Satyn Omnibus 3. Helena Hugo

Satyn Omnibus 3 - Helena Hugo


Скачать книгу
frons. “Genugtig, Cecilia, wat dink jy van my? Drie ure voor vliegtyd? Ek het geslaap – soos enige regdenkende mens. Dit was vyfuur die oggend en ’n lang vlug huis toe het voorgelê. Een van die vlugkelners het toevallig by die kroeg verbygestap en Nadine daar binne gesien. Hy het haar probeer kalmeer, haar probeer oorreed om te gaan slaap, maar sy was opstroppelis en luiddrugtig. Hy het die hoofkelner gaan roep, maar Nadine was só gekletter, sy wou niks weet nie. Sy het glo daar rondgedans terwyl sy van haar klere begin ontslae raak het. Hulle het nie geweet wat om te doen nie en het my gebel. Dit was tog logies, want ek was haar bevelvoerder en verantwoordelik vir die bemanning se welstand. Ek word ’n salaris betaal om sulke probleme op te los en die vliegtuig in die lug te hou.”

      “En met ’n keuse van ’n honderd ander beddens in die hotel, kies jy toe om haar juis na die een in jóú kamer te dra?” Cecilia is nie beïndruk nie. “Oplossing van die probleem?”

      “Ek het aan Lugdiens se goeie naam gedink en wou nie die toestand van een van Jakaranda se lugwaardinne aan die buitewêreld adverteer nie. In my kamer kon ek ’n oog oor die vroumens hou, haar vol swart koffie pomp en probeer om haar nugter te kry voor sy moet gaan werk.”

      “ ’n Mooi storie, wat ’n gelukkige einde sou gehad het as ek nie op die verkeerde plek op die verkeerde tydstip ingestap het nie.”

      Cecilia is skepties. Sy stoot die diamantring ’n entjie weg, na die middel van die tafel toe. Niemandsland . . .

      “Ek moes seker eers geklop het, maar die deur was halfpad oop en ek het gedink ons ken mekaar mos darem goed genoeg . . . Blykbaar was ek verkeerd. Ek het jou hoegenaamd nie goed genoeg geken nie.”

      “Dink jy ek sou so dom gewees het om die deur oop te los as ek van plan was om saam met die vroumens te slaap?”

      “Nee,” gee Cecilia toe. “Seker nie.”

      “Natuurlik nie!” korrigeer hy en kyk vlugtig op sy horlosie. “Ek het nie geweet jy was op die noordwaartse vlug en dat ons in Rome sou oorvleuel nie, anders het ek ’n bood­skap by ontvangs gelos dat jy my moes wakker maak. Al was dit net vir vyf minute . . . Ek het verlang en sou jou graag wou sien.”

      “Ek ook, dis hoekom ek gou wou inloer . . . Die Rome-vlug was ongeskeduleer. Ek was op noodbemanning en moes instaan vir Myra de Klerk, wat glo haar enkel gebreek het.”

      Steve kyk weer op sy horlosie. “Ek moet ry! Ek kan verstaan dat jy omgesukkel was, hartlam, en ek is jammer, maar ek is bly ons het die ding nou uitgepraat.” Hy soek sy motorsleutels, gryp sy pet en plak dit op sy kop.

      Half skuins oor sy regteroog soos sy gewoonte is, soos toe sy hom daardie eerste keer in die stuurkajuit gesien het, dink Cecilia. Soos toe sy halsoorkop malverlief op hom geraak het en geweet het daar sal nooit weer ’n ander man vir haar wees nie . . .

      “Ek skuld jou, poplief, en ek sou graag wou bly om te vergoed, maar as ek nie nou voet in die hoek sit lughawe toe nie, sit jou aanstaande eggenoot sonder werk.”

      Hy staan op en trek haar nader, gee haar ’n vinnige voel en ’n soen. Halfpad uit by die deur draai hy om en kom terug. Hy stoot sy pet agtertoe en sit sy sleutels neer. Sy hande gly om haar skouers en hy kyk na haar met half versluierde oë.

      Cecilia ken daardie kyk. Dis Steve se oplossing vir enige dispuut, wetend sy kan hom nie weerstaan nie en sal telkens maar weer swig. Sy wriemel los en druk haar hand teen sy bors om hom op ’n veilige afstand te hou.

      “Nee, Steve!” keer sy. “Nie nou nie . . . Ek is nie in die luim nie. Los my!”

      Hy steur hom nie aan haar nie. Hy vang haar hand in syne en koester haar palm teen sy lippe. Sy arms skuif om haar rug om haar lyf stywer teen syne vas te druk. Hierdie keer soen hy haar langer, dwingend, met sy lippe warm teen hare en sy tong wat proe-proe aan die soet geheime van haar mond.

      ’n Gloed stoot brandend teen haar maag op, vanuit sy koorsige lyf. Sy vingers soek oor haar nek en keel, vind die toutjie van die ritssluiter en trek dit oop tot by haar naeltjie. Voor sy kan wegbeur, kelk sy hande om haar bra. Hy soen haar borste een vir een, talmend en liefkosend. Sy asem rasper in sy keel en ’n kreun sidder deur hom . . . Dan, net so vinnig as wat hy haar vasgegryp het, laat hy haar gaan.

