Rooi malvas. Tryna du Toit
herinner my aan my eie kinderjare,” sê tannie Marie. “Aan Moeder – aan alles wat sy vir ons gedoen het.”
Tina kyk na die portret van ouma Christina wat op die kaggel staan – jonk, mooi, glimlaggend, maar ’n sterk gesig vol karakter.
“Ouma Christina. Almal wat haar geken het, sê sy was ’n wonderlike mens.”
“Sy was. Lewenslustig en baie begaafd. Niks kon ooit haar lewensvreugde demp nie, maar sy het nie ’n maklike lewe gehad nie. Inteendeel. Toe sy en Vader getrou het, het die oorlogswolke swaar oor die Transvaal gehang. Haar mense het alles verloor in die Anglo-Boereoorlog. Haar ma, haar suster en twee van haar kinders is in die konsentrasiekamp dood. Vader is Ceylon toe gestuur en toe hy terugkom, het hulle niks gehad nie en moes hulle weer van voor af begin. Later het hulle nog ’n kwaai terugslag gehad toe Vader se vennoot ’n klomp geld verduister het en homself om die lewe gebring het. Saam het hulle weer skouer aan die wiel gesit om die verlore skade in te haal. Moeder was orrelis in die kerk en het klere gemaak en sang- en klavierles gegee. Sy het self ook baie mooi gesing. Daarby het haar huis altyd geblink en was haar blomtuin een van die mooistes op die dorp. Haar musiekaande was instellings en daar het dikwels bekende kunstenaars by ons gekuier.
“Maar sy het nie alleen gewerk nie, hoor: ons moes almal help. Dit het harde werk en opoffering geverg, veral ná Vader se skielike dood, maar as ek terugdink aan daardie jare dink ek nooit aan die swaarkry nie. Ek onthou net hoe vol en interessant en lekker die lewe toe was. Deur die jare heen was Moeder ons beskermengel; sy het haar vleuels oor haar dierbares gesprei selfs nadat hulle uit die huis uit is. Dit was, vreemd genoeg, eers ná haar dood dat die een ongeluk ná die ander die familie getref het: Albert se rusie met sy pa; oom Cecil se beroerteaanval; Arnold se tragiese dood; Frances, Ellen, Isabel . . . Ek wonder so dikwels wat haar reaksie op al dié dinge sou gewees het.”
“As sy werklik so ’n wonderlike mens was, sou sy ons probleme vandag verstaan het,” sê Tina. Sy kyk weer na die portret en sê mymerend: “Ek is jammer ek het haar nie beter geken nie, maar ons het so baie rondgetrek en ek was maar twaalf, dertien toe sy dood is. Maar ek onthou hoe graag ons by ouma gekuier het – die pieknieks en konserte wat ons in die tuin gehou het, ouma se mosbeskuit en soetsuurdeegbrood. Ek sien nog die groot wit huis met die groen dak en die rooi malvas op die vensterbank.”
Marie van Velden se gesig versag. “Die rooi malvas op die vensterbank was deel van Moeder – van haar moed, haar lewensvreugde, haar liefde vir haar medemens. Vandat ek kan onthou, was hulle maar altyd daar. Ek is bly jy onthou die rooi malvas.”
Tina glimlag effens. “Dis goed om te weet dat daar goeie bloed in jou are is, dat jy ’n voorsaat soos ouma Christina het. Maar dis nie genoeg nie, nè?”
“Nee, dis nie genoeg nie. Wat tel, is wat jy self in die lewe bereik. Ek gee toe die lewe is vandag anders as toe ons jonk was, dat julle met groter probleme en meer versoekings te kampe het as wat ons ooit gehad het. Maar ten spyte van al die veranderings bly sekere wette onveranderd. ‘Onderhou my gebooie,’ sê die Here. Die Tien Gebooie bly vandag nog die hoeksteen waarop die gelowige mens sy lewe bou.”
Tina antwoord nie. Onderhou my gebooie . . . Lê die antwoord op al haar vrae in daardie paar eenvoudige woorde opgesluit?
Ellen en Tim ry direk van die huweliksonthaal af huis toe.
Op pad is hulle stil, elkeen besig met sy eie gedagtes.
Dit was ’n mooi troue, dink Ellen. Greta was ’n lieflike bruid. Die familie is verniet bang dat Greta nog te jonk en onervare is. Sy is meer volwasse as die meeste meisies van haar ouderdom. Sy self was nie veel ouer as Greta toe sy getroud is nie, maar natuurlik, alles was anders.
Ellen dink aan haar eie troudag, aan die trane, die bitterheid en berou. Sy dink aan die jare van swaarkry wat gevolg het, aan klein Carel en Sonja, aan die groeiende verwydering tussen haar en Tim. Wat hou die toekoms vir hulle in?
