Sarah du Pisanie Omnibus 10. Sarah du Pisanie

Sarah du Pisanie Omnibus 10 - Sarah du Pisanie


Скачать книгу
hy nie eens daarvan sal weet nie. Hulle is ’n klomp ongeneeslike terggeeste; dit neem hulle net ’n dag om ’n mens van alles wat vals en aansitterig is, te stroop en jou te laat soos die Goeie Vader jou bedoel het.

      Sarie drink haar koeldrank tydsaam klaar en sit dan haar glas op die tafeltjie neer. So ja, nou het sy haar sosiale plig gedoen, besluit sy.

      “Sal julle my asseblief verskoon? Ek wil net gou die kinders gaan bad sodat ons vroeg kan eet.” Sy tel vir Annemie op en vat Karl se handjie.

      “Kan ons weer van die trein in die badkamer sing, tannie Sarie?”

      Sarie byt haar lip vas om die kielierige krieweltjie in haar keel te stuit. “Nee, ek dink nie so nie. Ons raas te veel.”

      “Ag, toe, tannie! Ons kan net vir Pappa sing, saggies …” Hy hou sy handjie uitnodigend na Paul uit. “Kom saam, toe, Pappa.”

      Paul staan laggend op en vat vir Annemie by Sarie.

      “Nou toe kom, dan kan ek sommer vir tannie Sarie help om julle gebad te kry.”

      Hugo kyk vererg na Paul. Wat sal nou met hom aangaan? Hy het nog nooit gesien dat Paul vir Cynthia met die kinders help nie. Paul het self ’n groot huis en hordes huishulpe – dit is nie nodig dat Cynthia of hy na die kinders kyk nie.

      Paul draai die krane oop terwyl Sarie die kinders uittrek.

      Met ’n sagte lig in sy oë kyk hy na Sarie wat die kinders met soveel liefde hanteer. Hulle is nie eens haar eie nie! Sy sal ’n wonderlike ma wees.

      Paul sug diep. Hy verlang na Cynthia. Hy is so min by die huis dat hy haar nog nooit so met die kinders gesien speel het nie. Nou eers besef hy wat hy homself al die tyd misgun het. Hy sal meer tyd moet maak vir sy gesin, anders sal hy ook eendag besef dat sy kinders groot is en dat hy hulle nooit geken het nie.

      Karltjie klim self in die bad en Paul smeer die waslappie vol seep. Sarie tel vir Annemie op nadat sy haar onderhempie oor haar koppie getrek het.

      “Nou toe kom, juffroutjie.”

      Sarie voel skaam om in so ’n intieme toneeltjie saam met Paul in die beperkte ruimte van die badkamer vasgedruk te word.

      “Paul!” Hugo staan breed en fronsend in die badkamerdeur.

      Paul hoor hom nie dadelik nie en draai laggend Karltjie se kop na hom toe.

      “Kom, ou kêrel, nou die ore …”

      “Paul! Daar is telefoon vir jou.” Hugo se stem klink so vererg en onvergenoeg dat Sarie liewer nie opkyk nie, maar Annemie se nek en oortjies bykom. “Dit is die hospitaal.”

      Paul kom vinnig orent, droog sy hande haastig aan die handdoek af en storm by Hugo verby sonder om ’n woord te sê.

      Hugo staan ’n oomblik stil in die deur en kom dan met een lang tree tot by die bad waar hy op sy knieë neersak. Beslis rol hy sy hempsmoue op.

      “As jy nou vir my sê wat nog nie gewas is nie, Karltjie, help ek jou gou.”

      Sarie kyk nie in sy rigting nie, maar skrop ywerig Annemie se voetjies wat reeds pienk en silwerskoon is.

      “Ek het klaar gebad, oom Hugo, maar tannie Sarie het gesê ons kan nog sing van die trein wat op die ysterspoor loop.”

      “Ek het nooit so iets gesê nie, Karl!”

      “Is, tannie Sarie.”

      Bloedrooi soek Sarie na die groot handdoek om vir Annemie in toe te draai.

      “Ons … e … ons sal môre weer sing.”

      Hugo sukkel om nie hardop uit te bars van die lag nie. Sy bruin oë is vol duiweltjies en Sarie sien hoe die spiertjie langs sy mond vinnig trek.

      “Julle kan maar sing. Ek sal dit nogal graag wil hoor.” Hugo se stem is tergerig en vol pret.

