Sarah du Pisanie Omnibus 10. Sarah du Pisanie
geaardheid.”
“Het jy al geëet, Paul?”
“Ja, sommer daar by die hospitaal.”
“Ek dink jy moet maar liewer gaan slaap. Môre lê daar vir jou ’n lang dag voor.”
“Hugo, ek wil nogmaals vir jou baie dankie sê vir die aanbod om hier te kan kom bly en die feit dat ek die kinders kon saambring. Dit beteken vir Cynthia geweldig baie.”
“Dit is alles in die haak, ou broer. Mevrou Visser is ’n juweel en sy weet net hoe om hulle te hanteer. Ek sien klein Annemie is klaar heeltemal versot op haar.”
Hugo kan nie aan die slaap raak nie. Paul se bekommerde gesig bly voor hom. Hy en Paul is tog baie geheg aan mekaar. Hulle verskil net drie jaar in ouderdom en het albei hul ouers nege jaar gelede in ’n motorongeluk verloor.
Paul is ’n medikus, maar hy het twee maande verlof geneem om tydens die operasie en hersteltydperk naby Cynthia te wees. Hugo kan Paul se kommer baie goed verstaan, want hy en Cynthia is baie lief vir mekaar en daar is so ’n mooi verhouding tussen hulle en die kinders.
’n Stil verlatenheid bekruip Hugo in die donker. Dit moet wonderlik wees om iemand te hê wat jou so liefhet soos Cynthia vir Paul. ’n Mens sal nie anders kan as om liefde en toewyding terug te gee nie.
Sy gedagtes dwaal na Alice Sullivan, maar hy kan haar nie in die rol van toegewyde ma en tuisteskepper sien nie. Sy is dol op plesier en partytjies. Miskien oordeel hy haar verkeerd. Sy is intelligente en aangename geselskap, en dalk het sy net die regte man nodig om haar te stimuleer …
Die wekker skril en met ’n skok spring Hugo uit die bed. Hy sal moet roer, want daar is vanoggend om nege-uur ’n direksievergadering. Hy wil nog voor die tyd ook ’n paar sakies op kantoor nagaan.
Vinnig stort hy en sonder om koffie te drink, vertrek hy.
Normaalweg eet hy nie ontbyt by die huis nie, aangesien hy soggens so vroeg al op pad is. Hy het dit ook al jare gelede vir mevrou Visser gesê, sodat sy nie so vroeg hoef op te staan nie. ’n Koppie koffie is heeltemal voldoende. Vroeër het hy sommer soggens iets by die kafeteria geëet, maar deur die jare het hy heeltemal afgeleer om ontbyt te eet.
Dit is dus vir hom baie aangenaam om soggens ’n skinkbordjie met heerlike, suiwer koffie en warm melk op sy lessenaar te kry. Hy moet tog onthou om vir mevrou Van Heerden te vra om dit ook te doen wanneer sy terug is.
Die afgelope paar oggende sit die klein Suidwestertjie dan glad vir hom beskuit ook op die skinkbord! Hy loer na sy beeld in die truspieëltjie en snork verontwaardig. Blouwildebees! Sy sal haar darem wat verbeel!
Die kantoor is stil en verlate toe Hugo instap. Ongeduldigheid kom kriewel op die krop van sy maag. Hy is nou regtig lus vir ’n koppie koffie en nou is die skepseltjie nog nie hier nie.
Onvergenoeg loer hy op sy horlosie en sien dat dit darem nou eers agtuur is. In alle regverdigheid kan hy nie verwag sy moet nog voor haar amptelike kantoortyd inval nie, maar die hele oggend voel nou sommer omgekrap en vaal. Ongeduldig krap hy tussen sy papiere om sy gegewens vir die vergadering bymekaar te kry.
Hy sien die deur se knop draai en dan skuif ’n ligblou agterstewetjie stadig om die deur. Sy draai haar lyfie versigtig sodat die skinkbord nie uit haar hande gly nie en konsentreer só dat sy hom eers agter die lessenaar sien sit toe sy al halfpad die vertrek in is.
“M … môre, meneer Kritzinger.” Verskrik kom sy tot stilstand en lag dan verleë. “Ek het nie geweet u is al hier nie, anders sou ek darem geklop het.”
“Dit sal die beste wees, juffrou. Ek kan dalk met kliënte besig wees.”
’n Dowwe rooi gloed sprei stadig oor Sarie se gesig en verleë sit sy die skinkbord op die tafel neer.
Hugo sien die bakkie beskuit en kyk half ongemaklik na die verleë, skaam gesiggie. Skielik skuif die beeld in die bruin jas, in die snerpende koue, weer voor sy geestesoog verby.
