Tryna du Toit-omnibus 9. Tryna du Toit
– daar was iets wat ons moes bespreek. Ek sal jou later vertel.”
“Deesdae wemel die Kaap ook weer van Transvalers,” kla hy half in erns, half in luim. “’n Mens kan jou nie draai nie of jy loop in een vas. In elk geval, ek wou jou vra om een aand dié week saam met my te gaan eet en na ’n fliek of ’n opvoering toe te gaan. My ma se suster het saam met ons gekom om ’n rukkie te kuier en ek wil die kans gebruik om ’n bietjie rond te loop. Ek wil ook graag vir jou die deel van my manuskrip bring wat klaar is sodat jy dit kan lees – ek is nie so gelukkig met die storie nie. Miskien kan jy vir my raad gee.”
’n Skraal jong meisie van omtrent twintig met groot grysblou oë en ligbruin hare kom skamerig nader.
“Ek is jammer om te pla, meneer Louw, maar jy het belowe om pouse vir my daardie eenbedrywe van Fagan te gee.”
Koenraad glimlag vriendelik.
“Dis goed jy het my herinner, Lettie – om die waarheid te sê het dit my heeltemal ontgaan. As jy ’n oomblik hier wag, gaan ek dit dadelik haal.”
Terwyl hulle wag, vra Veronica wat die jong onderwyseres van haar eerste ervaring van skoolhou dink.
“Dit gaan nou baie beter, dankie,” sê Lettie skamerig. “Aan die begin was ek maar groen en baie senuweeagtig, maar almal is so gaaf en vriendelik dat ek al heeltemal tuis voel. Veral meneer Louw het my baie gehelp – ek dink regtig hy is ’n skat – hy is nooit te besig om ’n mens te help of raad te gee nie.”
Veronica kyk vlugtig na die meisie, getref deur die intonasie in haar stem. Die mooi blougrys oë is sag en blink en Veronica dink dat die meisie baie aantrekliker is as wat sy aan die begin gedink het. Sy sal moet oppas, dink sy met ’n tikkie humor, of sy is dalk vir Koenraad ook kwyt.
Sy sal haar tegniek met mans so ’n bietjie moet opskerp of sy sit een van die dae hoog en droog op die rak.
Hoofstuk 5
Woensdagmiddag is Veronica ná skool reguit na die kunslokaal waar Jacques du Pré se skilderye uitgestal word. Hy was besig om met ’n halfdosyn skoolmeisies te gesels toe sy inkom en het haar blykbaar nie opgemerk of herken nie. Terwyl sy wag dat hy klaarmaak, stap sy alleen in die vertrek rond en wonder watter een van die skilderye wat nog nie verkoop is nie, sy graag sal wil besit.
Tot haar verbasing en teleurstelling sien sy dat die meeste skilderye reeds die klein rooi etiket dra. Binne die eerste week het Jacques du Pré, op ’n paar werke na, reeds al sy skilderye verkoop! Sy is om sy ontwil bly dat hy so goed gedoen het, maar opnuut jammer dat sy nie daardie eerste middag reeds ’n skildery gekoop het nie. Sy het natuurlik toe nog nie geweet van die gelukkie wat haar te beurt sou val nie, maar met ekstra illustreerwerk sou sy die skade aan haar bankbalans redelik gou kon inhaal.
Soos die vorige keer word sy getref deur die lewenskragtigheid van die skilderye en die stemming wat elkeen weergee, en dit is byna met ’n gevoel van piëteit dat sy uiteindelik weer voor Sestien gaan staan. Die teerheid en onskuld van die meisie met die sagte oë, vol drome en vae verlangens, die illusie wat verdiep word deur die eensame bootjie teen die horison, ontroer haar opnuut. Om so te kan skilder – wat ’n kosbare gawe het die man nie ontvang nie!
Sy skrik wakker uit haar drome toe Jacques du Pré langs haar sê: “Middag, Veronica. Ek het jou nooit sien inkom nie.”
Sy draai met ’n glimlag na hom toe.
“Jy was besig. Ek het ook nie geweet of jy my sal herken as jy my weer sien nie.”
Daar is ’n glinstering in die donker oë.
“Natuurlik het ek jou herken! Ek is bly jy het gekom. Ek het al begin wonder of jy jou belofte gaan nakom.”
“Ek is ’n werkende vrou – dis my eerste vry middag. Maar ek is baie teleurgesteld. Ek het eintlik vanmiddag gekom om vir my ook ’n skildery uit te soek en nou sien ek byna almal is verkoop.”
“Jy mag nie teleurgesteld wees nie! As medekunstenaar behoort jy bly te wees dit het so voorspoedig met my gegaan.”
