Sarah du Pisanie Omnibus 10. Sarah du Pisanie
beslis tuisgebak. Wanneer laas het hy sulke beskuit geëet? Hy trek die bakkie nader en dompel een van die beskuite in die geurige koffie. Dit smaak heerlik!
Hy skuif agteroor en die eerste keer dink hy aan Sarie Wessels as mens. Hy wonder of sy dit self gebak het. Hy glo darem nie, sy het dit seker maar iewers gekoop. Hy eet nog een en ’n salige, tevrede gevoel kom lê in hom.
Die klokkie skril en Sarie kom vinnig by sy kantoor in, om met verbasing te sien dat hy al die beskuit opgeëet het. Sy gaan stil op die stoel sit en wag dat hy moet begin dikteer, maar hy beskou haar onderlangs en beduie dan ongeërg na die skinkbord.
“Dankie, dit was lekker.”
Sarie voel hoe haar mond oopgaan van skone verbasing. Sy skud haar kop ongelowig en probeer ’n stywe glimlag na haar lippe dwing.
“Het jy dit hier iewers gekoop?”
“Nee, my ma het dit gebak.”
“Bly jou ouers dan hier in die stad?”
“Nee.” Sarie sug en die verlate verlange kom lê in haar oë. “Nee … hulle woon in Suidwes.”
“O!” Hugo staar verbaas na die skugter oë wat nou so vol hartseer en verlange is. Die wit tande wat haar lip vasbyt, lyk soos blink pêreltjies en die kuiltjie in haar wang spring onweerstaanbaar.
Onverwags is hy sonder woorde en hy trek dus maar net sy werk nader en begin toonloos en egalig dikteer, maar die blou, hartseer oë bly heeldag voor hom.
Hy kyk die skraal, netjiese figuurtjie agterna toe sy by die deur uitstap en hy wonder hoekom sy dan hier is as sy so baie na haar mense verlang. Dit is seker maar geld wat haar verplig het om ver van haar geliefdes ’n heenkome te kom soek. Sy het darem naskoolse opleiding en is seker die geleerdste in die hele familie. Hy skud sy kop ongeduldig. Hy sal tog ’n nota maak dat hulle vir haar ’n bonus gee vir die tyd wat sy hier werk. Dit behoort vir haar heelwat te beteken.
Dit raak stil in die gebou en Hugo rek hom behaaglik uit. Hy is moeg. Dit was ’n lang, vermoeiende dag. Hy gaan ook nou maar halt roep. Hy is in elk geval so bekommerd oor Paul en Cynthia dat hy nie veel kan konsentreer nie.
’n Ruk later werp die sterk ligte van sy duur, Duitse motor ’n blink baan oor die pad en met verbasing sien Hugo hoe Sarie, toegeknoop in ’n bruin winterjas, onder die afdak van die bushalte uitkom en koes-koes teen die snerpende wind na die bus draf.
Hugo knip sy oë en kyk weer. Dit ís mos Sarie Wessels. Sou sy dan nou eers klaargekry het in die kantoor? Sy kon maar van die werk gelos het tot môre. ’n Fyn stekie van skaamte dring deur na sy hart. Hy het darem vanoggend onnodig ’n bohaai opgeskop oor die ou brief wat glad nie so belangrik was nie. Sy sal dit seker nie weer waag om ’n brief te laat oorstaan tot die volgende dag nie.
Hy trap die brandstofpedaal dieper in en haal sy skouers ongeërg op. Wel, sy het die geld nodig en moet dit maar op die harde manier verdien. Die skraal figuurtjie in die bruin jas kom druk egter kort-kort hardnekkig voor sy geestesoog in …
Klein Karltjie en Annemie kom hom vrolik tegemoet toe hy die voordeur vinnig agter hom toedruk.
“Hallo, oom Hugo!”
“Goeienaand, julle twee. Hoe gaan dit met ons groot seun en oom se oulike klein aspatat?”
“Oom Hugo, Karl baklei met my.”
“Maar sy is stout, oom Hugo. Sy …”
Hugo lag en tel vir Annemie op. Die skatlike twee kleingoed van sy broer het sommer diep in sy hart kom kruip.
“Vanaand kan ek nog saam eet. Ander aande slaap julle al.”
Hy trek sy jas uit en gooi dit oor die leuning van die rusbank. Dan stap hy na die kaggel en maak sy hande voor die knetterende vuurtjie warm.
