Sarah du Pisanie Omnibus 10. Sarah du Pisanie

Sarah du Pisanie Omnibus 10 - Sarah du Pisanie


Скачать книгу
…” Sarie hoor hoe die vrou hardop steun.

      “Kan ek nie dalk iets vir u doen nie, mevrou Visser?”

      “Ek … ek het baie pyn, juffrou, en … en ek moet na die kinders kyk …”

      “Mevrou, roep iemand anders na die telefoon sodat ons kan besluit wat om te doen.”

      “Juffroutjie, ek is alleen in die huis … Dit is net die tuinier wat ook hier is.”

      “Mevrou, wie is u dokter? Ek kan hom bel en vra om na u uit te kom.”

      “Dokter Gründling …”

      “Mevrou Visser, wat is die probleem? Het u ’n ongeluk gehad?” Die angstigheid slaan deur in Sarie se stem.

      “Nee … nee, dit is net die vreeslikste pyn in my sy. Ek is al twee dae siekerig, maar nou het die pyn net ondraaglik geword. En die kinders …”

      “Mevrou, bly naby die telefoon. Ek sal tog probeer om meneer Kritzinger in die hande te kry.”

      Sarie plak die gehoorbuis op die mikkie neer en hardloop na die tiksterlokaal. Vinnig storm sy op juffrou Van der Walt af en praat dringend in ’n fluisterstem terwyl haar hande saam beduie.

      “Wie is die kinders?” Die kommer trek juffrou Van der Walt se ogies behoorlik toe, sodat dit soos twee swart kraletjies deur die dik brillense na Sarie loer. “Ek weet nie, juffrou, maar die vrou klink baie ontsteld en vol pyn.”

      “Ek weet dat mevrou Visser sy huishoudster is, al baie jare … maar van kinders weet ek niks nie.”

      Juffrou Van der Walt neem Sarie aan die arm en stap saam met haar af in die gang tot by die direksiekamer.

      “Jy sal maar moet klop en hom laat roep. Daar is geen ander uitweg nie. Ek wag hier langsaan vir jou.”

      “Ag, juffrou, bly asseblief hier by my.”

      “Nee, dit sal goed gaan. Jy kan niks anders doen nie. Hy sal jou kwalik neem as jy hom nie laat roep nie.”

      Bewerig klop Sarie aan die swaar deur. Sy wag ’n rukkie en klop dan weer, hierdie keer ’n bietjie harder.

      Die gemurmel van stemme is dofweg hoorbaar agter die swaar deur. Dan swaai die deur geluidloos oop. ’n Vriendelike, ouerige man, wat sy al vantevore in die gange opgemerk het, loer om die deur.

      “Meneer, ek moet meneer Kritzinger dringend spreek.”

      “Sekerlik … wie, moet ek sê, wil met hom praat?”

      “Juffrou Wessels.”

      “Verskoon tog, menere. Juffrou Wessels wil asseblief dringend met meneer Kritzinger praat.”

      Sarie kan van die gemompel aan die binnekant aflei dat daar seker nou vreeslik onvleiende dinge van haar gesê word.

      Sy staan handewringend voor haar op die dik mat en kyk, toe sy gesig skielik soos ’n donker wolk om die deur verskyn.

      Hy trek die deur gevaarlik sag agter hom toe, vat haar stewig aan die arm en sleep haar die gang af, weg van die deur af.

      “Wat is dit? As jy my vandag vir ’n onbenulligheid kom steur het, kan jy maar jou goedjies gaan inpak.”

      Sarie sug, bang en bewerig. “Meneer …” Sy lek oor haar droë lippe.

      Hy praat nie, staar haar net woedend en onvriendelik aan. Sy maak liggies keel skoon en probeer weer. “Meneer, daar het ’n mevrou Visser gebel. Sy klink baie siek. Sy sê … sy sê sy het geweldig pyn en … en sy is meneer se huishoudster en ek wou die dokter vir haar bel, maar sy praat van kinders … Ek weet nie mooi waaroor dit alles gaan nie, maar sy wou baie dringend met meneer praat.”

      Hugo staar haar geskok aan toe sy stilbly en stap dan vinnig by haar verby na sy kantoor.

