Rooi malvas. Tryna du Toit
geliefde, verloofde, minnares . . .”
“Hmmmmm,” sê tannie Marie droogweg. “Wel, hy het seker die reg om sy lewe te leef soos hy goed dink.”
“Ja. Maar nou wil hy vir my voorskryf hoe ek moet lewe. ’n Preutse oujongnooi wat sentimentele gediggies skryf – hy dink ek sal gelukkiger in ’n klooster wees.”
Sy probeer liggies praat, maar daar is tog ’n sweem van hartseer in haar stem.
’n Rukkie is tannie Marie stil, dan sê sy: “Jy ken vir Albert; hy spot met alles. Jy het self gesê ’n mens moet hom nie te ernstig opneem nie. Maar miskien voel hy ook aan dat jy nie gelukkig is nie en probeer hy op sy manier om jou te help.”
“Waarom dink tannie ek is ongelukkig?” vra Tina.
“Ek weet nie. Jy is die laaste tyd stiller, meer in jou dop gekruip. Ek het gewonder of daar iets is wat jou hinder. As ek kan help . . .”
“Ek staan voor ’n kruispad,” wil sy sê. “Ek weet nie wat ek moet doen nie.” Maar sy het nie die moed om die saak met tannie Marie te bespreek nie. Omdat sy in haar hart weet dat daar maar net een antwoord op haar vraag is?
“Ek slaap deesdae sleg. Dis seker maar die hitte, of miskien verlang ek huis toe. Ek wens regtig my ma wil ’n bietjie kom kuier.”
Tannie Marie antwoord nie. As die kind nie wil praat nie, kan sy haar nie dwing nie. En sy weet, uit haar eie lewe, dat daar dinge is wat jy self moet besluit.
“Tannie woon heerlik hier teen die berg.” Tina kyk na die stad wat aan hulle voete lê, na die blou berge daar ver, dan sê sy met ’n vreemde klein glimlaggie: “Ek wil tannie iets vra: waarom is tannie nooit getroud nie? Daar was tog seker genoeg bewonderaars . . .”
Tannie Marie lag. “Die antwoord is seker maar omdat die regte man my nooit gevra het nie. Ek het skoolhou geniet, ek was lief vir die kinders, ek het my ma gehad vir geselskap, my lewe was vol en interessant – veel interessanter as die paar mans wat deur die jare in my belang gestel het. Miskien is ek maar net ’n gebore oujongnooi – daar is sulke mense ook, weet jy?”
Sy is ’n rukkie stil, dan sê sy weer: “Om te trou is nie noodwendig die antwoord op al ’n mens se probleme nie. Dit beteken nie noodwendig jy sal gelukkig wees, of nooit weer eensaam of alleen wees nie.”
Tina dink aan Frances, en aan Isabel en Ellen, en sê sag: “Ek weet. Ek weet ook dat tannie ’n vol en interessante lewe lei en seker minder eensaam is as baie getroude mense wat ek ken. Ek wens ek het die geheim geken.”
“Dis geen geheim nie. Jy kry maar net uit die lewe wat jy daarin sit. Aanvaar elke nuwe dag met geesdrif en dankbaarheid, vul dit boordensvol met die goeie dinge in die lewe – jou werk, jou vriende, mooi musiek, blomme, boeke, ’n kuiertjie by ’n siek vriendin – en jy sal uitvind elke dag is te kort vir al die dinge wat jy wil doen. Dit wil nie sê dat jy nooit eensaam of ongelukkig sal wees nie. In elkeen se lewe kom daar tye wat jy alleen staan, wat selfs die mense wat jou die liefste het, jou nie kan help nie. Tye wanneer jy opnuut moet leer om te aanvaar en aan te pas. Maar dit is alles deel van die patroon van ons lewe hier op aarde.”
Tina is stil terwyl sy tannie Marie se woorde oordink. Om te aanvaar en aan te pas – is dit die kern van ’n gelukkige lewe? Om nie te hunker na die dinge wat buite jou bereik is nie, om te leer om nie “waarom” en “hoekom” te vra nie?
Binne lui die telefoon. Tina kyk na tannie Marie. “Sal ek antwoord?”
Watter reg het ek om vir die jong mense van vandag raad te gee, dink Marie van Velden toe sy alleen is. Wat weet ek van hulle kwellings, hulle probleme, hulle versoekings? Hulle woon in ’n ander wêreld.
Tina kom liggies oor die gras aangestap. “Die oproep was toe vir my.”