Versigtig loer sy na Tim. Waaraan sou hy dink? Haar hart sak toe sy die donker frons op sy gesig sien. Waarom is Tim kwaad? Blameer hy haar omdat die lewe so anders verloop het as wat hy gedroom het?
Toe hulle naby die huis kom, sê Tim: “Ek het gereël om vanmiddag muurbal te speel as ons betyds van die troue af terugkom. Gee jy om?”
Ellen voel die skielike brand van trane in haar keel. Natuurlik gee sy om. Tim is die laaste tyd so dikwels uithuisig dat sy en die kinders al minder van hom sien. As dit vir werk was, sou sy nie omgegee het nie, maar dis gewoonlik muurbal of gholf, of ’n potjie snoeker of brug saam met sy vriende. Sy het gehoop hy sal vanmiddag en vanaand saam met haar en die kinders deurbring.
“Moet jy gaan?” vra sy sag. “Daar is ’n mooi fliek by die inry wat ek graag wil sien. Ek het gedink ek maak vir ons toebroodjies – die kinders sal die uitstappie so geniet.”
Tim se gesig verhard effens. “Ek het nie vanaand lus vir die inry nie. Buitendien het ek Jimmy belowe ek sal speel.”
Dit help nie om Tim teen sy sin te probeer dwing om tuis te bly nie. Dit sal maar net weer op ’n rusie tussen hulle uitloop.
Die kinders speel ewe gelukkig buite op die gras. Ellen slaak ’n suggie van verligting. Sy is altyd onrustig as sy die kinders alleen by die huishulp moet laat. Carel is besig om soldaat te speel met ’n paar kamaste en Tim se vlootpet. Links regs, links regs, beveel hy terwyl Sonja rooi in die gesig voor hom uitmarsjeer.
Toe Carel hulle groen motortjie sien, hardloop hy om die hek vir hulle oop te maak. Terwyl hulle deurry, salueer hy flink.
Tim grinnik, sy ontevredenheid vir die oomblik vergete. “Dankie, kaptein. Alles stil op die front?”
“Geen teken van die vyand nie, generaal!”
Met uitgestrekte arms kom Sonja na hulle aangehardloop. Sy struikel oor ’n graspol, maar voor sy kan val, vang Tim haar en gooi haar hoog in die lug op. Sonja kraai van plesier.
“Nog, Pappa, nog!” gil sy toe Tim haar neersit, maar hy ontwyk haar handjies en hardloop glimlaggend die trappies op en die huis binne.
Toe Ellen by die huis inkom, is hy besig om met Jimmy Roux oor die telefoon te praat. “Ek sal reg wees,” sê hy, en hy klink opgewek en bly.
Toe sy haar hoed in die kas bêre, kom Tim by die kamer in. Hy trek haastig uit. Die klere word ongeërg op ’n hoop op die bed gegooi. In sy wit kortbroek en hemp, bruingebrand deur die son en die wind, lyk hy jonk en baie aantreklik. Hy kom na haar toe en soen haar liggies op die wang.
“Jy kan die kar kry as jy êrens heen wil gaan, Ellen. Jimmy kom my oplaai.”
Sy kyk hom vreemd aan. “Bedoel jy dat ek en die kinders alleen inry toe moet gaan?”
Dadelik vervies hy hom. “Maak soos jy wil,” sê hy nukkerig. “Jy kla heeldag dat jy nie by jou vriende kan kom nie omdat jy nooit die kar het nie. Ek het maar net gedink dis nou ’n goeie kans om ’n bietjie uit te gaan.”
Hulle hoor hoe Jimmy se motor buite op die gruispad stilhou, en met ’n haastige groet is Tim by die kamer uit. Deur die venster sien Ellen hoe die kinders die rooi sportmotor agternastaar, en daar is trane van hartseer en teleurstelling in haar oë. Tim kon gerus maar vanmiddag by hulle gebly het. Sy sien reeds so min van hom. Die kinders verlang ook na sy geselskap, maar daar is nooit meer tyd om te speel en te baljaar nie.
Met ’n sug draai sy weg van die venster af en ’n oomblik bekyk sy haarself in die spieël. Frances is reg, dink sy misnoegd: haar rok is te lank en sy is te vet. In vergelyking met haar mooi, elegante niggies lyk sy soos ’n regte plaasjapie. Haar ma het geglimlag toe sy sien sy het weer die blou rok aan, maar sy was ook teleurgesteld. Sy weet maar te goed hoe ver sy tekort skiet aan die hoë eise wat haar ma stel.
“Wat het jy gedoen met die geld wat ek jou vir Kersfees gegee het?” wou haar ma weet. “Ek het dan gesê jy moet vir jou ’n nuwe rok koop.”
Wat het sy met die geld gedoen? Die vleisrekening betaal, vir Carel nuwe skoene en skoolklere gekoop, en die res is uitgegee toe sy en Tim die aand saam met sy vriende