Die blou uur. Christine le Roux

Die blou uur - Christine le Roux


Скачать книгу

      “Wag!” roep hy, maar sy is weg.

      Hoofstuk 3

      Brenda staan in die agterdeur toe Klarissa haar motor onder die afdak parkeer. Haar arms is gevou en alles om haar wapper en klap soos vlae; haar romp, haar hare, haar trui, die voorskoot om haar middellyf. “Waar was jy so lank?” roep sy in die wind in. “Ek het al gedink die man het jou ontvoer.”

      “Nee,” sê Klarissa. “Hoekom staan jy hier in die wind? Jy lyk soos ’n gedenksuil en dis deksels koud. Kom in en maak toe die deur.”

      “Ek staan net hier omdat ek vir jou wag, nie vir my plesier nie.”

      Klarissa druk haar koue wang teen Brenda s’n. “Ou hen.”

      Brenda hou haar hande naby die oonddeur wat warmte uitstraal. “Vertel, ek wil alles hoor.”

      “Dis hy,” sê Klarissa.

      “Moenie kripties raak nie, sustertjie, ek wil hoor. Hoe lyk hy? Wat dink jy? Is hy ’n monster en wat het jy toe vir hom gesê? Vertel, vertel, vertel.”

      “Dis Andrew,” sê Klarissa.

      “Ek weet wat sy naam is!”

      “Nee, jy verstaan nie – dis hy.”

      “Klarissa,” sê Brenda geduldig. “Sit neer jou handsak en kom sit. Wil jy iets drink? Jy lyk vir my verdwaal. Meer as normaalweg.”

      “Nee dankie. Miskien later.”

      “Wel, sit dan net en vertel.”

      Klarissa gooi haar handsak op die toonbank. “Ek is verkluim. Mag ek eers gaan bad? Ek moet warm word, ek voel baie bewerig.”

      “Liewe aarde, wat het hy met jou gedoen?”

      Klarissa kyk haar skerp aan, trek solank haar baadjie uit en verdwyn in die rigting van die gang. Toe sy twintig minute later terugkom, het sy weer kleur in haar wange, maar haar suster is te ongeduldig om dit raak te sien.

      “Gaan jy nou sit en vir my vertel?” vra sy.

      Klarissa gaan sit by die kombuistafel. “Waar is Colin? Ek is jammer ek is so laat. Het julle al geëet?”

      “Nee, gelukkig vir jou. Colin het gebel om te sê hy sal laat wees.” Sy haal twee wynglase uit die kas, trek ’n wynbottel nader en verwyder die kurk met haar gewone handigheid. “Hier, en vertel nou voor ek uitmekaar spat van nuuskierigheid.”

      “Dis Andrew,” sê Klarissa. “Andrew is hy, en jy het vir my gesê dit was bonatuurlik.”

      Brenda besluit wyslik dit sal nie help om te baklei nie. “Wie is Andrew?” vra sy.

      “Die man by die Waterfront.”

      “Ek weet dit. Dis waar julle afgespreek het om mekaar te ontmoet, dan nie?”

      Klarissa kyk verby haar na die skildery in die gang. Dis ’n olieverf van vier huisies met bruin dakke en ligpienk mure. Grasdakhuisies, lyk dit vir haar. Tussen hulle staan drie hoë bome met dun stamme en blare wat ’n sambreel vorm bokant die dakke. Seker bloekombome, hulle stamme is pienkerig en kaal. “Weet jy wie Cassandra was?” vra sy.

      “Klarissa,” sê Brenda ferm. “Kom terug. Ek wil alles hoor. Moenie babbel nie.”

      “Cassandra was Apollo se geliefde,” sê Klarissa ingedagte. “Hy het haar die gawe van profesie gegee op voorwaarde dat sy sy minnares word.” Voor die vier huisies is ’n geel blerts verf. Sy wonder wat dit veronderstel is om te wees. ’n Pad, ’n blomtuin, ’n lap mosterdsaad? “Hy het ingestem, maar ná sy die gawe ontvang het, het sy hom geweier.”

      “Klarissa!” gil Brenda. “Hou op! Het hy jou drank ingegee?”

      Klarissa knip haar oë. “Nee, net ’n glas wyn. Die tweede een het ek nie gedrink nie.”

      “Hou dan op met Apollo.”

