Die bruidseisoen. Helene de Kock
geniet dit!”
En sy en tant Bybs hét dit geniet! Italië toe, het hulle besluit. Net daar sou hulle gaan vakansie hou. Rome. Napels en Capri. ’n Dag in Amalfi en twee in Sorrento. Weer Rome en toe Florence. Uiteindelik Venesië. Eindpunt, maar teëspoed se begin!
Teëspoed. Só, soos ’n slag uit die hemel. Maar miskien is dit beter as wanneer ’n mens dit sien kom.
Sy sê dit aan Hugo, en hy luister, bly dat sy uiteindelik daaroor praat.
“Dis net … ek weet nou nie wanneer kom die volgende slag nie.” Hy kyk vraend na haar, en sy vervat: “Ek bedoel, jy het gisteraand van Job gepraat.”
Hy kyk ietwat uit die veld geslaan na haar, vee met sy hand oor sy agterkop. Wat het hom tog besiel? Tog, dit hét uit sy hart gekom; hy is geen dweper óf eksegeet nie! Terugtrek kan hy sy woorde ook nie, want dit was ook nie ydel praatjies nie. En buitendien, hy glo dit …
“Kyk, Sanet,” sê hy ferm, al wil die sweet op hom uitslaan. Dis nie sy terrein dié nie, maar hy glo tog … “Kyk, as jy gaan glo dat alles wat met Job gebeur het – die een ramp op die ander – nou weer jóú deel gaan wees, dan is jy sommer bygelowig!”
Sy swaai vererg na hom.
“Jy praat van die Bybel, Hugo!”
“Nee, ek praat van jou interpretasie daarvan, met alle respek gesê! Om teëspoed te verwag net omdat jy nou weet hoe teëspoed lyk, is fatalisties!”
Hy praat driftig sodat sy half teen haar sin luister, en weer eens besef sy dat sy Hugo eintlik glad nie ken nie. Sy kyk ietwat onseker na hom.
“Dis waar, ja. Ekskuus.”
Hy val haar kortaf in die rede: “En hou op om ekskuus te sê! Ekskuus omdat ek my woede nie meer kan inhou nie; ekskuus omdat ek my ring gegooi het dat hy trek; ekskuus omdat ek jou trooswoorde bevraagteken! Dis die vinnigste pad na selfverguising! En ek weet jy gaan verbaas wees, maar ek het iewers gelees dat ’n mens verskoning vra terwyl jy stáán – nie terwyl jy op jou maag lê met jou neus in die modder nie, anders verloor jy jou selfrespek!”
Hy maak sy mond kalm toe, maar innerlik is hy half ontsteld oor sy tirade en die moontlike uitwerking daarvan op haar. Sy bly egter tjoepstil, kyk net afwagtend na hom.
“Sanet,” skep hy moed, “soek die fout dan maar by jouself as dit moet. Maar doen dit higiënies. Maak oop en kyk. Verwyder die kwaad, as daar is, maar maak dan weer toe – en word gesond!” Sy stem dra, sonder dat hy dit bedoel, só ’n pleidooi dat sy vermurwe. Sy glimlag: ’n skoon, soet vloei van die lippe, en sy steek haar hand na hom toe uit.
“Dis die dokter wat ek ken!” terg sy liggies, voeg dan nog effens huiwerig by: “Ek verwonder my oor die ánder Hugo! Die spraaksame een!”
Hy neem haar skraal hand, vou dit toe in syne, streel dit met sy oë en voel saggies oor die bleek strepie om die ringvinger. Dan los hy dit.
“Wel, leer hóm ook ken,” sê hy net, draai vinnig om en tel sy koerant van die stoel af op. “En eet asseblief iets. Ek neem nie meisies uit wat honger is nie, anders moet ’n mens altyd ontydig eet!”
Sy verandering van aanslag was so snel dat Sanet nie seker is of sy die eerste woorde wel reg gehoor het nie.
“Goed dan,” stem sy met ’n laggie in. Sy loop gehoorsaam na die ontbyttrollie. Sy besef vaagweg dat Hugo spesiaal dié ontbyt moes bestel het, want dis nie die gewone kontinentale ontbyt nie, maar gebraaide spek en eiers. Sy loer onderlangs na hom waar hy doodbedaard sy koerant sit en bestudeer asof hy hoeka getroud is, en dit ’n noodsaaklike uitvlug vind.