Tannie Marie kyk ondersoekend na haar, getref deur iets in haar stem. Tina glimlag effens en daar is ’n mooi sagte uitdrukking op haar gesig.
“En wie van jou bewonderaars het geraai dat jy hier sal wees? Of is dit een van die familie?”
“Dit was Hein Venter van ons kantoor. Hy het vir my werk gebring wat ek oor die naweek moet doen. Toe ek nie tuis was nie, het hy maar gebel – almal ken mos my beroemde tannie. Hy wou net sê dat hy die werk by die opsigter gelos het.”
“Dié Hein Venter – ken ek hom?” vra tannie Marie na ’n rukkie.
“Ek glo nie,” antwoord Tina versigtig.
“Wat doen hy?”
“Hy is ook ’n vertaler – nes ek.”
“Een van jou bewonderaars?”
“Hein Venter is ’n getroude man,” sê Tina stil. Sy aarsel ’n oomblik, dan sê sy: “Sy vrou is ’n invalide. Sy het ’n jaar gelede haar rug in ’n motorongeluk beseer.”
“Hoe verskriklik. Wat het gebeur?”
Weer aarsel Tina. Dan sê sy sag: “Dit is ’n treurige verhaal. Hein se vrou, Lalie, het hom verlaat omdat sy op ’n ander man verlief was. Hein het lank geweier om van haar te skei, maar later – toe hy sien daar is geen hoop om sy huwelik te red nie – het hy ingewillig. Sy is van hom af weg, maar voor die egskeiding finaal was, was Lalie en die ander man in ’n motorongeluk betrokke. Die man is dood en Lalie is so ernstig beseer dat sy die res van haar lewe in ’n rystoel sal deurbring. Sy was lank in die hospitaal en toe hulle haar ontslaan, het Hein haar gaan haal en terug na sy huis toe gebring.”
Tina se stem is sag en gelykmatig, maar dis vir Marie van Velden of daar van êrens af ’n koue windjie oor haar waai. Sy hoor weer die intonasie in Tina se stem, sy sien weer die sagte uitdrukking op haar gesig.
“Het hulle kinders?” vra sy.
“Hulle het een kind – ’n seuntjie van omtrent agt.”
“Ken jy die mense lankal? Ek bedoel, het jy die vrou geken voor sy die ongeluk gehad het?”
“Ek ken haar glad nie. Terwyl sy in die hospitaal was, wou sy geen besoekers hê nie – net die familie is toegelaat. Haar gesig is glo lelik geskend. Vir Hein ken ek lankal. Hy was in die kantoor toe ek daar gekom het en ons werk die afgelope agttien maande in dieselfde afdeling.”
“Hoe tragies – vir haar én vir hom.”
Tina antwoord nie. ’n Rukkie is hulle stil, dan stoot Tina die hartseer gedagtes van haar af weg en begin oor ander dinge gesels. Sy vra uit oor die radiodrama waaraan haar tannie werk en sê dan: “Ek het ook nuus: tannie kry kompetisie. ’n Bundel van my gedigte word uitgegee.”
“Maar hoe wonderlik, Tina,” sê Marie van Velden verras. “Baie geluk, hoor! Het jy toe eindelik sover gekom om jou gedigte na ’n uitgewer toe te neem?”
“Dit was eintlik Hein Venter. Hy het van my gedigte gelees en hulle na ’n uitgewersvriend toe gestuur. Die vriend het toe besluit om dit uit te gee.”
“Dis wonderlike nuus. Ek hoop dis die begin van groot dinge vir jou.”
Tina haal haar skouers op. “’n Oujongnooi wat sentimentele gediggies skryf? Albert is nie ver verkeerd met sy diagnose nie.”
“Dis heeltemal duidelik dat Albert nog nie een van jou gedigte gelees het nie,” sê tannie Marie droogweg. “En as hy die huwelik so vurig bepleit, waarom trou hy nie self nie?”
Weer val daar stilte tussen hulle. Die son sak en daar is iets weemoedigs in die skemeruur. Dis die moeilikste tyd van die dag, dink Marie, wanneer dit aand word en die mans en kinders huis toe kom. Wanneer opgewekte stemme oral opklink, en die stilte en die eensaamheid saam met die donkerte om jou toesak.
Asof sy haar gedagtes lees, sê Tina: “Ek dink ’n bietjie afleiding sal ons albei goed doen. Ek hoor daar is ’n oulike fliek by die Fonteine-inry. Kom ons gaan kyk of ons kan plek kry.”
Vyf minute later is hulle op pad. Die rolprent – ’n lekker klug – was uitstekend, en in opgewekte