Sarah du Pisanie Omnibus 10. Sarah du Pisanie

Sarah du Pisanie Omnibus 10 - Sarah du Pisanie


Скачать книгу
oop en soek gou al die nodige bestanddele.

      Gelukkig spoor sy alles maklik op.

      “Juffrou … e … ek gaan gewoonlik saans vyfuur van diens af.” Gladys trek haar oorjas uit en staan onseker rond. “Ek skil vroegmiddag die groente en dan gaan ek huis toe. Ek woon ’n hele entjie hiervandaan en moet nog ’n bus haal …”

      “Ag, Gladys, ek is jammer! Hoekom het jy nie eerder gesê nie? Ek kon mos self die groente geskil het. Jy moet dadelik gaan.”

      “Ek wil darem nie vir juffrou so alleen los in die vreemde huis nie.”

      “Nee, aarde, Gladys! Dit is al amper halfagt – jy moet regtig nou gaan.”

      “Dankie, juffrou.” Sy tel haar handsak op, maar draai dan eers weer om voordat sy by die deur kom. “Is daar regtig niks anders wat ek vir juffrou kan doen nie? Ek het die tafel gedek. As dit baie laat geword het, het mevrou Visser sommer die kos in die louoond gesit en dan het meneer self vir hom kos ingeskep.”

      “Jy is nou net soos ’n broeis hen, Gladys – net soos my ma. Toe, draf nou, anders vang die spoke jou vanaand.” Sarie glimlag breed.

      “Nag, juffrou.”

      “Goeienag, Gladys, en baie dankie vir jou hulp.”

      Sarie skakel die plate af en sit die pastei in die louoond. Sy gaan eers die kinders in die bed sit en dan sal sy die slaai kom maak.

      Die kinders geniet die aandag en hou haar langer in die kamer as wat sy beplan het. Sy kan nêrens ’n Kinderbybel kry nie en vertel dus maar vir hulle die verhaal van Moses in die mandjie. Karl lê met groot oë en luister, sonder om kommentaar te lewer, en Sarie wonder ongemaklik of sy ouers ook saans vir hulle ’n stukkie uit die Bybel voorlees.

      “Sê julle gebedjies ook op?”

      “Ja, tannie. Mamma laat ons altyd gebedjies ook opsê.”

      Karl wip van die bed af en staan doodstil op sy knieë. Sarie besef dat sy hulle moet voorsê, maar skielik kan sy nie haar gebedjie uit haar kinderdae onthou nie en moet sy vinnig een uitdink.

      Vinnig knip sy die trane weg toe Annemie die gebedjie agterna lispel. Die pragtige kleinding! Hoe bekommerd moet hul ma nie vanaand oor hulle wees nie!

      In die kombuis beskou Sarie haar handewerk. Die kos is gereed en alles lyk keurig. Wel, sy glo nie hy sal hieroor kan kla nie. Die souskluitjies het sy heel laaste gemaak sodat dit nie te lank hoef te staan nie.

      Sy stap na die eetkamer om te kyk of alles daar ook reg is. Die pragtige swarthouttafel laat die enorme vertrek tot sy volle reg kom. Daar is seker plek vir veertien of meer mense aan die swaar tafel. Die eetgerei is van die beste gehalte en die fyn porselein is beslis baie duur en waardevol.

      Verbaas kyk sy na die gedekte plekke. Het mevrou Visser dan nie altyd saam met hulle geëet nie? Gladys het dan net twee plekke gedek. Vaagweg wonder sy wat hulle van haar verwag. Sal hulle dit as reg beskou as sy vir haar ook hier ’n plek dek?

      Sy stap na die kas om nog eetgerei te kry, maar staan dan vertwyfeld stil met die goed in haar hande. Snobisme ken sy nie. Dit is ’n verskynsel wat gelukkig nog nie sy kop in Suidwes uitgesteek het nie. Daar lewe die mens elke dag met gevaar en die uitgestrektheid van die vlaktes om hom – en na aan sy Skepper.

      Iets wat haar hier in die stad, en veral vandat sy Hugo Kritzinger se sekretaresse is, baie opgeval het, is dat ’n mens in ’n sekere groep afgebaken word na gelang van jou bankbalans.

      Sarie grinnik. Haar pa sal maklik met Hugo Kritzinger kan meeding waar dit by die grootte van sy bankbalans kom, maar wanneer ’n mens hom saam met sy vrou en kinders sien op wie hy so trots is, sal jy hom vir niks anders aansien as die boer wat hy is nie.

      Sy sit die eetgerei weer terug in die laai en stap kombuis toe.

