Satyn Omnibus 3. Helena Hugo
beskuldig sy Steve. “Ons kan jou laat arresteer vir skending van ons privaatheid, onwettige betreding en beskadiging van eiendom. Dis teen die Grondwet!”
“Veratjie,” paai Steve, “het iemand al ooit vir jou gesê jy ooreis jou stembande?”
Hy skud sy hand en suig aan sy kneukels. “Die deur het nie skade gekry nie. Die Yale kan nog sluit – vir wat dit werd is.”
Vera hou haar hardgebak. “Jy kan nie sommer hier inmarsjeer asof die plek aan jou behoort nie!”
“Drastiese situasies vereis drastiese maatreëls. Cilla weier om met my te praat. Sy maak nie oop nie, antwoord nie haar foon nie en reageer nie op boodskappe nie. Wat anders kon ek doen?”
“Jy kon getrou aan haar gewees het, in plaas van haar met ’n goedkoop flerrie te kul!” beskuldig Vera hom.
“Ek het Cilla nie gekul nie.”
“Wat het daardie Nadine dan in jou kamer gesoek?”
Steve sug moedeloos. “Dis wat ek probeer uitklaar, as iemand my sal toelaat . . . Vriendskap is ’n goeie ding, maar ’n goeie ding word ’n slegte ding as jy dit oordryf.” Hy druk die kredietkaart en knipmes in sy sak en haal ’n geldnoot uit. “Hierso . . . Gaan koop vir jou ’n hamburger of parfuum, wat ook al die langste sal neem.”
Vera ignoreer die geld. “Ek laat my nie omkoop nie. Kry asseblief die boodskap, kaptein Casanova: Cecilia is klaar met jou. Sy het ’n ander kêrel, standvastiger as jy, en met meer integriteit in sy pinkie as jy in jou hele lyf.”
Steve se oë flikker. Vir ’n oomblik lyk hy onseker, maar hy laat hom nie van stryk bring nie. Hy skud weer die geldnoot. “Gaan koop dan ’n nuwe deurslot. Ek sal hom kom aansit as ek terug is. Dié een is niks werd nie. As ek met ’n stuk plastiek die Yale kon oopkry, kan enige skelm met ’n skroewedraaier dit doen.”
“Ek gaan Cielie nie alleen los nie,” stribbel Vera teë.
Steve bedwing homself. “Bly uit ons sake, Vera. Dié ding is tussen my en Cilla, en dis beter as ons dit oplos sonder die inmenging van ’n derde persoon.”
Hy druk die noot by die hals van haar rok in, draai haar regsom en marsjeer haar voordeur toe. “Moet nou nie moeilik wees nie. Ek sal in Frankfurt vir jou ’n schnitzel koop, of paella in Madrid. Wat ook al jy wil hê.”
Vera hou aan die kosyn vas. “Ek kan my eie kos koop.”
“Ek weet. En daar’s stringe kêrels wat toustaan om jou vir ete uit te neem. Met reg, want jy’s ’n oulike bloeiseltjie, en as ek nie verloof was nie, het ek self vir jou geval. Maar asseblief, skattebol, loop nou en moenie gou terugkom nie. Dis vir Cilla se eie beswil dat jy ons kans gee om die saak uit te stryk. ’n Kwartier is nie te veel gevra nie, of hoe?”
Cecilia weet wat die resultaat sal wees. Min meisies is bestand teen Steve as hy die sjarmekrane oopdraai, ondanks hul beste voornemens. “Vera, bly hier! Ek wil nie met hom praat nie,” keer sy. “Daar’s niks meer om te sê nie.”
Vera stap deur toe. “Ek weet. Maar jy kan nie aanhou weghardloop nie, Ciel. Een of ander tyd moet julle twee hierdie ding finaal begrawe, al is dit net om die hoofstuk in jou lewe af te sluit en die boek toe te maak. Dis nie dat ek jou drop nie – ek gaan nie ver weg nie, en ek het my sel by my. Bel as jy my nodig het, ek sal dadelik kom.”
Vera is reg, besef Cecilia toe sy uit is. Weghardloop is lafhartig. Sy het van meet af geen verweer teen Steve gehad nie; hy kon haar moeiteloos om sy pinkie draai. Sy het soos ’n jellievis vir hom geswig en al sy stories gesluk: hoek, lyn en sinker. Maar genoeg is genoeg. In hierdie nuwe fase van haar lewe is dit tyd om vas te skop en haar man te staan.
Steve trek vir haar ’n stoel by die eetkamertafel uit. “Kom sit, asseblief. En luister – objektief en sonder om my in die rede te val.”
“Jy het nie tyd vir sit nie; jy moet ry.”