“Die beskuit is baie lekker, juffrou, maar ek sal jou graag daarvoor wil betaal. Ek kan darem nie jou beskuit opeet nie.”
Sy skud haar kop verbaas, ongelowig. “O, nee! Ek sal nooit geld daarvoor aanvaar nie. Ek het baie daarvan.”
“Wel, dit is vir jóú bedoel.” Hugo vroetel in sy agtersak vir sy beursie en Sarie staan verskrik agteruit.
“Asseblief, meneer Kritzinger. Ek kan dit nooit aanvaar nie. Ek het dit nie só bedoel nie. Ek … ek het regtig baie …” Sy lag verleë. “Ek meen beskuit, nie geld nie, maar nietemin … Meneer ken nie vir moeder Saartjie nie, sy bak altyd vir almal.”
Sy sê dit so asof hy regtig vir moeder Saartjie behoort te ken. Skielik wens hy dat hy haar tog geken het, vir haar en hierdie mooi kind met die stilte van die veld in haar blou oë.
Hy laat sy hand stadig sak en kyk diep in die helderblou oë. Sy is waarlik ernstig. Sy beskou dit as ’n belediging dat hy haar hiervoor wil betaal. Ongeërg haal hy sy skouers op en buk af om sy papiere uit sy tas te haal.
Sarie stap vinnig by die kantoor uit, die verleentheid twee brandende, rooi kolle hoog op haar wangbene.
Wat dink die man van haar? Dink hy werklik sy sal vir hom beskuit bring en dan verwag dat hy daarvoor moet betaal? Of dink hy dalk sy raak opdringerig omdat sy een dag blomme op sy lessenaar gesit het en toe vir hom van haar beskuit saam met sy koffie gegee het?
Sy draai ’n vel papier in die tikmasjien en staar moedeloos daarna. Die trane verdof alles voor haar en sy het baie lus en laat sak haar kop op haar arms en huil haar hart uit. Haar vingers rus liggies op die toetse terwyl sy verslae na die geel margrietjies kyk wat vanoggend nie meer so vars en vrolik lyk nie. Wat ’n snaakse mens is hy tog! Sy hele denke en bestaan draai om geld en werk. Dat hy sowaar die vermetelheid het om haar vir die beskuit te wil betaal! Hy is nors en afsydig en wil niks aan iemand anders verskuldig wees nie. Hy is seker bereid om haar ’n bonus te betaal vir die tydjie wat sy hier uitgehelp het, maar hy is nie bereid om net een keer dankie te sê dat sy saans ure oortyd werk en dan in die koue en donker met die bus moet huis toe gaan nie. Geld onthef hom blykbaar van alle verpligtinge.
Sy sug en haal haar skouers gelate op. Sy is al tien dae in hierdie kantoor en sy bid nou vuriglik dat mevrou Van Heerden tog net moet terugkom.
Die klokkie skril op haar lessenaar en sy stap onwillig na die groot kantoor.
Hugo dikteer vinnig en hou sy horlosie kort-kort dop. Sarie se vingers beweeg rats oor die papier, maar haar gedagtes loop ver paaie oor Suidwes se uitgestrekte vlaktes.
“Ek het ’n direksievergadering, maar ek sal net ná middagete terug wees op kantoor. Neem maar alle boodskappe en sit dit hier op my lessenaar neer.”
“Ja, meneer Kritzinger.”
Sarie werk rustig en ontspanne terwyl Hugo by die vergadering is. Sy wens dit kon meer dikwels gebeur.
Die oggend is nog nie halfpad nie, toe pak sy die klaar getikte briewe netjies op ’n hopie en maak haar tikmasjien toe. Haar werk is alles op datum, maar meneer sal seker netnou weer ’n klomp werk hier kom aflaai wat sy eers môreoggend sal klaarkry. Maar sy het reeds besluit dat sy nie meer saans later as agtuur gaan werk nie; sy is bang om so laat alleen by die bushalte te wag.
Die telefoon lui hard en sy rek ver oor om die gehoorbuis op te tel.
“Meneer Kritzinger se kantoor. Juffrou Wessels wat praat.”
“Ag, juffroutjie …” Sarie druk die gehoorbuis vas teen haar oor. Die stemmetjie aan die ander kant is kortasem en vol pyn.
“Ja, dame?”
“Dit is mevrou Visser hier … meneer Kritzinger se huishoudster. Ek … ek moet dringend met hom praat.”
“Hy is op die oomblik by ’n direksievergadering, mevrou Visser. Kan ek hom vra om u dadelik te bel sodra hy terug is?”
“Juffroutjie, dit is baie dringend. Kan jy hom nie maar vir