Sy gaan sit vinnig, verbaas oor haar eie gedagtes, maar vererg haar dadelik vir haarself. Waarom sal sy nou ook verbaas wees! Sedert gisteraand het die perde horings gekry! Alles het verander! Daar is nog dieselfde mense in haar wêreld, maar hulle het nuwe gesigte! Kallie is nie meer Kallie nie – hy is ’n ander vrou se man! En Hugo? Hy … nee, van hom weet sy ook nie meer nie. Al wat sy weet, is dat sy hom innig dankbaar is. Al kry hy haar net jammer, is dit nie soos wat haar ma haar sal jammer kry nie. Hugo pluk haar ten minste regop, stoot haar aan, raas en troos met respek. Nie soos dit by die huis sal gaan nie: die een siedende tranestorm na die ander! Die totale onvermoë tot verwerking, ook in haar pa se woedebuie, wat soos ’n donderstorm in die Vrystaat net lawaai en ontlaai.
Dit bring haar op ’n ander gedagte: “Hugo, weet my ma-hulle al?”
Dis asof die skielike vraag Hugo ontsenu. Hy vou die koerant sonder meer op, sit terug, stut sy vingerpunte teen mekaar en kyk haar in die oë.
“Nee.”
“Nou maar … hoe dan?” vra sy lammerig.
“Jy het die eerste reg gehad om te weet. En ek wou hê dat jy eers, in ’n sekere mate dan, oor die skok moes kom. Maar ek wil ook hê jy moet dit self aan hulle sê! Vandag nog!” Hy trek haar na die venster toe, wys na die gondels op die koue, groen waters. “En dan, wanneer jy klaar gepraat het, klim ons in een van daardie goed! Al is dit Januarie!”
Hulle wag ’n uur lank weens ’n vertraging – ’n uur wat vir Sanet voel soos ’n ballon wat al hoe stywer opgeblaas word. Sy skrik haar oorhoeks toe die kamertelefoon uiteindelik lui. Dis Hugo wat opstaan en antwoord, die gehoorbuis aan haar gee en onverstoord sê: “Ek wag op jou in my sitkamer. Nommer drie en twintig.”
Sy knik stom, kyk verbouereerd na die instrument in haar hand asof dit ’n oog het wat haar kan sien. ’n Oor het dit wel – om elke asemhaling, saam met haar vrees en verwarring, op te vang en wanklinkend na haar ouerhuis toe oor te dra.
“Sanet? Sanet! Sanet is jy daar?” kraak haar ma se stem daar van ver af.
“Ja … ja, Mammie!”
Hugo wag ’n ewigheid op haar. ’n Halfuur wat aan sy senuwees pluk en skaaf. Hy skink ’n glasie ligte wyn vir hom en besluit dan dat Sanet whisky en soda nodig sal hê ná haar gesprek.
Toe die deur eindelik oopgaan en sy instap, is sy hande koud en sy kop kloppend en moet hy veg om bedaard voor te kom. Hy sien ontsteld hoe wit sy is, en dit laat hom klou aan sy ewewig. Doodrustig druk hy haar op ’n stoel neer en gee haar drankie aan.
“Hulle wil hê ek moet terugkom. Met die eerste vliegtuig al. My pa sê … hy sê … hy sal hof toe gaan hiermee. ‘Julle Malans sal nog kruip!’ was sy woorde. My ma was natuurlik van die staanspoor af histeries. Sy wonder wat die mense gaan sê. En toe skreeu my pa so hard dat dit nie nodig was vir haar om dit te herhaal nie: ‘Sê vir haar sy kom terug! Dadelik!’”
Hugo se vingers knel om die glasie.
“Ek het so iets verwag.” Sy oë vang hare vas. “Gáán jy?”
Haar oë verstar in syne, en dit word ’n oomblik wat swaar dra aan betekenis.
“Nee, nee, ek gaan nie,” sê sy, terwyl ’n siddering deur haar trek.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.