“Cilla,” sê hy afgemete, “sal jy maak soos ek sê?”
Sy kies haar eie stoel aan die oorkant van die tafel en neem stelling in op die voorste puntjie, haar rug regop en ontoegeeflik. “Hoe voel jou hand?” wil sy weet.
“Dis nie belangrik nie.”
“Jy kan nie só gaan vlieg nie. Dit bloei. Moet ek dit ontsmet en ’n pleister opsit?”
“Nee,” keer hy ongeduldig. “Ek sal op die lughawe iets kry.”
Hy gaan sit oorkant haar, leun met sy elmboë op die tafel en kyk na haar met ’n soort uitdrukking wat sy nie kan peil nie. Is dit frustrasie? Moedeloosheid, gemeng met ’n onverwagte tikkie weemoed?
As hy aan haar raak, aan haar hand of haar arm, of selfs net glimlag, gaan sy hom alles vergewe – vir hom sê dit maak nie saak as hy ander nooiens het nie, solank hy háár ook liefhet. Al is dit net ’n bietjie, solank daar vir háár ook ’n plekkie in sy hart oorbly . . . En dan haarself agterna haat oor haar swakheid en gebrek aan selfrespek.
Om een of ander rede dink sy skielik aan Melt Meiring. Omdat dit ’n soortgelyke situasie was oor die breedte van ’n tafelblad en hy haar ook so half peinsend aangekyk het? wonder sy.
Of is dit omdat hy vanaf daardie heel eerste oomblik in die foyer dieselfde uitwerking op haar gehad het as toe sy Steve die eerste keer ontmoet het? ’n Instinktiewe bewustheid, ’n vooraf wete dat hierdie man diep spore in haar lewe en in haar hart gaan trap. Haar hart het met Melt ook teen haar ribbes gefladder, soos ’n duif wat wou uitkom. Wou vlieg – die wye bloutes in, al wag daar stormwinde wat hom van koers af kan dryf . . . ’n Wilde sensasie wat ’n tinteling deur haar laat bruis het, maar terselfdertyd ook waarskuwingsklokkies in haar onderbewuste laat lui het.
Die kans is goed dat sy Mlala Lodge nooit weer sal sien nie. En dis seker beter so. Soos dit dalk ook beter sou gewees het as sy daardie fatale Maandagaand na Jupiter of Mars sou kon vlieg – of enige ander plek behalwe Las Palmas, op dieselfde Boeing 747 as die onweerstaanbare kaptein Steve de Villiers.
5
Steve vroetel in sy baadjiesak en haal Cecilia se verloofring uit. Hy rek om by te kom en sit dit voor haar op die tafel neer.
“Ek was nie saam met Nadine Groenewalt onder die komberse, die lakens, duvet of wat ook al nie. Ek het langs die bed gestaan – albei voete op die grond en met al my klere aan – toe jy ingestap het.”
Lángsaan? Dit was so ’n skok, so ’n pynlike ontnugtering, dat Cecilia die toneel in die Hotel Fiori in Rome onbewustelik uitgeblok het. Sy dwing haarself nou om die herinnering terug te roep en die toneel te rekonstrueer.
Steve is reg oor al sy klere, moet sy teësinnig toegee. Die prentjie wat in haar gedagtes vorm aanneem, is van hom in ’n paar denims en ’n oorhanghemp, met drafskoene aan. Maar dit bewys niks. Daar was nog baie tyd, twee tot drie ure, voor vertrektyd.
“Ek onthou dat Nadine half kaal was en dat jy oor haar gebuig het, met albei haar arms styf om jou skouers.”
“Soos ek haar gedra het, ja. Sy was slap en ’n absolute dooie gewig. Ek het gesê sy moet om my skouers vashou, want ek was bang ek laat haar val. Wat haar verdiende loon sou gewees het – ek moes haar net daar in die gang laat lê het om haar roes af te slaap.”
Cecilia frons onbegrypend. “Het jy haar gedrá?”
“Sy kon nie twee treë op haar eie loop sonder om te slinger nie.”
“Hoekom? Was sy siek?”
“Siek?” Steve is ergerlik. “Siek aan wingerdgriep, ja.”
“Ek dag jy het gesê sy was duiselig?”
“Die vroumens se kop het gedraai, sy was naar en op die punt om om te kap. Wat jy gesien het toe ek oor haar gebuk het, was nie dat ek besig was om haar te soen of iets nie. Allesbehalwe! Ek was besig om haar gesig met ’n nat handdoek af te vee. Sy het glo al van vroegaand in die hotelkroeg gekuier. Sy het te veel gedrink, een dop na die ander ingeryg, en toe amok