      “Hoor jy, tannie Sarie?”

      “Nee! Môre, wanneer ons alleen is, kan ons weer sing. Meneer Kritzinger sê ons raas.”

      “Is nie, tannie Sarie. Ons raas mos nie, nè, oom Hugo?”

      “Nee, julle sing baie mooi.”

      “Sies, meneer Kritzinger, jy maak my nou baie skaam.”

      Hugo staan stram op en kyk af in die helderblou oë wat syne skaam probeer ontwyk.

      “Ek … ek het net die kinders probeer besig hou. Hulle … hulle raak so gou verveeld wanneer dit so koud is buitekant.” Behendig draai Sarie die blonde meisietjie in die groot wit handdoek toe. Sy stap vinnig by die deur uit om die kleinding op haar bedjie neer te sit.

      Vinnig vryf sy die sagte liggaampie droog en bly so lank moontlik kop onderstebo om nie in Hugo se rigting te kyk nie. Hugo droog vir Karltjie tydsaam en al geselsend af en help hom onhandig om sy nagkleertjies aan te trek.

      “Ek sal regkom, meneer Kritzinger. U hoef regtig nie te help nie.”

      Hugo kry nie kans om haar te antwoord nie, want Karltjie val vinnig weg: “Tannie moenie meneer Kritzinger sê nie, tannie moet oom Hugo sê.”

      “O!”

      Sarie byt haar lip styf vas sodat die histeriese giggeltjie nie moet uitborrel nie. Sy wonder wat hy sal sê as sy skielik vir hom oom sê!

      “Tannie Sarie, wanneer gaan jy jou kitaar haal?”

      Sarie wens sy kan die handdoek in die praatsieke Karltjie se mond stop. Hy kan darem dinge op die onmoontlikste tye sê. Sy maak asof sy hom nie hoor nie, maar dit is Hugo wat met ’n stem vol lag na haar draai.

      “Hy vra wanneer jy jou kitaar gaan haal, juffrou Wessels.”

      “O, oom Hugo is darem dom! Pappa en oom Anton sê vir haar Sarie, dit is net oom wat dit nie weet nie.”

      “Jy is glad te slim, mannetjie.” Hugo raps hom speels met die nat handdoek. “Jy kan maar solank afdraf na jou pa toe, ek sal vir Annemie bring.”

      Karl laat hom ook nie twee keer nooi nie en draf vinnig by die deur uit.

      Sarie borsel Annemie se lang, blonde haartjies klaar. “Daar’s hy! Nou lyk jy soos ’n prentjie op ’n koekblik.” Sy soen haar liggies op die voorkop. Dan kom sy vinnig regop en kyk skielik op, vas in Hugo se donker, ondersoekende oë.

      “Jy kon maar saam met Karltjie gesing het … Sarie.”

      Verleë draai sy die borsel om en om in haar hande, haar blik vasgenael op die mat by haar voete. Sy gee nie om as hy haar ignoreer nie, maar hy moet net nie met haar spot nie. Van kleins af het sy ’n hekel aan ’n spottery.

      Hugo lag saggies vir die bekoorlike prentjie van die verleë mensie hier voor hom en buk dan af om vir Annemie op te tel. “Ek sal môre vroeg huis toe kom, dan kan ons jou kitaar gaan haal,” belowe hy plegtig, terwyl sy steeds sy oë vol tergduiweltjies vermy.

      Hugo wag galant by die kamerdeur dat Sarie eers verbykom, dan trek hy die deur sag agter hulle toe.

      6

      “Toe, Sarie, man. Wat sê jy?”

      “Ek kan nie, Anton. Ek moet vir meneer Kritzinger-hulle kos kook en teen die tyd dat hulle klaar geëet het, is dit te laat.”

      “Jy los die kos in die louoond en hulle kan hulle sommer self bedien.”

      “Maar wat van die kinders?”

      “Paul kan ’n slag na sy eie kinders kyk.”

      “Ek wil nie graag vir meneer Kritzinger verlof vra nie. Hy sal my weer middeldeur kyk.” Sarie vee die hare van haar wang weg.

      “Ek sal hom vra.”

      “Ag, Anton, eet nou maar hier. Jy eet tog die afgelope week al elke aand saam met ons.”

      “Ek weet, Sarie, maar ek wil jou ’n keer uitneem. Jy


Скачать книгу