Rewolusie van die hart. Adriana Faling

Rewolusie van die hart - Adriana Faling


Скачать книгу
vlug. So dit is ’n uitstekende stand van sake dat die boot nie daarheen op pad is nie.

      Maar Aswan? Sy ken geen mens daar nie. Wat gaan sy doen?

      Farouk kom laatmiddag saggies in. Hy het weer ’n bord eetgoed saamgebring.

      Sy eet hongerig terwyl hy praat. “Daar is ’n groep Amerikaners aan boord. Toeriste. Hulle is Christene.”

      “Hoe weet jy?”

      “Hulle bid voor ete en bid soms in ’n groot groep saam. Hulle is mos nie bang om te wys hulle is Christene nie. Blykbaar het hulle deur die hele land kom bid. Boonop vis hulle heeltyd uit of ek ook ’n Christen is.”

      “Wat doen jy dan?”

      “Ek glimlag maar net en hou my dom. Dis te gevaarlik om iets te sê. Maar ek het begin wonder of ons jou nie dalk saam met hulle kan laat verder reis nie, asof jy ook ’n toeris is?”

      Haar hart klop vinniger. “Hoe bedoel jy?”

      “Hulle gaan in Aswan ’n klomp besienswaardighede bekyk en dan per oornagtrein na Kaïro reis.”

      “Ja?” vra sy baie versigtig.

      “As jy vir een dag kan deel word van hulle groep en dalk per trein saamry, kan hulle jou in die bondel wegsteek?”

      “Maar dink jy hulle sal?”

      “Wel, hulle is Christene en daar is een man met wie ek moontlik eenkant kan gesels. Hy is die toerleier en dit lyk of ’n mens hom kan vertrou. Maar ek het jou toestemming nodig om jou storie te vertel.”

      Sy dink eers na. “Dink jy dit is veilig?”

      “Nee, dis nie veilig nie, maar dis die enigste oplossing waaraan ek nou kan dink,” antwoord hy eerlik.

      “Dankie, Farouk. Dit is gevaarlik vir jou ook.” Sy is stil. “Wanneer kom ons in Aswan aan?”

      “Die dag ná môre.”

      Sy het dus nie veel tyd nie. “Kan ek net eers bid daaroor en dan sal ek jou vanaand sê?”

      “Goed. Ek sal ná ete weer ’n draai kom maak.”

      Sy kan aan geen ander plan dink nie, dus stem sy in.

      “Goed, Saleh, ek sal kyk of ek vanaand alleen met die man kan praat.”

      “Dis baie gevaarlik vir jou as hulle uitvind dat ek hier is.”

      “Ek gaan nie sê jy is op die boot nie. Ek gaan net noem dat ek iemand ken wat in Kaïro moet kom en dan in breë trekke jou storie vertel.”

      “Ja, dis slim.”

      “Maar kom ons kyk eers wat hulle antwoord is. Ek laat weet jou sodra ek hoor.”

      Sy bid vir Farouk terwyl hy weg is. Vir sy veiligheid, vir haar eie en haar baba s’n en dat God se wil sal geskied. Sy wens sy het ’n Injeel by haar gehad dat sy kon lees en ’n antwoord kon soek. Maar Ashraf het gesê dit is te gevaarlik om hulle kopie van die Nuwe Testament in te pak na sy ouers toe. Sy het saamgestem. Sy bid weer vir Ashraf.

      “Hulle stem in,” bring Farouk later die nuus.

      “Sjoe, rêrig?” Sy het min geslaap in afwagting op die antwoord en al die “wat as?” wat sy teen mekaar afgespeel het.

      “Kort voor hulle reis hierheen het iemand kop uitgetrek nadat alles betaal was. Dus is daar ’n ekstra betaalde treinkaartjie. Jy sal wel met iemand ’n kajuit moet deel. Die trein hou deur die nag op party stasies stil, maar daar word nie nog mense aan boord geneem nie. Ek dink dus dat dit ’n veilige opsie vir jou is.”

      “Ja, Ashraf se familie sal my ook nie maklik uit Aswan verwag nie.” Sy is onseker opgewonde oor die uitkoms. “Ek sal my wel op Kaïro-stasie moet onsigbaar maak. Daar is oral oë.”

      “Ek het gedink ons moet jou ’n bietjie vermom.”

      “Hoe?”

