Sarah du Pisanie Omnibus 10. Sarah du Pisanie
se moed wil haar begewe, maar sy druk deur. “Ek … ek kan kook, meneer Kritzinger.”
Hugo kyk verbaas op in die helderblou oë wat hom so reguit en opreg aanstaar. Hy antwoord haar nie, maar slaan net magteloos met sy hand op die lessenaar. Sarie dink dat hy haar dalk nie gehoor het nie en herhaal skamerig: “Ek kan regtig kook, meneer Kritzinger. As u regtig nie ’n ander uitweg sien nie, kan u ’n tydelike sekretaresse deur middel van die werkverskaffingsagent in diens neem en ek kan vir u huishou totdat u iemand anders kan kry …”
“Jy is tog seker nie ernstig nie, juffrou?” Ongelowig, onbegrypend staar Hugo na die skraal skepseltjie met die los bollatjie op haar kop.
“Wel, darem gewillig!” Sarie strek haar tot haar volle lengte uit en staar hom uit die hoogte aan.
“Nee, nee, ek kan dit nooit doen nie.” Hugo skud sy kop ongelowig en staar dan weer nors voor hom uit.
Sarie haal haar skouers ongeërg op. Haar mond en sagte hart het haar amper weer in ’n ding laat beland. Gelukkig lyk dit darem nie of hy daarvoor kans sien nie. Maar sy is net soos haar ma, altyd gewillig om te help; al is dit ook tot nadeel van haarself. Sy draai om en stap kop in die lug na die deur.
“Juffrou!”
“Ja, meneer?” Sarie draai stadig om.
“Juffrou … e … al kan jy net vir my na die kinders kyk totdat … totdat ons ’n ander plan kan maak … Ons kan maar smiddae in ’n restaurant gaan eet …”
“Meneer Kritzinger, ek kán kook.” Sarie kom stadig nader, haar gramskap klaar weer vergete. “Ek is ’n beter kok as wat ek ’n sekretaresse is. Hoeveel kinders is daar? Ek … ek sal dalk nie baie van hulle kan hanteer nie …”
“Net twee, juffrou. Hulle is drie en vyf jaar oud. My broer se kinders. Hul ma is in die hospitaal hier in Kaapstad vir ’n baie delikate rugoperasie en my broer wil soveel moontlik by haar wees. Sy wil ook graag die kinders hier naby haar hê.”
Hy kyk nie na Sarie nie, maar sy weet dat dit vir hom bitter moeilik is om vir haar ’n guns te vra.
“Twee sal ek kan hanteer, maar sal meneer regkom hier in die kantoor? Ek bedoel …” Sarie gee hom haar sonskynglimlag wat tot diep in haar oë kruip.
Hugo kyk stadig op en sy oë is meteens nie meer so kwaai en veroordelend soos gewoonlik nie. Hy was teenoor hierdie meisiekind nog net ongeduldig en ongeskik, en nou bied sy aan om hóm te help!
“Juffrou Wessels, ek sal jou ’n dubbele salaris betaal solank jy my by die huis uithelp.”
“Dit sal nie nodig wees nie. Ek sal net nie graag my verlof hiervoor wil inboet nie. Ag, ek weet dit klink vreeslik selfsugtig, maar ek sien so uit daarna om huis toe te gaan. Ek verlang so …”
Sarie bloos bloedrooi oor haar selfsugtige woorde en Hugo kyk met verbasing na die skoon, ongekunstelde gesiggie.
“Nee, dit sal regtig nie nodig wees nie, juffrou.”
“Moet ek die werkverskaffingsagent bel en reëlings tref vir ’n sekretaresse?”
“Nee, toemaar, ek sal dit môreoggend sommer hier tussen ons mense reël en vir juffrou Van der Walt inlig oor die nuwe verwikkelinge.”
“U sal vir my die adres moet gee, asseblief. Hoe laat moet ek môre daar wees?”
“Juffrou … e … dit sal nie dalk vir jou moontlik wees om by die huis in te trek tot tyd en wyl nie?” Hugo frons bekommerd.
“Ag, natuurlik, ja! Ek is ook maar dom.”
“Mevrou Visser het sommer in die kamer langs die kinders geslaap sodat sy byderhand kan wees. Maar as jy nie kans sien nie, sal ek dit doen. Dit is net … ons is taamlik ver uit die stad en ons gaan soggens so vroeg uit die huis uit …”
Hugo stotter en stamel soos ’n jong skoolseun en Sarie kry hom onverwags jammer.
