Tahiti, verre land. Ena Murray
Eugenie lyk meer gerus, maar kan nie nalaat om te sê nie: “Ek het nie eens geweet julle sien mekaar so baie nie. Jy het my nooit vertel nie.”
“Nee, ek het nie, want ek het nie die nodigheid daarvoor ingesien nie. Gee jy om as ek vanaand saam met hom gaan dans?”
Sy hou die ander fyn dop, sien hoe die oë versomber. “Nee, ek gee nie om nie. Solank dit jy is, weet ek … ek bedoel, hoekom sal ek omgee? Daar is mos niks tussen ons nie. Dit behoort tot die verlede.”
Weda sug en trek haar skouers op. As Eugenie teen haar eie hart wil veg, kan sy niks daaraan doen nie. Tog voel dit vir haar asof sy die Franse meisie aan die skouers kan gryp en haar goed skud. Sy sal moeilik ’n gawer man kry as Franz Leucas. Maar die Levaux-dames beskou Franz Leucas as ’n kerkmuis en ’n sukkelaar. Hy kan nie met die rykdom van die De Bougainvilles meeding nie. Weda het al so ’n teësin in die naam Louis de Bougainville ontwikkel dat sy hoop sy hoef hom nooit te ontmoet nie. Sy kan hom by voorbaat nie veel nie. Terwyl madame Levaux hom tydig en ontydig in Eugenie se keelgat afdruk, moet Weda ook oor en oor die basuingeskal oor al sy voortreflikhede aanhoor. Sy voel al sy kan skree as sy net sy naam hoor.
Die ergste is dat ook Franz die danige Louis de Bougainville se voortreflikhede gedurig besing. Dit was al baiekeer op die punt van haar tong om hom te vertel dat hierdie selfde man die meisie vir wie hy so lief is, voor sy neus gaan wegraap. Maar elke keer kon sy die woorde nog keer. Sy wil nie dieper in hierdie intrige betrek word as wat sy reeds is nie. Wanneer hulle Tahiti bereik, klim sy op die eerste die beste vliegtuig terug huis toe en kan Franz en Eugenie maar self hul heil uitwerk.
Australië lê agter hulle en die boot het reeds die golwe van die Stille Oseaan begin klief, toe Weda en Franz daardie aand ’n rukkie op die dek uitstap. Hoewel die jong skeepsdokter sy bes doen om vrolik mee te doen, kan Weda sien dat sy hart nie in die plesierigheid is nie. Arme Franz en arme Eugenie. Sy kan haar voorstel dat dit ’n vreeslik frustrerende stryd moet wees om teen jou eie hart te stry. Hulle kom langs die dekreling tot stilstand en toe hy diep sug, draai sy impulsief na hom.
“Franz, hoekom dóén jy nie iets nie?”
“Waarvan praat jy?” Hy frons.
“Jy weet goed waarvan ek praat. As jy wag dat daardie vroumens haar dogter op ’n silwerskinkbord na jou toe moet aandra, gaan jy tot in der ewigheid wag.” Weda is sommer weer vererg.
Franz verstyf en sy stem klink bot.
“Ek wil haar nie op ’n silwerskinkbord hê nie.”
“Ag, twak, man! Hier staan jy jou hart en uiteet van verlange en in haar kajuit lê Eugenie haar oë en uithuil en julle …”
“Wat? Weda, is dit so? Het jy …?”
“O, nood, daar praat ek my mond verby!” Sy kyk hom moedeloos en tog ook ’n bietjie geamuseer aan. “Maar julle maak dat ek dinge sê wat ek nie van plan was en geen reg het om te sê nie.”
“Maar is dit so? Dink jy werklik … sy … gee nog vir my om?”
Weda sug. Sy is nou so ver, sy kan seker maar met die res ook uitkom.
“Ja, ek is oortuig daarvan dat Eugenie nog vir jou omgee. Net so oortuig as wat ek is dat jy, ten spyte van alles wat jy al kwytgeraak het, nog vir haar omgee. Is ek reg? Jy het haar nog nie vergeet nie, het jy, Franz?”
Hy kyk lank oor die maanverligte see uit. Dan glimlag hy effens en knik sy kop.
“Ja. Dit help nie. Ek voel bitter teenoor haar, diep teleurgesteld in haar, maar … gek soos dit is – ek het haar nog lief.”
“Goed. En ek is oortuig dat Eugenie dieselfde teenoor jou voel. Maar jy sal iets daaromtrent moet doen, en gou ook, of jy gaan haar vir altyd verloor.”
“Hoekom sê jy so?”
Weda aarsel. Die een of ander tyd in die nabye toekoms gaan hy dit tog uitvind.
