Die bruidseisoen. Helene de Kock
hulle gaan my iets te ete gee in hierdie plek. Net nie spaghetti nie. Liefs niks wat na pasta smaak nie …” Hy loer onderlangs na haar.
“Bestel ’n gebraaide os,” sê sy droog, en hy kry ’n waarderende glimlaggie, want elke gemeenplasie is nou ’n triomf. Toe loop hy.
Sanet vind geen ontspanning in die warm bad nie. Dis bloot water wat branderig om haar verysde liggaam sluit, en sy was vinnig om klaar te kry. Dis asof sy voortgedryf word deur ’n koue vuur – om méér te hoor, wéér te hoor. Soos ’n skokgrap ’n mens teen jou sin laat dink en wonder en dink, so maal en kolk dit in haar.
Sy het haar lang hare op haar kop geknoop om dit uit die water te hou. Met ’n snik-sug spoel sy nou die laaste skuimerigheid van haar liggaam af, en vou haar in ’n dik handdoek toe, begin haar moeisaam afdroog; met al die soepele blyheid van netnou – toe sy met die trap opgevlieg het in die hoop om Kallie hier te vind – verkrimp tot ’n pynlike spasma.
Sy kyk na die potjies vol ryk rome op die glasrakkie asof sy hulle nou die eerste keer sien. Dan buk sy, en in teenstelling met haar gewoonte, was sy haar gesig met die rou water uit die kraan. Net daarmee. Sy vryf hard met haar vingers oor haar fyn vel, spoel weer af, totdat haar gesig blink en bloesend uit die wasem van die spieël na haar terugkyk. Dit voel vir haar asof sy haar kan stukkend was, want sy voel vuil, besmeer deur Kallie se sprong in ’n modderpoel. Want dis wat hy gedoen het …
Troubreuk! Dis wat dit in regstaal genoem word. Die advokaat het troubreuk gepleeg! Of het hy? Dink hy hoegenaamd aan die tróú of die breuk? Hoe het Hugo nou weer van Kallie se trouery gepraat? “Niks blywends nie … nie soos ek hom ken nie!” Tog, selfs vir die wispelturige Kallie is daar sekere beperkinge – trou is trou, en as jy eenmaal getroud is, is jy getroud.
Haar kop suis, en sy wil net weer koud kry. Toe pluk sy die deur vinnig oop en hardloop kaalvoet, met die handdoek om haar, na die kas toe. Sy hoor hoe Hugo die hotelradio in die sitkamer aanskakel.
Op die ingewing van die oomblik pluk sy ’n warm wolkaftan uit die kas. ’n Vrolike kledingstuk met pêrels geborduur, lank, vloeiend en goudkleurig. Sy het dit vir haar wittebrood gekoop. Sy en Kallie sou ná die troue Switserland toe gekom het. Net sy en Kallie. ’n Sug ontglip haar sonder dat sy dit kan keer.
Sy en Kallie …
Sy gooi die handdoek driftig van haar af en trek vinnig aan. Toe sy klaar is, lyk sy soos ’n godin – gesig glansend en oë van kristal. Haar hare is blink drade bo die dofgoud van die materiaal en daar is pêrels om die hals, die wye moue en die soom. Maar haar voete steek sy in pantoffels, slof daarmee die sitkamer binne, waar Hugo op die bank ingesluimer het.
Oor die radio hyg die sanger na sy asem om die laaste draai van die studente-drinklied te voltooi. Geïrriteerd skakel sy dit af. Hugo se oë gaan dadelik oop en neem in wat hy sien. Hy som die trefkrag van haar uitrusting en die verslaentheid van die pantoffeltjies reg op. Hy weet dat dié kombinasie opstand beteken. En dis ’n goeie teken. Al is die verset kortstondig, aangeblaas deur die frustrasie van die oomblik. Solank sy net nie heeltemal gaan lê nie.
Hy kom orent, sprei sy arms aan weerskante van hom op die bankleuning oop.
Sy staar na hom asof haar oë op hom is, maar haar gedagtes nie. Hy kan byna sien hoe die klein klontjie verweer smelt. Sy sak futloos in een van die diep leunstoele neer en haar kop sak eenkant toe sodat die goue hare oor haar wang val. Haar hande lê slap in haar skoot. En onder die ryk pêrelsoom loer die twee pantoffeltjies beteuterd uit.
Warmte en weekheid sprei deur Hugo en word ’n onvermoë om sy oë van haar af te hou. Hy is verlig toe sy eerste praat, want hy kan self geen woorde vind nie.
“Wanneer was dit?” vra sy met ’n afgewende gesig.
Hugo besef met skrik dat hy al amper opgehou maal het rondom die feite van die verhaal, maar sy nog nie. Hy het ’n paar uur lank tyd gehad om hom tot versadigingspunt te dink aan ’n getroude Kallie. Sy nie. Sy kon nog geen vatlap vind om dié hittige idee mee aan te raak nie. Sy weet net hy’s getroud, en dit lê in haar brein soos ’n kool vuur.
