Rewolusie van die hart. Adriana Faling

Rewolusie van die hart - Adriana Faling


Скачать книгу
eers weer. “Ek het so verlang na julle.”

      “Toemaar, ek sal self die hoof bel. Gaan sit nou eers jou tasse by die wasmasjien, dan haal ek gou Talitha se skoolklere uit,” sê sy, kalmer noudat Petrus weer beheer oorgeneem het. Dit is hoe dinge hoort.

      “Hoekom gaan slaap jy nie ’n bietjie nie?” vra hy van die deur af.

      ’n Uur later word sy wakker van die veraf gelui van die telefoon.

      “Ja, Ma,” antwoord Petrus. “Ja, Ma.

      “Reg so, Ma.

      “Nee, Ma, sy slaap.”

      Hy praat dus met haar ma – sy kan dit aan sy stemtoon hoor. Thea het haar seker gebel en nou is daar weer oorlog met Petrus. Arme man.

      Hy lui af en kom ingestap toe sy regop sit. “Is Markus al wakker?”

      “Nog nie, maar ten minste voel hy nie vir my koorsig nie,” stel hy haar gerus.

      “Dan het daar waarskynlik nie infeksie in die wond ontstaan nie. Dank die Vader.”

      Petrus knik. “Hoe voel jy?”

      “Net onmenslik moeg. Jy was lank weg hierdie keer.”

      “Ja, dit was lank, maar dit was ’n ongelooflike reis, Sally. Ek is net jammer julle kry so swaar hier.”

      Sy antwoord liewer nie daarop nie. “Wat sê my ma?”

      “Sy het my weer eens bedank vir my onbaatsugtige opoffering vir wêreldsending,” antwoord hy lig.

      “Ek is seker,” sê sy wrang.

      Hy kom sit by haar. “Wat het gebeur?”

      Sy wil hom nie straf met haar woorde terwyl sy vertel nie, maar sy weet ook hy moet weet hoe dit regtig gaan. Tussendeur huil sy en hy hou haar vas, maar maak haar nie stil nie.

      “Dit is ’n aanval, Sally, van die bose, op die mense vir wie ek die heel liefste in die hele wêreld is, om te keer dat ons voortgaan met die werk van die Here.” Sy kan sien hy is aangedaan.

      “Tannie Marié het ook so gesê.”

      “Tannie Marié?”

      Sy vertel van die tannie en haar aanbod om vir haar te bid.

      “Wel, dis wonderlike nuus. Die Here is werklik getrou, Sally. Ek bid juis vir julle wanneer ek weg is dat die Here ook rondom julle mense sal plaas wat julle sal kan ondersteun.”

      Sy was seker hy bid vir hulle, maar dis tog lekker om te hoor. Sy koester sy nabyheid.

      “Nou vertel my wat het by julle gebeur? Dit maak die sleg by die huis altyd weer die moeite werd,” sê sy eerlik.

      “Ag, Sally. Ons kan so baie by hulle leer. Die mense daar dien die Here in die moeilikste omstandighede denkbaar. Die geheime gelowiges wat ons ontmoet het, vrees almal vir hulle lewe. Baie van hulle se name is op ’n lys by die owerhede. Die mans word in die tronk gestop en die vroue en kinders hoor so min van hulle daarna. Boonop word hulle gesinne dan gereeld ingeroep en vir ure ondervra en geïntimideer. Die samelewing isoleer hulle boonop sodat daar nie met hulle geassosieer word nie. Maar hulle staan vas in hulle geloof. Hulle klou daaraan soos aan ’n reddingsboei. Hulle kennis van die Bybel is dikwels só karig dat ek namens hulle bang is dat hulle geloof dit nie sal hou nie, dat hulle sal opgee en ingee. Daarom is hierdie opleidingskole wat ons daar van stapel stuur so belangrik. Ek wens jy kan hulle almal leer ken.”

      Markus kom in, hardloop na sy pa toe en gooi sy gesonde arm om sy nek. “Hallo, Pappa.”

      “Hallo, my bul.”

      Hulle druk mekaar styf vas en dit bring sommer trane na Salomé se oë. Sy pa is sy held.

      “Hoe voel jy, ou seun?” vra Petrus en kyk na sy arm in verbande.

      “Seer,” antwoord Markus, die pyn duidelik op sy gesig.

      “Ek glo jou,” antwoord Petrus simpatiek.