      Sarie hardloop agterna en kom uitasem agter hom tot stilstand waar hy hulpeloos voor die telefoon staan.

      “As meneer vir my die nommer gee, sal ek huis toe bel.”

      Hy rits die nommer af en met verligting hoor Sarie mevrou Visser se pynvervulde stemmetjie aan die ander kant.

      “Mevrou Visser, hier is meneer Kritzinger nou.” Sy gee die gehoorbuis met ’n kopknik vir hom aan.

      Sarie sien die kommer op sy gesig in verslaentheid verander en sy wens dat hy meer van haar gehou het sodat sy kon aanbied om te help.

      Hugo sit die gehoorbuis ná ’n rukkie asof in ’n dwaal neer.

      “Is daar iets waarmee ek kan help, meneer Kritzinger?”

      Hy antwoord haar nie, maar verdwyn in sy eie kantoor om omtrent dadelik weer te voorskyn te kom en by die deur uit te storm.

      Juffrou Van der Walt se skraal gesig loer bekommerd om die deur. “Wat gaan nou hier aan?” Haar stem klink skoon angstig.

      “Ek weet nie, juffrou. Hy is so vinnig hier uit … hy het niks gesê nie.”

      Sarie is te bekommerd om uit die kantoor te gaan. Sy is bang Hugo het haar nodig of bel dalk en dan is sy nie daar nie. Etenstyd gaan koop sy dus vir haar ’n toebroodjie, wat sy sommer in die kantoor eet.

      Sy is ook net terug, toe skril die telefoon en dit is Hugo se stem wat moeg en moedeloos oor die verbinding aangesweef kom.

      “Juffrou Wessels, sal jy asseblief vir my al die werkverskaffingsagente bel en vra hulle moet vir my ’n huishoudster in die hande kry wat vandag nog kan begin? Sy moet baie betroubaar wees, want sy moet ten minste ’n maand lank my broer se twee kinders versorg. En sy moet kan kook.”

      “Ja, meneer.” Sarie wag dat hy die gesprek moet beëindig, maar sy hoor sy harde asemhaling nog in die gehoorbuis. “Nog iets, meneer?”

      “Nee, juffrou.” Sy stem klink ver en toonloos. “Ek sal probeer om oor ’n rukkie weer op kantoor te wees.”

      4

      Sarie sit met die gehoorbuis in haar hand toe Hugo omtrent ’n uur later die kantoor binnestorm.

      “Het jy iemand gekry?”

      “Ek het almal gebel, meneer.” Sarie skud haar kop ontkennend. “Daar is vir elke beroep iemand beskikbaar, buiten ’n huishoudster.”

      “Gee hier.” Hy gryp die gehoorbuis uit haar hand en Sarie druk ongeërg die lys met name en telefoonnommers vorentoe.

      “Ek sou daardie een …” en sy beduie met haar potlood na ’n naam derde op die lys, “teruggebel het. Daar bestaan ’n vae moontlikheid dat hulle iemand kan kry.”

      Hugo skakel die nommer en trommel met sy vingers op die lessenaar terwyl hy wag dat iemand antwoord gee.

      “Ek doen navraag in verband met die huishoudster waaroor my sekretaresse gebel het. Het julle al iets uitgevind?”

      Sarie sien hoe die frons op sy voorkop verdiep.

      “Watse soort organisasie is julle dan dat julle ’n mens nie eens met iemand in so ’n eenvoudige beroepsrigting kan help nie?”

      Hy luister nie verder na die persoon se verduideliking nie, maar plak die gehoorbuis ongeskik op die mikkie neer.

      “Is … is dit iets ernstigs, meneer?”

      Hugo knik. “Akute blindederm. Sy sal dalk ’n maand lank nie weer kan werk nie.”

      Hy kap met sy vuis op die lessenaar uit magtelose, ongeduldige frustrasie. “Dit is net die kinders …”

      Hugo stap na sy kantoor en gaan sit agter sy groot lessenaar met sy kop in sy hande, ’n toonbeeld van moedeloosheid.

      Sarie maak vinnig ’n bietjie koffie en stap dan met die skinkbordjie na hom toe. Sy sit die skinkbord op die lessenaar neer en skink self vir hom ’n koppie koffie, wat sy stil voor hom neersit.

      “Meneer


Скачать книгу