“Dit is alles in die haak, meneer Kritzinger. Dit sal lekker wees om weer ’n slag in ’n huis te woon en nie in ’n hokkie op die vyfde verdieping nie,” verseker sy hom glimlaggend.
“As jy wil, sal ek jou gou na jou woonstel neem sodat jy jou goedjies kan kry, dan kan ek jou sommer vandag nog na my huis neem.” Hugo kyk op sy horlosie.
“Goed.”
“Ek sal môre alles aan juffrou Van der Walt verduidelik sodat hulle darem nie dink ek het jou weggejaag nie …”
Sy stem is sag en tergerig en Sarie kyk verwonderd na die fyn plooitjies om sy mond wat amper-amper glimlag.
In haar woonstel pak Sarie vinnig ’n paar goedjies in ’n tas en gaan staan skielik stil in die middel van die kamer. Sy sal haar ouers moet bel en alles aan hulle verduidelik.
Sy draf telefoon toe en skakel vinnig die nommer. “Otavi!” Die stem sing die woordjie uit.
“Hallo, Lettie, dit is Sarie hier. Sit my gou deur na my mahulle toe, asseblief.”
“Gaan dit goed daar in die stad?”
“Lekker, dankie.”
“Drie-een-vier-nul.”
“Hallo, Mamma! Hoe gaan dit?”
“My poppie! Skort daar iets? Hoekom bel jy so in die middel van die week?”
Skielik klink die hele storie vir Sarie deurmekaar en verkeerd. Sy wil by haar baas gaan bly en sy kinders oppas en daar is nie eens ’n vrou in die huis nie! Het sy nie weer haar mond verbygepraat nie?
“Mams, ek sal ’n paar dae nie in die woonstel wees nie. ’n Vroutjie het siek geword en ek gaan na haar kinders kyk. Ek skryf vanaand nog vir Mamma om alles te verduidelik.”
“Alles reg, my kind. Mamma is trots op jou … jy is nog altyd ons ou mensie wat almal se nood raaksien en oral help.”
Die trane loop ongehinderd oor Sarie se wange. Dierbare Mams, wat nie eens een keer daaraan sal twyfel dat haar dogtertjie se oordeel dalk verkeerd kan wees nie!
“Mamma, ek is lief vir jou.”
“En ons vir jou, my poplap.”
“Sê groete vir Pappa en baie soentjies vir almal.”
“Tatta, my kind. Jy moet gou skryf. Ek sterf van nuuskierigheid.”
“Ek sal, Mams, tatta!”
Sarie sit die gehoorbuis vinnig neer en gryp die groot tas. Sy draf skeef-skeef tot by die hysbak.
Hugo sien haar uit die hysbak stap en klim vinnig uit die motor om die tas by haar te neem.
“Ek is jammer ek het so lank gedraai, maar ek moes net eers gou my ouers bel; anders raak hulle bekommerd as hulle Sondag bel en ek is nie tuis nie.”
“Wat sê hulle?” Hugo frons en sit ’n oomblik met sy hande op die stuurwiel voordat hy na haar draai. “Is hulle nie onrustig omdat jy by wildvreemde mense gaan bly en kinders oppas nie?”
“Nee … ek glo nie. Ek het gesê ek sal vanaand vir hulle skryf en alles verduidelik. Met die plaaslyne is ’n mens se gesprekke nie juis baie privaat nie.” Sarie glimlag vir hom. “Moeder Saartjie is enig in haar soort. Sy soek net altyd mense om te help en te versorg. Sy sê sy is trots op my omdat ek bereid is om ’n siek vrou se kinders te gaan oppas.”
Hugo skakel die motor aan en hulle ry in stilte die entjie na sy huis.
By ’n imposante herehuis se hekke draai hulle in. Sarie sit regop en staar bewonderend om haar. Hulle ry met die rylaan op tussen netjies versorgde grasperke en struike deur en dan hou Hugo voor die groot dubbelverdiepinghuis stil.
Rykdom en weelde omvou haar toe sy die huis binnegaan, maar alles lyk koud en onpersoonlik en Sarie wens sy kon hierdie pragtige vertrekke onder hande neem; sy sou hulle laat lewe en sprankel.
“Oom