Die windvanger. Breyten Breytenbach
breyten breytenbach
die windvanger
Human & Rousseau
Die uitleg van gedigte en afbeeldings in hierdie digitale uitgawe van Die windvanger verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings op hul leestoestel vir verskillende perspektiewe op die gedigte.
(vir my vrou:
want die wind
het al die jare
ons saamsaamliefde so getrou
oopgebind en toegevou)
moeë reisiger
wanneer jy hier arriveer
swaar van hart
en met stof in die keel
blaai deur hierdie bladsye
soos die blare
van ’n ou-ou reis
en kyk
ons planeet is te laat
om nié ’n nag te droom
waar die wêreld se tong
nog helder sal brand
– Alonso Quijada
1
daar is geen tyd
daar is geen tyd
tyd is die mens se vel
wat kraak en knetter en krimp
in die verbygaan van lewe
dis die vuur van bestaan
wat die ure vertel
en dan versaak
in die ewigdurende galmende
momentum van stilte
in die aandster en die middernagson
se rokende dans
in die krul van die blaar
in die duif se vlugtige
fladder-gebaar van grasieuse sterwe
daar is geen tyd
tyd is die verskietende komeet
van geheue
wat die hemel met vonke bestrooi
van stories wat niemand ooit
weer sal hoor nie
tyd is my liefde vir jou
die akkedis-bewegings
van weggaan in jou vrouelyf
om die holtes te vul
met die vlam van vertel
daardie vele gesigte van vergaan
daar is geen tyd
net die hart se klop-klop-dinge
soos pyn onder dop-ooglede
net die leë vertel-vel
van hierdie gedig
bespikkel en uitgemeet
met kankerwoorde van vergeet
soos akkediskak
2
fluit-fluit
(tyd is die verskietende komeet van geheue)
1
op die mark onder hoë skadubome
tien geelperskes gekoop
groot goud en sappig
soos innige verwante van die son
en huis toe gedra
wit pleistermure het liggies gebewe
die hitte was op die sinkplatdak
oral omheen die soet geure
van lemoenbloeisels, frangipani
geel doringboomblommetjies
later wanneer hulle eers weer water gekry het
ook die wit en pers van die verbleikbos
gister, vandag en môre
en van tak tot tak
van kelk tot kelk
jangroentjies, suikerbekkies
tortels en vinke en vlamvlerk raasbekspreeus
laatmiddag dieper kloof-op
waar dit potblou is
dassies blinkoog, klipspringers spitsoor aandagtig
die kant van die Koo en die Keisie uit
het kettings ligte sweep geklap
en gevlegte linte aan die wolke gehang
eers het die storm gekom
met groot geraas en spuistrale wolkgoed
klipogies, engelekots
en toe
ná die skerp kleureboog
oor kop en riet
’n dragtiger reent aanmekaar en diep
met die sagte gekletter
van ’n skare mense wat verbykom met die nag
om bo in die berg van water
te gaan sing
perskes gewas en afgedroog
en een vir een opgeëet in die donker
’n genot vir die tong en die lippe
en ’n verbeelding vir die oog
in buur Jan se visdam
het paddas mekaar luidkeels
probeer bekeer
van mismoedigheid
dis dan gedoen
en geboen gedaan
hierdie dag kom nooit weer terug
nie so met kromming
en verskuiwing en beligting
ook nooit weer presies dieselfde hand
wat hier met honger vingers
oor die woorde vat
om tyd en haar verbygaan uit te vee
soos die dons van ’n perskevel
2
werkers op pad huis toe
’n laaste vegie flos
bo die berg se kim
daardie lang leë aande
wat geleidelik vol loop van donkerte
die jas aantrek groot en swart
met blink knope
tot by die rietbos waar slaapvoëls tjik
die nagvuurtjies
kole in die oog
3
lourierbosse wat skaamteloos bloei
bome wat uit hul koeltes stoel
woorde wat uit die stiltes groei
dis alles dik-dik van die waarheid
4