      Hy blaas sy asem hortend uit en gee ’n wolwefluit. “Sjoe, dolla, weet jy wat jy aan my doen? Jy maak al twintig duiwels in my wakker. Ek het lus vir jou . . . en vir lekkerder dinge as om nou te gaan werk.”

      Hy vryf met sy baadjiemou oor sy gesig om tot verhaal te kom. Dan skuif hy sy pet reg en neem sy sleutels. “Ek moet gaan. Lief jou, Cilla, baie-baie en altyd-altyd. Dra jou ring en sit als op die ys. Ons trou steeds, net bietjie later.” Hy blaas ’n soentjie in haar rigting en draf deur toe. Sy hoor hoe hy die trappe vinnig afhardloop.

      Cecilia rits haar sweetpak toe en vryf haar gewrig haar mond, asof sy die herinnering aan sy lippe teen hare kan uitwis. Sy warm asem, sy keel en sy hande oor haar lyf . . . Fisiek kon Steve nog altyd ’n vuur in haar aansteek. ’n Intieme glimlag oor die rand van ’n koffiekoppie, die vryf van sy kneukels oor haar wang, ’n knipoog midde-in ’n skare mense . . . Sommer ’n klein, onbenullige gebaar – en sy word ’n willose lappop in sy hande, om mee te doen wat hy wil.

      Maar is fisieke aantrekkingskrag genoeg fondament om ’n permanente verhouding op te bou? Almal sê daar kom ’n tyd wanneer die liefdesdrange in ’n roetine afplat, in die rustige samesyn van die getroude lewe. Dan begin ander dinge belangrik word: dinge soos standvastigheid, kameraadskap, waardering en lojaliteit. Dan verwag ’n vrou meer van haar man as om net ’n bedrewe minnaar in die slaapkamer te wees. Die lyflike vreugdes is belangrik, want dis die gom wat die verhouding aanmekaarhou. Maar dis nie eerste prioriteit in ’n huwelik nie. Jou man moet ook jou beste vriend en steunpilaar wees. Jou trooster as jy siek voel, of moeg is, of sommer net vasgehou en gekoester wil wees.

      Die sensuele toets slaag Steve de Villiers met vlieënde vaandels. Sy sal ’n wittebrood hê om van te droom, mee te spog, oor te bloos . . . en boeke vol oor te skryf. Maar wat as die blinkheid en nuwigheid afskuur? Die sellofaan van die wonder van pasgetroud wees afgehaal word en die wittebrood verby is? Sal hy daar wees as sy hom nodig het om geestelike onderskraging te bied? Sal hy die soort verantwoordelike pa wees wat sy vir haar kinders wil hê?

      Dit was die eerste keer in hulle verhouding dat sy onwillig was toe Steve haar wou soen. Die eerste keer dat sy hom geweier het en gewys het sy is nie net ’n satelliet van hom nie, maar ’n mens in eie reg, wat onafhanklike besluite kan neem. Al het sy nie veel bereik nie, is sy nogtans trots op haarself. Een klein treetjie, maar ’n groot stap in die rigting van selfstandigheid.

      Cecilia se gedagtes het hul eie pad geloop. Teen die tyd dat sy by die venster gaan uitkyk, is sy net betyds om die Porsche se agterligte aan die onderpunt van die straat te sien verdwyn.

      Aanstaande eggenoot, het hy gesê. Sit jou ring aan, en als op die ys. Ons trou steeds.

      Is hy só seker van haar? ’n Ruiker blomme, ’n kaartjie, ’n klompie gladde verduidelikings, ’n passievolle omhelsing en hy aanvaar alles is reg. Probleem uitgepraat. Misverstand opgelos.

      Alles te gerieflik en te maklik. Dit was Steve se kant van die storie. Nadine Groenewalt en die kelners het dalk ’n totaal ander weergawe van wat gebeur het.

      Haar vrese maal opnuut deur haar kop. Wat as sy nie onverwags opgedaag het en hom tot besinning geroep het nie? As hy toegelaat het dat sy kliere aan sy rede voorskryf? Nadine is ’n wulpse seksbom, ’n regte Delila wie se gawes min mans sal weier. En soos Vera gesê het, is die donkerkop-kaptein met die skuins pet, die warm mond en wil-jou-hê-oë kookwater. Sy is nie die enigste vrou wat hom verleidelik vind nie. Is hy van die soort stoffasie gemaak om versoekings wat blatant op ’n skinkbord vir hom aangebied word te kan weerstaan?

      Sy neem haar verloofring, ’n tweekaraat-solitaire geset in witgoud, met ’n kring granaatstene rondom. ’n Lieflike ring en ’n fortuin werd . . . Sy soek ’n snesie, vou die ring daarin toe en bêre dit in ’n veilige hoekie onderin haar tas.

      Toe sy voetstappe in die gang hoor, is haar eerste gedagte dat dit Steve is. Steve wat onthou het van


Скачать книгу