Die bruidseisoen. Helene de Kock
en jou liggaam. ’n Mens ly aan skok ná so iets!”
Sanet staan sonder spraak met die deksel in haar hand, sit dit naderhand bewend op die waentjie neer sodat dit skel kletter.
“Nee, ek …”
“Nou ja, ek wil geen argumente hê nie. Ek is moeg en ek het vanoggend laas geëet.” Taktiek van die man, so oud soos die berge. Uit die hoek van sy oog sien hy dat dit werk.
“Ag, ekskuus tog, Hugo! Ek het nooit daaraan gedink nie! Kom, ek skep vir ons in!” Sy buk by die trollie en begin inskep.
Hy glimlag net. ’n Glimlag wat merkbaar verstar toe die kaftan wegswaai van die mat af en ’n paar slanke enkeltjies in twee verslete pantoffeltjies ontbloot. Dis soos ’n seer wat iewers móét uitslaan …
Sanet word wakker van ’n gelui in haar kop. Sy rol swaar om, word dan mooi nugter. Sy sien op haar polshorlosie dat die klokke van Venesië die tiende uur uitgebeier het. Dié klokkespel was nog altyd vir haar onbeskryflik mooi. Maar vanoggend wil die stilte wat daarop volg, haar vasdruk. Sy het ’n dringende begeerte na lawaai, na ’n woedende geraas – enigiets wat haar sinne ’n tyd lank kan uitdoof.
Sy swaai haar bene van die bed af en gaan voor die hangkas staan. Sal sy of sal sy nie? Sy sál! Al haar wittebroodsklere wat sy en tant Bybs met soveel opwinding uitgesoek het, gaan dit ontgeld. Sy gaan hulle dra asof daar nooit enige gevoelswaarde aan geheg is nie, met die koele ongeërgdheid waarmee ’n mens ou klere dra. Sy haal ’n prettige songeel wolrokkie uit. In Rome gekoop. Tant Bybs het genoeglik gesug toe dié rokkie aan hulle gewys is: “Ag, kind, daar is darem niks wat by kóóp kom nie!”
’n Glimlaggie huiwer om Sanet se lippe, verslaan soos vlugsout as haar gedagtes weer terugspring na die hede. Daardie dag het sy aan Kallie gedink – wat hy van die rokkie sal sê, of hy die wye gordel van gevlegte wolstof om die smal middel sou raaksien. Hy is so lief vir mooi goed!
Dit brand agter haar oë en sy knip hulle vinnig. Hoe het Hugo nou weer gesê? Kwaad word is haar behoud. Nou ja, dan sal sy kwaad word!
Sy trek aan asof sy ’n trein moet haal, maak die swaar hare in ’n gesofistikeerde rol op haar kop vas, poeier liggies, tik groen oogskadu aan, gebruik rooi-rooi lipstiffie en ’n sprinkeling van blomgeur uit die huis van Balmain. Sy klamp ’n paar oorkrabbetjies aan, die pêreloorkrabbetjies vir haar troue. Sy skrik toe sy dit besef. Maar sy sien hoe dit sag teen die roomkleur van haar vel gloei, en sy draai weg voordat sy van plan kan verander.
In die sitkamer sit Hugo al by die ontbyttrollie. Gisteraand het hulle in betreklike stilte klaar geëet, en op haar beangste vraag oor waar hy sou slaap, het hy haar koeltjies meegedeel dat hy ’n kamer in dieselfde gang gekry het. Toe het hy haar die pilletjies laat drink en nag gesê.
Hy kyk op. “Môre,” groet hy bedaard. Sy oë raak aan die knak-skraal middeltjie, die lang bene onder die klokromp. Hy merk dat gisteraand se nare nuus nog swaar aan die smal skouertjies hang.
“Hallo,” sê sy met ’n effense glimlag. Sy skink vir haar ’n koppie by die teetrollie. “Wat doen ons vandag?” Sy gooi suiker in en roer ingedagte. “Maar jy moet seker terug?” vra sy half ontsteld, haar oë groot op Hugo.
“Hm-hm,” kom die antwoord tussen ’n mond vol gebotterde broodjie deur, “twee weke verlof aangevra.”
“O,” proe sy aan dié inligting. Sy gaan sit op ’n hoepelbeenstoel met haar koppie tee. “En … en dan?”
Hugo teug genoeglik aan sy warm tee, spits al sy aandag daarop toe.
“Ek is maar net ’n junior konsultant! Terug na Londen, dus! Wil jy saamkom?”
Verbasing en skielike nadenke verdruk ’n oomblik lank die hartseer van die mooi gesiggie.
“Ja wat, hoekom nie?”
“Gaaf,” sê Hugo, en smeer met ywer nog twee broodjies botter. “Dan gooi ons sommer ’n draai by Ouma voor ons teruggaan Londen toe.”
