Rewolusie van die hart. Adriana Faling

Rewolusie van die hart - Adriana Faling


Скачать книгу
vind Ruth haar. In trane met die foon in haar hand.

      “En nou, Saleh?” Sy trek die deur agter haar toe.

      “Ek is so bekommerd oor my man en wonder of hy nog lewe,” fluister sy.

      “Ag, jou arme ding,” sê Ruth sag en simpatiek en gee haar ’n druk.

      Toe begin Saleh se trane soos ’n kraan loop. Dae se spanning wat net te veel geword het, loop oor. Ruth hou haar vas en laat haar huil. Sy sê niks nie, behalwe om saggies ’n gebed te prewel. Saleh mis skielik haar ma.

      Uiteindelik kom die trein in beweging. Verligting spoel deur Saleh. Sy bedank Ruth skaam en maak haar bed gereed. Nou wil sy net slaap en hierdie nagmerriedag uitwis.

      Die trein is egter gevul met die vrolike energie van ’n klomp toeriste wat ’n nuwe avontuur beleef. Nie een van hulle was al op ’n oornagtrein in Egipte nie. Saleh ook nie. Dit is iets wat net vir toeriste bestem is. Sy ervaar egter glad nie opwinding nie en hoop om gou te kan slaap, ten spyte van die vreeslike lawaai.

      Baie later word dit stil, maar die slaap bly Saleh ontwyk. Sy sluimer in en word weer wakker. Voel die oneweredige geskommel van die trein. By elke stasie waar die trein in die donker nag stilhou, verbeel sy haar dat haar skoonfamilie opklim met masjiengewere om haar te soek. Dan lê sy bewegingloos en haal skaars asem tot die trein weer vertrek. Haar lyf is seer van die ongemaklike slaapbank en die spanning van die dag. Sy sluimer weer onrustig in.

      Hoofstuk 6

      PRETORIA. AUGUSTUS 2010

      Die dae glip vinnig weer in die gewone ritme terug. Dis so reg as Petrus tuis is, dan funksioneer hulle weer soos ’n normale gesin. Petrus gaan elke dag kantoor toe en saans ontwerp hy webtuistes vir ’n ekstra inkomste. Sy is weer baie besig met die skoolaktiwiteite. Die revue-optredes begin volgende week en die kunswedstryd is om die draai.

      Sy is dankbaar dat Markus se arm so goed herstel. Die dokter reken dat daar nie eens letsels sal oorbly nie. As Petrus tuis is, gaan dit ook goed met Alexander en daar was nog nie weer enige vuurwerke nie. Talitha gaan stil haar gang.

      “Ek gee Sondag by ons gemeente terugvoer oor die laaste gebedsreis,” kondig Petrus aan. “Kindertjies, julle moet asseblief help dat ons betyds is.”

      “Ja, Pappa,” koor hulle.

      Salomé trek haar wenkbroue op. “Hoe lank het jy hierdie keer geleentheid om te praat?”

      “Vyf minute,” antwoord Petrus afgehaal. “Maar dis darem iets.”

      Sy skud haar kop en kyk simpatiek na hom. Petrus se grootste werkfrustrasie is sekerlik dat baie van die kerke doof is, of verkies om te wees, vir die nood van die gelowiges in ander lande. Hulle het al soveel daaroor gefilosofeer.

      “Mense het seker te veel probleme van hulle eie en wil nie van ander s’n ook hoor nie,” het sy probeer troos.

      “Ek is nie onsimpatiek teenoor mense se probleme nie, Sally. Ek weet die lewe is dikwels ’n gekompliseerde en moeilike plek. Maar dis nie ’n verskoning om nie te wil hoor nie. Dit is juis goed om ons probleme in perspektief te sien. En ja, ons probleme sal sekerlik meer en meer word, as ek die Woord reg verstaan, maar ons het soveel te leer by die gelowiges wat alreeds hierdie pad gestap het.”

      Daar was die geleentheid toe Petrus by ’n megagemeente wou praat. Die kerk se antwoord was dat hulle in die “welvaartsteologie” glo: Die Here wil sy kinders met rykdom en gemak seën en kan nie glo die Here sal toelaat dat gelowiges so vervolg word nie. Daar moet sekerlik sonde in hulle lewe wees.

      Hulle het belowe om tog ’n geldelike bydrae te maak om die huidige nood te help verlig, waarop Petrus so kwaad geword het dat hy sarkasties gesê het hulle moet dit liewer gebruik vir hulle gemeente se nuwe bouplan. Dalk kan hulle lugverkoeling installeer, dat die mense nog gemakliker kan kerk hou?

      Salomé het hom lanklaas so kwaad gesien.

      “Wat dink hulle?” het hy gebelg gesê. “Het Jesus in lugverkoelde kerke met gemakstoele gepreek? Het Hy hoegenaamd ’n huis gehad? Hy het in die veld geslaap en van mense se dankoffers gelewe. Is hulle nou beter as Jesus self?”

