Die bruidseisoen. Helene de Kock
gesig.
’n Laggie het Kallie se een mondhoek opgetrek asof hy daarmee die smeuling agter die swaar ooglede wou ontken.
“Jy moet ophou kerm.” Sy stem was ’n streling, sy woorde ’n stelling.
Sy was kwaad en het die bedwelming van sy nabyheid met ’n swaai van die goue hare afgeskud.
“Kerm ek nie nóú nie, kerm jy die volgende paar wéke as ek nie kan uitgaan nie!” Haar stem het bo Kees se akkoorde uitgestyg en paartjies het belangstellend bly staan. Kallie het haar met een haal van sy arm tot teen hom getrek en haar uit die ligkring geswaai.
Sy het die bewing om beheerstheid in die sterk, jong arm om haar gevoel. En die drang wat dit in haar wakker maak. Half verskrik het sy besluit om nie die eerste woord in die stilte te laat val nie.
Dit was ook nie nodig nie. In die donker het Kallie haar teruggedruk tot op ’n plat klip. Sy het met lam knieë gaan sit, maar hy het bloot voor haar bly staan, sy kop afgebuig, soekend na haar gesig in die donker en heelwat nugterder weens die onverwagte frustrasie.
“Mei-sie-kind!” het hy tussen geklemde kake deur gesis met kamma woede in sy stem, en sy het haar asem verlig uitgeblaas.
Toe lag hy.
“Jy kan van verligting sug! … Weet jy hoekom maak jy my so kwaad? Omdat ek jou so liefhet! G’n ander meisie kon dit nog ooit regkry nie! Ek hoop net nie dat dit nou gaan maak dat ons verhouding ’n reeks van versoenings gaan wees nie! Iemand sal moet kopgee, en dit gaan nie ek wees nie!”
Sanet wou-wou net weer vlamvat.
“Dis nie ’n kwessie van kopgee nie! Ek gaan láát wees! En tyd val buite die bestek van argumente! Die punt is, as ek nie betyds is nie, gaan ek gestraf word!”
Kallie het skielik voor haar gehurk, baie van sy geduld saam met sy bierasem aan die verdamp.
“Luister, Sanet, ek het jou gesê Lilian is aan diens. Hugo was juis vies daaroor, want vanaand is een van sy weinige vry aande. Hy’t gesê hy sal dan maar daar sit en swot. Hy moet glo Maandag met ’n blindederm assisteer.”
“Maar weet hy ons …”
“Natúúrlik weet hy nié! Ek het dan sélf nie geweet ons sal besluit om later te bly nie! Maar hy sal die ding kan hanteer, daarvan is ek seker. Hy sal iets uitdink om jóú uit die moeilikheid te hou! Ek moet sê, daardie boetie van my se besorgdheid oor jou grens soms aan iets waaraan ek liewer nie wil dink nie! Hy wou my dan glad nou die aand wurg omdat ek vir Liezel saamgevat het skou toe toe jy griep gehad het! Nee, jy hoef jou nie te bekommer as Hugo daar is nie!” Sy stem was tartend. “Dié ou broer van my is veels té gesteld op die goeie orde … maar ek dink sy begaandheid oor jou sal dié keer wen!”
’n Paar oomblikke lank het Sanet doodstil gebly. Die louwarmte van die somernag het meteens die sonbesies aan die gang gesit. Toe het sy vuurwarm gesê: “Jy is absoluut naar, Kallie! Hugo is een van die verantwoordelikste mense wat ek ken!”
Hy het opgestaan en haar saam met hom opgeruk, die beweging ’n antwoord op haar eie driftigheid.
“En ek is ónverantwoordelik?” Daar was ’n effense laggie om die aantreklike mond, sy hande om haar kop geanker.
Sy het opgekyk in twee skrefies blou ys. Haar woede het oorgeslaan in ’n bewing wat trane van frustrasie in haar oë laat opskiet het.
“Nee … nee,” het sy met inspanning gefluister. “Jy is waaghalsig! Dis wat jy is!”
Sy het raak geantwoord. Dit het sy geweet. Hy kon haar verset aanvoel, maar ook haar oorgawe – omdat sy hom liefhet. Liefhet met die krag van hul kinderjare saam, en nou met die dwang van hul jeug.
Hy het sy hande laat gly oor die lyn van haar nek, haar delikate skouers en hulle agter haar rug gekruis.
“Sanet …” het hy gesug, hom sigbaar gedwing om haar nie nader te trek nie, “ek wonder soms hoekom ek jóú nou juis moet liefhê, jou nog altyd liefgehad het.” Toe het hy geswig, haar styf vasgehou. “Een ding weet ek, dit gaan nie vervelig wees nie!”