      Hy kan haar maar nooi as hy wil hê sy moet saam met hulle eet. Sy het hom kom help, nie op sy tone kom trap en haar kom opdring waar sy dalk nie welkom is nie.

      ’n Klokkie lui hard in die kombuis en Sarie wip soos sy skrik. Sy het sowaar niemand gehoor inkom nie. Vinnig stap sy deur die lang gang na die sitkamer.

      ’n Groot man, so groot soos Hugo en met ’n bietjie meer grys in sy hare, staan voor die kaggel.

      “Goeienaand.” Sarie kom skugter nader.

      “Goeienaand, dame. Ek is bevrees ek ken jou nie …”

      “Is u meneer Kritzinger? Meneer Hugo Kritzinger se broer?”

      “Ja.”

      “Ek is Sarie Wessels. Mevrou Visser het onverwags siek geword en meneer Kritzinger het my hiernatoe gebring om na die kinders en die huishouding om te sien terwyl sy in die hospitaal is.”

      “Wat het gebeur?”

      Sarie sien die verbasing en ongeloof op die moeë gesig. “Wil u nie sit nie? U lyk so moeg.”

      “Dankie. Ek wou juis ’n koppie koffie by mevrou Visser bedel voordat ons eet. Ek is so dors.”

      “Ek gaan haal gou vir u koffie en dan sal ek u die hele storie kom vertel.”

      Terug in die sitkamer skink Sarie vir hom ’n koppie koffie terwyl sy in breë trekke vertel wat gebeur het.

      “Ek verstaan u vrou is vandag geopereer. Het die operasie goed afgeloop?”

      “Baie goed, dankie, juffrou. Sy is nog nie heeltemal onder verdowing uit nie. Die herstelproses is langsaam en dit sal seker ’n maand of so wees voordat sy ontslaan sal word. Maar sê my, hoe het Hugo jou so gou in die hande gekry?”

      “Goeienaand. Ek sien jy is terug, Paul,” praat Hugo skielik van die deur af. Hy trek sy jas uit en gooi dit oor die leuning van die bank.

      Sarie staan verleë rond. Sy wonder bekommerd of sy nie dalk gefouteer het deur hier in die sitkamer met Paul te sit en gesels nie, want Hugo ignoreer haar geheel en al.

      Vinnig mompel sy ’n verskoning en stap by die deur uit, maar sy is skaars in die kombuis toe die klokkie weer skril.

      Wel, ou Saartjie, jy sal jou draf van nou af moet ken! Moedertjie, nou waardeer ek jou eers. Sy praat gedemp met haarself en giggel toe sy dink hoe baie haar broers haar hieroor terg.

      Sy stap vinnig terug sitkamer toe en loer bedees om die deur.

      “Ja, meneer?”

      “Ek het skoon vergeet om kos te koop, juffrou Wessels. Jy sal nie dalk vir ons iets kan maak nie? Sommer net ’n eier en ’n stukkie koue vleis.”

      “Ek het reeds kos gemaak, meneer. Dit is gereed as u sommer nou wil eet.”

      “Asseblief.”

      Ewe belangrik lui sy die etensklokkie in die eetkamer om die ete aan te kondig. As hulle spoggerig wil wees, weet sy darem hoe dit gedoen moet word! Sy wonder of sy veronderstel is om kersregop langs die muur te staan sodat sy die menere kan bedien. Sy snuif verontwaardig. Hugo Kritzinger het beslis ’n paar lesse in nederigheid nodig.

      Paul kom eerste in en slaan sy arm gemoedelik om haar skouers.

      “Hugo sê jy is sy sekretaresse.”

      “Aflos-sekretaresse.”

      “Aflos of nie, ek sê in elk geval vir jou baie, baie dankie, juffrou Wessels.” Paul se mond vertrek in ’n breë glimlag en hy knipoog ondeund vir haar. “Ek weet nie wat ons sonder jou sou gedoen het nie.”

      “Ag, dit is ’n plesier. Ons is tog hier om mekaar te help. Die kleingoed is pragtig en dit sal heerlik wees om ’n rukkie na hulle te kyk.” Sy buig oor na Paul se kant en fluister agter haar hand: “Dit is baie lekkerder as kantoorwerk.”

      Hugo, wat vinnig by die eetkamer inkom, kyk afkeurend na Sarie wat breed met Paul glimlag. Sonder om ’n woord te sê, gaan sit hy op sy plek en dit is Paul wat verbaas na die leë plek oorkant hom kyk.

      “Eet


Скачать книгу