Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal. Rina Lamprecht
egter op die volgende woorde: besluit, betaal, ervaar teenoor ontsluit, vertaal en bevaar. By besluit, betaal en ervaar vorm die be- en er- deel van die stam terwyl ont-, ver- en be- by ontsluit, vertaal en bevaar voorvoegsels is.
Samestellings
Woorde word in Afrikaans gevorm deur samestelling wanneer twee of meer woorde (twee of meer basisse) saamgevoeg word, bvoorbeeld: jassak, donderweer, badkamer.
Soms word ’n “ekstra” letter/s bygevoeg sodat die samestelling beter klink, byvoorbeeld: kind + boek = kinderboek. Die -er- is die verbindingsklank tussen kind + boek.
Nog voorbeelde van samestellings met verbindingsklanke is etenstyd, kalwerhok, volkslied. Onthou: Woorde soos meisieskool en seunskool het net EEN s!
Afleidings
Nuwe woorde word dikwels van ’n stam afgelei deur woorddele voor- of agteraan te voeg. Sulke woorde word afleidings genoem.
Agtervoegsels is woorddele agteraan ’n stam en word gewoonlik gebruik om meervoude, verkleinwoorde, trappe van vergelyking en persoonsname te vorm, byvoorbeeld: mens – mense; koek – koekies; voël – voëls.
Woorddele vooraan ’n stam word voorvoegsels genoem, byvoorbeeld: koop – verkoop; sê – gesê.
Ons onderskei tussen drie groepe morfeme:
Premorfeme (voorvoegsels/prefikse) staan voor die basisvorm/stam, byvoorbeeld: verken, bevorder, ontneem.
Postmorfeme (agtervoegsels/suffikse) staan agter die basisvorm/stam, byvoorbeeld: dierlik, dadeltjie; besempie.
Woorde kan ook deur middel van klankwisseling ontstaan, byvoorbeeld skiet – skoot, skut; buig – boog, boeg; drink – drank, dronk.
Die funksie van morfeme:
Meervoude: put – putte (verdubbeling van die konsonant na ’n kort vokaal)
Verkleining: put – putjie
Trappe van vergelyking: mooi – mooier – mooiste
Verlede tyd: loop – geloop, dink – gedink
Byvoeglike naamwoorde – verbuiging: Die pad is grof; dit is ’n growwe pad.
Woordsoorte
Lidwoorde
Die bepaalde lidwoord verwys na ’n spesifieke onderwerp of voorwerp, byvoorbeeld: Die hond byt die skelm.
Die onbepaalde lidwoord verwys na ’n onbekende onderwerp of voorwerp. Dit kan enigiets wees, byvoorbeeld: ’n Visman soek ’n prinses.
Beantwoord die volgende taalvrae:
1. Hoe verander die morfeme (voor- en agtervoegsels) die betekenis of funksie van die volgende woorde?
a. “Ek wens ek het net ’n druppeltjie salf”
b. “Hy verwyder oplaas die draagbare tande,”
c. “Hy’t ’n week of twee laas geëet.”
d. “Die seeman lek oor sy kleurlose lippe.”
e. “Slaap ’n prinses met ’n leliewit vel”
2. In die volgende aanhaling kom woorde voor wat deur morfeme gevorm is. Skryf die woord neer en onderstreep die morfeem.
“Met stokstywe bene en ’n knakkende heup”
3. Gebruik die volgende basisvorme en vorm nuwe woorde soos aangedui deur van voor- en/of agtervoegsels gebruik te maak. Sommige woorde sal ’n klinkerverandering moet ondergaan. Maak dan ’n sin waarin jou nuwe woord voorkom.
a. man (werkwoord)
b. koud (werkwoord)
c. klink (selfstandige naamwoord)
d. wek (byvoeglike naamwoord)
e. styg (byvoeglike naamwoord)
4. Skryf die basisvorm(e) van die volgende skuinsgedrukte woorde neer.
a. “Om haar liefde vir hom op te gee”
b. Hy het sy vishart uitgestort.
c. “ ’n Reusagtige vis het die see omgedolwe”
5. Skryf die teenoorgestelde geslag vir die volgende woorde neer.
a. Xhosa-nooi (strofe 1)
b. seeman (strofe 5)
6. Gee een woord vir die woorde tussen hakies.
a. Die (goed + trein) vervoer al die benodigdhede.
b. Pasop om (lam + vleis) te eet, dit is baie vetterig.
c. Die meisie se vriende verrig ’n (held + daad) deur die vyand te oorwin.
d. Die (hoof + priester) van die Rooms-Katolieke Kerk is bekend vir sy (kind + Bybel) wat hy uitdeel.
7. In strofe 7 kom ’n woord voor wat se spelling en betekenis verander as dit ontrond word.
a. Skryf die woord met sy ontronde vorm neer.
b. Maak nou ’n sin met die ontronde vorm.
8. In strofe 2 kom ’n woord voor wat se spelling en betekenis verander as dit oorrond word.
a. Skryf die woord met sy oorronde vorm neer.
b. Maak nou ’n sin met die oorronde vorm en wys die verskil uit tussen die twee klanke.
9. Dit gebeur soms dat foutiewe spelling ook die betekenis van woorde kan verander. Kies die korrekte spelwyse van die skuinsgedrukte woorde.
Die seeman a) vee; fee oor die meisie se b) vel; fel. Die c) fel; vel son kan die seeman se dood veroorsaak terwyl die d) fee; vee al die ander inwoners met haar goue stem naderroep.
Die klipmuur staan op die e) rand; rant van die dorp. As die seeman sy arms f) lig; lug om vars g) lig; lug in te asem, skep hy weer h) moet; moed om vir die meisie ’n i) kis; kus te gaan gee.
Lees wat In ’n neutedop oor die afbreek van woorde te sê het.
Afbreek van woorde
Soms is daar te min plek in ’n reël oor om ’n volledige woord in te pas. Dan mag die woord afgekap word, maar dit moet volgens reëls geskied:
Onthou dat eenlettergrepige woorde nie aan die einde van ’n reël afgekap word nie.
Meerlettergrepige woorde word op die volgende maniere afgekap:
Volgens betekenisvolle dele: eks-avonturier; reken-skap
Volgens lettergrepe: ma-sels; on-ge-luk-kig
Tussen tweeklanke (diftonge): makou-eier
Tussen klinkers (vokale): wa-ens
Wanneer dieselfde konsonantletters langs mekaar en tussen vokale staan: debat-teer; mon-nik.
Wanneer n en g langs mekaar staan, word daar altyd tussen hulle afgebreek: en-gel.
Woorde wat die verkleiningsvorm -tjie kry, word altyd voor die -tjie afgebreek: dogter-tjie.
Wanneer ’n woord se basis op d of t eindig, en die verkleinwoord met -jie aangedui word, word daar altyd tussen die d of t en die -jie afgebreek: boud-jie; hout-jie.
10. Sommige woorde is by die volgende sinne verkeerd afgebreek. Skryf die sinne oor en breek die woorde op die korrekte plek af.