Die windvanger. Breyten Breytenbach
’n vriend
wat agter hom aanloop
met sak of met blik
dan blaf hy nog ook
van weldadigheid
nou sê jy vriend
jy wil my pennevrugte bestudéér
nee asseblief néé
dit was gekraam vir die lees
om weggegooi te word
en die mond weltevrete af te vee
al wat ek wou hê
was om vir hierdie oomblik
my hand op die skaam land
van jou bors te lê
en te luister
wat jou hart in die blik
onderpols vir my sê
ontlasting is om die dood
uit die lyf te skryf
die donker engel se versuipte lyf
in die spieël
van die bladsy
te laat dryf
19
dis die boomkoelte oordag
soos ’n kleed van genade
gesnoer rondom die stam
dis die vuur in die nag
wat gat brand in die duister
dis daar waar die son
en die maan ondergaan
waar die aanspreeklikheid
van identiteit
geweeg geledig en beweeg word
die bose dinge weggepraat
die nie-ons is die bron van haat
met die saamhurk om vertroosting
word geheue tydsaam gemeet gemaak
en aangepas by woorde
weet ons wie ons is
een vir een
vir jou vir my
die bloed en die klei
en die onthouer se lied
maar wanneer die boom afgekap is
sodat die son ’n klad brand in die oog
en die vuur veras het
tot hierdie vaal vlek afwesigheid
is ons na die vier winde verstrooi
weet ek nie wie ek is nie
dwaal ek deur die vlammende dag
en die nag se koue geledinge
op soek na jou soos na ’n spieël
20
Die dooie digter dryf in die water –
hy is baie ver van die land
van sy geboorte.
Hy kyk terug na waar hy vandaan gekom het:
die gekruisde kerkie, die vissersbote op die strand
met groot lampe vir vannag se vangs,
die witgekalkte restaurant waar menere en hul dames
ansjovis en mossels eet
en witblits uit die wingerde drink
Vér sien hy kinders sandkastele bou,
jong meisies nog vol bons
van opwinding en onsekerheid,
ou mans met krukke vir bene
en vrouens met geoliede verskrompelde tiete.
Uit die groen soom om die sloep
spoel die swoel somerse damp
van den, eik, olyf en vy,
en hy wéét dieper in lê die goue vasgestampte aarde
van sonneblomme en amandels
waar die akkedis vlugvinger flits
soos ’n vis op vaste grond
Die dooie digter dryf op sy rug en dink
boomsingers het godweet baie te sê
en meeue teen die wind is perfekte parabole
om die bewegings van ongeuite denke te begrens:
hierdie wêreld was goed vir my
Die dooie digter voel hoe trek die stroom
van ’n ander verlede
waar drome versuip het
en wrakke vasgetand op koraalriwwe slaap
in ’n ewige roes
Hy lag, draai om, swem
die dieper see in,
en was al die stront uit sy kop
21
aanhou lewe tot dit op is
en indien die grys gelatenheid
my sou voorlê en vang
wanneer ek in die son sit kwyl
en my naam en jou naam
nie meer sal kan hang
aan die tong
en niemand ontmoet om te vertel
in die omstreke
van hierdie helder somermiddag
is ek oorlede
nou juis nou
dat my hand die geur van jou vel herken
maar hoe mag die leegte
vorm onthou?
sal ek nog van geluk bewe
soos ’n klein insek
want jy het die bewegings
van my soeke bepaal
my opstaan en omdraai
tot selfs die gebare
van dwaal en verlies
die skadutrilling
van jou helder aanwesigheid
laat my kinds kweel
nou juis nou
dat my hand die kleur van ons spel vergeet
tot waar voorland verdwyn
en die op sedert altyd
vir ewig aanhou
22
die pad van die lewe is gevaarlik,
boet, en jy moet uiters versigtig
trippel-trappe-tone
as jy veilig en verlig
ligvoet by die dood
uit wil kom
23
wanneer ek weggeraak het van die werf
so goed gegrond is
dat hoor en sien vergaan
ek lankal gat skoongemaak het
en iemand vra:
by the way
wat het