“Eugenie en haar ma het besluit dat sy met Louis de Bougainville moet trou. Dis met hierdie doel voor oë dat hulle op pad terug is na Tahiti. Wel? Wat gaan jy daaromtrent doen?”
Hy kyk haar geskok aan. Dan draai hy sy kop weer vinnig weg.
“Niks.”
“Niks! Maar, Franz, hoe kán jy …?”
“Weda, hoe kan ek met ’n man soos Louis de Bougainville meeding? Ek is ’n armsalige kerkmuis. ’n Niks, het nie geld nie, het nie agtergrond nie. En Louis de Bougainville is ’n skatryk man, kom uit ’n familie wie se stamboom eeue ver teruggevoer kan word. Hy het ’n titel en is seker die beste vangs wat ’n jong meisie kan maak.”
Hy lag kortaf, bitter. “Hoekom probeer terwyl jy weet jy is aan die verloorkant?”
Weer voel Weda die antagonisme teenoor Louis de Bougainville in haar opstoot. As die mansmens tog net nie so ryk was nie, het die arme Franz darem ’n kans gehad. Hoekom moet die lewe so onregverdig wees? Hoekom het party mense alles en ander niks nie?
“Jy het haar hart,” hou sy koppig vol, en dis kompleet asof sy nie met Franz aan die stry is nie, maar ’n stryd met die volmaakte Louis de Bougainville aangeknoop het. “Dit is die belangrikste.”
“Nee, dit is nie, Weda. Moenie dat ons ons mislei nie. Vir mense soos madame Levaux en Eugenie, wat hul lewe lank gewoond was aan alles, is liefde nie alles nie. Liefde moet omsoom wees met goud, anders is dit nie aanvaarbaar nie. Wat meer is, dit sal nie lank neem vir Eugenie of enige ander meisie om op Louis de Bougainville verlief te raak nie. Hy is ’n aantreklike, wonderlike man. Ek het hom net een keer in Frankryk ontmoet, maar hy maak ’n geweldige goeie indruk, ook op ’n man. Nee, ek kan die stryd maar gewonne gee.”
Daar is soveel verlorenheid in sy stem dat Weda ’n harde stryd teen die trane moet voer.
“Franz, jy is verkeerd! Jy praat asof liefde na willekeur aan- en afgeskakel kan word, wanneer dit jou pas. Waar kom jy daaraan dat al wat meisie is op die man verlief móét raak? Julle gaan te kere asof die man ’n afgodjie is, vlekloos en sonder tekortkominge. Wel, ek sê jou nou, ek is die één meisie wat nie in ’n beswyming voor Louis de Bougainville gaan neerval nie, en dis eintlik jammer, want dan sal jy self sien dat jy onnodig behep is met die man. Jy is al net so erg soos Madame. ’n Mens sou sweer hy dra vlerke op sy rug!”
Franz moet lag vir haar ontstoke relaas en hy druk haar spontaan teen hom vas.
“Dankie, Weda. Jy doen ’n man se ego goed. Maar jy ken Louis de Bougainville nog nie. Moenie so gou praat nie. Wie weet wat gebeur nog alles op Tahiti. Dis glo ’n onvoorspelbare eiland. Miskien kom jy ook eendag op my skouer huil oor ’n gebroke hartjie. Moenie die gode uittart nie.”
“Jy’s laf! Ek wil niks te doen hê met ’n man wat ’n seerower vir ’n grootjie gehad het nie. Ja, ek weet die eerste Louis was glo ’n ontdekkingsreisiger, maar dis maar net ’n mooi naam vir ’n seerower. En daardie spul skatte waarmee die jongste Louis nou spog en as lokaas gebruik, is seker ook gesteelde goed. Hy is g’n so watwonders as wat jy en die Levauxs dink nie.”
Franz Leucas gooi sy kop agteroor en lag hartlik.
“Jy moet dat Louis de Bougainville jou dié dinge hoor sê! Kom, meisiekind, kom ons gaan dans!”
Die reis gaan voort, verby die Loyalty-eilandgroep, noordwaarts oor die Steenbokskeerkring na die Fidji-groep. Daarvandaan swenk hulle effens suid, verby die Cook-eilandgroep, dan weer effens noord en op ’n dag, die onmeetlike ruimtes van die Stille Oseaan om hulle, die tropiese son fel in ’n blou hemel, dein Tahiti soos ’n seemonster uit die blou massa voor hulle op. Hulle het die droomeiland van die Suidsee bereik!
Weda sal haar eerste indrukke van Tahiti met sy omringende eilande, almal deel van die Geselskapsgroep, nooit vergeet nie. Die stippeltjie op die landkaart lê eindelik in al sy werklike glorie voor haar.
Haar eerste indruk van die eiland is een van grootsheid maar ook geheimsinnigheid. Haar reisbrosjure vertel haar dat die lawagevormde