Rooi malvas. Tryna du Toit
rak bly sit,” sê sy vir Monique. “Hy beskou dit as ’n soort klad op die familienaam. Amper so erg soos gedigte skryf.”
“Jy misgis jou, Tina. My belangstelling is bloot wetenskaplik. Ek wil graag sien dat jy loskom uit daardie kokon waarin jy jouself toegespin het. ’n Preutse oujongnooi wat sentimentele gediggies skryf – as dit al is wat jy in die lewe wil hê, waarom gaan jy nie maar na ’n klooster toe nie?”
Tina is stil. Besef Albert hoe seer sy woorde haar maak?
Met ’n ligte skouerophaling sê sy: “Ons lewe elkeen volgens ons eie oortuigings – jy volgens joune, en ek volgens myne. Sal ons dit voorlopig daar laat?”
“Nou is sy op haar perdjie,” glimlag Albert. “Soos alle vroumense hou jy nie daarvan om die waarheid te hoor nie, nè?”
“Jy is in ’n besonder slegte bui vandag,” sê Tina. “Ek loop liewer voor ons regtig rusie maak.”
“Dis miskien verstandig,” spot hy saggies. “So ’n familietwis is ’n nare besigheid.”
Tina glimlag onwillig, sê tot siens en stap weg.
Monique kyk Tina nuuskierig agterna. “Sy lyk nie so sleg nie. Waarom hou jy nie van haar nie?”
“My liewe Monique, van al my niggies hou ek die meeste van Tina. Daarom probeer ek haar help. Kom ons loop. Ek is nou moeg vir die spulletjie.”
“Wat ’n simpel tyd om te trou,” kla Monique toe hulle uitstap. “Wat gaan ’n mens nou by die huis doen?”
“Jy kan by jou vriende gaan kuier. Ek gaan werk.”
“Het jy nie lus om te kuier nie? Toe, ons kan na Jos-hulle toe gaan.”
“Ek gaan werk. En ek wil stilte en vrede hê. As jy vanmiddag mooi soet is, kan ons miskien vanaand gaan fliek.”
“En by Giovanni gaan eet?” vra sy gretig.
“Ná vanmiddag se ete? Beslis nie. Jy weet wat word van meisietjies wat te veel eet?”
“Wat?” vra sy nukkerig.
“Hulle word vet, en die wolf vang hulle en vreet hulle op.”
“Dit was Rooikappie.”
“Hoe weet jy jou naam is nie Rooikappie nie?”
Monique haal haar skouers op. Sy sal maar na Jos-hulle toe gaan. As Albert in dié bui is, is dit die beste om hom alleen te los.
Hoofstuk 2
Tina en tannie Marie sit in die skaduwee van ’n groot jakaranda op die terras voor tannie Marie se grasdakhuisie aan die noordelike hang van die berg. Aan hulle voete lê die stad, in die verte is die Magaliesberge, wasig blou in die laat namiddagson. Die troue is verby en die familie is uitmekaar, elkeen in sy eie rigting. Die bruid en bruidegom is met Pierre se karretjie weg na ’n vakansieplaas in die berge naby Rustenburg. ’n Naweek is al wat hulle kon afknyp. Tannie Joan, oom Jim en Isabel is saam met tannie Lena en oom Pieter-hulle Johannesburg toe, waar hulle tot die volgende oggend sal kuier. Frances het ’n afspraak en Ellen was bekommerd oor Sonja en wou huis toe gaan.
Tina het tannie Marie huis toe gebring en haar uitnodiging aanvaar om ’n bietjie te kuier. Om ná die opwinding van die dag alleen in die woonstel te gaan sit, sou beslis ’n antiklimaks wees.
Tina het vir hulle elkeen ’n koeldrank ingeskink, vir haarself ’n sigaret opgesteek, en nou sit hulle lui en ontspanne, elkeen besig met haar eie gedagtes. Tannie Marie se Siamese kat, Picasso, lê op haar skoot; langs haar stoel lê ou Wagter; bokant hulle koppe in ’n blou koutjie tril twee geel kanaries ’n vrolike lied.
“’n Tipiese oujongnooi-menasie,” spot tannie Marie altyd met haarself. “Net die papegaai kom nog kort.”
Dit was ’n lekker troue, dink Tina. Dit is regtig jammer haar ma kon nie hier wees nie. Dit sal heerlik wees as tannie Marie haar kan oorreed om ’n bietjie te kom kuier. Sy verlang vandag na haar ma en na Arnold. Philip Serfontein het weer ou, halfvergete herinnerings wakker gemaak van sorgelose dae vol pret en plesier, toe die lewe nog ongekompliseerd was.