Sy ouma – en Kallie se ouma: ’n waardige ou dame wat nie agter haar dogter aan Suid-Afrika toe verhuis het toe dié met ’n jong diplomaat getrou het nie. Sanet dink aan die popmooi huisie waarin Hugo se ouma woon, aan die kant van ’n ewe skilderagtige dorpie in Sussex, digby die kus. Vóór is die onstuimige see, en agter die groen-groen deinings van Engeland … En meteens verlang Sanet. Nie na haar ma nie. Nie na haar besige pa, wat darem ook daar is nie. Veral nie na Kallie nie. Sy verlang na iemand wat sal begryp. Iemand soos Ouma Em.
Sy het Ouma Em nog maar enkele kere gesien. ’n Paar maal toe sy by Kallie se ouers gaan kuier het voordat hulle Amerika toe is, en een maal toe sy en Kallie lede van ’n toergroep was en ’n dag lank weggebreek het terwyl die ander Cambridge toe is. Maar sy weet bo alle twyfel dat Ouma Em sal begryp. Dalk nog sonder veel woorde.
“Sy weet nog nie,” sê Hugo asof hy haar gedagtes gelees het. Hy staan op en skink vir hom nog tee. Hy bly staan met die suikerlepel in die lug. “Ek het regtig nie kans gehad om haar te laat weet nie.” Hy gooi nog ’n bietjie suiker in en begin roer. Sy hand vang ’n spikkel sonlig wat sy oupa se seëlring laat flits.
Sanet sien dit en stort byna haar tee. Sy het vergeet … totaal vergeet! Sy kyk verdwaas na die wit diamant aan haar ringvinger. So gewoond het sy aan die gladde rondheid van Kallie se ring geraak dat dit deel van haar is … wás!
Sy sprei haar hand voor haar uit, weg van haar; asof haar armlengte dit nie ver genoeg kan vat nie.
Hugo sien die beweging en sit snaarstyf en toekyk.
Maar sy laat die hand op haar skoot val, en sit haar teekoppie hard neer. Met die regterhand glip sy die verloofring van die slap vinger af. Sy kyk ’n oomblik half verwese daarna en skiet dit dan na Hugo toe asof dit ’n muntstuk is. Dan vlieg sy op en gaan staan voor die venster, kyk op in die grouerige lug en kry die gevoel dat die hemele op haar wil neertuimel.
Hugo het die ring raak gevang. Nou sit hy gespanne na haar stokstywe rug en kyk.
“Ekskuus dat ek dit gegooi het,” sê sy onverwags oor haar skouer, draai dan om en kyk na hom. Hy steek die ring doodluiters in sy sak, kom staan by haar en sit sy arm liggies om haar skouers.
“Ek … ek wou nie regtig gooi nie,” sê sy weer. “Ek wou dit net wég van my af hê!”
“Ek weet.” Met een vinger vang hy ’n traan wat ’n blink paadjie oor haar wang gelaat het.
Sy sug. “Sal jy dit asseblief aan Kallie besorg?”
“Natuurlik. Ek gaan dit sommer pos. Ongeregistreerd. Ek dink nie dis versekering werd nie.”
Sy kyk op in Hugo se oë. Onleesbaar. Tog is daar ’n trek om die oë wat haar nog altyd laat veilig voel het. ’n Wrang laggie pluk aan haar mond.
“Nee, ek sien nou dit het geen versekering aan my gebied nie. Dit was simbolies van presies niks!” Sy byt haar lip, kyk betraand af na die bedrywigheid onder die venster. ’n Vasmeerplek vir gondels. ’n Paar van die gondeliers staan koulik rond. Twee middeljarige toeriste kom aangestap en een gondelier adverteer in ’n hoë, dun stem hoe wonderlik ’n rit op sy gondel kan wees. Die ander lag hom uit dat die stoom staan, en die toeriste stap verby. Dis nie ’n goeie seisoen nie.
Hugo volg haar oë, besef dat sy die dinge buite eintlik nie sien nie, en wens met alles in hom dat hy kan weet wat sy dink. As sy dink …
Sy dink wél – hoe snel het die ring, wat ’n sieraad ter ere van die liefde was, nie ’n las aan haar vinger geword nie.
“So ja!” het Kallie selfvoldaan gesê toe hy dit aan haar vinger steek een someraand net nadat hy sy graad gekry het. “Nou het ek die versekering dat almal sal weet jy is myne. Nie baie mans maak ogies vir ’n verloofde nooi nie, en ek sal dié wat hans genoeg is, sommer self opkeil! So al op die regteroog!”
Hulle het gelag. Daar was min plek vir teerheid op daardie oomblik. Daarvoor was Kallie te propvol triomf. Want net twee weke tevore het sy nog een aand met Paul Malherbe, die