      Salomé het al geleer om net te luister.

      “Hoe kry hierdie kerke dit reg om net hulle harte te verhard en die nood van ons medegelowiges te ignoreer?”

      Hy kan dit nie regkry nie. Dit is ’n las waarmee hy elke oggend opstaan en elke aand gaan slaap. Dit is waaraan hy sy ure by die werk en op reise bestee, om die stem te wees van ’n kerk wat die wêreld wil stom hou.

      Elke keer spring hy weer vuur en vlam aan die werk en probeer manalleen die wêreld verander, net soos die Petrus van ouds. Hoe gepas is sy naam nie, het sy al dikwels gedink.

      Petrus lyk altyd effe ongemaklik met ’n das om sy nek. Met sy groot postuur lyk dit steeds soos ’n dun vlag om die dik mas van ’n boot. Die kinders sit ook netjies gekam en aangetrek in ’n rytjie langs mekaar. Voorwaar ’n perfekte pastorieprentjie. Hoe anders voel die realiteit nie.

      Uiteindelik is dit Petrus se beurt. Haar fors man met die nederige hart maak haar altyd trots wanneer hy praat. Sy vriendelike geaardheid wen meestal die gehoor vinnig. By hulle tuisgemeente is hy welbekend en geliefd, maar ook reeds in ’n boksie geplaas: “O, Petrus praat weer vandag oor ’n sendingreis. Ag, dis altyd ’n mooi storie.”

      Salomé glimlag bemoedigend vir hom en kyk onderlangs na die gemeente.

      “Liewe gemeente, daar is ’n paar maniere om hierdie spreekbeurt te begin: ‘Die oesland is groot en die arbeiders min,’ of ‘As een deel van die liggaam ly, ly almal.’ Maar hierdie Bybeltekste ken julle al uit julle kop, nè?”

      Die gewone gesigte knik belangstellend. Dié wat gewoonlik ’n geldjie bydra tot ’n sendingreis of hulle naam op die gebedslys sit. Die res se oë is afwesig.

      “Vandag gaan ek dus begin deur die volgende stelling te maak. Ons as gemeente en as kerk in die Weste, verpas die geleentheid van ’n leeftyd as ons nie betrokke raak by die werk wat God reeds in die Midde-Ooste doen nie. Nog nooit was die tyd so ryp en die omstandighede so gunstig om met die evangelie ’n impak te maak nie. Ons hoef nie meer motors volgepak met Bybels deur grense te smokkel nie. Ons het TV, radio, internet en wie weet hoeveel ander hulpmiddels. Ons kry die evangelie tot by die mense sonder dat ons eers self daar is. Maar die oesland ís groot en die arbeiders ís baie min,” sê hy ernstig. “Ons moet die klein persentasie vrywilligers waarop ons staatmaak om hierdie boodskap uit te dra, se hande versterk. Hulle werk met die minimum hulpmiddels om die evangelie te bring. Die Here is altyd getrou. Ons hoor weekliks getuienisse van hoe Hy die groei bewerkstellig. Maar daarna moet ons daardie kerk versterk en help groei. Ons moet hierdie kerk, ons jong sussie, se hand vat en haar leer uit die Woord en ons moet ons trots laat staan en toelaat dat ons jong sussie ons leer oor die pad van geloof. Want dit is waar: As een deel van die liggaam ly, dan ly ons almal saam. Ons het so baie te leer by haar.” Hy wys ’n paar skyfies van verskillende lande, noem statistiek en verduidelik aan die hand van wêreldgebeure waarom hy so sê.

      Die sangleier begin saggies in die agtergrond op die klawerbord speel; die teken dat Petrus moet klaarmaak. Sy sien die frustrasie oor sy gesig flits.

      “Dit is ons mandaat as kerk van God om sy evangelie na die verlore mensdom te bring. Ons broers en susters in die vervolgde kerk is gehoorsaam aan hierdie opdrag, in dapperheid. Hulle doen hulle bes om te oorleef en die goeie nuus te bring, maar hulle smeek ons vir ons ondersteuning en gebede. Hulle het dit nodig dat ons hulle besoek en bemoedig. Ons mag ons nie doof hou vir hulle versoeke nie. Kom skryf dus jou naam op vir ’n gebedsbrief, gee geld vir hierdie werk en bo alles: bid. Moet hulle nie vergeet in julle gebede nie.”

      Toe hy weer kom sit, gee sy sy hand ’n drukkie. Hy kyk af na haar en sy sien sy bewolkte oë.

      Die predikant se boodskap is goed, maar bevat geen verdere verwysing na wat Petrus met die gemeente gedeel het nie. Was sy terugvoer net nog ’n item op die kerk se spyskaart van die oggend?

      Salomé


Скачать книгу