’n Gawe man, Philip Serfontein. Hy het haar darem baie jonk en verleë laat voel met sy praatjies oor die ou dae. Sy wonder of Isabel weet met wie hy getroud is.
“Dit was ’n lekker troue,” beaam tannie Marie haar gedagtes. “Maar ai, die kinders is darem nog baie jonk. Ek is bly Jim dring daarop aan dat Greta vanjaar nog klas loop en haar graad kry.”
“Ek dink oom Jim moes haar liewer laat begaan het. Greta is jonk, maar sy weet wat sy wil hê en sy is verstandiger as die meeste meisies van haar ouderdom. Ek het so ’n gevoel klein Greta gaan ons nog almal verras.”
“Ek hoop jy is reg – daar was al genoeg trane in die familie.” Ingedagte streel tannie Marie die kat op haar skoot, dan vra sy: “Wie is die vreemde man met wie jy vanmiddag daar by die troue gesels het?”
“Philip Serfontein. Hulle was ons bure op Nelspruit en hy en Arnold was destyds groot maats. Hy sê toe hy my laas gesien het, het ek nog sproete en vlegsels gehad.”
“Hy het ’n goeie geheue. Of het hy ’n spesiale rede om jou te onthou?”
“Geen rede nie. Hy was Arnold se vriend. Hulle was gedurig saam.” Sy vertel tannie Marie dat Philip pas teruggekeer het nadat hy drie jaar oorsee was.
“Hy lyk na ’n gawe man,” sê tannie Marie versigtig.
Tina glimlag. “Baie gaaf. En soos die meeste gawe mans van my ouderdom is hy reeds getroud.”
“Tog nie met ’n uitlander nie, hoop ek.”
“Ek weet nie. Ek weet net haar naam is Priscilla. Maar hy het gesê hy kom vir my kuier – hy wil hoor hoe dit met die familie gaan en seker ’n bietjie oor Arnold gesels.”
“En sal hy dan vir Priscilla saambring?”
“Ek sal hom vra om haar saam te bring as hy bel,” sê Tina glimlaggend.
Hulle is ’n rukkie stil, dan vra tannie Marie weer: “Sien jy Albert nog dikwels?”
“Nie so dikwels nie. Om die waarheid te sê, ek sien die laaste tyd baie min van hom.”
“Julle was altyd goeie vriende gewees. Wat het dan gebeur?”
“Daar het niks gebeur nie. Ek word seker oud, maar Albert se langhaarvriende is deesdae ’n bietjie te selfvoldaan en onvolwasse vir my. En sy vriendinne!”
“Wie is die een wat vanmiddag saam met hom by die troue was?”
“Haar naam is Monique. Sy is ’n kunstenaarsmodel – dis seker hoe Albert haar ontmoet het. Sy is ook ’n aktrise en ’n loopplank- en fotografiese model. Ek het soos ouma Mazawattee langs haar gevoel.”
“’n Skaamtelose klein flerrie. Ek het Albert nog altyd verdedig, maar as dit die soort meisie is met wie hy hom ophou, moet hy nie verwag om enige simpatie van die familie te kry nie.”
Tina is ’n rukkie stil, dan sê sy: “Wie is ons om te oordeel? Wat jy is, word bepaal deur jou agtergrond – jou ouerhuis, jou omgewing, jou vriende. Ek, Isabel, Frances, Ellen, Albert, Johan – ons het almal in bevoorregte huise grootgeword. Maar die wêreld het so geweldig verander en dit verander nog steeds. As ons om ons kyk en ons sien soveel wat verkeerd is – soveel onreg en ellende en haat, soveel materialisme – is dit dan vreemd dat ons ontnugter en verward voel? Is dit vreemd dat ons, elkeen op sy eie manier, van voor af besig is om te soek na nuwe waardes wat ons in die plek van die oues kan stel?”
Tannie Marie antwoord nie. Sy kyk peinsend voor haar uit terwyl sy die kat op haar skoot saggies streel, en half verskonend sê Tina: “Wat ek eintlik wou sê, is – ek is jammer vir Monique. Ek is seker sy het nooit die voorregte en kanse gekry wat ons gehad het nie. Maar op haar manier veg sy ook vir ’n plekkie in die son. Wie sê ek sou anders gewees het as ek in haar skoene was?”
“Jy