      “Hoekom is Mamma nie by die skool nie?” vra hy verbaas.

      “Want my oudste seun het seergekry.” Sy vryf oor sy hare.

      “Regtig?” vra hy verbaas.

      Dit sny deur haar. “Natuurlik. Kom ek maak eers vir jou iets te ete, dan gee ek weer vir jou pynstroop, seun.” Salomé staan op om vir hom te gaan pap maak. Laat hy en Petrus maar ’n bietjie gesels.

      Terwyl sy pap maak, voel sy amper weemoedig. Dit is so reg om Petrus hier te hê, maar om te hoor van die werk wat hy doen, is ook so reg. Sy is so trots op haar “man van God” met die lig in sy oë. Sy moet onthou om dit weer vir hom te sê. Dit is dalk noodsaaklik dat hy dit hoor, veral ná haar ma se gesprek met hom vanoggend.

      “… maar Mamma het met Alexander geraas en ek dink nie dit was sy skuld nie,” hoor sy Markus sê net toe sy instap. “Dit was ’n ongeluk.”

      Hy is reg. Sy onthou nou sy het met Alexander geraas, arme kind. Nou voel sy weer skuldig.

      Petrus antwoord Markus nie daarop nie. “Alexander sit en TV kyk,” sê hy net vir haar. “Ek het nie die hart gehad om hom by die kleuterskool af te laai nie.”

      Sy knik en stap uit om met die kind te gaan regmaak.

      Sy gaan sit op die stoel se leuning by hom en vryf oor sy hare. Hy vat haar hand en haal dit van sy kop af. Gooi haar hand terug in haar skoot.

      Sy ignoreer die gebaar. “Dis lekker dat Pappa jou huis toe gebring het.”

      Hy sê niks.

      “Het jy lekker by tannie Thea gekuier?”

      Stilte.

      “Alexander?”

      Hy kyk net voor hom.

      Sy vat die afstandbeheer en druk die afknoppie.

      Hy is dadelik woedend. “Gee hier. Pappa het gesê ek mag kyk!” skree hy.

      “Ek weet en jy mag kyk, maar Mamma wil net eers iets vir jou sê.”

      “Gee terug!”

      “Alexander,” druk sy deur. “Mamma is jammer dat ek gister met jou geraas het toe Markus gebrand het. Dit was nie jou skuld nie. Dit was ’n ongeluk. Mamma is jammer.”

      Hy kyk net vir haar en sy sien die trane in sy oë blink.

      Sy wil ook huil. “Mamma is baie jammer. Reg so?”

      Hy knik. Sy gee hom ’n drukkie, maar hy druk haar gou weer weg, verleë oor sy trane. Sy skakel weer die TV aan, maar bly op die leuning sit. Sy sit haar arm om sy skouers en hy druk dit nie weer weg nie. Bly net so by haar sit.

      Here, ek maak so droog op my eie, bid sy in haar hart. Help my met hierdie kinders. En hou asseblief vir Petrus nou eers ’n bietjie by die huis; dan is ek ’n beter mamma. En weer eens dankie dat Petrus veilig tuis is. Help Markus om gou gesond te word, asseblief, Here.

      Hoofstuk 5

      EDFU, NYLRIVIER. AUGUSTUS 2010

      Die boot beweeg weer teen ’n rustige vaart verder met die Nyl op. Saleh kan haar net voorstel hoe die toeriste op die dek in die son lê en lees of die uitsig langs die Nyl bewonder. Dit is een van die toptoeristeaantreklikhede in Egipte.

      Die gewag maak haar egter mal. Sy wens die boot wil versnel. Haar kop bly vashaak by die gedagte dat hulle in die verkeerde rigting vaar. Hoe is dit moontlik? Lewe Ashraf nog? Is hy veilig?

      Sy wens sy kon hom bel en net weet of hy lewe. As hy die foon optel, kan sy dadelik neersit. Nee! Dis te gevaarlik. Miskien kan sy Farouk vra? As hy net sy selfoon kan laat lui tot hy antwoord. Maar dis gevaarlik vir Farouk ook. Dit sal hom verbind met Ashraf en dan sal hulle dalk vermoed sy is by Farouk. Nee, die risiko is te groot.

      Ek het nie ’n idee wat om nou te doen nie, Vader God. Maar ek vertrou U met


Скачать книгу