Die windvanger. Breyten Breytenbach
het die tou gewikkel om sy kruin
vasgehou om hom saggies ter aarde te laat
my handpalms klewerig van die rooi gom
swaar soos gestolde wind by een stywe mik –
hy het met ’n stugge sug gekantel
en lank daarna was daar oor die werf
nog die indringende geur van saagsels
gekneusde takkies en verskeurde wit vesels
van ’n ander lewe –
by die gat in die grond het mens geweet
van donker wortels wat nou gaan versmoor
die gesprek tussen lig en slaap is verbreek
in die laatnag
ná ’n maal van slakke en wyn onder die prieel
het ons tot op die kruin van San Grau gery
om in die verlatenheid te kyk
na die sterrereën
‘trane van die heilige’ sê mense hier
uit die stert van ’n komeet
wat net een keer elke driehonderd jaar
binne sigafstand beweeg –
op die bergtop is enkele klippe
van ’n vesting driehonderd jaar gelede
hier gebou as beskutting teen onbeteuelbare kragte
en ’n toring waar die kluisenaar in stilte
sy tong opgeëet het –
aan ons voete die liggies van dorpe
tot aan die see
en bo ons hoofde
waar ’n paar vliegtuie nog geruisloos flikker
en sewe miljoen sterre bewe
soos maaiers in ’n lyk
is dit soos om af te kyk
in die oop en donker aarde
11
mense staan gebuk in landerye
goue graan
die uitspansel so wit en so wyd
soos die hart
waarnatoe gaan ons my geliefde
dwarsdeur die dag
na ’n verre land van vreugde en verdriet
agter die hemel waar die nag verskiet
voëls verby sonbreek
blomme steek die oë oop
die trein gaan langs die ure loop
op ritmiese krukke
waarnatoe gaan ons my geliefde
hoekom is ons so ver van die huis
in ’n verre land van holtes en niet
waar die reis soos hierdie gedig
dooie woordsaad skiet
12
bygaande kamerverse
was ingebed in die notaboek
oorgetrek met leer
van ’n karmosyn kleur
(om die helder ekstase van pyn te reflekteer)
wat ek ná ’n verdonkering se gefuif in Seattle
in die New York-taxi iewers
tussen ’n lughawe en die stad
van torings vergeet het
soos ’n klont koue kots
(die Nigeriese drywer blaai dalk nog
deur my nagte)
opsetlik?
wou ek aanhou lewe
gatvol vir die dood
en die taal asyn aan die lippe
om te sien of ’n woord of twee
van waarde nog buite die grys askruik
van die skrif
uit die mond kan val
en dié te deel met die intieme anonieme vriend?
het is ’n beswaring en is verrot
wou ek soek tot op die been van herinnering
en hierdie optekenwoorde een vir een wurm
uit die wond van vergeet?
dis ’n bestiering
my anonieme intieme vriend
om die saamhang van ’n gebedeboek
te mag verloor
en teen alle onmag in
met skaduwees te toor
die gekrys van ’n blinde voël
ek bring die vergane vlugte
van gedigte wat nooit weer
in my gaan bloei
nou as lappe en klippe
tot aan jou lippe
het is beswaddering en is gis gisters
13
donker weg uit New York
die strate nat van pêrelgrys reën
hoë torings stil in die slaap
van steunende reuse, skimme, mis
en vroeë boemelaars beweeg koulik
uit beddens papier en dose karton
’n swart kat glip weg agter vullisdromme
op die balkon was daar ’n dooie blou duif
in New Jersey sug fabrieke rookpluime
soos messe wat ook die sin van sny verloor het
van die lughawe het ons gestyg
in ’n vaal kombers en weswaarts
oor ons onsigbare roete gepyl
daar was geen engele bo die wolke nie
totdat son ons vang oor ’n leë land
waar skaduwees groen vou in bruin oewers aarde
en riviere slinger soos silwer slange van ouds
dan was daar reguit strepe deur die mens
gemaak om verskiete aan mekaar te verbind
alle golwing was afgeplat my hand
in die hemel soos ’n blinde kind
kom die maan ooit hier?
sou daar putte wees onder
en toktokkies en drome wat teen mure skuur?
die dorpe was bottelskerwe gestring
aan die draad van ’n dronkwordpad
en kwikspatsels damme of gate gif
daar was ’n stad as die verkragting van saamwees
toe stilte
en skielik die kreukels en karbonkels
swart berge, en later die donker bleek
dambord van ’n woestyn uiterse
stoere eensaamheid
die