Die windvanger. Breyten Breytenbach
verstand ’n verslindende vaartuig
niks is blou of bewerig nie
hoeveel keer moet die tong draai
in die onbekende intieme holte
op soek na die woord genade
in die mens se bestaan?
ons is doodmaak en vergeet
ons aai die sot wurm van bewustelik lewe
draai, draai my lied
jy loop te ver
kom terug na die kat op straat
die duif so stil op die nag se balkon
draai saam met die son na die oseaan
se flonker draai weg van die aarde
se are en vlekke berge
en kors onverskillige lewe
en strand teen die oopte
van ’n ander dimensie
nog ’n laaste piek en kruin
sproeisel sneeu ’n silwerjakkalsjas
dan daal ons neer deur ’n nuwe weefsel wolke
na die groener vlaktes van Kalifornië
se voetheuwels, snelweë, knoetskerke, lommerryke voorstede
en voorstelle, turkoois swembaddens, ’n see seekant se kant toe
omsoom met seweduisend palmbome
14
skilletjie lig groei om die klipskip in die ruim
wanneer son en maan om ons synsoeke tuimel:
omdat ons geanker is aan die groot vergeet
het ons tyd bedink
asof vergaan nie reeds ingeboek staan in ontstaan:
en van siklusse en ritmes ’n bedoeling gemaak
die heelal getjap met betekenis:
ek is twee-en-sestig jaar oud
in die koue wond van geboorte
buite flankeer vlinders en voëls
doenig met hul eie besighede
sonder die minste vlerkslag van vervreemding
binne skuifel die hand oor papier
op soek na die hier
wat flus nog uit die niet gestulp het:
hier’s ek weer
hier’s ek weer
met my bloedsleep voor jou deur
ons skrywel ons dae dig met ballingink
totdat hulle donker soos die ewigheid is
en ook wanneer ons niks meer het om te sê
bly daar nog woorde oor
besig met hul eie doenighede
15
kyk, rondom die wond in die grond
waar die boom afgekap is
nou die ene duistere distansie
krabbel ’n raserny miere
in ’n raaisel van radeloosheid
nog dae daarna
16
hoeveel begrensing is nodig vir betekenis
hoeveel tekens saam versit ’n grens
hoeveel bokkoms pas in ’n boks
van twee by twee
hoeveel woorde gaan grond toe met die kis
hoeveel sin en besinning kan sing-sing
weggelê word in die woordtorinkie
hulle noem dit ’n gedig
sonder dat die môre na vrot vis stink
en is dit van enige denkbare verskil
of klink dit maar net ougat
17
toe sê Woordfoël vir die vrou en die kind
kom ons sit op ons hurke
hier teen die hoogte
en kyk af op die rokende stad
en maak bestekopname
ons bly met die pad verbind
aan die plek van oorsprong
al het ons die mense se name vergeet
toe sê Woordfoël vir die vrou en die kind
ons is vry
ek weet dit is swaar
en eens elke jaar is dit goed
om om te draai
om terug te kyk
na die reise en die ryk van dooies
eens elke jaar
word die seisoen donker
en die tyd is daar
klaar en ryp om die pampoen
soos ’n hemelse vrug van ewige lewe
mark toe te bring
kom laat ons sing
hoe sal ons die vlees bewaar?
in die kelders kopknik mummies
swerfswaar van ontbinding
mot en roes het die jasse met gate verblind
hoe sal ons die afstand besweer?
ons stop die reise en getye op
met woestynheuning en sprinkaanvleis
en Ouland se vergete onthousels
dat ’n goeie geur uit die heuwels kom
en hou boek in die stof
toe sê Woordfoël vir die vrou en die kind
kom ons versin onsself as verkenners
maak hout bymekaar
en steek aan die vuur
ons sein vir die burgers
van die dooie stad
dat ons die maan
uit haar donker holtes wil lok
om met die pampoen te versoen
verder sê Woordfoël vir die vrou en die kind
vergewe my asseblief
mens maak gedig ook van stokkies en saad
om die sagte woorde op te vang
mens soek maar altyd rym en maat
en dan die brand van verwerkliking
julle moet dit vir niemand vertel nie
18
die kat krap toe
die mens trek ketting
as hy opstaan van die ketel
visse doen dit diskreet
in die see
die vlieg is geheel
sy eie stront
meeste voëls tjorts
bondig ’n vlugverslag
net