“Drie dae gelede …” antwoord hy, besluit dan om met die hele mandjie patats vorendag te kom. “Hy het ’n telegram aan my ma-hulle gestuur, van Salt Lake City af. Hulle moes dus seker daar …” Hy kyk ’n oomblik lank weg, bring dan sy oë met ’n draai terug na waar sy ineengekrimp sit. “Hulle is seker daar getroud. Hy het my ma gister gebel, gesê sy moenie vrae vra wat hy nie kan beantwoord nie. En sy moet asseblief probeer begryp.”
Sanet se kop ruk so skielik op dat hy vervaard stilbly.
“Wát begryp?” vra sy yskoud. En ineens is dit nie meer ’n jong meisie nie, maar ’n vróú wat teenoor hom sit. Hy kyk asof versteend na hierdie nuwe mens wat eensklaps haar jongmeisieskap afgegooi het. rens uit sy skooldae flits daar ’n sitaat: “Hell hath no fury like a woman scorned …”
Hy vou sy arms oor sy bors – ’n vinnige beweging asof hy hom wil stut. Hy kyk aandagtig na die mat, volg die kurwe van die patroon asof sy lewe daarvan afhang. Dis net onmoontlik om haar so te aanskou. ’n Ware man kan eenvoudig nie voor soveel veronregte vrou staande bly nie.
“Wát begryp? Wat is daar om te begryp?” vra sy weer.
“My pa het glo die telefoon gevat en dieselfde vraag aan hom gestel. Glo gesê dis nie ’n kwessie van begryp nie, maar van aanvaar. So iets kan nie begryp word nie. My pa het hom ook gevra of hy besef sy ma sal vir skok behandel moet word, en hom toe ’n gelukkige huwelik toegewens. Toe’t hy die gesprek beëindig. Jy ken mos my pa.” En ná ’n klein pousetjie: “Kallie soek nie van vandag af moeilikheid nie. En nou het my pa sy mes vir hom in, dis seker!”
“Jou pa is lank nie ál een nie!” blits dit terug, vonke uit die oë.
“Goed so! Solank jy kwaad is, is daar lewe. En dit sal jou laat dobber. Want as jy eers gesink het, is dit klaarpraat.”
“Dis buitendien klaarpraat! En jy is ’n ou Jobstrooster! Praatjies, praatjies …” ’n Gloed slaan kol-kol op haar wange uit, ’n woede wat haar laat opvlieg uit die stoel. Sy loop na die radio omdat sy nie weet waarheen anders nie, skakel dit aan, hoor ’n paar Italiaanse woorde en skakel dit weer af. Sy wens sy het iets om te gooi of te byt. Maar sy het nie, en die naaste skyf is die man op die bank. Sy swaai om na hom toe met haar vlammende oë, en sy weet glad nie hoe mooi sy vir hom lyk nie.
“Woorde, ja!” smaal die sagte mond. “Dit ken die mense wat wil troos, goed. Maar intussen …”
“Sanet …” probeer Hugo tussenin, besef dan dat dit soos ’n tennisbal is wat jy teen ’n muur slaan – hy kom altyd terug. En as hy nou één ding verder sê, gaan sy twaalf terugsê.
“Intussen,” gaan sy dwarsoor sy flou protes voort, “ken hulle nie eens die betekenis van hul eie woorde nie, smeer net hul gedagtetjies aan jou af sodat hulle nie so sleg hoef te voel om jou onthalwe nie! Dit maak my amper nuuskierig om te hoor wat Kállie te sê gaan hê! Dat dit gaan drup van die heuning is nie altemit nie!” Sy bly skielik stil om asem te skep, asof sy opgewen was en te vinnig afgeloop het. Toe sy gaan sit, het haar woede meteens skoon verdamp. “Ag, Hugo, ek weet nie wát ek gaan doen nie!” Haar stem is ’n yl klankie. Sy loer na hom, maar hy sit ontspanne agteroor. “Ek is jammer oor … oor wat ek pas aan jou gesê het.”
“Alles reg! Ek sê mos, dit kan jou net goed doen. Ek stem ook saam. Daar gaan baie ouens wees wat die verkeerde ding op die verkeerde tyd gaan kwytraak. Maar vergeet hulle. Ek is nie een van hulle nie.”
“Nee … nee, ek weet.”
Hulle ete daag op en Sanet staan op om die deksels van die skottels af te haal. Twee heerlike biefstukke met kalfsoog-eier bo-op en gebraaide sampioene. Die geurigheid daarvan laat haar mond water, en sy besef dat sy tog honger moet wees.
Hugo betrag haar.
“Jy móét eet, hoor. Ek wil jou hierna ’n pilletjie gee om te slaap.”
Sy toon die verwagte reaksie, sommer dadelik, haar ken hoog gelig.
“Ek