Sarah du Pisanie Omnibus 10. Sarah du Pisanie
kyk fronsend na Paul en Sarie weet sommer dat dit nog nooit by hom opgekom het om een van sy werknemers aan sy tafel te laat eet nie. Stadig dring dit darem tot hom deur dat Sarie hom eintlik ’n guns bewys deur as huishoudster waar te neem.
“Ja … ja, kry tog asseblief nog eetgerei en kom eet saam met ons.”
Hy sê dit so halfhartig dat Sarie amper uitbars van die lag. Sy kry nogtans die eetgerei en sit die geurige kos op die tafel. Onderlangs sien sy die verbasing op Hugo se gesig en sy kry lekker van kop tot tone.
Die hoenderpastei is nie naastenby so lekker soos wat sy dit gewoonlik maak nie, maar vanaand was ’n noodgeval en sy moes maar die kitsklaar een gebruik.
Hugo raak in ’n ernstige gesprek met Paul gewikkel oor Cynthia se operasie, maar Sarie sien met genoegdoening hoe hy ongemerk weer sy bord vol skep.
“Maggies! Souskluitjies!” Paul lyk soos ’n kind wat sy Kerskous oopmaak. “Wanneer laas het ek dít geëet?” Hy wag nie totdat sy vir almal klaar ingeskep het nie, maar steek die helfte van ’n kluitjie in sy mond die oomblik toe hy sy bakkie ontvang. “Hmm …” Hy knik goedkeurend vir haar. “Dit is héérlik! As jy so ’n goeie sekretaresse is soos wat jy ’n goeie kok is, steel ek jou voor Hugo se neus weg.”
Angstig kyk Sarie na Hugo. Sal hy nie ook maar ’n bietjie waardering uitspreek oor die kos nie? Hy eet egter in doodse stilte. Hy hou darem sy bakkie vir nog souskluitjies en aanvaar dit met ’n kale dankie.
Paul sit gemaklik agteroor. “Juffrou, is daar nog van daardie lekker koffie wat jy netnou vir my gegee het?”
Sarie glimlag. “Ja, daar is. Ek sal dit vir julle sitkamer toe bring as julle wil.”
Toe die mans uit is, dek sy vinnig die tafel af en sit die skinkbord reg vir die koffie.
Die mans is in ’n ernstige gesprek gewikkel toe sy inkom met die koffie. Sy skink vir hulle in en staan dan deur se kant toe om te gaan slaap.
“Gaan jy nie ook koffie drink nie?” Paul bekyk haar vriendelik en Sarie kan sy goedgesindheid aanvoel.
“Nee dankie. Ek is baie lief vir koffie, maar nie so laat in die aand nie.”
“Wel, ek moet sê dit is die lekkerste koffie wat ek nog gedrink het. Hoe maak jy dit?”
“Dit is iets wat die Suidwesters kan doen – koffie maak. Ons het dit by die Duitsers geleer.”
“Dan is jy ’n Suidwester?”
Sarie knik en beweeg deur toe. Hugo lyk so onvriendelik dat sy darem nie hier wil indring as sy nie welkom is nie.
“Sy kan regtig lekker koffie maak. Sy het my nou klaar bederf by die kantoor; ek weet nie hoe dit nóú sal gaan nie.”
Sarie se mond hang letterlik oop van verbasing. Dit is die eerste woord van waardering wat hy uitspreek vandat sy vir hom werk.
“Dankie, meneer Kritzinger.”
Sarie voel die verraderlike blos in haar wange opstoot en sy hoor Paul se sagte laggie.
“Ek hoop darem nie dit is die eerste keer dat jy vir haar sê haar koffie is lekker nie, Hugo?”
“Ek het darem al vir haar gesê die beskuit is heerlik.”
Hugo se gesig trek skeef in ’n amperse glimlag en Sarie staar hom eers net grootoog aan.
“Sal u my asseblief verskoon? Ek wil maar gaan inkruip,” kry sy dit darem verleë uit.
“Nag, juffrou Wes … Ag nee, wat het jy gesê is jou naam?” “Sarie, meneer.”
“Nag, Sarie, en my naam is Paul. Ek is maar ’n informele soort mens, hoor! Nogmaals baie dankie vir jou bereidwilligheid om hier te kom help.” Paul staan galant op en stap saam met haar tot by die deur.