      “Hier is ’n winkeltjie op die boot. Hulle verkoop allerhande tipiese toeristeklere. As jy dalk genoeg kontant het, kan ek vir jou ’n T-hemp koop, en ’n serp of ’n ding, dat jy meer soos ’n toeris kan lyk.”

      “Dis ’n uitstekende plan; ek kort juis skoon klere,” glimlag sy wrang. “Maar hoe gaan jy verduidelik waarom jy vroueklere koop?”

      “ ’n Geskenk vir my vrou of so iets. Ek sal aan iets dink.”

      Hy daag op met ’n T-hemp met kameelprente daarop, ’n pet en ’n tradisioneel geborduurde Arabiese hemp waarvoor veral die toeriste baie lief is. Saleh is baie dankbaar vir die skoon klere. Haar senuwees knaag egter as sy dink aan wat voorlê.

      “Hoe het jy gedink gaan ons dit doen, Farouk?”

      “Jy moet môreoggend vroeg gereed wees, want ek sal jou kajuit eerste moet skoonmaak, voor die ander mense uit hulle s’n trek. Een ekstra stel lakens en handdoeke sal nie aandag trek tussen al die wasgoed nie. Dan moet jy ongelukkig wag tot almal uit hulle kajuite getrek en hulle uitstaande rekeninge betaal het. Net voor ons aan wal gaan in Aswan, sal ek jou kom roep. As jy jou toeristeklere aantrek, behoort jy saam te smelt met die bondel. Soos hulle uitbeweeg, beweeg jy saam. Moenie oogkontak maak met enige van die ander personeel op die boot nie en bly in die bondel. Die toerleier weet van die reëlings. Hulle sal jou dan saamneem in hulle toerbus en later na die oornagtrein.”

      “Sjoe, jy’t aan alles gedink.”

      “As dit uitwerk, dan sê ons vir Isa dankie. Dan was dit sy plan.”

      “Amen.”

      “Ek moet nou gaan. Ek bring hopelik later vir jou iets te ete.”

      “Miskien moet ek liewer vas en bid.”

      “Jy kan nie jou baba laat vas nie. Jy kan bid, maar ek bring vir jou kos. Ons weet nie wat lê vir jou voor nie.”

      “Nee, ons weet nie. Ek vat maar een dag op ’n slag.”

      Sy slaap min en is vroeg op.

      Toe Farouk aanklop, kyk hy haar goedkeurend aan. Met haar hare in ’n poniestert deur die pet gehaak en die T-hemp met die kamele op, lyk sy soos die ander toeriste.

      “Het jy nie dalk ’n sonbril nie?”

      “Nee, ongelukkig nie.”

      “Kyk of jy vandag een kan koop. Dit gaan jou help.”

      Die lakens is reeds afgetrek en sy hou hom dop terwyl hy die kamer van hoek tot kant gereedkry vir die volgende gaste. Hy is ook senuweeagtig, kom sy agter, al werk hy met geoefende hande.

      Sy haal geld uit vir die klere en die water wat sy gebruik het, en nog ekstra. Die oomblik het aangebreek dat hulle moet groet. “Farouk, ek het nie genoeg woorde nie.”

      Hy kyk haar met deernis aan. “Jy het nog baie hekkies om te oorkom. Ek is bly dat ek jou met hierdie een kon help.”

      “Mag ons Vader en God jou en jou familie seën.”

      “Dankie, Saleh. Ek sal aanhou bid dat jy en Ashraf mekaar lewend vind,” sê hy ernstig.

      “Dankie,” sê sy sag, aangedaan.

      “Maar nou kan ons nie foute maak nie. Jy wag hier tot ek jou kom roep. Dit kan nog ’n uur of twee neem. As ek nie kan roep nie, sal ek drie keer aan die deur klop. Moet my nie groet of laat blyk dat jy my ken nie. Stap reguit deur tot in die portaal met jou sak en probeer so gou moontlik in die middel van die groep kom.”

      Sy knik.

      “En moet asseblief nie op die bed sit nie. Dit moet lyk of die kamer onaangeraak was.”

      “Reg so.”

      “Vrede vir jou, Saleh.” En toe is hy uit.

      Sy is gedaan gewag en baie senuweeagtig toe die klop uiteindelik kom. Met ’n laaste skietgebedjie maak sy seker dat sy niks in die kamer agterlaat nie en stap regop uit.


Скачать книгу