Marta. Helena Hugo
loop saam met jou tot by jou huis.”
“Dis net om die hoek.”
“Hy kan net om die hoek vir jou sit en wag.”
Sy haal haar skouers op. “Goed, as jy moet.”
Die volgende oomblik vat hy haar hand, en stap aan. Die sypaadjie hierlangs is nie breed genoeg vir twee nie en hulle moet versigtig wees om nie die madeliefies wat toegevou is vir die nag, raak te trap nie. Gunther besef dit en trek haar saam met hom in die straat in. Sy wil haar hand uit syne losmaak, maar hy hou dit stywer vas tot by haar huis twee oop erwe verder. Daar los hy haar en maak die hekkie oop. Hy hou dit vir haar vas sodat sy kan instap.
“Dankie, nog ’n keer,” groet sy.
Sy wil maak dat sy wegkom, maar hy stap ongenooid agter haar aan.
Op die stoeptrappie huiwer sy. Moet sy hom innooi?
Hy lig sy ken en kyk na haar uithangbord onder die stoeplig.
“Ek hoor jy is die dorp se enigste haarkapper. Is ek reg?”
Sy knik. Dit voel vir haar asof sy nooit van hom ontslae gaan raak nie.
“Kan ek ’n afspraak maak?” vra hy.
Sy het gehoop dis wat Deon sou doen. Nou is dit hy, Gunther.
“Ek kom môre na julle toe om jou ma se hare te kam. Maar as jy wil hê ek moet sny, werk dit beter in die salon.”
“Jy het ’n salon?”
“Jip.” Sy wys na die stoepkamer. “Dis klein, maar gerieflik.”
Hy loer, maar sy glo nie hy kan veel in die donker sien nie. “Hoe laat moet ek hier wees?”
“Ek is tienuur by jou ma.”
“Negeuur?”
“Dit sal nouliks ’n uur neem.”
“Miskien wil Deon ook sny, dan slaan jy sommer twee vlieë met een klap.”
Hy sê dit so doodgewoon, dis maklik om doodgewoon te antwoord, al versnel haar hartklop en al voel sy benoud.
“Hy’s welkom.”
“My pa sê jy sny sy hare ook?”
“Een keer ’n maand,” sê sy. “Sy hare groei stadig, en hy was laas week hier.”
Hy kyk om hom rond na die witgeverfde bankie, die potte met plante.
“So, jy maak ’n goeie lewe hier?”
Wil hy hê sy moet hom innooi? Maar hulle het pas koffie en koeksisters by die pastorie gekry. En haar ma gaan weer vrae vra.
“Ek oorleef,” sê sy. “Werk hard, staan vroeg op, vyfuur.”
Hy fluit saggies: “Dan moet ek weg wees sodat jy in die bed kan kom.”
Hy gee ’n tree nader. En skielik is sy bang hy soen haar, dit lyk of hy lus het. Die dreuning in die straat af en die ligte wat om die hoek skyn, is net betyds. Hulle kyk saam hoe meneer Stals se Toyota voor die hekkie stilhou.
“Dis meneer Stals en Dora om Dania te kom haal,” sê Marta. “Ek gaan roep haar gou.”
Sy los hom hoog en droog en pluk die voordeur oop. Daar staan Dania in die portaal. Sy hou die koekblik met die melktert eenkant toe en skud haar skouersak reg.
“Ek’t geluister vir die kar,” sê sy asof sy verskoning moet maak. “Ouma Hetta het vroeg gaan slaap. Net Sewende Laan gekyk, toe wil sy nie die nuus ook sien nie.”
“Dankie, Dania.”
“Naand, Meneer,” groet Dania toe sy Gunther sien.
Marta kan sien sy bars van nuuskierigheid.
“Kan ek help?” vra Gunther en hy kyk na die blik.
“Dankie, Meneer, maar ek’s orraait.”
Dania loop so vinnig met die trap af, sy struikel amper. Meneer Stals-hulle klim nie uit nie, hulle wag. Sy gee die blik vir Dora deur die venster aan, draai om en waai voor sy inklim. Meneer Stals toeter drie kortetjies en die kar trek weg.
“Is jy seker jy is veilig?” vra Gunther.
“Dis alles rustig.”
“Goed, dan sien ek jou môreoggend negeuur. Nag, Marta.”