      “Hy was kwaad toe sy hom weier, so kwaad dat hy haar vervloek het. Niemand sou haar profesieë glo nie en dit was ’n groot fout, want sy het die val van Troje voorspel, behalwe dat niemand toe na haar luister nie. Sy is deur Ajax Oileus verkrag en deur Klutaimnestra vermoor.”

      Brenda staar na haar. “Lyk dit vir jou asof ek omgee? Zeus self kon haar bygedam het vir al wat ek omgee. Wat ek wil weet, is hoe die ontmoeting was met die voornemende bruidegom.”

      “Andrew?” Klarissa dwing haar oë weg van die skildery. “Ek sê dan ek het hom agt maande gelede al gesien. Ek het jou vertel en jy het gedink ek is simpel.” Sy staan op en loop na die skildery. “Wat is hierdie geel kol veronderstel om te wees, dink jy?”

      Buite klap ’n deur. “Dis Colin,” sê Brenda. “Jy beter jou hare droog kry voor jy koue vat. Dit drup op jou trui.” Sy staan op en maak die agterdeur oop net toe die wind vir Colin inwaai, sy jaskraag opgeslaan.

      “Goeiste,” sê hy uitasem. “Dis nou guur buite en dit net toe ek gedink het die slegte weer is verby.” Hy soen sy vrou en glimlag vir Klarissa, maar op daardie oomblik lui die telefoon en omdat Klarissa die naaste is, tel sy op, iets wat sy nie gewoonlik doen nie.

      “Haar kop het uitgehaak,” sê Brenda kwaad vir Colin. “En dis alles jou skuld.”

      “Hallo,” sê Klarissa en loop met die telefoon in die gang af. Sy skuif die handdoek om haar kop sodat sy nie deur dik voue hoef te luister nie.

      “Cassandra,” sê Andrew en sy kan hoor hy is ontstem. “Ek is rasend.”

      “Hoekom?” vra sy en ruk die handdoek heeltemal af omdat dit nou dreig om in nat voue oor haar voorkop te val. “My hare is nog nat, dis nie my skuld as dit in jou oor drup nie.”

      “Ek sê mos jy’s mities,” sê hy. “Laat die water drup, ek gee nie om nie. Hoekom is jy so vinnig hier weg? Hoe voel jy nou?”

      “Beter, dankie, maar baie honger. Gelukkig het Colin nou net gekom. Ons sal seker nou eet.”

      “Ek is so jammer,” sê hy. “Ek voel verskriklik sleg. Weet jy hoe voel ek? Soos ’n ondier.”

      “Nee wat,” sê sy en kam haar nat hare met haar linkerhand se vingers. “Het jou ouma vir jou gesê ’n mens kry ’n stink neus van nat hare? Iemand het dit vir my gesê, ek wonder of dit my ouma was. Ek het in elk geval nog nooit geweet wat dit beteken nie.”

      “Is jy ongelukkig?” vra hy. “Het ek jou ongelukkig gemaak?”

      “Nee.”

      “Het jy nog die bewerasie?”

      “Nee. Ek het nou net gebad en is lekker warm.”

      Sy stem verander skielik. “Ek mag jou nie seermaak nie. Ek wou jou . . . en nou het ek al weer.”

      “Liefste Andrew,” sê sy. “Weet jy hoe gelukkig is ek?”

      “Is jy?” vra hy.

      “Dit moes een of ander tyd gebeur het en dit mag net jy gewees het.”

      Hy praat vir ’n hele rukkie nie. Sy hou die gehoorstuk weg van haar gesig en kyk daarna asof sy verwag om sy gesig daarin te sien. “Andrew?” vra sy. “Het ek jou verdrink? My hare is nie meer só nat nie.”

      “Cassandra,” sê hy. “Ek sien jou Vrydagmiddag.”

      Sy skakel die telefoon af, tel haar handdoek op en loop terug na die kombuis, waar sy die gehoorstuk terugsit. “Hallo,” sê sy vir Colin, wat teen die stoof leun en met Brenda gesels. “Ek is jammer julle moes vir my wag. Sal ek help opskep?”

      “Sien jy wat ek bedoel?” vra Brenda en buk om die bakke uit die oond te haal. “Ons eet sommer hier, dis warmer. Bring jou wyn.”

      Colin gaan sit en vryf sy hande. “Hoe was jou ontmoeting toe, Klarís? Hou jy van Andrew?”

      “Ja,


Скачать книгу