“Is Pappa nog by die hospitaal?”
“Ja, oom Hugo. Pappa het gesê hy sal vanaand baie laat terugkom. Hy wil lank by Mamma bly.”
Annemie kom weer nader en sit haar armpies om sy lang been terwyl sy haar koppie styf teen hom vasdruk.
“Wanneer kom Mamma, oom Hugo?”
“Een van die dae, my skapie. Oom dokter gaan môre Mamma se seer uithaal en dan moet sy net so ’n rukkie in die hospitaal bly sodat sy heeltemal gesond kan word.”
“Oom Hugo, is Mamma baie bang?” Karltjie beskou hom skewekop met vyfjarige wysheid in die bruin ogies.
“Ek dink sy is ’n bietjie bang. Dit is hoekom Pappa vanaand by haar wil bly.”
“Meneer Kritzinger …” ’n Mollige, vriendelike vroutjie verskyn verskonend in die middeldeur.
“Ja, mevrou Visser?”
“Die kinders moet kom eet sodat hulle kan gaan slaap.”
“Ek sal sommer vanaand saam met hulle eet, mevrou. Ek dink hulle is ’n bietjie onseker omdat hul ouers nie een vanaand hier is nie.”
Klein Annemie hardloop met uitgestrekte armpies na die moederlike vroutjie, wat haar vinnig optel en styf teen haar vasdruk.
“Goed, meneer Kritzinger.”
Hugo dink met dankbaarheid aan mevrou Visser toe hy met die trap opstap om sy hande te gaan was. Sy is al die afgelope tien jaar sy huishoudster en kok. Dit is dus geen probleem om vir Paul en die kinders huisvesting te bied terwyl Cynthia hier in die hospitaal is nie.
Arme Paul, hy en Cynthia is tog so gelukkig en so lief vir mekaar. Hierdie operasie is vir hom soos die swaard van Damokles. Dit is ’n uiters delikate rugoperasie met ’n baie lang hersteltydperk.
Paul kon die kinders nie by sy skoonouers laat nie, aangesien sy skoonma self nie te gesond is nie. Cynthia wou ook bitter graag die kinders naby haar hê. Mevrou Visser is gelukkig heeltemal gewillig om na hulle om te sien terwyl Paul bedags by die hospitaal is.
Annemie se koppie knik oor haar bord en Hugo roep na mevrou Visser om haar maar in die bed te gaan sit.
Karltjie gesels soos ’n grootmens en wag totdat Hugo sy koffie klaar gedrink het voordat hy aankondig dat hy ook wil gaan slaap.
Hugo sit stil en alleen voor die knetterende vuurtjie. Hy moes ook lankal getrou het, sodat hy ook nou al kleingoed van sy eie kon hê. Alice Sullivan was juis verlede week weer hier in die Kaap vir ’n kort besoekie.
Geen vrou het hom egter al ooit betower nie. Hierdie groot liefdes is ook sommer bog, hy glo nie daaraan nie.
Hugo staar afgetrokke in die gloeiende kole. Hy sal seker die een of ander tyd die sakie ernstig moet oorweeg. Tot dusver was hy getroud met sy werk, en dit het hom voldoende plesier verskaf.
Hy dink halfhartig aan die vroue in sy sosiale kring, maar hulle is almal koud en gierig en hy sien nie vir een van hulle kans nie. Netnou beland hy onwetend in ’n valstrik vir die res van sy lewe en dan is sy nie eens bereid om vir hom ’n baba in die lewe te bring nie.
Dit is baie laat voordat Paul eindelik moeg en bekommerd huis toe kom.
“Hoe gaan dit met Cynthia?”
“Sy is moeg en baie bang, Hugo. Ek is so bekommerd.”
“Ag, alles sal regkom. Sy is by die heel beste chirurg in die land.”
“Ek weet, maar nogtans is hierdie dinge nie in ons hande nie.”
Hugo staan op en gooi vir Paul ’n drankie in. Paul neem dit met ’n afgetrokke “dankie” en staar dan weer bedruk en bekommerd voor hom in die vuur.
“Die kinders het al gaan slaap. Hulle kan die spanning aanvoel. Karltjie wil dan glad weet of Cynthia bang is.”
“Ek dink Cynthia is meer bekommerd oor die kinders as oor haarself.” Paul glimlag skeef.
“Sy is ’n goeie en wonderlike ma, Paul. Ek wonder of ’n mens nog van haar soort kry.”
“Ja.”