Hy lig sy hand en laat sak dit weer, stap flink in die paadjie af. By die tuinhekkie draai hy ’n slag om en lig weer sy hand. Sy waai vir hom en wag tot hy in die donker verdwyn voor sy ingaan en die deur agter haar sluit.
Ses
Gunther gaan nie reguit huis toe nie. Hy loop lang draaie deur die dorp waar hy grootgeword het en lank gelede skoolgegaan het. Die plekkie het agteruitgegaan en vertoon beter in die nag as in die daglig. Maar miskien is dit net hy wat dit soos ’n sprokieswêreld onthou het. In sekere sin het dit nie veel verander nie. Min nuwe huise is gebou en geen strate is geteer nie.
Hier en daar sien hy huise wat opgeknap of gerestoureer is. DIE OU PASTORIE is netjies, die ander gastehuis – GERDA SE GASTEHUIS – lyk ook vooruitstrewend. Die kerk het ’n nuwe laag verf gekry. Te veel huise lyk asof hulle leeg staan. Maar miskien gaan slaap die huismense saam met die hoenders. Hier en daar hoor hy ’n televisie te hard of hardloop ’n hond langs ’n heining af en blaf vir hom. By een huis gaan ’n voordeur oop. ’n Man verskyn, lig sy kop asof hy reën ruik, staan ’n rukkie, draai dan om en gaan in.
Die hoofstraat is verlate. Hier en daar brand ’n straatlamp, ook enkele ligte in die algemene handelaar en in Bakker se bakkery. Die poskantoor staan gehul in stikdonkerte. Daar is nie ’n mens te sien nie, net ’n rondloperhond wat stert tussen die bene padgee. Gunther loop deur die hoofstraat tot by die kliniek. Die enkelstraatlig gee genoeg lig om die diefwering voor die deure en vensters duidelik te sien. Hy skud sy kop. Diefwering was nog nooit nodig om die kliniek te beskerm nie.
’n Kilometer of wat verder, in die arm deel van die dorp, huil ’n baba. Die skeidslyn tussen die bodorp en die onderdorp is opvallend – selfs in die nag.
Toe hulle kinders was, het hulle nie onderskeid getref nie. Hy en Herman en hul maats van die onderdorp het dikwels snags die strate ingevaar, gaan vrugte steel by die Vissers en die Frankes, tot buite die dorp fietsgery om in vrede te rook, natgedou by die huis aangekom, een keer ’n loesing gekry omdat hulle die Bezuidenhouts se honde losgemaak het en die spanjoele in die Stalse se hoenderhok beland het.
In die verte sien hy ligte teen die wit ringmure van die plaasopstal. Dis te ver en te laat om vanaand te gaan aanklop. Tyd om om te draai en terug te stap voor hy nog slapende honde wakker maak.
Hy hoor by sy pa dat Herman met Andrea van Jaarsveld getroud is en groot kinders het. Tant Alida is oorlede en oom Maans is in die ouetehuis op Lambertsbaai. Herman en Andrea boer vooruit, hulle is skatryk.
Hy sal môre gaan groet en verneem hoe dit met die ander maats gesteld is. Miskien weet Herman. Gunther het in die tyd dat hy oorsee gewerk het, alle kontak verloor. En sy pa ken ook nie meer elkeen se stories nie. Soms wonder hy of dit goed was van hom en Deon om oorsee te gaan bly. Maar hier sou hulle dit nie kon uithou nie. En Deon het sy Chanté in Bahrein ontmoet. So ’n lang draai het die liefde met sy broer geloop, dis vreemd. Vreemd ook van die mooie Marta Koster, wat ongetroud is en haar ma oppas soos ’n tipiese oujongmeisie uit die vorige eeu.
Dit lyk nie of die ander mense wat vanaand by die pastorie vergader het, dit raaksien nie, maar sy is sielsongelukkig. Terwyl hulle lag en gesels, het sy lang rukke stil gesit en kyk na haar hande, dan skielik rusteloos geraak soos toe sy opgespring het om die teekoppies bymekaar te maak. Sy het daarmee uitgestap kombuis toe voor hy die skinkbord uit haar hande kon neem.
Gunther loop. Hy loop by sy ouerhuis verby sonder om in te gaan. Die kerktoring, wat die naghemel deurboor, trek sy aandag. Hy stap al vinniger