Hy het ’n paar ingewikkelde slaplyfdraaie al om haar gemaak sodat sy eers ’n paar passies later kon vra, ongeloof in haar stem: “Hoe weet jy Lilian is aan diens? Jy maak ’n fout as jy dink sy sal my nie hek nie! Sy’s nie verniet onderprim nie, Kallie! ’n Reël is ’n reël!”
Kallie het gaan staan, hande op die heupe, sy blou oë op skrefies