“Goeienag.” Sy verdwyn vinnig, voordat sy weer in die donker, onleesbare oë van Hugo Kritzinger moet kyk.
5
Sarie skrik wakker en lê ’n oomblik doodstil. Sy weet nie of sy gedroom het en of iets haar wakker gemaak het nie.
“Mamma!”
Dié keer hoor sy dit duidelik: die sagte gehuil van ’n kind.
Sarie spring vinnig op en gryp haar kamerjas wat oor die stoel lê. Kaalvoet hardloop sy na die aangrensende kamer. Klein Annemie sit regop en vryf verdwaas haar ogies. Sy huil harder toe sy vir Sarie sien en vryf haar magie.
“Wat is dit, Annemie?” Sarie gaan sit eenkant op die bedjie en skakel die bedlampie aan. Voordat sy haar hande na die kind kan uitsteek, word die meisietjie met die wit haartjies naar, bo-oor die beddegoed en haar nagkleertjies.
“Ag, my poplap, is tannie se ou kindjie dan siek?”
Die kind huil nou hard en Sarie tel haar vinnig op en draf met haar na die badkamer.
Sy laat haar oor die toilet staan, net ingeval daar dalk ’n laat uitgawe ook is en maak solank ’n waslappie nat om haar gesiggie ’n bietjie af te vee.
Bekommerd loer Sarie om haar rond. Sy het geen benul waar om medisyne in hierdie huis te kry nie.
Annemie drink die water wat Sarie vir haar gee, maar dan kramp die magie opnuut.
“Staan solank hier, tannie gaan net gou jou bedjie skoonmaak,” sê Sarie simpatiek en gee haar ’n sagte drukkie.
Sarie trek die beddegoed af en staan besluiteloos rond. Sy maak die kaste oop, maar sien nêrens skoon beddegoed nie. Dit moet seker iewers in ’n linnekas wees.
Sy tel die bleek, koue meisietjie op en trek vir haar skoon nagkleertjies aan, voordat sy haar in haar eie kamer in die groot bed toemaak.
“Tannie gaan nou eers vir jou ’n bietjie medisyne soek. Lê mooi stil hier in tannie se bed, hoor?”
Annemie se magie pyn ook nou, want die kleinding huil en kerm en hou haar magie vas.
“Ek gaan nou gou vir Pappa roep.”
Sarie staan besluiteloos in die gang. Watter een van hierdie kamers sou Paul s’n wees?
Wel, sy kan net by Paul óf Hugo uitkom, maar een van hulle sal nou moet kom help.
Sy tik liggies aan die deur naaste aan hare. Daar is egter geen reaksie nie en sy klop harder. Versigtig draai sy die knop. Daar is egter niemand in die kamer nie en sy beweeg met die gang af na die volgende deur.
Sy klop hard en dringend aan die deur. Sy sal een van hulle móét wakker kry, voordat Annemie weer naar word en haar bed ook in die slag bly.
“Meneer Kritzinger!” Sy roep gedemp maar dringend by die deur.
Ná ’n rukkie hoor Sarie ’n beweging in die kamer en sug van verligting. Sy bid woordeloos dat dit tog Paul moet wees wat agter hierdie geslote deur beweeg, maar dit is Hugo wat, groot en manlik in sy wynrooi kamerjas, die deur oopmaak.
“Ja?” Hugo kyk verbaas na die deurmekaar skepseltjie in die blou kamerjas. Sy lyk kleiner as gewoonlik met haar kaal voete en baie, baie jonk en onskuldig.
“Dit is Annemie. Sy is siek en ek weet nie waar om medisyne en skoon beddegoed te kry nie.”
Hugo antwoord haar nie, maar stap vinnig voor haar uit na die kinders se kamer. By die deur keer Sarie en beduie na haar kamer.
“Ek is bevrees sy het haar beddegoed bemors en ek het haar in my bed gesit.”
Hugo sak langs die bleek Annemie op die kant van die bed neer. “Wat is dit dan, kleintjie?”
Annemie begin huil en vryf haar magie.
Sonder verskoning gryp Sarie haar vinnig voor Hugo weg en hardloop net betyds met haar na haar eie badkamer.
Hugo loer verskrik om die deur. “Ek sal Paul gaan wakker maak. Hy is ’n mediese dokter