“Wat gaan nie vervelig wees nie?” het die koket in haar momenteel die oorhand gekry, en toe enige verdere woordsmeuling laat smoor in hul omhelsing.
Toe sy weer kon praat: “My slim advokaat!”
“Hm?” Behoedsaam.
“Ag, Kallie …” Moedeloos. Dan, sonder om doekies om te draai: “Hoe de joos dink jy gaan ek in die koshuis kom? Dis nou te sê, as Hugo dit regkry om vir Lilian ’n storie te vertel!”
“Klaar uitgedink. Jou advokaat laat hom nie vang nie … e … al moet hy nog sukkel om ’n graad agter sy naam te kry! Jy gaan by tant Bybs slaap natuurlik!”
So tussen Kees se getokkel en lawwe grappe deur het die ure weggeglip. Dit was ná een toe Kallie se sportmotor by die groot wit hekke indraai. Die ligte het swiepend oor die ou huis gevee.
“Nou om die ou lady wakker te kry,” het Kallie gesê. Sanet het haar vererg, maar verborge angs en die laatheid van die uur het haar laat stilbly.
Hy het haar uitgehelp, die deur toegemaak, en met sy arm styf om haar skouer aangestap deur toe. Die deurklokkie het oomblikke lank skellend deur die huis gegalm. Kallie het houtgerus teen die deur geleun met sy ken op Sanet se hare. Dit het hom ’n volle tien minute gekos om te besef dat daar geen reaksie uit die huis kom nie. Sanet se groeiende onrus het meteens ontplof.
“Ag, sien jy nou! Ek het jou mos gesê, Kallie! Daar gaan nog moeilikheid wees, ek weet dit!”
“Sien jy, ek het jou mos gesê!” het Kallie in ’n hoë stemmetjie verder op haar rou senuwees gespeel, maar nogtans haar hand gegryp en vinnig om die huis na die huishulp se kwartiere toe gestap. Daar het hulle ’n deur die slaap Petrusa aangetref. Sy het hulle met groot, geskokte oë begluur:
“Ma’ mevrou Bybs is Jo’burg toe! Na jou mammie-hulle vir die weekend, Sanet! Jy weet darem seker?”
Sanet hét onthou. Meteens onthou. Die vorige week het sy tant Bybs geskakel en tóé al gehoor dat haar tante ’n plan het om die naweek na haar ouers te gaan. Sy het haar onderlip styf vasgebyt.
Kallie het vraend na haar gekyk.
“Ek het vergeet …” het sy berouvol geantwoord. “Skoon vergeet … Wat gaan ons nóú maak?”
“Goeie vraag!” Hy het hom na die ou huishulp gewend: “Sy kan mos in die huis slaap, of hoe?”
Petrusa se kop het opgeruk, en sy het Kallie met ’n kyk van die aardbol af probeer veeg. Haar volgende woorde was uitsluitend aan Sanet gerig: “Mevrou Bybs laat nooit nie die sleutel hier nie! Besaaids, ’n man kan nog alleen slaap in die huis, maar nooit nie die meisiekind nie.” Haar kwaai ogies het na Kallie geblits. “Miskien as haar naam nie Sanet Bo’man is nie – ma’ nie dié meisietjie nie!”
Kallie het half vies, half geamuseerd na die ou vrou gestaar. Hy was al jare lank gewoond dat sy haar tong op hom slyt, en háár sensuur skeel hom min.
“Nou waar de ongeluk moet sy anders heen gaan?”
Sanet het gesug en die stryd gewonne gegee. Sy was te moeg om verder te dink en het net krampagtig aan Kallie se arm bly hang. Hy sou weet. Hy móét mos weet! Ou Petrusa het die bleek gouekopmeisie net een kyk gegee en haar kombers stewiger om haar vasgevat.
“Vat haar na meneer Hugo toe. Hy sal weet wat om te maak!”
Dit was nie nodig om vir Hugo op te klop nie. Hulle het skaars aan die deur geraak, toe word dit oopgeruk.
Hugo het daar gestaan, donker teen die lig en baie kwaad. Hy het Sanet heeltemal geïgnoreer en ’n spervuur op Kallie gerig: “Waar de duiwel dink jy loop jy dié tyd van die nag met ’n meisie rond? Hoe werk jou verstand? Besef jy nie dat Sanet presies twee uur gelede al in die koshuis moes gewees het nie? En waar dink jy gaan jy nóú met haar heen?”
Sanet het