Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal. Rina Lamprecht
rel="nofollow" href="#fb3_img_img_dfede86b-0578-57d9-8508-a8b89c1ab49a.png" alt="15519.png"/>
Kenmerke van poësie
Rym is kenmerkend van digkuns/poësie. Rym is wanneer sekere klanke herhaal word en sodoende die klank van die gedig as ’t ware versterk. Rym kan natuurlik ook woorde verbind om dit makliker te laat lees. Daar is verskillende soorte eindrym, naamlik paarrym: aabb ccdd; omarmde rym: abba cddc; kruisrym: abab cdcd; gebroke rym: abcd edfa.
Alliterasie en assonansie is ook voorbeelde van rym wat binne ’n gedig kan voorkom. Alliterasie is die herhaling van dieselfde letters of klanke waarmee ’n woord begin. Dit kom voor in alledaagse uitdrukkings soos nóg kind nóg kraai. Digters gebruik dit om ’n patroon van herhaling te skep, byvoorbeeld: kreun en kla; koue kasteel. Hulle gebruik dit ook om woorde in ’n gedig te beklemtoon of om ’n sekere klankpatroon te skep, byvoorbeeld: “Sy veg en sy foeter Vampiro.”
Assonansie is die herhaling van klinkers of vokale in meer as een woord om ’n klankpatroon te vorm wat die leser/hoorder sal tref. Net soos alliterasie gebruik digters assonansie om ’n klankpatroon te skep en as bindmiddel tussen belangrike woorde, byvoorbeeld: “Die halfwakker man kreun en kla in sy bed”.
Atmosfeer/stemming is die ingesteldheid of gemoed wat die digter met die gedig wil bereik, byvoorbeeld: vrolik, sorgeloos, weemoedig, uitbundig, ensovoorts.
Vergelyking is wanneer twee sake van verskillende of uiteenlopende aard op grond van ’n ooreenkoms of ooreenkomste met mekaar vergelyk of selfs gelykgestel word. Die woorde soos, as, nes en net soos is kenmerkend van ’n vergelyking, byvoorbeeld: “Haar nek is so slank soos ’n swaan s’n.”
Spreker in ’n gedig
Die naamlose stem wat in die gedig aan die woord is en nie noodwendig die digter is nie.
Ritme
Net soos musiek, kan ’n gedig ook ritme hê. Eenderse woorde of klanke wat kort afstande van mekaar voorkom kan ritme skep, byvoorbeeld: Die perde klop en galop en skop. Wanneer versreëls ewe veel lettergrepe bevat skep dit ook ritme.
- Hoor/net/daar/hoe/krap/’n/tak
- oor/die/grou/ka/steel/se/dak
Personifikasie
Wanneer menslike eienskappe aan ’n voorwerp gegee word of enigiets wat nie menslik is nie as ’n mens voorgestel word.
Luister aandagtig wanneer jou onderwyser die volgende gedig voorlees.
Die legende van die gat in die muur
Fanie Viljoen
’n Xhosa-nooi duskant Koffiebaai
was verlief op ’n man in die see.
Maar die mense het haar aangeraai
om haar liefde vir hom op te gee.
“Die man is gebore uit die golwe en branders,”
het die oumense vir die meisie gesê.
“Kan jy dan nie sien nie, die seeman is anders.
Wil jy regtig so ’n bokkom-man hê?”
“Seemense’t vinne vir voete
en vinne vir hande
Hulle neuse is snoete
en hulle’t haaie se tande.”
Toe die meisie besluit om die man op te gee
het hy sy vishart voor haar uitgestort.
“Ek’t jou lief soos die branders, lief nes die see.”
En daarmee is die seeman toe vort.
By Koffiebaai se klipmuur wat strek deur die golwe,
het die seeman sy liefde bewys.
’n Reusagtige vis het die see omgedolwe
en sonder meer uit die water verrys.
Die meisie en haar mense’t kom kyk na die wonder
en verbysterd gestaar onderwyl,
met geweldige vaart en ’n dreun nes die donder,
die vis op die klipmuur afpyl.
Die knars en die kletter, soos reuse-rotse wegspat,
kan sommige oues steeds helder onthou.
Vandag besin hul nog oor die muur en die gat
en die man en die meisie wat wou trou.
Paarlees die legende saam met ’n maat en beantwoord die vrae.
1. ’n Ballade is ’n verhalende gedig. Watter verhaal word hier vertel?
2. Watter tipe eindrym het hierdie gedig?
3. Waar het die meisie gebly?
4. Skryf twee voorbeelde van klanknabootsing uit die gedig neer.
5. Haal die versreëls aan wat by die titel van die gedig aansluit.
6. Skryf ’n woord uit strofe 2 neer wat dieselfde as “nooi” in strofe 1, en ’n woord uit strofe 7 wat dieselfde as dink/wonder beteken.
7. “Die man in strofe 1 was nie ’n gewone man nie.”
a. Is hierdie stelling waar of onwaar?
b. Haal ’n gedeelte uit strofe 2 aan om jou antwoord te motiveer.
8. Hoe het die man van gewone mense verskil? Noem drie eienskappe.
9. Gebruik die woordeboekuittreksel en vertel wat met “bokkom-man” in strofe 2 bedoel word.
bokkem, bokkom, =s. Jong harder wat gesout en gedroog word. iem. kan ’n bokkem braai, bekwaam of behendig wees; ’n droë bokkem, ’n droë persoon. bokkemsmeer.
harder1, (s), =s. Kleinerige soort seevis. ’n ongeskraapte harder, ’n ongemanierde persoon.
harder2, (b). Vergrotende trap van hard.
10. “het hy sy vishart voor haar uitgestort”
a. Word hierdie versreël letterlik of figuurlik bedoel?
b. Gee ’n rede vir jou antwoord.
11. In strofe 4 kom twee vergelykings voor.
a. Skryf die twee vergelykings neer.
b. Watter twee sake word met mekaar vergelyk?
12. Na watter “wonder” word in strofe 6 verwys?
13. Voltooi die volgende sin: As die mense “verbysterd” gestaar het, dan was hulle . . .
14. Het jy van die gedig gehou? Gee ’n rede vir jou antwoord.
15. Dink jy dit was reg wat die mense gedoen het? Hoekom sê jy so?
Bestudeer In ’n neutedop waar woordvorming en woordsoorte verduidelik word.
Woordvorming
Basisvorm/stam
’n Woord se kleinste eenheid wat betekenis dra, word ’n basisvorm of stam genoem. Sambreeltjie se klankgrepe en lettergrepe is sam/breel/tjie. Nie een van die drie dele beteken iets op hul eie nie. Sambreel dui op ’n bepaalde vorm of voorwerp terwyl -tjie die verkleining aandui.