“Ek ís bly. Ek dink dis ’n wonderlike prestasie wat jy behaal het. Maar ek wou darem baie graag ook een van jou werke besit. Die paar wat oorbly is te groot vir my woonstel en ook nie wat ek sou gekies het as ek die eerste keuse gehad het nie.”
“Ek begin dadelik weer werk vir ’n volgende uitstalling,” troos hy haar. “Ek hou teen die einde van die jaar ’n uitstalling in Johannesburg, so as jy oor ’n paar maande nog so voel, kan jy vir jou een kom uitsoek. En vir my spesiale vriende gee ek gewoonlik ’n spesiale afslag,” eindig hy glimlaggend.
“Dis ’n belofte,” sê sy. “Die graagste van almal sou ek natuurlik vir Sestien wou gehad het. As die koper van plan sou verander …”
“Ek sal onthou,” belowe hy. “Maar ek dink nie jy moet daarop reken nie. Eintlik het ek die skildery vir Ingrid belowe, maar die koper is ’n ou vriend van haar en hy was so mal oor die skildery dat sy maar daarvan afgesien het. Sy het ’n baie sagte plekkie vir die man en ek glo nie sy sou dit aan iemand anders afgestaan het nie.”
Hy kyk na haar en vervolg met ’n glimlag. “As jy wil, kan ek jou sy adres gee, dan kan jy self met hom onderhandel.”
“Nee, dankie,” sê sy haastig. “In daardie geval sal ek my maar daarin moet berus.”
Hy nooi haar om te sit en trek vir hulle twee stoele in die een hoek van die vertrek reg. Gelukkig is dit ’n stil middag met min besoekers en hulle kan feitlik ongestoord gesels. Want toe hulle eenmaal begin praat, kan hulle nie weer ophou nie. Hulle gesels oor Jacques se werk en die inspirasie vir sy skilderye, en dwaal later af na die skilderkuns en kunstenaars oor die algemeen. Jacques vertel haar van sy jare oorsee, van die groot meesters onder wie hy studeer het, wat ’n worsteling dit was om erkenning te kry en hoe hy gedurig moes veg teen die versoeking om sy kuns te kommersialiseer. Maar hy het vasgehou aan sy ideale en vandag begin hy die vrugte pluk van die jare van opoffering en harde werk.
Dit was juis in die jare toe die stryd op sy kwaaiste was en die geldnood op sy hoogste dat hy Emile in Rome ontmoet het, en Emile se vriendskap en aanmoediging het op daardie tydstip vir hom baie beteken. Later in Londen het hulle die vriendskap hervat, maar toe het dit reeds heelwat makliker met hulle albei gegaan.
“Maar dis genoeg van myself,” breek hy sy vertelling af. “Nou gaan ons weer oor jou gesels. Na wat Emile my vertel het – hoe hard jy gewerk het en hoe jy alles opgeoffer het om jou ideale te verwesenlik, blykbaar selfs jou huwelik – het ek verwag om ’n medekunstenaar te vind. Een wat, as sy nog nie sukses bereik het nie, goed op pad sou wees om dit te doen. En hier kry ek ’n skooljuffrou wat so nou en dan vir tydverdryf ’n paar prentjies teken.”
Sy bloos effens maar sê glimlaggend: “Skoolhou is ook harde werk en ’n mens kan darem met die geld wat jy verdien ’n redelik ordentlike lewe lei.”
“Dit gee ek toe. Ek gee ook toe dat iemand soos jy ’n aanwins vir die onderwysberoep is en dat dit jammer is daar is nie meer van jou soort nie. Maar waarom ’n dilettant wees in jou vrye tyd – mooi, soetsappige prentjies teken wat nie regtig enige inspanning verg nie? Waarom lê jy jou nie op iets ernstigers toe nie? Wat het dan van al jou drome en ideale geword?”
Sy kyk hom ’n oomblik stilswyend aan. Dan sê sy skouerophalend: “Ons is nie almal genieë nie. Daar moet houthakkers en waterdraers ook wees.”
“Wie sê jy is nie ’n genie nie?”
“Ek het nog nooit daarna gestreef om een te wees nie,” antwoord sy. “My skilderwerk was maar net ’n drang om uiting te gee aan my gevoelens, my drome en gewaarwordinge. Dit was regtig ’n behoefte by my en – soos ek dikwels ’n bietjie teatraal vir Emile gesê het – net so ’n noodsaaklike deel van my lewe soos asemhaal. Ongelukkig het ek toe nie besef dat talent en harde werk nie dieselfde ding is nie, dat jy sonder talent jou vingers kan deurwerk en nooit sal presteer nie.”
“Wie het gesê jy het nie talent nie? Emile?”
Sy